Opera in die oerwoud
Deur Ontwaak!-medewerker in Brasilië
VANUIT die vliegtuig se venster sien ons twee riviere wat na mekaar toe vloei—die sandkleurige Solimoes en die kolakleurige Negro. Wanneer hulle ontmoet, meng hulle nie heeltemal tot tien kilometer stroomaf nie. Nie ver daarvandaan nie land die vliegtuig in Manaus, die hoofstad van Brasilië se Amazonas-staat.
“Hier het ons twee seisoene”, sê die mense van Manaus. “Óf dit reën elke dag óf dit reën die hele dag.” Maar die reën bring nie die bedrywige lewe van die 1,5 miljoen inwoners van hierdie stad van kontraste tot stilstand nie. Ons ry deur breë lane verby hipertegnologiese nywerhede en deur steil strate verby huise en woonstelblokke, en kort voor lank is ons in die middestad se druk verkeer, waar wolkekrabbers en pragtige monumente die aandag trek. Ons kan sien waarom Manaus vroeër die Parys van die oerwoud genoem is. Maar daar is een pragtige gebou wat veral opvallend is—die operagebou.
“Daar is operageboue op baie plekke”, sê Inês Lima Daou, die direkteur van die teater, “maar Teatro Amazonas is anders. Dit is in die middel van nêrens.” Hoe het dit gebeur dat daar sulke swier hier in die middel van die wêreld se grootste reënwoud is?
Rubber en die operagebou
In 1669 het die Portugese kaptein Francisco da Mota Falcão ’n oerwoudvesting opgerig met die naam Fortaleza de São José do Rio Negro. Ná verskeie naamveranderinge is dit in 1856 na Manaus verander, vernoem na ’n plaaslike Indianestam met die naam Manáos. Teen 1900 het 50 000 mense na Manaus toe gestroom. Wat het al hierdie mense gelok? Die Hevea brasiliensis, of rubberboom, wat inheems aan die Amasonekom is.
Portugese koloniste het gesien hoe die Indiane met swaar balle van lateks speel, wat van die bome getap is. Mettertyd het die koloniste ’n ander gebruik vir die melkerige vloeistof gesien. In 1750 het Portugal se koning Dom José sy stewels na Brasilië gestuur om waterdig gemaak te word. Teen 1800 het Brasilië rubberskoene na Nieu-Engeland in Noord-Amerika uitgevoer. Dit was egter Charles Goodyear se ontdekking van vulkanisering in 1839 en John Dunlop se patent op die lugband in 1888 wat die ‘rubberstormloop’ aangedryf het. Die wêreld wou rubber hê.
Nie lank daarna nie het bykans 200 000 Brasiliane as seringueiros, of rubbertappers, gewerk en 80 miljoen rubberbome getap wat in die reënwoud om Manaus versprei was. Opwindende jare van rykdom het elektrisiteit, die telefoon en selfs ’n tremspoor na die stad gebring—die eerste een in Suid-Amerika. Rubberbaronne het herehuise gebou en op tafellinne uit Ierland geëet, en hulle families het heen en weer gereis om die Europese kultuur te geniet—onder andere die opera. Kort voor lank wou hulle ’n operagebou soos dié in Europa hê.
Stukkies van Europa word oorgeplant
Die droom het in 1881 waar begin word, toe die stad ’n perseel gekies het op ’n heuwel tussen twee syriviere, langs die kerk en omring deur die woud. Toe het skepe, gelaai met boumateriaal, die Atlantiese Oseaan oorgesteek en nog 1300 kilometer met die Amasonerivier opgevaar tot by Manaus.
Maar wag ’n bietjie! Waarom is daar ’n koepel bo-op hierdie neoklassieke gebou? Dit was weliswaar nie deel van die oorspronklike projek nie, maar een van die ingenieurs het na ’n skou in Frankryk toe gegaan, ’n koepel gesien, daarvan gehou en dit gekoop. Ongeveer 36 000 groen-en-geel-gekleurde Duitse teëls is gebruik om die koepel te versier.
Die hoefystervormige ouditorium het op die grondverdieping plek gehad vir 700 stoele met rottangrugleunings, 12 stoele in die amptelike loge en 5 sitplekke in elk van die 90 private loges op die boonste drie verdiepings. Om private loges te bekom, het welgestelde gesinne 22 Griekse maskers geskenk, wat bokant die pilare gehang is om Europese komponiste, musici en toneelskrywers te vereer.
Die beligting in die operagebou maak dit ’n vertoonstuk. In die middel van die ouditorium hang daar ’n enorme brons kroonkandelaar wat in Frankryk gemaak is en met Italiaanse kristal versier is. Dit kan laat sak word om gloeilampe te vervang en om skoongemaak te word. Die 166 lampe met hulle brons basisse en 1630 tulpvormige glasskerms versier die mure en verlig die skilderye.
Crispim do Amaral, ’n 19de-eeuse Brasiliaanse skilder wat in Parys gewoon en sy opleiding in Italië ontvang het, het vier tonele—opera, dans, musiek en tragedie—op die plafon geskilder. Hy het dit reggekry om die illusie te skep dat jy onder die Eiffeltoring staan. Op die verhooggordyn het hy ’n eksotiese tema geskilder—die ontmoeting van die twee riviere wat die Amasone vorm. Die 100 jaar oue gordyn word nie opgerol nie, maar word net so in die koepel opgetrek—wat keer dat die skildery beskadig word.
Op die tweede verdieping is die balsaal, waar ’n hoë spieël van Franse kristal aan weerskante van die vertrek 32 kandelare uit Italië weerkaats. Dit verlig die skilderye van Amasoonse fauna en flora deur Domenico de Angelis, ’n Italiaanse skilder. Vir ’n weelderige voorkoms is gietysterpilare gepleister en geverf om soos marmer te lyk. Tik op die galeryleunings wat soos marmer lyk; hulle is van hout. Die gepoleerde vloer is volgens die Franse metode gelê met 12 000 stukke hout wat sonder spykers of gom aanmekaargeheg is. Die enigste Brasiliaanse kenmerk was die hout vir die vloere, banke en tafels. Ons kan ons voorstel dat almal tuis gevoel het—en koel. Waarom koel?
Klipmesselaars het die plaveisel van die strate om die teater in ’n stof met ’n lateksbasis gelê. Dit het die geraas wat die laatkommers se perdekarre gemaak het op vindingryke wyse gedemp. Die deure kon ook dus oopgelos word sodat die bries deur die stoele se rottangrugleunings kon waai vir ’n bietjie verligting van die hitte.
Van vonkelende sjampanje tot dreigende wolke
Toe die deure op die openingsaand in 1896 oopgeswaai het, het sjampanje uit die fonteine voor die operagebou gespuit. Hierdie projek het 15 jaar geduur en R46,7 miljoen gekos. Dit was ’n pragtige gebou vir pragtige stemme. Deur die jare heen het soliste en groepe uit Italië, Frankryk, Portugal en Spanje gekom om Puccini se La Bohème en Verdi se Rigoletto en Il Trovatore op te voer. Hoewel tropiese siektes soos cholera, malaria en geelkoors sommige kunstenaars afgeskrik het, het daar ’n ander bedreiging vir die teater ontstaan—die einde van die groot vraag na rubber. Dreigende wolke het oor Manaus gehang.—Sien die venster “Die ontvoering wat die groot vraag na rubber beëindig en die opera laat ophou het”.
In 1923 het Brasilië se rubbermonopolie tot ’n einde gekom. Magnate, spekuleerders, handelaars en prostitute het hulle tasse blitsvinnig gepak en die stad verlaat, en Manaus het bloot ’n onbeduidende dorp geword. En die operagebou? Die teater se bygeboue het pakkamers vir rubber geword, en die verhoog is vir binnenshuise sokkerwedstryde gebruik!
Weer glansryke tye
Daarna het Manaus die beginpunt geword vir ekotoeriste wat gekom het om die reënwoud se geheime te ontdek. Ander het vir ’n paar dae gekom om ’n slang vas te hou, ’n papegaai te voer of ’n luidier te streel. As die operagebou herstel kon word, sou dit Manaus ’n ander soort toeristeaantreklikheid gee!
In 1974 het die teater dus ’n duur opknapping ondergaan om die oorspronklike styl te bewaar en tegniese verbeteringe aan te bring. Die ligte, spieëls en meubels is skoongemaak. Tegnici het ’n hidrouliese stelsel geïnstalleer om die orkesruimte op en af te beweeg. Hulle het ’n nuwe vloer op die verhoog ingesit en agter die verhoog nuwe klank-, lig- en videotoerusting. Hulle het lugversorging onder die stoele op die grondverdieping geïnstalleer.
Toe het die simfonieorkes van Rio de Janeiro kultuur na die teater toe teruggebring. Later het hulle die voorreg gehad om die beroemde ballerina Margot Fonteyn in Swanemeer op die verhoog te sien dans, en sy het haar balletskoene agtergelaat wat in ’n vertoonkas in die teater se museum gehou word.
Vir verdere gerief, prag en veiligheid was nog opknappingswerk nodig. Ná uitvoerige navorsing en noukeurige beplanning was 600 werkers en 30 tegnici vier jaar lank druk besig by die teater. Hulle het die oorspronklike rooskleur onder agt lae verf gevind. Die koepel moes oorgeteël word. Die ou teëls is afgehaal. Hulle is vervang met soortgelyke nuwe teëls wat in Brasilië gemaak is. Die stoele is met rooi Franse fluweel geherstoffeer. Skalpels en kwasse is gebruik om die delikate kunsvoorwerpe en skilderye te restoureer. Die humiditeit het ongelukkig die kunswerke in die gange beskadig, en gevolglik is ’n jadegroen Chinese brokaat gekies om die panele mee oor te trek. Daarbenewens het termiete hulle in die houtpilare en -galeryleunings tuisgemaak. Om van hulle ontslae te raak, is 13780 liter insekdoder in die hout ingespuit.
In 1990 was daar weer pragtige stemme in ’n pragtige gebou. Die Brasiliaanse sopraan Celine Imbert se arias en Nelson Freire se klavieruitvoerings het luister aan die teater verleen.
Was dit ’n klokkie? Ja, dit is die klokkie wat aandui dat die opvoering oor vyf minute gaan begin.
“Ter herdenking van die 100ste jaar van die Teatro Amazonas”, sê die teaterdirektrise, Inês Daou, “het ons die beroemde tenoor José Carreras genooi. Hy het die akoestiek getoets (‘perfek’).” Daardie aand is afgesluit met ’n dans in die balsaal. Die feestelikheid het voortgeduur met die besoek van die dirigent Zubin Mehta, die tenoor Luciano Pavarotti en ’n Argentynse groep wat die kleurryke opera Carmen aangebied het.
Daar lui die drie-minute-klokkie. Ons moet ons sitplekke inneem.
Die 60 werknemers hardloop al die hele dag agter die skerms rond om vir die opvoering voor te berei. En hulle sal nog meer opvoerings hê—jazzkonserte, tradisionele opvoerings en toneelstukke. Maar vanaand is dit ’n ballet.
Die een-minuut-klokkie. Stilte.
Wanneer kom jy dus na die operagebou in die oerwoud?
[Venster op bladsy 17]
Die ontvoering wat die groot vraag na rubber beëindig en die opera laat ophou het
In 1876 het Henry Wickham, ’n jong Engelse avonturier, ’n komplot gesmee wat die groot vraag na Brasiliaanse rubber beëindig het. Hy het 70 000 eersteklas Hevea brasiliensis-saailinge wat uit die Amasonewoud bymekaargemaak is met die hulp van Indiane “ontvoer”, hulle op ’n stoomskip gelaai en verby die Brasiliaanse doeane as “skaars plantmonsters vir koningin Victoria” gesmokkel. Hy het hulle op die skip versorg terwyl hulle die Atlantiese Oseaan oorgesteek het en hulle vinnig op ’n spesiaal gehuurde trein na die kweekhuise van die Koninklike Botaniese Tuine in Kew, Engeland, geneem, waar die saailinge ’n paar weke later begin uitloop het. Daarvandaan is hulle na Asië verskeep en in die vleigrond van Ceylon en die Maleise skiereiland geplant. Teen 1912 het die ontvoerde saailinge tot siektevrye rubberplantasies ontwikkel, en teen die tyd dat daardie bome lateks begin lewer het, sê een bron, was “die groot vraag na Brasiliaanse rubber vir ewig daarmee heen”.
[Kaart op bladsy 14]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Manaus
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 15]
Die twee riviere weier om te meng
[Prent op bladsy 15]
Die teater se koepel —’n nuttige verwysingspunt
[Prent op bladsy 16]
Swier in die reënwoud
[Prent op bladsy 17]
Weer ’n pragtige gebou