Meer as ’n wrede vyand
MEEDOËNLOSE pyn kan mense se lewens verwoes. Dit ontneem hulle van hulle vrede, vreugde en lewenslus en maak hulle lewe so ellendig dat party verligting soek deur selfmoord te pleeg. Albert Schweitzer, ’n sendelingdokter, het gesê: “Pyn is ’n erger meester van die mensdom as die dood self.”
Daar is letterlik honderdmiljoene wat verskriklik ly. ‘As ons in ’n tydlose ruimte oor ’n afgrond kon hang waaruit ons die geruis van die roterende aarde kon hoor’, het ’n Franse chirurg gesê, ‘sou ons ’n inherente gebrul van pyn hoor wat asof uit een mond deur die lydende mensdom geuiter word.’
Waarlik, die woorde wat die Christenapostel Paulus meer as 1900 jaar gelede geskryf het, is vandag nog meer gepas: “Die hele skepping het tot nou toe voortdurend saam gekreun en saam pyn gely.”—Romeine 8:22, NW.
’n Groot gesondheidsprobleem
Die verskriklike pyn van osteoartritis, die algemeenste vorm van gewrigsontsteking, word deur 1 uit 8 Amerikaners ondervind. Selfs nog meer mense ly aan folterende rugpyn. Ander moet die pynlike gevolge van kanker en hartsiektes verduur.
Miljoene ander ly aan martelende hoofpyn, tandpyn, oorpyn, aambeie en ’n menigte ander siektes en beserings. Dit is geen wonder nie dat Amerikaners gedurende ’n onlangse jaar $2,1 miljard (R7,2 miljard) op voorskrifvrye pynstillers alleen bestee het of dat pyn “Amerika se verborge epidemie” genoem word.
John J. Bonica, moontlik die vernaamste gesaghebbende wat pyn betref, het gesê: “Vanuit die geldelike oogpunt en die oogpunt van menslike ellende is chroniese pyn belangriker as feitlik alle ander gesondheidsprobleme saam.”
’n Lewe sonder pyn?
Met die oog op hierdie harde werklikheid lyk dit dalk voortvarend om voor te stel dat ’n lewe sonder pyn moontlik is. Daarom lyk dit dalk asof die Bybel se woorde vergesog is waar dit sê: “[God] sal al die trane van hulle oë afdroog. . . . Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:4, NAV.
Tog is die moontlikheid van ’n lewe sonder pyn nie vergesog nie. Maar dink ’n bietjie daaroor na. Wat beteken daardie teks werklik? Daar is mense vandag wat nie die vermoë het om pyn te voel nie. Hulle word daarsonder gebore. Moet hulle beny word? Die ontleedkundige Allan Basbaum het gesê: “Om hoegenaamd geen pyn te voel nie, is ’n ramp.”
As jy nie pyn kon voel nie, sou jy waarskynlik nie opmerk dat jy ’n blasie het tot dit ’n vreeslike swerende seer is nie. Volgens ’n nuusberig het die ouers van ’n dogtertjie wat geen pyn kon voel nie “soms brandende vlees geruik en haar dan gekry waar sy ongeërg teen die stoof geleun het”. Pyn is dus meer as ’n wrede vyand. Dit kan ook ’n seën wees.
Wat dan van die Bybel se belofte: “Ook . . . pyn sal daar nie meer wees nie”? Is dit ’n belofte wat ons werklik vervul wil hê?
’n Lewe sonder trane?
Let op dat die konteks van hierdie vers ook sê: “[God] sal al die trane van hulle oë afdroog” (Openbaring 21:4, NAV). Dit is betekenisvol aangesien trane belangrik is. Hulle beskerm ons, soos die gevoel van pyn ons beskerm.
Trane hou ons oë vogtig en voorkom wrywing tussen die oog en die ooglid. Dit spoel ook vreemde stowwe uit ons oë. Boonop bevat dit ’n ontsmettingsmiddel wat lisosiem genoem word, wat die oë ontsmet en infeksie voorkom. Die vermoë om trane te stort is dus, soos ons gevoel van pyn, ’n merkwaardige kenmerk van ons wonderlik ontwerpte liggaam.—Psalm 139:14.
Maar daar is ook ’n noue verband tussen trane en smart, droefheid sowel as kwelling. “Elke nag laat ek my bed swem”, het koning Dawid van Bybeltye geweeklaag. “Ek deurweek my bed met my trane” (Psalm 6:7). Selfs Jesus “het geween” toe sy vriend gesterf het (Johannes 11:35). Dit was nie God se oorspronklike voorneme vir mense om sulke trane van smart te stort nie. Die sonde van die eerste mens, Adam, is vir die onvolmaakte, sterwende toestand van die mensdom verantwoordelik (Romeine 5:12). Dus is dit die trane wat weens ons onvolmaakte, sterwende toestand veroorsaak word wat nie meer daar sal wees nie.
Hoe sal die belofte vervul word dat pyn nie meer daar sal wees nie, aangesien die Bybel na sekere soort trane verwys wat verwyder sal word? Sal mense nie, ten minste af en toe, pyn verduur wat smart en trane sal veroorsaak nie?