Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 11/8 bl. 12-15
  • Christene kom weer voor Jerusalem se hoër hof

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Christene kom weer voor Jerusalem se hoër hof
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe het die geskil ontstaan?
  • Verdediging uit ’n onverwagte bron
  • Die dag in Jerusalem se hof
  • Die lesse wat geleer is
  • ‘Die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus’
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die wetlike beskerming van die goeie nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Die stryd om godsdiensvryheid
    God se Koninkryk regeer!
  • Waarom ’n internasionale hof in Europa?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 11/8 bl. 12-15

Christene kom weer voor Jerusalem se hoër hof

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ISRAEL

JESUS het voor die Sanhedrin, die hoogste hof in Jerusalem, gestaan en sy lewe was op die spel. Ten spyte van hierdie druk het hy God se Koninkryk onverskrokke verteenwoordig (Mattheüs 26:57-68). Binne weke ná Jesus se verhoor het sy intiemste volgelinge voor dieselfde hoër hof verskyn. Daar het hulle ’n kragtige getuienis vir God se Koninkryk en sy aangestelde Koning gegee.—Handelinge 4:5-21.

Dae later, toe die apostels weer eens voor die Sanhedrin gesleep is, was daar ’n onverwagte wending in gebeure. Ondanks geweldige portuurdwang het Gamaliël, een van die hof se mees gesiene lede, vir Jesus se dissipels opgekom. As gevolg van hierdie verrassende tussenkoms is die apostels vrygelaat.—Handelinge 5:27-42.

Hierdie verskynings in die hof was ter vervulling van Jesus se woorde in Mattheüs 10:16-18: “Kyk! Ek stuur julle soos skape onder wolwe uit . . . Hulle sal julle aan plaaslike geregshowe oorlewer . . . Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, tot ’n getuienis vir hulle en die nasies” (NW). Hoewel hulle dikwels misverstaan is, het Jesus se volgelinge deur die hele Israel bekend geword. Duisende eerste-eeuse Jode het Jesus se boodskap aangeneem (Handelinge 4:4; 6:7). Dit alles was die resultaat van die ywerige predikingswerk van Jesus se Joodse dissipels, met inbegrip van hulle onverskrokke verskynings in die hof.

Vandag is daar betreklik min mense in Israel wat weet van Jehovah se Getuies, waarvan daar tans minder as 500 is in ’n land van ongeveer 5 miljoen mense. Maar in 1993 het die geval van ’n jong Getuie nie net groot aandag op hulle werk gevestig nie, maar ook ’n unieke geskiedkundige verband na vore gebring tussen vooroordeel en die vervolging waarmee Jode sowel as Jehovah se Getuies te kampe gehad het.

Hoe het die geskil ontstaan?

Ariel Feldman, ’n 17-jarige Joods-Russiese immigrant in Israel, wat in Haifa woon, was ’n skrander leerling van wie die skoolpersoneel sowel as die ander leerlinge baie gehou het.

Weens ’n toevallige gesprek op straat gedurende die oorlog in die Persiese Golf het Ariel en sy gesin die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Ariel het ’n deurtastende ondersoek ingestel na en ’n vergelyking gemaak tussen die Joodse geloofsleer en die Bybel se verduidelikings wat Jehovah se Getuies hom getoon het. Omdat Ariel ’n ernstige mens is, het hy vinnig met sy studie van die Bybel gevorder en was hy die eerste lid van sy gesin wat as een van Jehovah se Getuies gedoop is.

Dit alles het geensins sy skoolstudies benadeel nie. Gedurende sy seniorjaar het sy skool egter besluit om ’n proefprogram te begin om leerlinge vir militêre diens voor te berei. Soldate het onderrig gegee, en die program het die oefening van gevegsposisies en -tegnieke ingesluit. Aangesien Ariel van mening was dat deelname aan hierdie kursus sy Bybelopgeleide gewete en sy neutraliteit as een van Jehovah se Getuies sou skend, het hy redelike pogings aangewend om sy standpunt aan die skoolhoof te verduidelik (Jesaja 2:2-4). Hy het beleef verduidelik dat hy bereid is om gedurende hierdie tydperk aan enige ander skoolbedrywigheid deel te neem, maar dat hy nie in stryd met sy opvattings kan optree nie.

Hoewel sy skoolhoof voorheen ’n mate van begrip vir hom getoon het, het sy besluit dat hierdie versoek meer was as wat sy kon toelaat. Sy het ’n ultimatum aan hom gestel: Óf hy neem deel aan die voormilitêre opleiding, óf hy word uit die skool geskors. Ariel kon nie sy gewete skend nie. Op 31 Januarie 1993, slegs ’n paar maande voor sy eindeksamen, is hy sonder enige keuse amptelik uit die skool geskors.

Verdediging uit ’n onverwagte bron

Ariel het hom tot die Vereniging vir Burgerregte in Israel gewend. Hulle was bereid om sy saak te behartig en het gratis regsbystand aangebied. Die hedendaagse Joodse staat Israel is ’n demokrasie. Hoewel dit geen grondwet het wat individuele regte verseker nie, bevorder die Israelse onafhanklikheidsverklaring godsdiens- en gewetensvryheid. Daar was nog nooit ’n regterlike beslissing in Israel waarvolgens iemand op grond van godsdiensoortuiging uit die skool geskors is nie.

Die koerante het in die storie begin belangstel. Ooreenkomstig regsadvies het Ariel nie onderhoude aan verslaggewers toegestaan nie en verkies om sy saak eerder in die hofsaal as in die “hof” van openbare mening te laat beslis. Die skoolhoof was egter gou om haar optrede in ’n onderhoud te regverdig. In die koerant Hadasjot van 9 Februarie 1993 het sy nie net haar mening gelug dat die student se godsdiensstandpunt vir die staat Israel en almal wat dit liefhet aanstoot gee nie, maar sy het ook van die geleentheid gebruik gemaak om haar uit te spreek teen Jehovah se Getuies as ’n organisasie en gesê: “Hulle werksaamhede is verbloem, vieslik, onderduims. Hulle stuur seekatarms uit en die swakkes word so goed as gejag.”

Baie Israeli’s kon sien dat die hoof se menings ’n bevooroordeelde beskouing openbaar. Tom Segev, ’n Israeliese joernalis-geskiedkundige wat baie navorsing oor die Slagting gedoen het, was veral onthuts oor die onderhoud. Dit het hom laat dink aan ’n gesindheid wat deur sommige in Nazi-Duitsland geopenbaar is wat, aangevuur deur valse aantygings teen die Jode, uiting gegee het aan hulle vooroordeel in een van die ergste grootskaalse wandade in die mensegeskiedenis. Volgens Tom Segev was die jong leerling se pligsgetroue standpunt nie die grootste bedreiging vir die staat Israel nie, maar eerder die voorbeeld van onverdraagsaamheid wat die skoolhoof gestel het. Hy is beweeg om ’n artikel te skryf wat die regte van Jehovah se Getuies verdedig het. (Sien die venster, bladsy 15.)

Na aanleiding van Tom Segev se artikel het ander ook hulle menings gelug. ’n Jerusalemse inwoner, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n gevangene in ’n kamp was omdat hy ’n Jood is, het ’n brief aan die redakteur geskryf en vertel van die goeie gedrag van Jehovah se Getuies wat in dieselfde kamp was omdat hulle geweier het om in die Duitse leër te dien.

Aangesien die jong Getuieleerling nie onderhoude wou toestaan nie, het verslaggewers hulle tot ander gemeentelede gewend. Hoewel hulle nie spesifiek oor Ariel se situasie kommentaar gelewer het voordat die saak voorgekom het nie, was hulle bly om inligting te verskaf oor die opvattings van Jehovah se Getuies en hulle werksaamhede in Israel. Dit het tot ’n aantal gunstige artikels in die Israelse pers sowel as ’n radio-onderhoud met een van die plaaslike ouere manne gelei. Baie het as gevolg van hierdie ongevraagde publisiteit vir die eerste keer van Jehovah se Getuies gehoor.

Die dag in Jerusalem se hof

Die Haifa-tak van die Vereniging vir Burgerregte in Israel het herhaaldelik probeer om met die hoof, die Onderwysraad en die Departement van Onderwys in Jerusalem te redeneer. Maar al hierdie pogings het gefaal. Op 11 Maart 1993 is ’n versoek ten behoewe van Ariel Feldman tot die Hooggeregshof in Jerusalem, die hoogste hof in hedendaagse Israel, gerig.

’n Voorlopige verhoor van die saak sou op 15 Maart 1993 plaasvind. Regsgeleerdes van die Vereniging vir Burgerregte in Israel het Ariel in die saak teen die Onderwysraad, die skoolhoof en die Haifa-munisipaliteit verteenwoordig. Drie regters van die Israelse Hooggeregshof het by die aanvangsverhoor in die saak gesit.

Die staatsprokureur het die saak gestel en beweer dat dit die skool se gesag sal ondermyn as die leerling toegelaat sou word om “voor te skryf” aan watter klasse hy sal deelneem of nie. Hulle het die hof versoek om hulle besluit te steun dat die leerling onder geen omstandighede toegelaat moet word om sy voete weer op skooleiendom te sit nie.

Die regsgeleerdes vir burgerregte het die saak gestel as ’n kwessie van die fundamentele reg op godsdiens- en gewetensvryheid wat geskend is deur die manier waarop die skool die saak hanteer het. Die regters het vrae gestel oor die beginsels van Jehovah se Getuies om die rede vir die jong leerling se standpunt te verstaan. Hulle is ook in die geskrewe petisie van baie inligting voorsien aangaande soortgelyke sake regoor die wêreld waarin hoër howe ten gunste van Jehovah se Getuies beslis het.

In hulle opsomming het die regters gesê dat albei kante vir ’n beginsel veg. Maar wanneer daar oorweeg word watter kant die grootste skade berokken sou word as die situasie onveranderd gelaat sou word, is dit beslis die leerling. Die regters het hulle ongeloof uitgespreek oor die gedrag van die hoof en die Onderwysraad en hulle tien dae gegee om hulle optrede skriftelik te verduidelik. Die hof het ’n intermediêre bevel uitgereik wat vereis het dat Ariel Feldman weer op die skoolperseel aanvaar word om die skooljaar te voltooi en dat hy nie verhinder word om sy eindeksamen af te lê nie.

Dae voor die finale verhoor, wat vir 11 Mei 1993 vasgestel is, het die Onderwysraad hulle aanklagte teen Ariel Feldman teruggetrek. Gevolglik is die finale verhoor gekanselleer, is die fundamentele kwessies van die saak nooit deur die hof beslis nie en is geen bindende geregtelike presedent geskep nie. Hoewel dit beteken dat die saak volgens die reg verder gedebatteer kan word, het Jehovah se Getuies die redelike gesindheid waardeer wat die regters van die Israelse Hooggeregshof getoon het.

Die lesse wat geleer is

Van Jesus se dag af tot nou toe het Jehovah se Getuies te kampe gehad met teenstand en vooroordeel wat hulle na die hoogste howe van baie lande geneem het. Hierdie sake was ‘’n getuienis vir die nasies’ (Mattheüs 10:18, NW). Al is sy Getuies in ’n sekere land ook min, kan Jehovah daarvoor sorg dat sy naam alombekend word. En net soos dit in die eerste eeu die geval was met die verrassende tussenkoms van die gesiene lid van die Sanhedrin Gamaliël kan God vandag ook vir sy volk hulp uit onverwagte bronne voorsien.

[Venster op bladsy 15]

“Wat ’n skoolhoof van Jehovah se Getuies weet”

(Uittreksels uit Tom Segev se artikel in Ha’aretz, 12 Februarie 1993)

“In ’n land wat alles het, is daar ook Israeliese Jehovah se Getuies. Hulle is nie baie nie, en nie baie het al van hulle gehoor nie, ondanks die feit dat hulle in Israel, soos in elke land, daarna strewe om volgelinge tot hulle beginsels te maak deur middel van die geskrewe woord asook mondeling. Op die een of ander manier het hulle daardie leerling van die Hugim-skool bereik. Aangesien hy die beweging se beginsels aangeneem het, het hy geweier om aan voormilitêre liggaamlike fiksheidslesse in die skool deel te neem. Die hoof het nie ingewillig om hom van hierdie lesse te verskoon nie. As ek haar reg verstaan het, beskou sy hom as ’n bedreiging vir die toekoms van Sionisme. Vandeesweek het sy aan my verduidelik: ‘Ons is ’n Sionistiese skool; ons leer die kinders om lojaal teenoor die staat en die volk te wees.’ . . .

“Rina Shmueli, van die Vereniging vir Burgerregte in Haifa, het die hoof probeer oorhaal om die leerling se reg te erken om na sy gewete te luister en hom van die voormilitêre opleiding te verskoon; dit kon ’n uiters gepaste les in verdraagsaamheid en demokrasie gewees het. Maar sy het voet by stuk gehou. Sy is van mening dat ons met ’n gevaarlike sekte te doen het wat sy lede deur middel van verleiding werf. . . .

“Dit het my aan iets minder goeds laat dink. Ek het dus die hoof geskakel en haar gevra wat sy in werklikheid van Jehovah se Getuies weet. Sy het gesê dat sy nie veel weet nie, maar dat sy gehoor het dat hulle ook in ander lande bedrywig is en dat sy hulle self in Kanada en Duitsland teëgekom het. Ek het haar gevra of sy weet wat in Duitsland aan hulle gedoen is. ‘Ek weet nie, en ek wil ook nie weet nie’, het die hoof geantwoord.

“Miskien het die Hoërskool Hugim ’n biblioteek en miskien het hulle in die biblioteek The Encyclopedia of the Holocaust, wat deur Israel Gutman geredigeer is. As hulle nie ’n eksemplaar het nie, behoort hulle een te koop. Onder die opskrif ‘Opregte Bybelstudente’ sal die hoof vind dat die Nazi’s Jehovah se Getuies na die konsentrasiekampe gestuur het.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel