Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 6/22 bl. 5-7
  • Die pyn wat nie meer daar sal wees nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die pyn wat nie meer daar sal wees nie
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pogings om pyn te verstaan
  • Beide die verstand en die liggaam is betrokke
  • Hoe pynsensasies gewysig word
  • Vooruitgang in die behandeling van pyn
    Ontwaak!—1994
  • Meer as ’n wrede vyand
    Ontwaak!—1994
  • Binnekort—’n wêreld sonder pyn!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • My stryd om met RSD saam te leef
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 6/22 bl. 5-7

Die pyn wat nie meer daar sal wees nie

DIE pyn wat ter vervulling van die Bybel se belofte verwyder sal word, sal die pyn wees wat weens die eerste mens se onvolmaaktheid ondervind word. Hierdie pyn sluit pyn in wat as chronies beskryf kan word.

Pleks dat chroniese pyn ’n waarskuwingstelsel vir ’n siekte of ’n besering is, is dit al met ’n “vals alarm” vergelyk wat net nie wil afskakel nie. Dit is hierdie pyn wat lyers jaarliks miljarde rande laat spandeer in hulle soeke na verligting, en dit verwoes die lewens van miljoene.

Dr. Richard A. Sternbach, ’n pyndeskundige, het geskryf: “Chroniese pyn is nie, soos akute pyn, ’n simptoom nie; chroniese pyn is nie ’n waarskuwingsteken nie.” Emergency Medicine het hierdie stelling beklemtoon: “Chroniese pyn dien hoegenaamd geen doel nie.”

In onlangse jare het baie dokters sulke pyn dus as ’n ware teistering op sigself begin beskou. “Wat akute pyn betref, is die pyn ’n simptoom van ’n siekte of ’n besering”, verduidelik dr. John J. Bonica in The Management of Pain, tans die standaardhandboek oor pyn. “Wat chroniese pyn betref, is die pyn self die siekte.”

Pogings om pyn te verstaan

Pyn word steeds nie heeltemal verstaan nie. “Die ewigdurende begeerte om te probeer vasstel wat pyn is”, het die tydskrif American Health gesê, “het wetenskaplikes hard aan die werk.” ’n Paar dekades gelede het hulle aangeneem dat pyn ’n soort sensasie is, soos ons sig, gehoor en gevoel, wat deur spesiale senuwee-eindpunte in die vel gevoel en deur spesiale senuvesels na die brein oorgedra word. Maar daar is bevind dat hierdie simplistiese begrip van pyn nie waar is nie. Hoe so?

Een faktor wat tot die nuwe insig gelei het, was die studie van ’n jong vrou wat geen pyn kon voel nie. Ná haar dood in 1955 het ’n ondersoek van haar brein en senuweestelsel tot ’n heel nuwe begrip van die oorsaak van pyn gelei. Dokters “het na die senuwee-eindpunte gesoek”, het The Star Weekly Magazine van 30 Julie 1960 verduidelik. “As [sy] niks gehad het nie, sou dit die meisie se ongevoeligheid verklaar. Maar die senuwee-eindpunte was teenwoordig en blykbaar volmaak.

“Die dokters het vervolgens die senuvesels ondersoek wat veronderstel is om die senuwee-eindpunte met die brein te verbind. Hier sou sekerlik fout wees. Maar daar was nie. So ver gesien kon word, was die vesels almal volmaak, buiten dié wat weens beserings beskadig was.

“Uiteindelik is ondersoeke van die meisie se brein gedoen en weer eens kon daar hoegenaamd geen fout gevind word nie. Volgens alle bestaande kennis en teorieë moes hierdie meisie pyn op die normale manier gevoel het; nogtans kon sy nie eens ’n gekielie voel nie.” Sy kon egter voel as druk op die vel uitgeoefen word en kon tussen die prik van ’n speldekop en ’n speldepunt onderskei, hoewel die prik van die speld haar nie seergemaak het nie.

Ronald Melzack, wat in die sestigerjare die medeskrywer was van ’n gewilde nuwe teorie om pyn te verduidelik, gee ’n ander voorbeeld van die kompleksiteit daarvan. Hy het verduidelik: “Mev. Hull het aanmekaar na haar voet gewys wat nie daar was nie [dit is afgesit] en het brandpyne beskryf wat soos ’n rooiwarm vuuryster gevoel het wat deur haar tone gedruk is.” Dr. Melzack het in 1989 aan die tydskrif Maclean’s gesê dat hy “steeds na verduidelikings soek van wat hy ‘skyn’-pyn noem”. Dan is daar ook iets wat eldersliggende pyn genoem word, waar iemand ’n abnormale werking in een deel van die liggaam het maar die pyn in ’n ander deel voel.

Beide die verstand en die liggaam is betrokke

Pyn word nou as “’n uiters ingewikkelde wisselwerking tussen die verstand en die liggaam” beskou. Mary S. Sheridan sê in 1992 in haar boek Pain in America dat “die ervaring van pyn so sterk sielkundig van aard is dat die verstand soms die bestaan daarvan kan ontken en die pyn soms skep en verleng lank ná ’n akute besering genees het”.

’n Mens se gemoedstemming, konsentrasievermoë, persoonlikheid en ontvanklikheid vir voorstelle sowel as ander faktore speel alles ’n belangrike rol in die manier waarop ’n mens op pyn reageer. “Vrees en angs veroorsaak ’n oordrewe reaksie”, het dr. Bonica, ’n pyndeskundige, gesê. Iemand kan dus leer om pyn aan te voel. Dr. Wilbert Fordyce, ’n professor van sielkunde wat in pynprobleme spesialiseer, verduidelik:

“Die vraag is nie of die pyn werklik is nie. Natuurlik is dit werklik. Die vraag is wat die beslissende faktore is wat dit beïnvloed. As ek voor aandete met jou oor ’n hamtoebroodjie gesels, water jou mond. Dit is baie werklik. Maar dit gebeur weens kondisionering. Daar is nie ’n hamtoebroodjie nie. Mense is uiters sensitief vir kondisionering. Dit beïnvloed hulle sosiale gedrag, kwyling, bloeddruk, die tempo waarteen kos verteer word, pyn, allerhande dinge.”

Net soos jou emosies en gemoedstemming pyn kan vererger, kan hulle dit onderdruk of verdoof. Beskou ’n voorbeeld: ’n Neurochirurg het gesê dat hy as jong man eenkeer so deur ’n meisie bekoor was terwyl hy saam met haar op ’n ysige muur gesit het dat hy geen gevoel van uitermatige koue of pyn in sy sitvlak gevoel het nie. “Ek was amper bevrore”, het hy verduidelik. “Ons het maklik 45 minute lank daar gesit en ek het niks gevoel nie.”

Daar is baie sulke voorbeelde. Sokkerspelers wat diep betrokke is by die wedstryd of soldate in die hitte van die veldslag word dalk ernstig beseer en tog voel hulle min of geen pyn op daardie tydstip nie. Die bekende Afrika-ontdekkingsreisiger David Livingstone het vertel van die keer toe hy deur ’n leeu aangeval is wat hom geskud het “soos ’n terriër ’n rot sal skud. Die skok . . . het ’n soort dromerigheid veroorsaak waarin daar geen gevoel van pyn was nie.”

Dit is opmerklik dat knegte van Jehovah God, wat met kalmte en volkome sekerheid op hom vertrou, ook soms al die ondervinding gehad het waar hulle pyn onderdruk is. “Hoe vreemd dit ook al mag klink”, het ’n Christen vertel wat geslaan is, “ná die eerste paar houe het ek hulle werklik nie meer gevoel nie. Dit was eerder asof ek hulle net kon hoor, dit was soos tromslae in die verte.”—Die Ontwaak! van 22 Februarie 1994, bladsy 21.

Hoe pynsensasies gewysig word

In 1965 het ’n professor van sielkunde, Ronald Melzack, en ’n professor van anatomie, Patrick Wall, die alombekende hekbeheerteorie oor pyn opgestel in ’n poging om van die geheimsinnige aspekte van pyn te verduidelik. Die 1990-uitgawe van dr. Bonica se handboek oor pyn het gesê dat hierdie teorie “van die belangrikste ontwikkelings op die gebied van pynnavorsing en -terapie” is.

Volgens die teorie laat die oop- en toemaak van ’n teoretiese hek in die rugmurg óf pynboodskappe deur na die brein óf blokkeer dit. As ander sensasies benewens pyn by die hek saamdrom, kan die pynboodskappe wat die brein bereik minder intens wees. Daarom word pyn byvoorbeeld verminder as ’n vinger wat effens verbrand is, gevryf of geskud word, aangesien ander boodskappe benewens dié van pyn na die rugmurg gestuur word om die deurgang van die pynboodskappe te belemmer.

Die ontdekking in 1975 dat ons liggaam sy eie morfienagtige stowwe vervaardig wat endorfiene genoem word, het verder gehelp in die soeke om die geheimsinnige aspekte van pyn te verstaan. Party mense het byvoorbeeld min of geen gevoel van pyn nie omdat hulle ’n oormaat van endorfiene vervaardig. Endorfiene kan ook die raaisel verklaar waarom pyn verminder of selfs uitgeskakel word deur akupunktuur, ’n mediese prosedure waar haarfyn naalde in die liggaam ingesteek word. Volgens verslae van ooggetuies is opehartoperasies uitgevoer terwyl die pasiënt nugter, wakker en ontspanne was deur van akupunktuur as die enigste pynstiller gebruik te maak! Waarom is geen pyn gevoel nie?

Party meen dat die naalde die vervaardiging van endorfiene kan aktiveer wat die pyn tydelik laat verdwyn. ’n Ander moontlikheid is dat akupunktuur die pyn laat verdwyn omdat die naalde senuvesels stimuleer wat ander boodskappe in die plek van pyn stuur. Hierdie boodskappe drom by die hekke in die rugmurg saam en keer dat die pynboodskappe deurdruk om die brein te bereik, waar pyn waargeneem word.

Die hekbeheerteorie, sowel as die feit dat die liggaam sy eie pynstillers vervaardig, verklaar dalk ook waarom iemand se gemoedstemming, gedagtes en emosies ’n invloed het op die mate waarin pyn ondervind word. Daarom is dit moontlik dat die skok van ’n skielike aanval deur ’n leeu mnr. Livingstone se vervaardiging van endorfiene geaktiveer het en dit ook sy rugmurg met ander boodskappe pleks van pyn oorval het. Sy gevoel van pyn was gevolglik verminder.

Maar soos daar vroeër gesê is, kan iemand se gemoedstemming en emosies ’n teenoorgestelde uitwerking hê. Te veel van die daaglikse druk van die tipiese moderne lewe kan iemand se gevoel van pyn vermeerder deur angs, spanning en spierspasmas te veroorsaak.

Maar gelukkig het pynlyers rede om optimisties te wees. Dit is omdat baie pasiënte nou by verbeterde metodes van behandeling baat vind. Sulke verbeterings is die resultaat van ’n beter begrip van hierdie verskriklike teistering. Dr. Sridhar Vasudevan, president van die Amerikaanse Akademie van Pyngeneeskunde, het verduidelik: “Die opvatting dat pyn soms ’n siekte op sigself kan wees, het gedurende die tagtigerjare tot ’n omwenteling in behandeling gelei.”

Hoe het die behandeling van pyn revolusionêre veranderings ondergaan? Watter vorme van behandeling is doeltreffend?

[Prent op bladsy 7]

Hoe verminder of skakel akupunktuur pyn uit?

[Erkenning]

H. Armstrong Roberts

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel