Haïti se gemmerbroodhuise
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN HAÏTI
HAÏTI se bekoorlike gemmerbroodhuise het nie uit ’n sprokie te voorskyn gekom nie. Hulle bestaan werklik. Maar hulle groen, geel, rooi, blou en bruinrooi geverfde mure verleen ’n swier uit ’n ander era en hulle ongewone skoonheid ’n storieboekatmosfeer.
Hulle boustyl kombineer sierlike buitelyne met ’n stewige struktuur wat van hout, stene of ’n kombinasie van die twee gebou is. Party het groot vensters wat op uitgeboude, oordekte balkonne oopmaak en op houtpale staan asof hulle op stelte rus. Soms versier beton- of houtpilare met yster in die middel groot galerye wat in die tuine inlei. Alles word met fyn houtsneewerk versier, en kolvensters, weerhane en koepels verleen ’n tikkie fantasie daaraan.
In die vroeë twintigste eeu was gemmerbroodhuise gewild onder die middelklasgemeenskap van hierdie Wes-Indiese land. Die koste daaraan verbonde om materiale soos geel bakstene, asbesleiklip en Amerikaanse pikden in te voer, het hulle buite die bereik van die gewone man geplaas. Vandag is hulle historiese vertoonstukke wat toeriste na Port-au-Prince en ander stede lok. Besoekers bewonder hulle ryk versierde houtsneewerk wat as Houtgotiek bekend staan. Hierdie versierde gemmerbroodstyl het in die Amerikas ontwikkel nadat die uitvinding van die houtdraaibank dit moontlik gemaak het.
Franse invloed
Die argitek Paul Mathon, wie se vader, León, ’n baanbreker op die gebied van gemmerbrood-argitektuur was, het nog ’n invloed in die ontwikkeling van gemmerbroodhuise in Haïti gemeld toe hy op ’n keer aan Ontwaak! gesê het: “Hoe vreemd dit ook al mag klink van geboue wat minder as ’n eeu oud is; hulle oorsprong is onseker. Hoewel die invloed van die Houtgotiek nie ontken kan word nie, moet ons die bron van inspirasie soek in die skole wat gereeld deur die voorstanders van die gemmerbroodhuise besoek is. Die Franse invloed is baie duidelik te sien, hoewel dit by die Haïtiese lewe, kultuur en klimaat aangepas is.”
Haïtiese argitekte wat in Frankryk opgelei is, het hierdie boustyl in Haïti bekend gestel. Paul Mathon het gesê: “Hulle het vakkundiges en voormanne opgelei om hulle planne uit te voer. Timmermansambagskole het ware houtwerkdeskundiges opgelewer. En daar het ook ’n kunsgevoel geheers wat die verspreiding van hierdie soort argitektuur aangemoedig het. Met verloop van tyd het dit alles verlore gegaan. Namaaksels was van ’n swak gehalte.”
Die argitektuur is so ontwerp om woonplek te voorsien wat koel genoeg in die tropiese klimaat is. Plafonne twee keer so hoog soos dié van moderne geboue voorsien groter kamervolume vir lugsirkulasie, wat hitteverlies bevorder. Die wye deure en vensters en hulle vollengte luike verseker goeie ventilasie in elke kamer. Die oorvloedige gebruik van hout op die vloere en muurpanele voorsien ook goeie isolasie teen die hitte van buite. En tog word nuwer style al hoe gewilder.
Museumstukke
Die koms van moderne lugversorging het gemmerbroodhuise natuurlik van hulle aantrekkingskrag laat verloor. Betongeboue word weens hulle duursaamheid verkies, aangesien daar van houtstrukture geleidelik net ’n dop oorbly namate die termiete dit wegvreet. Natuurlik kombineer party argitekte gemmerbroodstyle met hierdie nuwe, duursamer huise, en ander restoureer ou gemmerbroodhuise en gebruik beton om die raamwerk duursamer te maak.
Selfs so sal gemmerbroodhuise nie hulle eertydse prag herwin nie, al is sommige steeds pragtige huise. Dit lyk asof hulle bestem is om eindelik as museumstukke voort te bestaan—ongewone, elegante herinneringe aan ’n unieke Haïtiese argitektuur.