Sendelinge agente van die lig of van die duisternis?—Deel 2
Weswaarts na Europa
VIR Jesus se sendingopdrag om uitgevoer te word, moes mense regoor die wêreld met die boodskap van die ware Christelike godsdiens bereik word (Mattheüs 28:19; Handelinge 1:8). Hierdie feit is beklemtoon toe die apostel Paulus gedurende die tweede van drie sendingreise ’n gesig gesien het waarin hy gesmeek is: “Kom oor na Macedonië en help ons!”—Handelinge 16:9, 10.
Paulus het daardie uitnodiging aangeneem, en in ongeveer 50 G.J. het hy oorgegaan om in die Europese stad Filippi te preek. Lidia en haar huisgesin het gelowig geword, en ’n gemeente is gestig. Dit was maar die begin van die Christelike godsdiens se triomftog deur die hele Europa. Paulus self het later in Italië, en moontlik selfs in Spanje, gepreek.—Handelinge 16:9-15; Romeine 15:23, 24.
Maar Paulus was nie die Christelike godsdiens se enigste sendeling nie. Die skrywer J. Herbert Kane het gesê: “Daar moes baie ander gewees het wie se name in die geskiedenis verlore geraak het. . . . Die Handelinge van die Apostels vertel nie die volle verhaal nie.”—A Global View of Christian Missions From Pentecost to the Present.
Ons weet egter nie in watter mate Jesus se ander volgelinge as sendelinge in vreemde lande gedien het nie. Tradisionele opvattings dat Thomas na Indië en Markus die evangelis na Egipte toe gegaan het, kan nie bevestig word nie. Wat ons wel weet, is dat al Christus se ware dissipels die sendinggees gehad het en dat hulle almal, ten minste in hulle eie vaderland, sendingwerk gedoen het. Soos J. H. Kane sê: “Hierdie historiese gebeurtenis [Pinkster] het die begin van die Christelike kerk gekenmerk en die sendingbeweging ingestel, want in daardie dae was die kerk ’n sendingkerk.”
Na die uithoeke van Europa
Die Jode het aan die aanbidding van een ware God geglo. Hulle het hulle hoop op ’n beloofde Messias gestel. Hulle het die Hebreeuse Geskrifte as God se Woord van waarheid aangeneem. Daarom was die burgers van die lande waarheen die Jode verstrooi is waarskynlik in ’n mate met hierdie opvattings bekend. Aangesien dit aspekte van aanbidding was waaroor Christene en Jode saamgestem het, was die boodskap van die Christelike godsdiens, toe dit te voorskyn gekom het, nie heeltemal nuut nie. Volgens J. H. Kane “was hierdie faktore ’n ontsaglike hulp vir die Christensendelinge terwyl hulle deur die Romeinse wêreld gereis het en die evangelie verkondig en kerke gestig het”.
Die Joodse verstrooiing het dus die weg vir die Christelike godsdiens voorberei. Die vinnige verspreiding van die Christelike godsdiens het plaasgevind omdat Christene die sendinggees gehad het. “Die evangelie is deur leke verkondig”, sê J. H. Kane en vervolg: “Waarheen hulle ook al gegaan het, het hulle met blydskap hulle vriende, bure en vreemdelinge van hulle nuwe geloof vertel.” Die geskiedskrywer Will Durant verduidelik: “Byna elke bekeerling het, met die ywer van ’n revolusionis, van homself ’n propagandis gemaak.”
Teen 300 G.J. het ’n verdorwe vorm van die Christelike godsdiens dwarsdeur die Romeinse Ryk voorgekom. Hierdie verdorwenheid, ’n afvalligheid van ware aanbidding, is voorspel (2 Thessalonicense 2:3-10). ’n Afvalligheid het in werklikheid plaasgevind. Will Durant verduidelik: “Die Christelike godsdiens het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit oorgeneem.”
Namate naamchristene al hoe verder van die ware Christelike godsdiens af weggedryf het, het die meeste die sendinggees verloor. Iemand wat egter wel ’n sendinggees gehad het, was ’n kind wat aan die einde van die vierde eeu uit Katolieke ouers in Brittanje gebore is. Hy was bekend as Patrick, en hy het die boodskap van Christus na die westelike punt van Europa geneem—na Ierland—waar hy volgens oorlewering duisende mense bekeer en honderde kerke opgerig het.
Ierland het spoedig die leiding in die sendingwerk geneem. Volgens J. H. Kane het “hierdie sendelinge hulle met vurige ywer in die stryd teen die heidendom gewerp”. Een van hierdie sendelinge was Columbanus, wat blykbaar ’n belangrike rol gespeel het in die bekering van Skotland. In ongeveer 563 G.J. het hy en 12 metgeselle ’n klooster op Iona opgerig, ’n eiland aan die weskus van Skotland wat ’n middelpunt van sendingbedrywighede geword het. Columbanus het kort voor 600 G.J. gesterf, maar die daaropvolgende 200 jaar is sendelinge steeds van Iona af na alle dele van die Britse Eilande en Europa gestuur.
Nadat die sogenaamde Christelike godsdiens na Engeland versprei het, het van die Engelse bekeerdes die sendinggees van die Iere nagevolg en self sendelinge geword. In 692 G.J. het Willibrord van Northumbrië, ’n antieke Angel-Saksiese koninkryk in noordelike Engeland, saam met 11 metgeselle die eerste Engelse sendelinge in die Lae Lande—Nederland, België en Luxemburg—geword.
In die vroeë agtste eeu het Bonifacius, ’n Engelse Benediktynse monnik, sy aandag op Duitsland gevestig. J. H. Kane sê dat Bonifacius se “briljante sendingloopbaan van oor die veertig jaar hom die titel die Apostel van Duitsland besorg het” en gehelp het om hom die “grootste sendeling van die duister Middeleeue” te maak. Toe Bonifacius al oor die 70 was, is hy en ongeveer 50 van sy metgeselle deur Friese ongelowiges doodgemaak.
The Encyclopedia of Religion beskryf ’n metode wat Bonifacius met welslae gebruik het om mense tot Katolisisme te bekeer: “By Geismar [naby Göttingen, Duitsland] het hy dit gewaag om die heilige eik van Thor af te kap. . . . [Toe] die inwonende Germaanse god geen wraak op hom uitgeoefen het nie, was dit duidelik dat die God wat Bonifacius verkondig het die ware God was wat alleen aanbid en vereer moes word.”
Party sendelinge het ander metodes gebruik en klaarblyklik gedink dat die doel die middele heilig. J. H. Kane erken dat wat die bekering van die Germaanse Saksers betref, dit “eerder deur militaristiese verowering as deur morele of godsdienstige oortuiging bewerkstellig is”. Hy voeg by: “Die onheilige bondgenootskap tussen die kerk en die staat . . . het die kerk aangehits om vleeslike metodes te gebruik om geestelike doelwitte te bereik. Hierdie beleid was nêrens so rampspoedig soos in die Christensendingwerk nie, veral onder die Saksers. . . . Gruweldade is gepleeg.” En ons word vertel dat toe sendelinge na Skandinawië gegaan het “die oorgang hoofsaaklik vreedsaam was; slegs in Noorweë is dwang uitgeoefen”.
Dwang uitgeoefen? Gruweldade gepleeg? Vleeslike metodes gebruik om geestelike doelwitte te bereik? Is dit wat ons moet verwag van sendelinge wat as agente van die lig dien?
Sendelinge in ’n verdeelde huis
Afsonderlike sendingkampanjes is gevoer deur die twee takke van die sogenaamde Christelike godsdiens wat in Rome en Konstantinopel beoefen is. Hulle pogings om Bulgarye te “kersten”, het gelei tot verwarring wat tipies van ’n godsdienstig verdeelde huis is. Bulgarye se leier, Boris I, is tot die Grieks-Ortodokse godsdiens bekeer. Maar toe hy sien dat Konstantinopel die onafhanklikheid van die Bulgaarse kerk te veel beperk, het hy hom tot die Weste gewend en Duitse sendelinge wat Rome verteenwoordig het, toegelaat om hulle weergawe van die Christelike godsdiens te bring. Teen 870 G.J. was dit duidelik dat die Westerse kerk selfs meer beperkend as die Oosterse kerk was; daarom is die Duitsers uit die land gesit en is Bulgarye terug na die arms van die Oos-Ortodokse kerk, waar dit, wat godsdiens betref, sedertdien gebly het.
Ongeveer dieselfde tyd het Westerse sendelinge die “Christelike godsdiens” aan Hongarye bekend gestel. Intussen het albei fasette van die “Christelike godsdiens” in Pole steun gevind. Volgens The Encyclopedia of Religion “was die kerk van die Pole oor die algemeen onder Westerse beheer, terwyl dit terselfdertyd opvallend deur Oosterse invloede gekenmerk is”. Litaue, Letland en Estland was ook “vasgevang tussen die wedywering van Westerse en Oosterse magte, met al die kerklike gevolge daaraan verbonde”. En nadat Finland die “Christelike godsdiens” in die laat 11de en vroeë 12de eeu aangeneem het, het hy hom in dieselfde kragmeting tussen Oos en Wes bevind.
Gedurende die negende eeu het twee broers van ’n prominente Griekse familie in Thessalonika die “Christelike godsdiens” van Bisantium na Slawiese dele van Europa en Asië gebring. Cyrillus, ook bekend as Konstantyn, en Methodius het as die “apostels van die Slawe” bekend geword.
Een van Cyrillus se prestasies was sy ontwikkeling van ’n geskrewe taal vir die Slawe. Hierdie alfabet, wat gegrond was op Hebreeuse en Griekse letters, staan bekend as die Cyrilliese alfabet en word steeds gebruik in tale soos Russies, Oekraïens, Bulgaars en Serwies. Hierdie twee broers het dele van die Bybel in die nuwe geskrewe taal vertaal en ook die liturgie in Slawies bekend gestel. Dit was in stryd met die beleid van die Westerse kerk wat wou hê dat die liturgie in Latyn, Grieks en Hebreeus moes bly. Die skrywer J. H. Kane sê: “Die gebruik van die volkstaal in aanbidding, ’n gebruik wat deur Konstantinopel aangemoedig maar deur Rome veroordeel is, was ’n nuwigheid en het ’n presedent geskep wat in die moderne sendingonderneming van die negentiende en twintigste eeu ten volle ontwikkel het.”
Teen die einde van die tiende eeu was die sogenaamde Christelike godsdiens ook bekend gestel in gebiede van wat nou die voormalige Sowjetunie is. Volgens tradisie is prins Wladimir van Kiëf, die Oekraïne, in 988 G.J. gedoop. Daar word gesê dat hy die Bisantynse vorm van die “Christelike godsdiens” bo Judaïsme en Islam verkies het as gevolg van die indrukwekkende rituele, nie as gevolg van enige boodskap van hoop en waarheid nie.
Trouens, “die tydsberekening van Wladimir se bekering”, sê Keeping the Faiths—Religion and Ideology in the Soviet Union, “gee te kenne dat hy die nuwe godsdiens aangeneem het om sy politieke belange te bevorder, en sodoende het hy ’n tradisie begin wat feitlik ononderbroke deur die geskiedenis van die Russies-Ortodokse Kerk voortbestaan het”. Die boek meld dan hierdie ontnugterende gedagte: “Die kerk was oor die algemeen bereid om die belange van die regering te bevorder, selfs wanneer die regering op die belange van die kerk inbreuk gemaak het.”
Wladimir het beveel dat sy onderdane as Christene gedoop moet word; hulle het geen keuse in die saak gehad nie. Toe hy “die Ortodokse godsdiens as die staatsgodsdiens aangeneem het”, sê Paul Steeves, “het hy ’n program onderneem om die tradisionele godsdiensgebruike van inheemse Slawiese stamme uit te roei”. Op plekke waar mense voorheen aan afgode geoffer het, het hy byvoorbeeld kerke gebou. Paul Steeves sê voorts: “Oorblyfsels van die heidendom het nogtans verskeie eeue lank voortbestaan en is uiteindelik nie soseer vernietig as wat dit in die Russiese godsdienslewe opgeneem is nie.”
Ten spyte van hierdie wankelrige grondslag het die Russies-Ortodokse Kerk die sendingwerk ywerig ondersteun. Thomas Hopko van die Sint Wladimir se Ortodokse Teologiese Seminarium sê: “Die geskrifte en dienste van die kerk is in baie Siberiese tale en dialekte van Alaska vertaal namate mense hulle in die Oostelike streke van die ryk gevestig het en die evangelie daar verkondig is.”
Verskerpte sendingbedrywighede
Die 16de-eeuse Hervorming het geestelike vure regdeur Europa aangesteek. Die grondslag vir verskerpte “Christelike” sendingwerk is gelê toe Protestantse leiers, elkeen op sy eie manier, die openbare belangstelling in godsdiens weer aangevuur het. Luther se vertaling van die Bybel in Duits was belangrik; so ook die vertaling van die Bybel deur William Tyndale en Miles Coverdale in Engels.
Toe, in die 17de-eeu, het ’n beweging in Duitsland ontstaan wat bekend gestaan het as Piëtisme. Dit het Bybelstudie en persoonlike godsdienservaring beklemtoon. The Encyclopedia of Religion brei daarop uit: “Hulle visie van ’n mensdom wat die evangelie van Christus nodig het, het tot die ontstaan en vinnige groei van buite- en binnelandse sendingondernemings gelei.”
Vandag kan ons sien dat die Christendom se sendelinge jammerlik daarin gefaal het om in hulle Europese bekeerlinge ’n Christelike geloof en hoop in te boesem wat sterk genoeg sou wees om die opkoms van ateïstiese Kommunisme en ander totalitêre ideologieë in ons 20ste eeu te stuit. Sedert Kommunisme in sekere lande verdwyn het, het sendelinge hulle bedrywighede hervat, maar Rooms-Katolieke, Ortodokse Katolieke en Protestante word nie verenig in die Christelike geloof waarin hulle na bewering deel nie.
Rooms-Katolieke Kroate en Ortodokse Serwiërs maak deel uit van die vrugte van die Christendom se sendelinge. Wat lig die stigma van ’n verdeelde huis beter toe as die stigma wat aan die Christendom kleef? Watter tipe Christen-“broeders” rig eers hulle gewere op mekaar en span dan saam om dit op nie-Christelike bure te rig? Slegs valse Christene kan hulle aan sulke onchristelike gedrag skuldig maak.—Mattheüs 5:43-45; 1 Johannes 3:10-12.
Het al die Christendom se sendelinge gefaal? Kom ons gaan voort met ons ondersoek deur te kyk na wat hulle in Asië bereik het. Lees in ons volgende nommer die artikel getiteld “Die Christendom se sendelinge keer terug na waar alles begin het”.
[Prent op bladsy 21]
Bonifacius het blykbaar getoon dat heidense gode magteloos is
[Erkenning]
Picture from the book Die Geschichte der deutschen Kirche und kirchlichen Kunst im Wandel der Jahrhunderte