’n Besoek aan die Groot Barrièrerif
Deur Ontwaak!-medewerker in Australië
Die opgewonde gebabbel van die toeriste bereik ’n crescendo wanneer die plesierboot aan die einde van sy 29 kilometer lange rit vanaf Cairns spoed verminder. Die aansteeklike gegiggel van ’n groep meisies verraai hulle opgewondenheid—hulle staan op die punt om af te klim op Green Island, ’n vername aantreklikheid op Australië se Groot Barrièrerif.
‘Maar wat is ’n barrièrerif?’ vra jy miskien. ‘En wat is so wonderlik omtrent hierdie een dat hy so ’n titel verdien?’
Groot—geen oordrywing nie
Die Groot Barrièrerif is die grootste stelsel van koraalriwwe in die wêreld. Dit strek ongeveer 2 000 kilometer langs die kus van Queensland, die noordelike staat van Australië. Individuele riwwe verskil baie in grootte, maar sommige van die groteres is tot 2 kilometer wyd en 24 kilometer lank. Die totale oppervlak van die Groot Barrièrerif-Seepark is 349 000 vierkante kilometer, en dit is van 16 kilometer tot meer as 300 kilometer van die Australiese kuslyn af.
Die term “barrièrerif” word gebruik om ’n rif te beskryf wat parallel aan ’n kuslyn lê, maar wat verder as die nader strandrif is. ’n Ander soort rif is die atol wat gekenmerk word deur sy ooreenkoms met ’n oliebol aangesien dit ringvormig is met ’n lagune in die middel.
Die Barrièrerif se klimaat is baie aangenaam—warm in die wintermaande, en die res van die jaar se tropiese hitte word deur verfrissende seebriese getemper. Enige aanspraak op grootheid moet ook die rif se rol as ’n yslike reservaat vir voëls en seediere insluit. Dit is beroemd vir sy verskeidenheid eetbare vis, soos tuna, briekwabaars en seeforel, om nie eens van sy grootvis te praat nie—swartmarlyne, swaardvisse, barrakudas en haaie.
Op die rif word van die wêreld se pragtigste skulpe gevind—grotes ook. Reusegapermosselskulpe wat meer as 230 kilogram weeg, is nie ongewoon nie. En van die wêreld se grootste oesters is van die rif geoes. Daar is al selfs perlemoen langs die noordelike gedeelte versamel.
Die manjifieke kleure van die koraal self is werklik pragtig. Die skitterende kleure van die tropiese vis wat in sy waters wemel, probeer hiermee meeding: skerp kontraste van blou en oranje, swart en goud, selfs skarlaken en groen. Nog iets wat ’n mens verbaas, is die vreemde vorms van hierdie visse, wat duidelik gesien kan word wanneer hulle tussen die pragtige, komplekse koraalstrukture rondswem.
Die wonder van koraal
Koraal is die kalksteen-“huis”, of -skelet, wat vervaardig word deur ’n klein seediertjie wat ’n poliep genoem word. Terwyl hy lewe, bou hy die koraal-“huis”. Wanneer die klein poliep doodgaan, laat hy die skelet agter as ’n erfenis aan toekomstige geslagte. By geboorte swem die piepklein polieplarwe vry rond, maar hy heg hom gou aan die koraal vas wat deur sy voorouers agtergelaat is. Noudat hy stewig geanker is, groei hy in die vorm van ’n buis, met ’n mond bo-aan die buis waaruit klein tentakels groei. Die poliep begin dan met sy dieet wat uit die dierlike deel van plankton, hoofsaaklik klein skaaldiere en vislarwes, bestaan.
Van nou af bou hy vlytig deur kalsiumsoute uit die seewater op te neem en ’n harde kalksteenagtige stof af te skei, wat ’n steenagtige koppie by sy “voet”, of basis, vorm. Opeenvolgende geslagte bou voort op hierdie koppievormige skelette, wat verskillende vorms en kleure aanneem na gelang van die tipe koraalorganisme wat die bouwerk doen.
Die resultaat is ’n treffende verskeidenheid pragtige koraal wat aanleiding gee tot sulke beskrywende name soos kantkoraal, paddastoelkoraal, hertshoringkoraal, sterkoraal en breinkoraal, om maar net ’n paar te noem. Die asemrowende kleure van lewende koraal is wit, geel, groen, bruin, oranje, pienk, rooi, pers, blou of swart.
Dit is dus die bousteen van die Groot Barrièrerif: kleurvolle, fassinerende koraal. En hoewel die vernaamste soorte wat daar gevind word die ronde sterkoraal, die breinkoraal asook die delikate hertshoringkoraal is, is daar na bewering ten minste 350 koraalsoorte op die rif! Die dikte van die koraal wat die rif vorm, wissel. Twee boorgate wat op een koraaleiland geslaan is, het ’n diepte van 120 meter bereik voordat hulle op sand afgekom het.
Die prag is onder die water
Die koraal naby die oppervlak is nie baie mooi nie, aangesien dit slegs uit dooie en gebreekte koraal bestaan. Dit is die lewende koraal in dieper poele wat die asemrowende kleure het. Gevolglik kan die ware prag van die rif slegs uit ’n boot met ’n glasbodem gesien word of as jy met ’n snorkel of suurstofapparaat duik.
Die water om die rif is kristalhelder, sodat die betowerde passasiers wat rondom die groot glaspaneel in die vloer van die spesiaal geboude bote sit voorwerpe tot op 30 meter duidelik kan sien. Selfs die diepste koraal kan maklik van die water se oppervlak gesien word, want rifkoraal groei die beste in sonverligte water, en die rif word stadiger gebou wanneer die water dieper as 11 meter word.
Die rif se vyande
Die mens self is soms die grootste vyand van natuurwonders soos die Barrièrerif. Daarom is baie mense bly dat die Australiese regering tot dusver olieboorwerk op die rif verbied het, hoewel daar reeds eksplorasieboring gedoen is.
Maar daar is ’n “vyand” wat nie maklik beheer kan word nie: ’n seester wat die doringkroonseester genoem word. Sy naam is afgelei van sy voorkoms; hy het tot 23 arms wat uit ’n sentrale liggaam uitsteek, soos die speke van ’n wiel. Sy hele oppervlak is bedek met duisende skerp stekels wat vir die mens giftig is. Dit is een van die grootste seesterre ter wêreld en kan ’n deursnee van tot 70 sentimeter bereik.
Doringkroonseesterre eet lewende koraal, dit wil sê, hulle eet die lewende poliepe wat nog besig is om die koraal te vervaardig, en hulle het groot skade aan dele van die rif veroorsaak. Hierdie seesterre is sedert hulle die eerste keer in 1962 opgemerk is ’n baie omstrede onderwerp.
Sommige het die onrusbarende opinie uitgespreek dat die hele Barrièrerif in gevaar is, en hulle laat waarskuwings hoor soos ‘Geen Rif teen die jaar 2000’. Aan die ander kant is daar wetenskaplikes wat beweer dat hierdie plaag natuurlik en noodsaaklik is en dit met die langtermynvoordele van ’n bosbrand vergelyk. Hulle wys daarop dat die seesterplaag tot dusver tot ’n derde van die rif beperk is.
Die meeste mense stem saam dat ’n deegliker wetenskaplike ondersoek nodig is, ongeag hulle persoonlike mening van hierdie stekelrige seester en die skade wat hy aan die koraalrif aanrig. Gevolglik is daar die afgelope paar jaar ’n studie aan die gang wat al beskryf is as die intensiefste studie van ’n seedier wat nog in Australiese waters onderneem is. Wat die finale uitslag sal wees, sal die tyd alleen leer. As jy intussen na Australië reis, sal ’n besoek aan sy fassinerende en kleurvolle Groot Barrièrerif sonder twyfel jou waardering vir die wonders van die skepping verhoog.
[Kaart/Prente op bladsy 24, 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Groot Barrièrerif
AUSTRALIË
[Erkenning]
Photos of coral: By courtesy of Australian Overseas Information Service