Die indrukwekkende wildeswaan
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
DIE waters van die Grindonmeer—wat deur Northumbria se golwende heuwels omring word, nie ver van die grens tussen Engeland en Skotland nie—het die rooibruin en bruin skakerings weerkaats van die omliggende heuwels wat met adelaarsvaring bedek is. Terwyl ek toegekyk het, het Europese wildeganse sowel as swerms snips, Europese kiewiete en gouekiewiete die sagte bopunte van die waterplante afgeëet.
Skielik, terwyl die mis stadig begin opklaar het, het ek ’n wilde geroep gehoor. Dit was die deurdringende geroep van wildeswane wat laag oor die heuwels gevlieg het. Hulle was die toonbeeld van prag terwyl hulle ingesweef het om op die water te land met vlerke wat tot 2,5 meter lank kan wees. Teen die middel van Oktober vlieg hierdie swane suidwaarts van Rusland, Ysland en Noord-Europa af wanneer die water in die noorde toevries. Hier vind hulle kos—waterplante, skulpdiere, sade en insekte.
Die 29 swane op die meer voor my was ’n bekoorlike gesig terwyl ek my verkyker op die driehoekige geel vlek aan die basis van hulle snawel ingestel het. Hulle het so statig gelyk terwyl hulle hulle kop op hulle reguit nek omhoog gehou het.
Die wildeswaan het voorheen in Brittanje gebroei, maar het in die 18de eeu hier uitgesterf. Tot dusver het hulle hulle nog nie weer in Brittanje hervestig nie. Wildeswane is baie aggressief gedurende die broeityd en hulle beskerm hulle nes van vyf tot sewe eiers, en later hulle swaankuikens, heftig teen potensiële vyande.
Wildeswaanouers werk saam om ’n nes van gebreekte stokkies te bou, óf op ’n eiland óf direk op die water waar hulle ’n drywende eiland bou wat sterk genoeg is om ’n man te dra. Hier neem dit hulle tussen 35 en 42 dae om die gelerige eiers uit te broei. Albei ouers sien ook na die kuikens om voor hulle die nes ná sowat tien weke verlaat.
Terwyl die son in rooi glorie agter die ruïnes van die Romeinse fort, Vercovicium, ondergegaan en die meer en sy swane in ’n sagte pienk gehul het, het ek ’n oomblik stilgestaan en nagedink oor die prag van die lewe en die wonder van so ’n indrukwekkende skeppingswerk.