Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 9/1 bl. 5-9
  • Die Christendom se oes in Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Christendom se oes in Afrika
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sade van verdeeldheid word gesaai
  • Christene of blanke rassiste?
  • Hulle het soos konings in Afrika geregeer
  • Die wêreldoorloë
  • Die Afrikane se opvattings oor voorouers
  • Geestelike lig vir die “Donker Vasteland”?
    Ontwaak!—1994
  • Hoe daar vandag ware dissipels gemaak word
    Ontwaak!—1994
  • Wat die Christendom in Afrika gesaai het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Weswaarts na Europa
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 9/1 bl. 5-9

Die Christendom se oes in Afrika

CHARLES LAVIGERIE se droom om Algerië tot ’n “Christelike nasie” te bekeer, was inderdaad net ’n droom. Vandag is 99 persent van Algerië se bevolking Moslems, en die Christendom het in groot dele van Noord-Afrika veld verloor. Maar wat van die res van die vasteland?

“Die Christelike godsdiens”, beweer dr. J. H. Kane in A Concise History of the Christian World Mission, “het meer bekeerlinge in Swart Afrika gemaak as in die hele res van die Derde Wêreld tesame.” Maar is hierdie bekeerlinge werklik Christene? “Een groot gevaar in die kerk van Afrika”, erken dr. Kane, “is die vermenging van Christelike en heidense idees en gebruike.” Verder is sy uitdrukking “die kerk van Afrika” foutief. Daar is letterlik duisende kerke in Afrika, elkeen met sy eie manier van aanbidding. Waarom?

Sade van verdeeldheid word gesaai

Die sade van verdeeldheid is gesaai selfs nog voor sendelinge na Afrika begin vaar het. Die London Missionary Society het lede van verskillende kerke gewerf, en driftige leerstellige argumente het tussen die sendelinge op pad na hulle toewysings plaasgevind. Dit was onvermydelik dat die konflik sou vererger nadat hulle in hulle sendingposte gevestig geraak het.

“Die sendelinge”, skryf professor Robert Rotberg in sy boek Christian Missionaries and the Creation of Northern Rhodesia 1880-1924, “het in bittere geskille met mekaar en hulle buitelandse direkteure betrokke geraak, gewoonlik tot nadeel van hulle evangeliese doelwitte. . . . Dit het gelyk of die sendelinge net soveel tyd en energie aan hierdie polemiek bestee het as wat hulle daaraan bestee het om bekeerlinge te probeer maak.”

Soms het twiste onder die sendelinge tot die stigting van wedywerende sendingorganisasies gelei. Katolieke en Protestantse sendingorganisasies het verbete om bekeerlinge meegeding. Hierdie selfde gebrek aan eenheid moes noodgedwonge onder hulle bekeerlinge weerspieël word. Mettertyd het miljoene Afrikane die sendingkerke verlaat en hulle eie kerke gestig.

“Die Onafhanklike Kerke in Afrika”, skryf sendelinggeskiedskrywer dr. Kane, “word oral in Afrika aangetref . . . Daar is altesaam sowat seweduisend verskillende groepe in hierdie beweging.” Wedywering onder sendelinge met teenstrydige opvattings was nie die enigste oorsaak hiervan nie. In sy boek The Missionaries verduidelik Geoffrey Moorhouse dat nog ’n oorsaak van die “swart hervorming . . . ’n wrok teen wit meerderwaardigheid” was.

Christene of blanke rassiste?

“Die sendelinge”, erken dr. Kane, “het ’n meerderwaardigheidskompleks gehad.” Hulle “het geglo dat die Christelike godsdiens ’n blanke kultuur en blanke leierskap moet hê”, sê Adrian Hastings in sy boek African Christianity.

Die Fransman Charles Lavigerie was een sendelingleier wat hierdie beskouing gehuldig het. Nog een was John Philip, superintendent van die sendingstasies van die London Missionary Society in suidelike Afrika. Hy het in 1828 gespog: “Ons sendelinge . . . brei Britse belange, Britse invloed en die Britse ryk uit. Oral waar die sendeling sy vaandel onder ’n onbeskaafde stam geplant het, verdwyn [die stam se] vooroordele teen die koloniale regering; hulle afhanklikheid van die kolonie word groter deur kunsmatige behoeftes te skep; . . . skielik was daar nywerheid-, handel- en landbou-ontwikkeling; en elke opregte bekeerling onder hulle . . . word die bondgenoot en vriend van die koloniale regering.”

Moet dit ons dan verbaas dat Europese regerings hierdie sendelinge beskou het as nuttige agente om koloniale uitbreiding te bevorder? Wat die sendelinge betref, hulle het die koloniale verowering van Afrika verwelkom. Soos hulle by die Wêreldsendingkonferensie van 1910 in Edinburgh verklaar het: “Dit is . . . onmoontlik om altyd ’n onderskeid te tref tussen die doelstelling van die sendeling en die doelstelling van die Regering.”

Hulle het soos konings in Afrika geregeer

Sommige sendelinge het op koloniaal militêre mag staatgemaak om hulle gesag te laat geld. Kusdorpe is soms deur Britse oorlogskepe verwoes omdat die inwoners geweier het om hulle aan die sendelinge se gesag te onderwerp. In 1898 was Dennis Kemp, ’n Wesleyaanse sendeling in Wes-Afrika, “vas oortuig dat die Britse Leër en Vloot vandag deur God gebruik word om Sy doel te bereik”.

Nadat die sendelinge gevestig geraak het, het hulle soms die sekulêre gesag van die stamhoofde oorgeneem. “Die Londense sendelinge”, skryf professor Rotberg, “het dikwels geweld gebruik om hulle teokratiese wet af te dwing. ’n Instrument wat hulle graag gebruik het om hulle ontevredenheid te kenne te gee, was die cikoti, ’n lang karwats van behandelde seekoeivel. Afrikane is sonder meer onder enige voorwendsel daarmee geslaan.” David Lamb sê in sy boek The Africans: “Een bekeerde Afrikaan onthou ’n Anglikaanse sendeling in Uganda wat bekend was as Bwana Botri en wat gereeld gedurende die diens sy preekstoel verlaat het om inboorlinge wat laat gekom het, af te ransel.”

’n Sendeling, James Mackay, wat geskok was oor sulke dade, het ’n klag by die direkteure van die London Missionary Society ingedien. Hy het gesê: “Pleks dat ons beskou word as die wit mense wat die goeie nuus van God se liefde na hulle toe bring, word ons algemeen geken en gevrees.”

Die wêreldoorloë

“Vir ’n eeu en langer”, sê die boek The Missionaries, “is daar voortdurend en driftig vir [die inboorlinge] gesê dat die bakleiery en al die barbaarse instinkte wat dit ontketen vergeefs en goddeloos is.” Toe, in 1914, het die Eerste Wêreldoorlog tussen die sogenaamde Christelike nasies van Europa uitgebreek.

“Die sendelinge van byna elke nasionaliteit is in die Groot Oorlog betrek”, verduidelik Moorhouse. Tot hulle skande het die sendelinge hulle swart bekeerlinge aangemoedig om kant te kies. Sommige sendelinge het selfs swart troepe in die oorlog aangevoer. Die gevolge van die oorlog word goed weergegee deur professor Stephen Neill in sy History of Christian Missions: “Die Europese nasies, met hulle luidkeelse aandrang op ’n monopolie van die Christelike godsdiens en die beskawing, het hulle blindelings en halsoorkop in ’n burgeroorlog begewe wat hulle ekonomies verarm en sonder ’n greintjie deug sou laat.” “Die Tweede Wêreldoorlog”, sê Neill verder, “het net afgerond wat die eerste reeds bereik het. Die morele aansprake van die Weste is as ’n skyn ontmasker; ‘die Christendom’ is as bloot ’n mite aan die kaak gestel. Dit was nie meer moontlik om van ‘die Christelike Weste’ te praat nie.”

Die swart hervorming het begryplikerwyse ná die Eerste Wêreldoorlog toegeneem. Maar wat van die Afrikane wat getrou aan die Christendom se kerke gebly het? Het die kerke hulle daarna die waarheid uit die Bybel geleer?

Die Afrikane se opvattings oor voorouers

Die Christendom se sendelinge het die godsdiensgebruike van die Afrikane, soos om waarsêers te raadpleeg om hulle afgestorwe voorouers te paai, veroordeel. Terselfdertyd het die sendelinge volgehou dat alle mense ’n onsterflike siel het. Hulle het ook die verering van Maria en die “heiliges” bevorder. Hierdie leerstelling het die Afrikane se geloof bevestig dat hulle dooie voorouers lewe. Daarbenewens het die sendelinge, deur godsdiensbeelde, soos die kruis, te vereer, regverdiging gegee aan die Afrikane se gebruik van gelukbringers om hulle teen bose geeste te beskerm.

Professor C. G. Baëta verduidelik in sy boek Christianity in Tropical Africa: “’n Afrikaan kan uit volle bors ‘Geen ander toevlug het ek nie’ sing, terwyl hy steeds ’n gelukbringer iewers aan sy persoon dra, of kan direk van die Kerk af na sy waarsêer toe gaan, sonder om te voel dat hy enige beginsel skend.”—Vergelyk Deuteronomium 18:10-12 en 1 Johannes 5:21.

Baie sendelinge het vir die Afrikane vertel dat hulle heidense voorvaders in ’n vurige hel gepynig word en dat dit ook hulle lot sou wees as hulle nie die sendelinge se leringe aanvaar het nie. Maar die leerstelling van ewige pyniging is in stryd met eenvoudige verklarings in dieselfde Bybel wat die sendelinge met groot sorg in die Afrika-tale vertaal het.—Genesis 3:19; Jeremia 19:5; Romeine 6:23.

Trouens, die Bybel sê dat sondige mensesiele sterf en dat ‘die dooies glad niks weet nie’ (Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4). Wat die Afrikane betref wat nie ’n geleentheid gehad het om Bybelwaarheid te leer nie, hulle het die hoop om onder diegene te wees wat in die komende “opstanding . . . van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” opgewek gaan word (Handelinge 24:15). Sulke verresenes sal onderrig oor God se voorsiening vir redding ontvang. Dan sal hulle, as hulle uit waardering God se liefde beantwoord, met ewige lewe op ’n paradysaarde beloon word.—Psalm 37:29; Lukas 23:43; Johannes 3:16.

Pleks van die Afrikane hierdie wonderlike Bybelwaarhede te leer, het die Christendom hulle deur valse leringe en godsdiensskynheiligheid mislei. Daar is inderdaad geen steun in die Bybel vir die rol wat die Christendom se sendelinge in die koloniale verowering van Afrika gespeel het nie. Inteendeel, Jesus het gesê sy Koninkryk “is nie van hierdie wêreld nie” en sy ware volgelinge is eweneens “nie van die wêreld . . . nie” (Johannes 15:19; 18:36). Die vroeë Christene was ambassadeurs van Jesus Christus, nie van wêreldse regerings nie.—2 Korinthiërs 5:20, vgl. NW.

Die Christendom se oes in Afrika is derhalwe in sy geheel ’n betreurenswaardige, wat deur skokkende verdeeldheid, wantroue en ’n vermenging van Christelike en heidense idees en gebruike gekenmerk word. Die geweld wat so algemeen in talle “Christelike” dele van Afrika voorkom, strook voorwaar nie met die leringe van die “Vredevors” nie (Jesaja 9:5). Die vrugte van die Christendom se werk in Afrika is lynreg in stryd met Jesus se woorde oor sy ware volgelinge. In gebed tot sy hemelse Vader het Jesus gevra dat “hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het”.—Johannes 17:20, 23; 1 Korinthiërs 1:10.

Beteken dit dat alle sendingwerk in Afrika misluk het? Geensins. Die voortreflike vrugte van ware Christelike sendingwerk in Afrika en oor die hele wêreld heen sal bespreek word in die artikels wat op bladsy 10 begin.

[Prent op bladsy 6]

Sendelingleiers van die vorige eeu, soos John Philip, het geglo dat die Europese beskawing en die Christelike godsdiens een en dieselfde is

[Erkenning]

Cape Archives M450

[Prent op bladsy 7]

Die Christendom se sendelinge het die Afrikane se opvattings oor voorouers aangemoedig deur onskriftuurlike leringe, soos die onsterflikheid van die siel, te verkondig

[Erkenning]

Courtesy Africana Museum, Johannesburg

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel