Die Rooi See—wonders onder die water
Mense sê dat jy nie net na die uiterlike moet kyk nie. Ware skoonheid lê dikwels onder die oppervlak—en dit geld nie net vir mense nie. Ek het ontdek dat dit waar is van die Rooi See. Die dor kuslyn het my geen aanduiding gegee van die ongelooflike prag wat op die gelukkige swemmer wag wat onder die oppervlak van die water inkyk nie.
DIE Rooi See is bekend daarvoor dat dit een van die interessantste plekke in die wêreld is om die wonders van die koraalrif te verken. Ek was dus gretig om self te sien of dit werklik so is.
Toe ek die wêreld onder die water eers self gesien het, wou ek dit beter verstaan. Die marinebioloog Aaron Miroz, ’n deskundige in die marinelewe van die Rooi See, het my vrae beantwoord.
Waarom is die waters van die Rooi See so ryk aan lewe?
“Die Rooi See lyk en werk soos ’n enorme bottelnek wat baie visse van die Indiese Oseaan versamel. Ons het daarbenewens ’n buitengewone hoeveelheid korale. Op die rif kan jy dikwels tot 20 koraalsoorte op net een vierkante [meter] rots aantref. Die ideale watertemperatuur, wat deur die hele jaar met net ’n paar grade wissel, bevorder die groei van die korale. Die lae reënval in die gebied beteken verder dat min sediment in die see beland. Dit verminder weer die hoeveelheid besoedelstowwe, maar dit spyt my om te sê dat die situasie oor die afgelope 15 jaar versleg het.”
Watter probleme word met die beskerming van hierdie pragtige seelewe ondervind?
“Wanneer ’n mens met ’n betreklik ongerepte habitat te doen het, is besoedeling die grootste probleem. In die Rooi See kom besoedeling uit drie hoofbronne: fosfate, viskweekplase en riool van kusdorpe. Die gewildheid van die duikplekke kan ook probleme veroorsaak. Die delikate koraalrif kan maklik deur onverskillige duikers beskadig word.”
Jy bestudeer die koraalrif in die Rooi See al baie jare lank. Wat is van die dinge wat jy geleer het?
“Ons het ontdek dat visse spesifieke voedingstye het. Party eet drie uur lank in die oggend, van seweuur af, hou dan op en eet daarna ’n verdere drie uur in die middag. Party eet net saans. Hierdie voedingstye is belangrik. As kleiner visse die hele dag lank onder druk van roofvisse was, sou hulle dit moeilik vind om hulleself te voed. En visse kan, soos mense, uitsoekerige eters wees. Die luiperdkabeljou het byvoorbeeld ’n besondere voorkeur vir die seegoudvissie, wat baie algemeen in die Rooi See voorkom. Ons visse in die akwarium het ook hulle gunstelingkosse—sommige hou van tuna, terwyl ander sardientjies verkies.
“Jy dink miskien dat alle mense vir visse eenders lyk, maar dit is nie so nie. Visse en selfs sommige ongewerweldes leer om mense te herken. Ek onthou ’n seekat wat eenkeer speels deur een van ons werkers ’n hou gegee is. Hy het nie daarvan gehou nie en het nooit weer kos van daardie persoon aanvaar nie. Terloops, ons het uitgevind dat saggeaarde mense die beste met visse werk, terwyl ’n aggressiewe of ongeduldige persoon hulle senuweeagtig maak.”
Dit is die ongelooflike verskeidenheid van prag en kleur wat ’n nuwe duiker beïndruk.
“Die kleurvolle visse is weliswaar indrukwekkend. Maar iets wat baie mense nie besef nie, is dat sommige visse se kleure soos seine is, amper soos verkeersligte vir ons. Wanneer die koraal-klipkabeljou byvoorbeeld jag, en nie net oor sy gebied waghou nie, word sy kleur ’n donkerder skakering van rooi. Die nar-anemoonvis, wat deel van die klipkabeljou se dieet uitmaak, kan van die klipkabeljou se kleur aflei wanneer hy ‘van diens af’ is. Gedurende hierdie veilige tye sal ’n nar-anemoonvis ’n klipkabeljou wat in sy gebied kom vreesloos verjaag.”
Die uitsonderlike prag van God se skepping kan sonder twyfel in talle onwaarskynlike plekke ontdek word. My lewe is verryk deur net ’n klein deeltjie van hierdie prag te verken. Hierdie besoekie aan die wêreld onder die water het my waardering vir die natuurskatte van ons planeet verdiep.—Bygedra.
[Prent op bladsy 26]
’n Duiwel-vuurvis het op sy gemak rondgeswem, onbesorg oor roofvisse. Hulle bly op ’n afstand, aangesien sy stekelrige vinne gevaarlik giftig is
[Prent op bladsy 26]
Die nar-anemoonvis dwaal selde ver van sy huis af weg, wat tussen die tentakels van ’n groot anemoon is. Hy is immuun teen die tentakels terwyl hy help om sy gasheer skoon te hou
[Prent op bladsy 26]
Vlindervisse kom in ’n reënboog van kleure voor. Hulle papierdun liggame wieg heen en weer en het my aan ’n vlinder herinner
[Prent op bladsy 26]
Die Picassovis, met sy spoggerige strepe en wat soos heldergeel lipstiffie lyk, het my aan ’n abstrakte kunswerk herinner
[Prent op bladsy 26]
Die keiser-engelvis het ’n veelkleurige kleed wat van kleur en patroon verander terwyl hy tot volwassenheid groei