Ons beskou die wêreld
Ekonomiese rampspoed
“Vir die eerste keer sedert die depressie in die dertigerjare staan die geïndustrialiseerde lande, sowel as die ontwikkelende lande, voor voortdurende werkloosheid”, sê Michel Hansenne, hoofdirekteur van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO). Die Jornal da Tarde sê: “Dertig persent van die wêreld se werkkragte—ongeveer 820 miljoen mense—het geen of te min werk.” Aangaande die IAO se verslag oor Latyns-Amerika sê die Jornal do Brasil: “Daar is ’n verontrustende toename in die aantal mense wat ‘sporadiese’ werkers genoem word—tydelike werkers wat min betaal word—in die oes en verwerking van koffie, die sny van suikerriet en die oes van katoen, vrugte en groente vir uitvoer.”
Skooltirannie
’n Seun wat uit die Kobe Munisipale Tegniese Junior Hoërskool in Japan gesit is, appelleer nou vir sy reg om skoolopleiding te ontvang. As gevolg van sy gewete as een van Jehovah se Getuies het hy nie deelgeneem aan kendo-oefeninge (Japannese skermkuns), wat as deel van liggaamlike opvoeding aangebied word nie. Hoewel hy ’n uitstekende student was, ondanks die lae punt wat hy vir liggaamlike opvoeding gekry het, is hy steeds uit die skool gesit. “Dit gaan teen alle ‘gesonde verstand’ op skool”, het professor Tetsoeo Sjimomoera van Tsoekoeba-universiteit in die Jomjoeri Sjimboen gesê, “om ’n student, wat geen ander probleem het nie, weens swak skoolwerk uit die skool te sit, net omdat hy in een spesifieke vak die puntvereiste met ’n paar punte gemis het.” Hy het buigsaamheid aanbeveel en toe gesê: “Wat in hierdie geval verontrustend is, is die skool se diepgewortelde tirannieke neigings.”
“Groot morele mislukkings in die geskiedenis”
“Die Vatikaan se optrede ten opsigte van die Slagting is een van die groot morele mislukkings in die geskiedenis—een waarvan die Katolieke Kerk self nog moet herstel”, skryf die rubriekskrywer James Carroll in The Boston Globe. Om sy punt te staaf, noem hy die volgende geskiedkundige gegewens: “1929—Die Lateraanse Verdrae tussen Mussolini en Pius XI gee die Vatikaan vryheid en geld, en hulle gee Mussolini die nodige aansien. [1933]—Die Vatikaan sluit ’n Konkordaat met Hitler, sy eerste internasionale sukses. . . . 1935—Mussolini val Abessinië binne. Katolieke biskoppe seën Italiaanse troepe . . . 1939—Mussolini verklaar dat Jode in Italië geen regte het nie. Die pous sê niks. . . . 1942—Die pous ontvang verslae van Italiaanse veldkapelane oor die uitwissing van die Jode. In sy Kersboodskap betreur hy die lot van ‘die arme mense’ wat as gevolg van hulle ras doodgemaak word, maar hy maak nie melding van Hitler, Duitsland of die uitwissingskampe nie. Weer eens word die woord ‘Jood’ nie gebruik nie. . . . 1943—Duitsers begin Jode in Italië aankeer, selfs in Rome naby die Vatikaan. Die pous swyg steeds.”
Het die Katolieke Kerk berou?
In ’n brief wat aan Katolieke kardinale gestuur is, het pous Johannes Paulus II die kerk vermaan om die foute te erken wat “deur sy manne, in sy naam” gepleeg is en om daaroor berou te hê. Die pous erken dat “dwangmetodes, skadelik vir menseregte”, wat deur die kerk gebruik is, “destyds deur die totalitêre ideologieë van die 20ste eeu aangewend is”, sê La Repubblica van Rome. Maar waaroor moet die Katolieke Kerk berou hê? “Oor baie dinge”, erken Vatikaanse kommentator Marco Politi. “Oor heksejagte, oor ketters wat na die brandstapel gestuur is, oor die wetenskaplikes en vrydenkers wat met foltering gedreig is, oor die ondersteuning van Fascistiese regimes, oor die slagtings wat in die Nuwe Wêreld onder die teken van die Kruis uitgevoer is”, om nie eens te praat “van die beskouing dat hy die volmaakte gemeenskap is, die bewaker van absolute mag oor gewetes” en “van die gedagte, op ’n sekere tydstip in die geskiedenis, dat die pous werklik Christus se plaasvervanger is—’n teologiese lastering”.
Uittog na alternatiewe gelowe
Die Anglikaanse Kerk ondervind ’n groot uittog van geestelikes. Waarom? “Die skynbare oorsaak is die Anglikaanse Kerk se omstrede besluit om vrouepriesters te orden”, berig The Toronto Star. “Meer as 130 Anglikaanse priesters het reeds gevlug. En dit lyk asof ’n massa ander hulle ook daarvoor gereedmaak”, beweer die Star. Sewe Anglikaanse biskoppe en meer as 700 priesters ondersoek die moontlikheid om by die Katolieke Kerk aan te sluit. Sedert die Eerste Wêreldoorlog het ondersteuning van die Anglikaanse Kerk geleidelik afgeneem. Van die 20 miljoen mense in Engeland wat sê dat hulle gedoopte Anglikane is, woon slegs eenmiljoen kerkdienste op ’n Sondag by. Swaar tye lê voor. Die uittog uit die kerk sal waarskynlik voortduur.
Die geweldige koste van misdaad
’n Onlangse verslag deur die Australiese Instituut van Kriminologie het aan die lig gebring dat die koste van misdaad in Australië jaarliks $26 miljard (R70 miljard) beloop. Dit verteenwoordig byna $1300 (R3500) vir elke man, vrou en kind in Australië. ’n Woordvoerder wat in die koerant die Sunday Telegraph van Sydney aangehaal is, het gesê dat bedrog die duurste vorm van misdaad is—jaarliks moontlik verantwoordelik vir byna $14 miljard (R38 miljard). Ander kosteskattings is: moord, $275 miljoen (R743 miljoen) per jaar; dwelmoortredings, $1200 miljoen (R3243 miljoen); inbraak, $893 miljoen (R2413 miljoen) en, verbasend genoeg, winkeldiefstal, tot $1,5 miljard (R4 miljard). Die verslag het afgesluit met die kommentaar dat die koste van misdaad bestendig toeneem.
’n Vernielde wêreld
Vroeg in 1994 het daar 43 oorloë in die wêreld gewoed, sê ’n verslag van die Politieke Instituut by die Universiteit van Hamburg, Duitsland. In sy kommentaar oor die verslag skryf die Ekumeniese Persdiens dat 22 oorloë in Asië gevoer is, 13 in Afrika, 5 in Latyns-Amerika en 3 in Europa. Die Instituut het ook gevind dat daar gedurende die vyftigerjare gemiddeld 12 oorloë per jaar gevoer is. In die sestigerjare het dit tot 22 toegeneem en vandag het daardie syfer byna verdubbel.
Hoe meer hulle kyk, hoe minder lees hulle
Waarom wil skoolkinders wat baie televisie kyk nie meer lees nie? Nadat die navorser C. M. Koolstra die gedrag van 1000 Nederlandse laerskoolkinders oor die afgelope drie jaar bestudeer het, het hy twee redes gevind. Wanneer kinders baie televisie kyk, geniet hulle dit nie meer soveel om te lees nie en verswak hulle konsentrasievermoë. Vir dié wat baie televisie kyk—berig ’n nuusmededeling van die Universiteit van Leiden in Nederland—word dit al hoe moeiliker om te verstaan wat hulle lees en hulle aandag op die bladsy voor hulle gevestig te hou. Kort voor lank stoot hulle hulle boek opsy en gryp hulle na die TV se afstandskakelaar. Die navorser het ook gevind dat die soort programme geen verskil gemaak het nie. Of die kinders nou na baie komedie, kinderprogramme, drama of leersame programme gekyk het, was die resultaat dieselfde: “hulle lees minder”.
Toename in woestyne en swak gesondheid
Hoewel 85 persent van Tanzanië se arm plattelandse bevolking desperaat brandhout vir kook, verwarming en beligting nodig het, word 17 000 hektaar skaars bosland elke jaar uitgekap om die land se tabakoes te droog, sê Synergy, die nuusbrief van die Kanadese Genootskap vir Internasionale Gesondheid. “Dit is inderdaad vreemd dat ons waardevolle bome afkap en woestyne skep om buitelandse valuta van tabakuitvoere te verkry”, sê professor W. L. Kilama, die direkteur-generaal van Tanzanië se Nasionale Instituut vir Mediese Navorsing. “Dit is net so vreemd”, voeg hy by, “dat ontwikkelende lande tabak produseer wat swak gesondheid in die hand werk.”
Seksmisdade aan die toeneem
Seksmisdade—verkragting, bloedskande en kindermolestering—wat eens as ’n probleem van die Westerse wêreld beskou is, is klaarblyklik aan die toeneem in party Afrikalande. In onlangse maande het mediadekking van seksmisdade iets algemeens geword. Die Times of Zambia het gesê dat ’n 37-jarige man ’n vonnis van vyf jaar tronkstraf en ses houe met ’n rottang opgelê is omdat hy met sy 13-jarige dogter seks gehad het. Daar is vasgestel dat hy die meisie misbruik het toe sy vrou hom ná ’n rusie verlaat het. Volgens berig het die meisie haar vader gedurende die verhoor verwerp.
China se groeiende bevolking
Die aantal mense in China sal vanjaar die 1,2-miljardkerf bereik, sê Xinhua, die amptelike Chinese nuusagentskap. Ten spyte van China se streng beleid oor gesinsbeplanning wat ’n maksimum van een kind per gesin bevorder, het die bevolkingsaanwas tot 1,2 miljard ses jaar vroeër gekom as wat bevolkingsbeplanners verwag het. Die nuusagentskap het twee redes vir die toename aan die hand gedoen: Eerstens, baie plattelandse vroue is bereid om die boete te betaal wat opgelê word wanneer hulle meer as een kind het. Tweedens, trekarbeiders wat van die platteland na stede trek, kan die gesinsbeplannings-maatreëls ontduik wat geboortes in gevestigde gebiede kontroleer.