Ons beskou die wêreld
Gesinne wat nie TV kyk nie
In een skool waar die meeste kinders nie TV kyk nie, sê die onderwysers dat hulle die paar kinders wat baie tyd voor die TV deurbring maklik kan uitken. “As jy kinders van kleuterskoolouderdom sien wat superhelde speel en maak asof hulle mense doodmaak en met ’n mes steek en seermaak, verraai dit alles”, het een deskundige verduidelik. The Wall Street Journal het berig dat diegene wat glad nie meer TV kyk nie daarby baat gevind het. Een 17-jarige meisie het gesê: “Ons het my pa voorheen gewoonlik gesien voor hy werk toe gegaan het. Wanneer hy tuisgekom het, het hy saam met ons TV gekyk en dan was dit weer ‘Nag Pa’. Nou gesels ons die heeltyd, en ons is werklik geheg aan mekaar.” Sy het bygevoeg: “Wanneer ek ’n gesin het, gaan ek nie ’n TV hê nie.”
Geboue wat van vullis gemaak is?
China het ’n unieke manier gevind om van sy vullis ontslae te raak. Beijing se Navorsingsinstituut vir die Omgewing en Gesondheid het onlangs ’n metode ontwikkel om vullis met bouklei te meng en bakstene daarvan te vervaardig. Die tydskrif China Today beskryf die eindproduk as “kwaliteitsbakstene” vir gebruik in die boubedryf. Binne slegs ’n paar maande het een steenmakery ongeveer 54 miljoen bakstene gemaak en “46 884 ton vullis verbruik”. Nadat die bakstene teen ’n temperatuur van sowat 1000 tot 2000 grade Celsius gebak is, word daar gesê dat hulle “geensins meer onhigiënies as gewone bakstene is nie”.
Die land van die sauna
“Finland se inwoners is die ywerigste sauna-gebruikers ter wêreld”, sê die tydskrif Suomen Silta. Die meeste mense in Finland neem hierdie stoombad omtrent een keer per week vir ontspanning en reiniging. Die temperature wissel tussen 80 en 100 grade Celsius. Die Finne neem gewoonlik onmiddellik daarna ’n koel stortbad of duik in ’n meer. Volgens die Suomen Silta is daar na raming ongeveer 1,6 miljoen sauna’s in Finland. Dit beteken dat hierdie Nordiese land, met ’n bevolking van net oor die vyfmiljoen kerf, byna 1 sauna vir elke 3 mense het.
Verstikking aan kos
Om iemand wat aan ’n stukkie kos verstik agter die rug te slaan, is nie die doeltreffendste manier om hom te help nie. Volgens die Berkeley Wellness Letter is dit beter om die Heimlich-greep, soos dit soms genoem word, te probeer. Die nuusbrief beskryf die metode as volg: “Staan agter die persoon wat verstik en sit jou arms bokant sy middel om hom. Plaas jou vuis tussen sy borsbeen en naeltjie, met jou duim teen sy maag. Hou jou vuis met jou ander hand en druk vinnig en ferm in- en opwaarts. Herhaal totdat die kos of voorwerp uit is. Moenie dit doen met kinders onder een jaar, wat ’n ander soort noodbehandeling nodig het wanneer hulle verstik nie.” Hierdie metode kan in ’n eerstehulpklas of ’n klas in KPR (kardiopulmonêre resussitasie) onder leiding van gesondheidsorgbeamptes geleer word. Die Wellness Letter sê dat “obstruksies van die lugkanaal jaarliks vir 3000 tot 4000 sterfgevalle in die Verenigde State verantwoordelik is”.
Honde met ysterkake
Daar was verlede jaar in New York-stad 10 753 aangemelde gevalle van honde wat mense gebyt het, berig die Daily News. Daar was gemiddeld een keer per week ’n konfrontasie tussen die polisie en ’n hond waarin vuurwapens gebruik is. Na bewering het sommige honde die polisiemanne steeds bestorm, selfs nadat hulle deur ses koeëls deurboor is. Etlike polisiemanne is gebyt en ander “is deur opslagkoeëls beseer tydens die gevegte met ysterkaak-vegbulterriërs”, het die koerant berig. Amptenare wat aan die Polisie verbonde is, is nou besorg oor die gevaar wat verdwaalde en opslagkoeëls vir mense inhou wanneer vuurwapens op wrede honde gebruik word. Polisiemanne wat met ’n gevaarlike situasie te doen het waarby ’n hond betrokke is, word aangemoedig om van niedodelike metodes gebruik te maak, soos ’n peperspuit wat die asemhalingstelsel aantas.
Gevaarlike batterye
“Volgens Utah se organisasie vir die Voorkoming van Blindheid is daar jaarliks 6000 mense [in die Verenigde State] wat hulle kornea brand en ander oogbeserings opdoen weens batterye wat ontplof.” Die tydskrif Snow Country berig dat die meeste van hierdie ongelukke plaasvind terwyl motoriste hulle motor met oorleikabels aan die gang probeer kry. Vonke vanaf ’n battery kan gasse in die lug laat ontvlam. Wanneer jy die motor so aan die gang wil probeer kry, beveel die tydskrif aan dat jy as voorsorgmaatreël “die swart kabel aan ’n stuk ongeverfde metaal koppel, soos ’n bout wat onbedek is, pleks van aan die battery se negatiewe aansluiter. Dit verminder die kans op elektriese boogvorming, wat tot ’n ontploffing kan lei.” Daarbenewens moet kabels nie geknoop wees nie en “moet motoriste skermbrille dra wanneer hulle hulle motor met oorleikabels aan die gang probeer kry”.
Spierverlies
Diëte kan nadelig wees—veral wanneer die persoon wat op dieet is, in ’n poging om liggaamsvet te verloor, ook spierweefsel verloor. Die gesondheidsrubriekskrywer Wayne Westcott verduidelik dat “spierweefsel só belangrik is vir soveel dinge wat ons heeldag doen—’n mens kan nie bekostig om dit te verloor nie”. Diegene wat nie op dieet is nie, loop ook gevaar om spierweefsel te verloor as hulle nie aktief genoeg is nie. Na raming sal iemand wat die meeste van die tyd sit elke tien jaar gemiddeld twee kilogram spierweefsel verloor terwyl hy sewe kilogram vet aansit. ‘Op ’n badkamerskaal sou dit ’n gewigstoename van vyf kilogram (sewe kilogram vet minus twee kilogram spierweefsel) toon’, het dr. Westcott gesê. ‘Maar in werklikheid is dit eintlik ’n nege-kilogram-probleem (sewe kilogram meer vet plus twee kilogram minder spierweefsel).’ Om gesond en fiks te bly, word ’n kombinasie van aërobiese oefeninge sowel as kragoefeninge sterk aanbeveel.
Die reg om oortappings te weier
“Pasiënte het die reg om oortappings te weier”, het ’n opskrif in die Mainichi Daily News gelui, waar dit verslag gelewer het oor ’n aanbeveling deur ’n raad van deskundiges wat deur die Etiekkomitee vir Tokio se Stadshospitale en Kraaminrigtings georganiseer is. Hoewel vername universiteitshospitale reeds soortgelyke besluite geneem het, is dit die eerste besluit wat op die plaaslike regeringsvlak geneem is. Die verslag beveel aan dat hospitale in Tokio die versoeke van volwassene-pasiënte wat bloedlose behandeling verlang, moet eerbiedig, selfs al meen die dokters dat ’n bloedoortapping van lewensbelang is. “In die geval waar ’n pasiënt bewusteloos na die hospitaal toe gebring word, maar ’n dokument in besit het wat verklaar dat hy of sy nie ’n oortapping wil hê nie, moet die dokters voorkeur aan daardie versoek gee”, berig die koerant. Hoërskoolleerlinge se versoek met betrekking tot oortappings sal eerbiedig word asof hulle volwassenes is.” Maar die verslag beveel steeds aan dat die dokters, en nie die ouers nie, die finale reg moet hê om te besluit watter behandeling vir minderjariges van junior hoërskoolouderdom en jonger gebruik moet word.
Die krag van plante
Plante op die eiland Madagaskar word al lank deur die plaaslike bewoners hooggeskat vir hulle geneeskundige waarde. Die uittreksels van verskillende plante is al gebruik om “siektes van koors tot ekseem tot gewasse” te behandel, berig die tydskrif Africa—Environment & Wildlife. Selfs die pragtige orgidee is bruikbaar. Een soort (Angraecum eburneum) word byvoorbeeld gebruik om virusinfeksies te bestry en miskrame te voorkom. ’n Medisynebron om leukemie te behandel, is onlangs op die eiland ontdek—die rooskleurige maagdeblom (Catharanthus roseus). Maar hoe lank nog sal hierdie blomme vir mense van nut wees? “Die wedloop is aan die gang”, sê die verslag, aangesien “tallose onontdekte plantsoorte daagliks verlore gaan weens handelsgebruike, soos houtkappery, landbou en mynbou”.
Tabakgebruikers in Indië
“Volgens staatsyfers is 142 miljoen mans en 72 miljoen vroue bo 15-jarige ouderdom in Indië gereelde tabakgebruikers”, sê die British Medical Journal. Die verslag voeg by dat “armer mense tabak kou om hulle honger te stil”. Tabak is vir Indië van groot ekonomiese belang aangesien dit, naas China en die Verenigde State, die wêreld se grootste produsent is en werk aan duisende mense verskaf. Maar die ICMR (Indiese Raad vir Mediese Navorsing) is bekommerd oor die gevalle van mondkanker en kankers van die keelholte, strottehoof, slukderm en longe. Volgens die Journal beweer die ICMR dat “die koste daaraan verbonde om pasiënte te behandel wat aan hierdie tabakverwante siektes ly die inkomste wat uit die tabakbedryf ontvang word stellig gaan oorskry”. Dokters en nie-regeringsgroepe beveel openbare bewustheidsveldtogte aan om die aandag op die gesondheidsgevare van tabakgebruik te vestig, om tabakverbouing geleidelik te beëindig en om ander gewasse te begin kweek.
Die probleem van verslawing
Volgens die Duitse Sentrum teen die Gevare van Verslawing in Bonn ly meer as vyfmiljoen mense in Duitsland aan ’n verslawende lewenswyse. Uit hierdie getal is 1,4 miljoen aan medisinale middele verslaaf en ongeveer 120 000 aan heroïen. Meer as 100 000 is aan dobbelary verslaaf. Verreweg die grootste groep is aan alkohol verslaaf, berig die Süddeutsche Zeitung, en voeg by dat “Duitsers wêreldkampioendrinkers is”. Nie alleen het alkoholverbruik in Duitsland sedert 1950 verdriedubbel nie, maar volgens die sentrum se verdere raming is daar ongeveer 2,5 miljoen mense wat behandeling vir alkoholmisbruik nodig het.