Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 11/22 bl. 24-27
  • Geestelike lig vir die “Donker Vasteland”?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geestelike lig vir die “Donker Vasteland”?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Plaaslike sendelinge bring die eerste straaltjie lig
  • Europese sendelinge maak hulle opwagting
  • Agente van kolonialisme?
  • Die predikingswerk—Die eerste prioriteit?
  • ‘As die lig in jou donkerheid is . . . ’
  • Die Christendom se oes in Afrika
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Hoe daar vandag ware dissipels gemaak word
    Ontwaak!—1994
  • Sendelinge—Wat behoort hulle te wees?
    Ontwaak!—1994
  • Die Christendom se sendelinge keer terug na waar alles begin het
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 11/22 bl. 24-27

Sendelinge agente van die lig of van die duisternis?—Deel 4

Geestelike lig vir die “Donker Vasteland”?

“MINDER as 100 jaar gelede is Afrika die Donker Vastelan genoem omdat groot dele daarvan vir Europeërs onbekend was.” The World Book Encyclopedia verwys nie hier na Afrika se duisternis nie, maar eerder na Europese duisternis—Europa se gebrek aan kennis van ’n vasteland wat grotendeels onverken was. Dit is dus nie ’n teenstrydigheid dat Afrika moontlik sy naam van ’n Latynse woord aprica, wat “sonnig” beteken, kry nie.

Afrika was nietemin in een opsig in duisternis—in duisternis wat Bybelwaarheid betref. Donald Coggan, voormalige aartsbiskop van Kantelberg, noem Afrika en Asië “die twee groot vastelande waarin die Kerke van die Weste hulle mense en geldmiddele byna tweehonderd jaar lank gebruik het”.

Baie van die Christendom se sendelinge was ongetwyfeld opreg. In die najaging van hulle werk het party selfs hulle lewe opgeoffer. Hulle het ’n groot invloed op die lewe in Afrika gehad. Maar het hulle, soos Christus, “lig gebring . . . deur die evangelie” en sodoende die sogenaamde Donker Vasteland van sy geestelike duisternis bevry?—2 Timotheüs 1:10.

Plaaslike sendelinge bring die eerste straaltjie lig

Die eerste Christen, waarvan ons weet, wat in Afrika gepreek het, was self van Afrika, die Ethiopiese hofdienaar wat in die Bybel in Handelinge hoofstuk 8 genoem word. Hy was ’n Joodse proseliet en was op pad huis toe nadat hy by die tempel in Jerusalem aanbid het toe hy deur Filippus tot die Christelike godsdiens bekeer is. Hierdie Ethiopiër het die goeie nuus wat hy gehoor het ongetwyfeld daarna, in ooreenstemming met die ywer van die vroeë Christene, ywerig verkondig en ’n sendeling in sy eie land geword.

Maar of dit die manier is hoe die Christelike godsdiens in Ethiopië wortelgeskiet het, is iets waaroor geskiedkundiges verskil. Die Ethiopies-Ortodokse Kerk dateer blykbaar uit die vierde eeu toe ’n Siriese filosofiestudent genaamd Frumentius as ’n biskop vir Ethiopiese “Christene” georden is deur Athanasius, ’n biskop van die Koptiese Kerk van Alexandrië.

Die Koptiese Kerk—Kopt is afgelei van die Griekse woord vir “Egiptiese”—beweer dat sy stigter en eerste patriarg Markus die Evangelis was. Volgens oorlewering het hy net voor die middel van die eerste eeu in Egipte gepreek. Hoe dit ook al sy, “die Christelike godsdiens” het vroeg reeds na Noord-Afrika versprei, met manne soos Origines en Augustinus wat opgang gemaak het. ’n Kategetiese skool in Alexandrië, Egipte, het ’n beroemde sentrum van “Christengeleerdheid” geword met Pantaenus as sy eerste president. Maar teen die tyd van Pantaenus se opvolger, Klemens van Alexandrië, het afvalligheid blykbaar reeds skade gedoen. The Encyclopedia of Religion toon dat Klemens “die versoening van Christenleerstellings en die Bybel met Griekse filosofie voorgestaan het”.

Die Koptiese Kerk het ’n intensiewe sendelingveldtog onderneem, veral in die oostelike dele van Libië. Argeologiese opgrawings in Nubië en Suid-Soedan getuig ook van Koptiese invloed.

Europese sendelinge maak hulle opwagting

Voor die 16de tot 18de eeu het Europeërs min sendingwerk in Afrika gedoen, terwyl die Katolieke gedurende hierdie tyd ’n mate van sukses behaal het. Protestantse gelowe het tot vroeg in die 19de eeu nog nie hulle opwagting gemaak nie toe Sierra Leone die eerste Wes-Afrikaland geword het wat deur hulle sendelinge bereik is. Hoewel die Protestante hard probeer het om hulle agterstand in te haal, het byna elke Afrikaland met ’n groot “Christenbevolking” vandag meer Katolieke as Protestante.

Die bevolking van Gaboen bestaan byvoorbeeld uit 96 persent voorgewende Christene. Kort voor die Eerste Wêreldoorlog het Albert Schweitzer, ’n Lutheraan, ’n sendinghospitaal en later ook ’n melaatsekolonie daar opgerig. Ondanks die groot invloed wat sy ruim 40 jaar van Protestantse sendingwerk op die land gehad het, oortref die Katolieke die Protestante steeds met meer as 3 tot 1.

Maar met toenemende Protestantse betrokkenheid het die sendingwerk in Afrika veld gewen. Adrian Hastings van die Universiteit van Leeds verduidelik dat “die belangrike erfenis van hierdie tydperk [die tweede helfte van die 19de eeu] ’n betekenisvolle begin met die vertaling van die Bybel in talle Afrikatale was”.

Bybelvertalings in die volkstale het ’n grondslag gelê vir die verspreiding van die “Christelike godsdiens”, iets wat voorheen ontbreek het. Baie inwoners van Afrika het in drome en visioene geglo, siektes beskou as iets wat deur toordery veroorsaak word en veelwywery beoefen. ’n Bybel in die volkstale het die Christendom se sendelinge die geleentheid gebied om skriftuurlike lig op hierdie onderwerpe te werp. Maar Adrian Hastings sê dat “Afrikane dikwels onoortuig van hierdie sake gebly het”. Die gevolg? “Van die einde van die negentiende eeu af het ’n menigte onafhanklike kerke begin ontstaan, eers in Suid-Afrika en Nigerië, toe in baie ander dele van die vasteland waar daar reeds baie sendelinge was.”

Trouens, vandag bestaan daar ongeveer 7000 nuwe godsdiensbewegings, met meer as 32 000 000 aanhangers, in die dele van Afrika suid van die Sahara. Volgens The Encyclopedia of Religion het “hierdie bewegings hoofsaaklik in gebiede ontstaan waar daar intensiewe kontak met die werk van Christensendelinge was”. Die sendelinge het klaarblyklik daarin gefaal om hulle bekeerlinge in die “een Here, een geloof, een doop” te verenig waarvan die sendeling Paulus gepraat het.—Efesiërs 4:5.

Waarom? Die bogenoemde bron verduidelik dat dit as gevolg van “die plaaslike inwoners se teleurstelling met die uitgangspunte en resultate van die Christelike godsdiens [was] . . . , die waarneembare skeidings in die sektariese Christelike godsdiens en sy onvermoë om in plaaslike behoeftes te voorsien [sowel as] die onvermoë van sendelinge van die Christendom om sosiale en kulturele hindernisse te oorkom en ’n gemeenskapsgevoel te wek”.

Die hoeveelheid geestelike “lig” wat die Christendom se sendelinge na die “Donker Vasteland” gebring het, was te min. Dit was gevolglik te swak om die duisternis as gevolg van die gebrek aan Bybelkennis te verdryf.

Agente van kolonialisme?

Ondanks die feit dat party van die Christendom se sendelinge goeie werk gedoen het, moet The Encyclopedia of Religion erken: “Sendelinge het die koloniale oorname aangemoedig en voortgehelp sodat die Christelike godsdiens en die koloniale verowering soms soos die twee kante van een muntstuk gelyk het. Hedendaagse antikolonialisme het die Christelike godsdiens in Afrika al dikwels, met ’n mate van regverdiging, as ’n medepligtige van kolonialisme bestempel.”

The Collins Atlas of World History lig dit toe wanneer dit verduidelik dat Westerse nasies aangespoor is deur ’n oortuiging dat “kolonisasie verstandelike verligting, demokratiese beginsels en die voordele van die wetenskap en die geneeskunde aan die binnelandse stamme sou bring wat as primitief beskou is”. En The New Encyclopædia Britannica sê: “Dit was vir die Rooms-Katolieke sendings moeilik om hulle van kolonialisme los te breek, en baie sendelinge wou nie die breek hê nie.”

Dit is dan logies dat die Christendom se sendelinge, in die mate dat hulle demokrasie voorgestaan en die voordele van Westerse wetenskap en mediese vooruitgang geprys het, as agente van kolonialisme voorgekom het. Toe mense eers deur die ekonomiese, politieke en sosiale strukture van die koloniale magte ontnugter is, het hulle ook geloof in die Europese godsdienste verloor.

Die predikingswerk—Die eerste prioriteit?

Wanneer daar ook al melding gemaak word van Protestantse sendelinge in Afrika kom die naam David Livingstone gewoonlik ter sprake. Hy is in 1813 in Skotland gebore en het ’n sendingdokter geword en Afrika deurkruis. Sy innige liefde vir die “Donker Vasteland” sowel as die opwinding om ontdekkings te doen, was vir hom ’n bykomende aansporing. The New Encyclopædia Britannica praat van “die Christelike godsdiens, die handel en die beskawing” as “die drie-eenheid wat hy geglo het, bestem was om Afrika toeganklik te maak”.

Livingstone het baie bereik. Maar sy eerste prioriteit was klaarblyklik nie om die evangelie te verkondig nie. Oor sy 30 jaar van sendingwerk “in die suidelike, sentrale en oostelike dele van Afrika—dikwels in plekke waar geen Europeër dit voorheen gewaag het nie”, sê die Britannica: “Livingstone het Westerse gesindhede ten opsigte van Afrika dalk meer as enige ander persoon voor of ná hom beïnvloed. Sy ontdekkings—geografies, tegnies, medies en sosiaal—het ’n massa ingewikkelde kennis voorsien wat nou nog bestudeer word. . . . Livingstone het van ganser harte geglo in die vermoë van die mense van Afrika om die moderne wêreld te betree. Hy was, in hierdie opsig, nie net ’n voorloper van Europese imperialisme in Afrika nie maar ook van nasionalisme in Afrika.” Livingstone het groot medelye met die mense van Afrika getoon.

Hoewel party sendelinge die slawehandel ondersteun of ten minste goedgekeur het, sou dit onredelik wees om hulle as ’n groep daarvan te beskuldig. Maar of die medelye wat baie van hulle betoon het, aangedryf is deur ’n begeerte om God se standaarde van onpartydigheid en gelykheid te handhaaf of meer deur normale gevoelens van persoonlike besorgdheid oor die welsyn van mense is moeilik om retrospektiewelik vas te stel.

Laasgenoemde sou egter in ooreenstemming wees met die prioriteite van die meeste sendelinge. Die boek Christianity in Africa as Seen by Africans erken dat niemand “hulle rekord van humanitêre werk kan ewenaar nie”. Maar die bou van hospitale en skole het beteken dat mense se fisiese behoeftes die voorkeur geniet het bo die verkondiging van God se Woord ter bevordering van goddelike belange. Party sendelinge het selfs handelsposte opgerig sodat Afrikane meer Europese goedere kon geniet en sodoende hulle lewenstandaard kon verbeter.

Dit is te verstane dat baie Afrikane vandag dankbaar is vir die materiële voordele wat die Christendom se sendelinge moontlik gemaak het. Soos Adrian Hastings sê: “Selfs wanneer Afrika se politici uiters krities oor sendelinge en kerke is, laat hulle selde na om waardering vir hulle bydrae tot sekondêre opleiding uit te spreek.”

‘As die lig in jou donkerheid is . . . ’

Volgens Adrian Hastings was Afrika tot onlangse eeue “’n vasteland waarin die Christelike godsdiens gefaal het om ’n blywende deurbraak te maak”. Trouens, teen die middel van die 18de eeu het Katolieke sendings byna heeltemal verdwyn, en gevolglik bevraagteken die skrywer J. Herbert Kane hoe “mislukking op so ’n groot skaal” moontlik was. Om maar een ding te noem, die sterftesyfer onder sendelinge was hoog. Nog ’n faktor was Portugal se betrokkenheid by die slawehandel. Aangesien al die Katolieke sendelinge Portugees was, het dit “die Christelike godsdiens in ’n baie slegte lig gestel”. Maar “meer ter sake en miskien verreikender”, voeg J. Herbert Kane by, “was die oppervlakkige sendingmetodes, wat haastige ‘bekerings’ en massadoop tot gevolg gehad het”.

Die Christendom se sendelinge kon Afrikane nie motiveer om hulle godsdienste met die sendelinge se leerstellings te vervang nie. Bekering het ’n verandering van godsdiens beteken, maar nie noodwendig in oortuiging en gedrag nie. Eleanor M. Preston-Whyte van die Universiteit van Natal sê: “Die Zulu se kosmologiese idees is op ’n aantal subtiele maniere in Zulu-Christen-denke opgeneem.” En Bennetta Jules-Rosette van die Universiteit van Kalifornië in San Diego sê dat hedendaagse godsdienste in Afrika “elemente van tradisionele Afrikagodsdienste met die van die ingevoerde godsdienste, die Christelike godsdiens en Islam, meng”.

Psalm 119:130 sê dat “wanneer u [God se] woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is” (NAV). Watter lig kon die Christendom se sendelinge gee, aangesien hulle oor die algemeen nie voorkeur aan die openbaarmaking van God se Woord gegee het nie? Die onervares het sonder insig gebly.

Die “lig” wat deur die Christendom se sendelinge in vorige eeue aangebied is, hulle “goeie werke”, het uit ’n wêreld voortgespruit wat in duisternis is. Ondanks hulle bewerings het hulle nie ware lig versprei nie. Jesus het gesê: “As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!”—Mattheüs 6:23.

Hoe het die sendelinge intussen in die Amerikas, die Nuwe Wêreld, gevaar? Deel vyf in ons reeks sal die antwoord hierop gee.

[Prent op bladsy 25]

In die najaging van hulle werk het party sendelinge selfs hulle lewe opgeoffer

[Erkenning]

From the book Die Heiligkeit der Gesellschaft Jesu

[Prent op bladsy 26]

Die Christendom se sendelinge, soos Livingstone, se eerste prioriteit was nie altyd om die predikingswerk te doen nie

[Erkenning]

From the book Geschichte des Christentums

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel