Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 11/22 bl. 15-18
  • Die Victoria-meer—Afrika se groot binnelandse see

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Victoria-meer—Afrika se groot binnelandse see
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Bron van die Nyl
  • Lewe langs en op die meer
  • Natuurlewe in en om die meer
  • ’n Bedreigde meer
  • Die Baikalmeer—die grootste ter wêreld
    Ontwaak!—2007
  • ’n Pienk meer?
    Ontwaak!—2005
  • Die drywende eilande van die Titicaca-meer
    Ontwaak!—1994
  • Die skatte van Sentraal-Amerika se grootste meer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 11/22 bl. 15-18

Die Victoria-meer—Afrika se groot binnelandse see

Deur Ontwaak!-medewerker in Kenia

DIEP in die hart van Afrika, in die jaar 1858, het ’n Engelsman deur ’n ongerepte en onbekende land getrek. Op reis met slegs ’n handjievol plaaslike draers en geteister deur siekte, uitputting en onsekerheid het hy sy manne aangespoor om voort te beur. John Hanning Speke was op soek na ’n ontwykende vonds—die oorsprong van die Nyl.

Speke het deur die oënskynlik eindelose bos gesukkel, aangespoor deur verhale van ’n groot binnelandse watermassa wat die Arabiese slawehandelaars Ukerewe genoem het. Uiteindelik, ná 25 dae se stap, is die klein groepie reisigers met ’n pragtige gesig beloon. Daar voor hulle, sover as wat die oog kon sien, het ’n eindelose binnelandse varswatersee uitgestrek gelê. Speke het later geskryf: “Ek het geen twyfel meer gehad dat daardie interessante rivier sy oorsprong gehad het by die meer hier voor my nie, die oorsprong wat die onderwerp van soveel spekulasie was en waarna soveel ontdekkingsreisigers gesoek het.” Hy het sy ontdekking vernoem na die destydse koningin van Engeland—Victoria.

’n Bron van die Nyl

Vandag is die meer, wat steeds daardie naam dra, bekend as die tweede grootste varswatermeer in die wêreld—slegs die Bowemeer, in Noord-Amerika, is groter. Soos ’n reusespieël wat in die ekwatoriale son skitter, dek die spieëlgladde oppervlak van die Victoria-meer ’n gebied van 69 484 vierkante kilometer. Dit is tussen die oostelike en westelike arms van die Groot Skeurvallei geleë, en die ewenaar kruis dit by sy noordelike punt. Dit lê hoofsaaklik in Tanzanië en Uganda en grens aan Kenia.

Die meer se hoofinloop is die Kagerarivier in Tanzanië, wat sy water uit die berge van Rwanda kry. Die meeste van die water wat in die Victoria-meer invloei, is egter afkomstig van reënval in die groot omliggende opvanggebied, wat altesaam ’n landoppervlak van oor die 200 000 vierkante kilometer beslaan. Die meer se enigste uitloop is by Jinja, in Uganda. Van hier af vloei die water vinnig noordwaarts en word dit die Wit Nyl. Hoewel die Victoria-meer nie die enigste bron van die Nylriver is nie, dien dit as ’n groot reservoir vir ’n standhoudende vloei van vars water en onderhou dit lewe tot in Egipte.

Lewe langs en op die meer

’n Seilbootjie, waarvan die wapperende wit seil soos ’n enkele regop skoenlappervlerk lyk, gly oor die oppervlak van die meer. Die daaglikse winde wat van die omliggende land opsteek, dra die klein bootjie tot in die middel van die meer. Teen die middel van die dag draai die wind en dryf die bootjie terug na waar dit vandaan gekom het. Die vissers van die meer volg al duisende jare hierdie roetine.

Dorpies en gehuggies, met hulle bruin grasdakke, omring die Victoria-meer. Vis is ’n stapelvoedsel van die mense wat om die Nyl woon, en hulle is van die meer afhanklik vir hulle daaglikse voedsel. ’n Visser se dag begin voor sonop. Die mans skep water uit hulle lekkende kano’s en vaar weg oor die mistige water. Terwyl hulle harmonies saamsing, roei hulle tot in dieper water en hys dan hulle verflenterde seile. Die vroue staan op die oewer en kyk toe totdat die klein bootjies oor die horison verdwyn. Dan stap hulle weg, want daar is baie werk om te doen.

Terwyl kinders in die vlak water plas en speel, was die vroue klere en skep drinkwater uit die meer. Eindelik is hulle werk by die oewer klaar. Met kleipotte vol water versigtig op die kop gebalanseer, baba op die rug gebind en ’n mandjie met skoon wasgoed in albei hande, keer die vroue stadig terug huis toe. Daar sien hulle om na klein koring- en boontjielande, maak hout bymekaar en herstel hulle hulle modderhuise met ’n mengsel van beesmis en as. Verder met die oewer langs maak vroue sterk toue en pragtige mandjies deur sisalvesels behendig saam te weef. Die gekap van die byl kan gehoor word terwyl ’n paar mans ’n groot stomp uithol om ’n kano te maak.

Namate die dag einde se kant toe staan, begin die vroue weer die groot varswatersee dophou. Die tippe van die wit seile op die horison sal die mans se terugkeer aankondig. Die vroue kyk met afwagting uit daarna, gretig om hulle mans te sien, asook die vis wat hulle bring.

Al langs die oewers en die eilande van die meer ontvang hierdie klein gemeenskappies besoekers wat ’n boodskap van vrede bring. Te voet en met kano’s word elke dorpie en gehuggie bereik. Die mense is nederig en gretig om te luister. Hulle is veral opgewonde om Bybellektuur te lees wat in die tale van inwoners om die Nyl en in ander swarttale gedruk word.

Natuurlewe in en om die meer

Die Victoria-meer onderhou meer as 400 visspesies waarvan sommige nêrens anders in die wêreld gevind word nie. Die algemeenste is ’n spesie wat cichlidde genoem word. Hierdie kleurvolle vissies het beskrywende name, soos rooirug, pienkblos en Kisumu-paddabekkie. Party cichlidde het ’n buitengewone manier om hulle kleintjies te beskerm. Wanneer gevaar dreig, maak die vis sy mond wyd oop en die klein vissies swem blitsvinnig by sy oop mond in vir beskerming. Wanneer die gevaar verby is, word hulle eenvoudig uitgespoeg en sit hulle hulle normale bedrywighede voort.

Die Victoria-meer is die tuiste van pragtige, en ’n verskeidenheid, watervoëls. Silwerduikers, kormorante en slanghalsvoëls duik onder die water en deurboor visse behendig met hulle skerp snawel. Kraanvoëls, reiers, ooievaars en lepelaars loop deur die vlak water, steek bewegingloos vas en wag geduldig vir ’n niksvermoedende vis om binne trefafstand te kom. Pelikane vlieg in swerms oor jou kop soos logge sweeftuie. Wanneer hulle in groepe swem, omring hulle skole visse en gebruik dan hulle keelsak om die visse op te skep. Die visarend met sy sterk vlerke het die grootste gesag in die lug. Van ’n boomtak hoog bo die water skiet hy blitsvinnig neer, met die wind wat deur sy stywe vlerke fluit, en raap sonder inspanning ’n vis van die oppervlak van die meer af op. Helderkleurige wewers maak nes in die digte stroke papirusriete wat die meer omsoom, en die weemoedige geroep van die neushoringvoël kan verder van die oewer af in die akasiabos gehoor word.

Gedurende die oggend- en aandure trek die diep, bas snorkgeluide van die seekoeie ver oor die stil meer. Teen die middag lê en slaap hulle op die oewer waar hulle soos gladde grys rotse lyk wat halfpad bo die water uitsteek. Die mense van die meer is altyd versigtig vir die gevaarlike Nyl-krokodil. ’n Paar van hierdie skrikwekkende reptiele kom nog steeds in die meer afgeleë dele van die Victoria-meer voor, hoewel die meeste van hulle deur die mens uitgeroei is.

’n Bedreigde meer

Afrika se bevolking het ontsaglik toegeneem sedert die dae toe John Speke Victoria-meer vir die eerste keer gesien het. Om die meer woon daar tans oor die 30 miljoen mense wat van sy vars water afhanklik is vir oorlewing. In die verlede het die plaaslike vissers op tradisionele visvangmetodes staatgemaak. Toegerus met geweefde vanghokke, papirusnette, hoeke en spiese het hulle gevang wat hulle nodig gehad het. Vandag, met die koms van treilers en nylonkieunette wat oor groot afstande kan strek en tonne vis in die dieper water kan optrek, word die ekologie van die meer deur oorbevissing bedreig.

Die invoer van eksotiese visspesies het ’n ekologiese wanbalans veroorsaak wat die plaaslike visvangs ontwrig het. Nog ’n probleem vir die meer is die waterhiasinte, ’n drywende onkruid wat ’n pragtige pers blom dra. Die onkruid wat van Suid-Amerika afkomstig is, groei so vinnig dat dit groot dele van die meer se oewers en inlope toegegroei en verstik het, en dit keer dat vragbote, passasiersveerbote en die kano’s van plaaslike vissers by die strande en dokke kan uitkom. Ontbossing van die meer se opvanggebied, rioolafvoer en industrialisasie is alles dinge wat die meer se toekoms bedreig.

Sal die Victoria-meer bly voortbestaan? Dit is ’n omstrede vraag, en niemand weet vir seker hoe sy baie probleme opgelos gaan word nie. Maar die Victoria-meer is ’n natuurwonder wat waarskynlik op die aarde sal voortbestaan lank nadat God se Koninkryk diegene wat ‘die aarde verderf’, vernietig het (Openbaring 11:18). Dan sal die mensdom die prag van Afrika se groot binnelandse see vir altyd kan aanskou.

[Venster/Prent op bladsy 18]

Die vis wat besig is om die meer in te sluk

Hy is olierig, het ’n onversadigbare eetlus, teel vinnig aan en word tot 1,8 meter lank. Wat is dit? Lates niloticus! Hierdie groot, roofsugtige vis, algemeen bekend as die Nyl-baar, wat in die vyftigerjare in die Victoria-meer losgelaat is, is ’n ekologiese ramp. Binne 40 jaar het hy byna die helfte van die meer se 400 inheemse visspesies verslind. Hierdie massa-uitwissing bedreig die voedselbron van miljoene plaaslike mense wat van die kleiner tilapia, cichlidde en ander inheemse visse afhanklik is om hulle gesinne te voed. Hierdie klein vissies is ook daarvoor verantwoordelik om die meer gesond te hou. Sommige van hulle lewe van die slakke wat die gevreesde siekte, bilharzia, veroorsaak en hou dus die siekte onder beheer. Ander eet die alge en ander waterplante wat nou hand uit ruk. Hierdie onbeheerde groei het ’n toestand teweeggebring wat eutrofikasie genoem word, waarin verrottende plante die suurstof in die water uitput. Met minder inheemse visse om die meer uit hierdie verknorsing te help, het “dooie sones”, stroke water sonder suurstof, toegeneem en selfs meer visse laat doodgaan. Met minder vis om te eet, het die onversadigbare Nyl-baar hom tot ’n nuwe voedselbron gewend—sy eie kleintjies! Die vis wat besig is om die meer in te sluk, dreig nou om homself in te sluk!

[Kaart op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

UGANDA

KENIA

TANZANIË

VICTORIA-MEER

[Prent op bladsy 15]

Getuieniswerk aan die oewers van die Victoria-meer

[Prent op bladsy 16]

Wewer

[Prent op bladsy 16, 17]

Pelikane

[Prent op bladsy 17]

Witreier

[Prent op bladsy 16, 17]

Nyl-krokodil

[Prent op bladsy 16, 17]

’n Reier bo-op ’n seekoei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel