Mexiko verander sy godsdienswette
OP 16 JULIE 1992 HET DIE NUWE WET OP GODSDIENSVERENIGINGS EN OPENBARE AANBIDDING IN MEXIKO VAN KRAG GEWORD. WAAROM WAS DIT NODIG, EN WAT BETEKEN HIERDIE NUWE WET? KOM ONS ONDERSOEK HIERDIE SAAK WAT SOVEEL AFWAGTING GEWEK HET.
MET Spanje se verowering van wat nou Mexiko is, is die Katolieke godsdiens met geweld op die mense afgedwing. Toe die tyd aangebreek het om wette oor godsdienssake te maak, is ’n Spaanse wet, die Constitución de Cádiz (1812), gedeeltelik toegepas; Artikel 12 het gesê: “Die godsdiens van die Spaanse Nasie is en sal vir ewig Katoliek, Apostolies, Rooms, wees, die enigste ware godsdiens.” Later, in 1824, is ’n Grondwet vir Mexiko opgetrek, wat gelui het: “Die godsdiens van die Mexikaanse Nasie is en sal vir ewig Katoliek, Apostolies, Rooms, wees. Die Nasie beskerm dit deur wyse en regverdige wette, en dit verbied die beoefening van enige ander godsdiens.” Hoewel die landswet verskeie kere hersien is, het die idee tot in 1843 dieselfde gebly, waardeur daar aan die Katolieke godsdiens voorkeur verleen is en alle ander godsdienste, in werklikheid, uitgesluit is.
Dit was in 1857 dat Benito Juárez, ’n Mexikaanse staatsman, die landswette begin hersien het en die sogenaamde Wette van die Hervorming ingestel het. Dit was om “die vaste eiendom van die kerk te nasionaliseer” sowel as “die politieke en ekonomiese mag van die staat te vergroot en dié van die [Katolieke] Kerk te verminder” (Historia de México, Deel 10, bladsy 2182). In hierdie groep wette van 1859 is die Wet op die Nasionalisering van Kerklike Eiendom ingestel, asook ’n wet wat bepaal dat, om wettig te wees, ’n huwelik deur die staat voltrek moet word. In 1860 is die Wet op Godsdiensvryheid ingestel.
Die hervormingswette het die mense ’n sekere mate van godsdiensvryheid verleen en bepaal dat die Katolieke godsdiens nie meer die enigste godsdiens is wat in die land mag bestaan nie. Hierdie nuwe vryheid was egter baie beperk en voorwaardelik. Die wette het erken dat godsdienste in Mexiko bestaan, maar het hulle geen wetlike erkenning of regte verleen nie. Die hervormingswette is spesiaal opgestel om die Katolieke godsdiens te beperk, maar dit het gevolglik alle godsdienste in die land beperk. Ander godsdienste benewens Katolisisme kon toe nietemin vryliker funksioneer, en Protestantse godsdienste uit die Verenigde State het ’n evangelisasiekampanje in die land begin.
Die hervormingswette is in 1917 met dieselfde antiklerikale gees versterk, wat veroorsaak het dat die priesters en Katolieke vervolg is. Dit het die Cristeros-oorlog in 1926 tot gevolg gehad, ’n Katolieke oorlog teen die regering in ’n poging om die beperkende wette te herroep waardeur godsdiens beheer is. Hierdie oorlog is in 1929 beëindig met ’n ooreenkoms dat die regering meer verdraagsaam sal wees, maar geen wysigings van die wette is aangebring nie.
In kommentaar op hierdie wette sê die boek Una Ley Para la Libertad Religiosa (’n Wet op godsdiensvryheid): “Ons besef dat ons Grondwetlike Artikel 24 oorspronklik in sy tweede paragraaf, asook die ander hervormende grondwetartikels, ’n duidelike skending van godsdiensvryheid was, aangesien hulle die openlike beoefening van elke individu se godsdiens beperk het en die beoefening daarvan aan die voorgeskrewe bepalings van die owerheid onderwerp het.
“Wat meer is, hierdie grondwetlike gesindhede was duidelik in stryd met wat in die Verenigde Nasies se Universele Verklaring van
Menseregte (Artikel 19) en die Amerikaanse Konvensie van Menseregte (Artikel 12) bepaal is en waarvan die internasionale instrumente deur die Mexikaanse staat aanvaar is.”
In 1988, toe die nuwe president van Mexiko sy sesjaar-termyn begin het, is die Katolieke hiërargie uitgenooi om die presidensiële inhuldiging by te woon. In sy boodskap het president Carlos Salinas de Gortari aangekondig dat dit nodig is om die verhouding tussen die kerk en die staat te moderniseer. Hierdie nuwe benadering het tot die gevolgtrekking gelei dat ’n hersiening van die wette met betrekking tot godsdiens noodsaaklik was. Daarbenewens was die land besig om in ’n demokratieser samelewing te ontwikkel, en samesprekings vir ’n vryhandelsooreenkoms is met die Verenigde State en Kanada begin. Daarom was dit noodsaaklik om die wet te hersien sodat dit nie strydig met godsdiensvryheid is nie.
Die nuwe wet
Die nuwe wet, soos uiteengesit in sy eerste artikel, is “gegrond op die historiese beginsel van geskeidenheid tussen kerk en staat, asook op vryheid van godsdiensoortuiging . . .” Die tweede artikel waarborg vryheid vir die individu “om die godsdiensoortuiging wat hy verkies en beoefen, gesamentlik of individueel, sowel as die dade van aanbidding of gebruike van sy keuse te hê of aan te neem . . . , om geen godsdiensoortuiging te bely nie . . . , om nie ’n voorwerp van diskriminasie, dwang of vyandigheid weens sy godsdiensoortuiging te wees nie . . . , om in vrede te assosieer en vir godsdiensdoeleindes byeen te kom”. Deur middel van hierdie wet “sal kerke en godsdiensgroepe wetlike status as godsdiensinstansies hê sodra hulle die vereiste registrasie by die regering verkry”. Ook “kan godsdiensinstansies wat volgens die huidige wet gevorm is hulle eie patrimonium hê wat hulle toelaat om hulle oogmerk te vervul”.
Jehovah se Getuies word wetlik geregistreer
In ooreenstemming met hierdie nuwe wet het Jehovah se Getuies in Mexiko op 13 April 1993 ’n aansoek by die Kantoor van Godsdienssake ingedien om as ’n godsdiens geregistreer te word. Voor daardie tyd het Jehovah se Getuies, soos enige ander godsdiens in die land, de facto bestaan, maar geen regspersoonlikheid gehad nie. Jehovah se Getuies was sedert vroeg in die 20ste eeu in die land. Hoewel daar geen wetlike erkenning was nie, het die regering van Mexiko, op 2 Junie 1930, die Internasionale Bybelstudente-vereniging bekragtig. Op 20 Desember 1932 is hierdie naam na La Torre del Vigia (Die Wagtoring) verander. Maar in 1943, as gevolg van wette wat godsdiensbedrywighede in die land beperk het, is ’n nuwe entiteit as ’n siviele genootskap geregistreer. Op die manier het Jehovah die werk geseën waarmee Jehovah se Getuies deur die jare heen besig was. In ooreenstemming met ’n dokument van 7 Mei 1993, wat op 31 Mei 1993 deurgestuur is, is Jehovah se Getuies tans geregistreer as La Torre del Vigía, A. R., en Los Testigos de Jehová en México, A. R., waarvan albei godsdiensgenootskappe is.
Onder hierdie nuwe voorsienings gaan Jehovah se Getuies in Mexiko, soos in 230 ander lande van die wêreld, voort om hard te werk om God se Koninkryk te verkondig. Daar is ’n groot uitbreidingsprogram in Mexiko, wat die bou van nuwe Koninkryksale en nuwe Byeenkomssale insluit. Met meer as 380 000 verkondigers en ongeveer 30 000 nuwelinge wat elke jaar gedoop word, is daar baie werk om te doen, soos die 530 000 tuisbybelstudies bewys wat tans gehou word.
Dit beteken nie dat al die probleme vir Jehovah se Getuies in Mexiko opgelos is nie. Hulle kinders kom steeds by die skool voor druk te staan weens die neutraliteitsgeskil. Die owerheid probeer egter die nuwe wet op ’n onpartydige manier toepas in hulle handelinge met die verskillende godsdienste in die land. Mexiko het met die nuwe godsdienswet inderdaad ’n groot tree gegee in die verdediging van menseregte en godsdiensvryheid.
[Prente op bladsy 13]
Registrasiedokumente vir Jehovah se Getuies in Mexiko
[Prent op bladsy 14]
’n Nuwe sentrum vir Bybelonderrig wat deur Jehovah se Getuies in Mexiko opgerig word