’n Aand by die opera
Deur Ontwaak!-medewerker in Italië
DIE tipiese wanklank van orkesinstrumente wat ingestem word, hou skielik op en die ligte verdof. Die dirigent, wat deur ’n kort applous verwelkom word, stap na die podium toe en buig in die rigting van die gehoor. Dan, terwyl daar algehele stilte heers, lig hy sy arms op en met ’n gebiedende gebaar lei hy die orkes in die aanvangsnote van die ouverture. Het jy al ooit so ’n opwindende oomblik beleef, die begin van ’n opera? Wil jy graag? Wat presies is ’n opera, en hoe het dit ontstaan?
’n Opera is die toneelopvoering van ’n drama (opera seria) of van ’n komedie (opera buffa) wat getoonset en in een of meer dele, of bedrywe, verdeel is; die karakters vertolk hulle rolle deur te sing. Die opera bestaan uit verskillende elemente: die teks van die drama, of die libretto, (die werk van ’n skrywer of ’n digter); musiek wat deur ’n komponis geskryf is; sang; dans; dekor en kostuums. Operettes is soortgelyk aan operas, maar is baie ligter in styl. Jy het miskien al rolprente gesien, soos West Side Story of Oklahoma, waarin die akteurs soms sing pleks van praat.
Daar is ’n baie groot verskeidenheid operas: Die operas van Wolfgang Amadeus Mozart en Gioacchino Rossini is al as briljant beskryf; dié van Giuseppe Verdi as kragtig en treffend; Richard Wagner se operas as kompleks, stadig en sober; Georges Bizet s’n as kleurryk en vrolik; dié van Giacomo Puccini as sentimenteel.
Die oorsprong van musiek en sang val min of meer saam met die begin van die mensegeskiedenis (Genesis 4:21; 31:27). Talle musiekinstrumente is al dwarsdeur die mensdom se bestaan gemaak, en omstreeks die 11de eeu is ’n stelsel om musiek te skryf in gebruik geneem. Naslaanwerke sê dat die opera teen die einde van die 16de eeu sy ontstaan in Florence, Italië, gehad het. Talle Italiaanse woorde wat van die opera se oorsprong getuig, word in baie ander tale gebruik om aspekte van hierdie vorm van komposisie te beskryf (soos opera, libretto, sopraan, tenoor). Namate die opera na verskeie dele van Europa versprei het, het dit baie veranderinge ondergaan. Vandag word operahuise oor die hele wêreld aangetref.
Kom ons luister na ’n gesprek tussen Antonello, wat in Milaan woon, en sy vriend Max, wat ’n besoeker uit Switserland is, om meer hieromtrent te leer. Antonello en Max bring ’n besonderse en opwindende aand deur by La Scala, Milaan, een van die beroemdste van alle operahuise.
By die opera
Max: In die gidsboek wat jy my gegee het, het ek gelees dat La Scala in 1778 ingewy is, en nadat bomaanvalle dit gedurende die Tweede Wêreldoorlog erg beskadig het, is dit herbou en weer in 1946 ingewy. Die boek sê ook dat dit sitplekke vir ’n gehoor van meer as 2000 het.
Antonello: Dis reg. Soos jy kan sien, is dit in die klassieke hoefystervorm gebou wat van die 17de tot die 19de eeu deur die meeste operahuise gevolg is. Daar is ses verdiepings met losies reg rondom; die orkesruim is daar voor die verhoog. La Scala is nie die oudste of die grootste operahuis ter wêreld nie. Sy faam spruit uit die feit dat die eerste opvoerings van verskeie operas hier vertoon is en talle beroemde dirigente en sangers hier opgetree het. Onder hulle was die beroemde dirigent Arturo Toscanini, wat sonder die partituur kon dirigeer. Hulle sê dat die akoestiek van La Scala volmaak is, wat vir ’n operahuis van die grootste belang is, waar nóg die musiek nóg die stemme deur mikrofone en luidsprekers versterk word.
Max: Kan jy my iets omtrent operasangers vertel?
Antonello: Daar is ses soorte stemme. Drie manlike stemme—bas, bariton en tenoor—en drie ooreenstemmende vroulike stemme—kontralto, mezzosopraan en sopraan. Die bas en die kontralto is die laagste stemme, terwyl die tenoor en die sopraan die hoogste stemme in elke groep is. Die bariton en mezzosopraan pas tussenin.
Om ’n goeie operasanger te word, moet ’n mens eers met ’n mooi stem begaaf wees en dan baie jare lank aan ’n spesiale skool studeer. Sonder sulke opleiding, wat die student leer hoe hy sy stemkwaliteit ten volle kan gebruik, kan niemand ’n operasanger word nie. Jy sal binnekort die solosangers sien. Al vertolk hulle soms die rol van die geïdealiseerde jong man en vrou wat verlief is, sal jy opmerk dat hulle almal, met min uitsonderings, ouer en groterige mense is. Weet jy waarom?
Max: Nee, ek wil graag die rede hoor.
Antonello: Omdat hulle eers later die hoogtepunt van hulle loopbaan bereik en hulle sterk moet wees om opera te kan sing. Dis nie maklik om kragtige, hoë note herhaaldelik oor ’n lang tydperk te sing nie. Daar is al gesê dat die beroemde sopraan Maria Callas, wat gedurende die vyftigerjare dikwels hier by La Scala gesing het, agteruit begin gaan het nadat sy op ’n streng dieet was om te verslank. Pleks van toe te laat dat die voorkoms van die solosangers jou aandag aftrek, Max, moet jy hulle stem dus waardeer. Kyk! Die dirigent is op pad na die verhoog toe. Neem die verkykertjie sodat jy die sangers en die hele opvoering beter kan sien. Maar hier is ’n bietjie raad: As jy die grootste waarde uit die opera wil kry, moet jy op die musiek en die sang konsentreer, soos ons met die eerste bedryf gedoen het.
Wat vind agter die skerms plaas?
Max: Wat ’n lang applous! Die sangers het werklik pragtige stemme. Hoe lank is die pouse?
Antonello: Sowat 20 minute. Maar weet jy wat gedurende die pouse agter die gordyn plaasvind?
Max: Ek kan my nie voorstel nie.
Antonello: Daar’s ’n groot geskarrel! Onder leiding van ’n toneelmeester word die dekor op die verhoog met volmaakte sinchronisasie uitmekaar gehaal deur spesiale toneelhelpers, masjienoperateurs, elektrisiëns, skrynwerkers en ander werkers en word die nuwe dekor aangebring. Operahuise is deesdae met moderne tegnologie toegerus om die dekor vinnig te verander, soms selfs terwyl die opvoering aan die gang is. Hidrouliese platforms, meganiese hystoestelle en ander masjinerie word gebruik om gedeeltes van die verhoog op te hys of te laat sak. Alle operahuise is toegerus vir spesiale effekte—toerusting wat stoom afgee om wolke of mis na te maak, rookeffekte, die klank van reën of wind of selfs ’n donderslag. ’n Stelsel van kolligte van verskillende sterktes kan toneeleffekte en gekleurde ligstrale skep wat ’n mens keer op keer verstom.
Max: Terwyl ons hier sit, sien en hoor ons die opera. Maar wat vind gedurende die opvoering agter die skerms plaas?
Antonello: Dis ’n interessante punt, Max. Terwyl ons hier op ons gemak sit en die opvoering geniet, is ’n georganiseerde groep besig om agter die skerms en in die syskerm te werk. Stel jou voor wat sou gebeur as ’n sanger, die koor of die dansers nie op die regte oomblik beweeg nie. Agter die verhoog volg die toneelmeester se assistent of assistente die orkes op die partituur en gee die sangers hulle wagwoord sodat hulle op die regte oomblik op die verhoog gaan. Die koordirigent doen dieselfde met die koor.
Daar’s die souffleur in die middel van die verhoog, maar is vir die gehoor verberg in daardie souffleurshok. Hy (of sy) volg die orkesdirigent se bewegings oor ’n geslotekring-televisie, en met behulp van die libretto sê die souffleur die woorde, terwyl hy die heeltyd effens voor die solosanger bly, in geval ’n sanger sy woorde vergeet.
Die regisseur hou ten laaste toesig oor dekorveranderinge sowel as die kere wat akteurs in groot getalle op die verhoog moet gaan, en hy hou ook ’n oog oor die elektrisiëns sodat die strale gekleurde lig op die regte oomblik op die gepaste dele van die verhoog gerig word. Daar word beplan om La Scala, soos die ander operahuise, toe te rus met twee verhoë wat kan draai of gehys kan word om dekorvoorbereiding te vergemaklik en dit moontlik te maak om aan meer as een vertoning per aand te werk.
Max: Al daardie mense en al daardie werk om ’n opera op te voer! Ek is verstom!
Antonello: O, ja! Groot operahuise het ’n permanente orkes, koor en dansgroep—honderde kunstenaars. Dan is daar talle ander as jy rekening hou met al die vakmanne, skrynwerkers, grimeerkunstenaars, elektrisiëns en die een of meer toneelskilders wat die dekor maak en skilder. Buiten hulle is personeel nodig om na die veiligheid, administrasie en ander dienste om te sien.
Operas wat op die Bybel gegrond is
Max: Het enige operas hulle oorsprong by die Bybel?
Antonello: Ja, baie. Die opera het uit ’n groot onderwerpsveld geput—die geskiedenis van mense uit die ou tyd, die mitologie, Middeleeuse legendes en die werke van William Shakespeare en ander skrywers. Nabucco, ’n afkorting van “Nebukadnesar”, deur die Italiaanse komponis Giuseppe Verdi, vertel van die Jode wat as slawe uit Jerusalem na Babilon weggevoer is. Gioacchino Rossini, ’n ander Italiaanse komponis, het Mosè (Moses) getoonset, en die Franse musikant Charles-Camille Saint-Saëns het Samson et Dalila (Simson en Delila) gekomponeer. Die intrige van hierdie dramas bly nie streng by die Bybel nie, maar dis interessant om te weet dat God se naam, Jehovah, in hierdie drie operas gebruik word.
Max: Werklik? Ek weet dit word in die werke van Handel en Bach genoem, maar ek het nie geweet dis ook in die liriese opera nie.
Antonello: Aan die einde van Nabucco sing die koor oor ‘Grootse Jehovah’ en noem die hoëpriester Sagaria God se naam. In Rossini se opera roep Moses ‘Iehova’ aan terwyl daar in Samson et Dalila ’n aantal kere van ‘Iehova’ of ‘Jehova’ gepraat word.
Max: Dis baie interessant.
Antonello: Dan is daar verskeie ander operas wat hulle oorsprong by die Bybel het. Van hulle is Salome, deur Richard Strauss; Moses und Aron (Moses en Aäron), deur Arnold Schönberg; en Debora e Jaele (Debora en Jael), deur Ildebrando Pizzetti. Maar kyk! Die laaste bedryf gaan nou enige oomblik begin.
’n Opwindende aand
Antonello: Het jy die opera geniet?
Max: Ek het dit veral geniet omdat ek, danksy jou voorstel, die libretto reeds gelees het en dus die verhaal kon volg. Anders sou dit dalk moeilik gewees het om te volg.
Antonello: Dit is in werklikheid onmoontlik om al die woorde te verstaan wat die solosangers en die koor sing aangesien die stemme by tye deur die musiek oorweldig word, en met die hoë note is dit soms moeilik om die woorde te hoor. In baie operahuise voorsien hulle nou vertaalde onder- of bo-skrifte sodat die gehoor die verhaal beter kan volg.
Max: Dit was ’n uitstekende opvoering, Antonello. Mooi musiek en sang beweeg ons werklik om waardering te hê vir die Skepper, wat die mens die gawe van ’n stem gegee het, asook die vermoë om musiek te komponeer, te speel en te waardeer. Dankie dat ek so ’n genotvolle en opwindende aand saam met jou kon geniet.
[Prent op bladsy 24]
La Scala-ouditorium
[Erkenning]
Lelli & Masotti/Teatro alla Scala
[Prent op bladsy 25]
La Scala, Milaan, Italië
[Erkenning]
Lelli & Masotti/Teatro alla Scala
[Prente op bladsy 26]
Bo: ’n Toneel uit die opera “Samson et Dalila”
[Erkenning]
Winnie Klotz