Sendelinge agente van die lig of van die duisternis?—Deel 3
Die Christendom se sendelinge keer terug na waar alles begin het
ASIË was die mensdom se oorspronklike tuiste. Dit is waar die Skepper suiwer aanbidding ingestel het. Hoewel mense dit kort daarna dwaaslik deur valse godsdiens vervang het, is ware aanbidding later weer in Asië beoefen deur eertydse Israel en toe deur die Christelike geloof. Toe die Christendom se Europese sendelinge dus hulle boodskap na Asië toe geneem het, is hulle na die vasteland waar menselewe en ware godsdiens begin het. Sou hulle agente van die lig of van dieper duisternis wees?—Genesis 2:10-17.
Wat maak een god meer of minder nou saak?
Dit is onmoontlik om met sekerheid vas te stel wanneer en hoe die Christelike geloof Indië aanvanklik bereik het. Die vierde-eeuse godsdiensgeskiedskrywer Eusebius sê dat die Christenapostel Thomas dit in die eerste eeu daarheen geneem het. Ander sê dat “die Christelike geloof” tussen die tweede en die vierde eeu daar bekend gestel is. Toe Portugese ontdekkingsreisigers aan die einde van die 15de eeu daar aangekom het, het hulle gevind dat “Christene ’n erkende en geëerde deel van die Indiërgemeenskap uitgemaak het”.—The Encyclopedia of Religion.
Die Spaanse priester Fransiskus Xaverius het in 1542 op die Indiese subkontinent voet aan wal gesit. Hy was ’n genoot van Ignatius van Loyola, die stigter van die geestelike orde die Sosiëteit van Jesus, wat algemeen as die Jesuïete bekend staan. The New Encyclopædia Britannica noem Xaverius “die beste Rooms-Katolieke sendeling van hedendaagse tye” en sê hy “het gehelp met die vestiging van die Christelike geloof in Indië, die Maleise eilandgroep en Japan”.
Hoewel Xaverius se lewe betreklik kort was—hy is in 1552 in die ouderdom van 46 oorlede—was hy tydens sy tien jaar van sendingdiens baie bedrywig. Hy het sendelinge glo aangespoor om die gewoontes en die taal aan te neem van die mense onder wie hulle gewerk het.
Die eerste Protestantse sendelinge in Indië het in 1706 daar aangekom, sowat 85 jaar voor William Carey An Enquiry Into the Obligations of Christians to Use Means for the Conversion of the Heathens uitgegee het. Die publikasie van hierdie boek is al “’n mylpaal in die Christelike geskiedenis” genoem. Nadat William Carey dit geskryf het, het hy 40 jaar as ’n sendeling in Indië gedien.
Met verloop van tyd het die Christendom se sendelinge alle dele van die land bereik. Die minderbevoorregte laer stande, veral die uitgeworpenes, wat geen hoop op ’n beter toekoms in Hindoeïsme gevind het nie, het hulle tot die Christendom se godsdienste begin wend. The Encyclopedia of Religion sê egter dat hierdie verwikkeling “deur baie sendelinge en die meeste van die geleerde Indiese Christenleiers afgekeur is”.
Die geskiedskrywer Will Durant openbaar die Christendom se ondoeltreffendheid waar hy skryf: “Indië glo vandag nog net so vas soos altyd in die gode wat al so lank onverstoord afkyk op die armoede en troosteloosheid daar. . . . Wanneer ketterye of vreemde gode gevaarlik baie byval begin vind het, het hulle [die Brahmane] dit geduld en dit dan in die ruimheid van Hindoeïsme opgeneem; een god meer of minder het nie veel saak gemaak in Indië nie.” In sy boek The Jesuits, wat in 1984 uitgegee is, sê Manfred Barthel: “Die Indiërs het op die ou end by hulle heilige koeie gebly; Hindoeïsme het langer as die Jesuïete sowel as die mogols geduur, en dit lyk of hulle vandag hulle oortollige godhede na die Christelike Weste uitvoer.”
Hulle maak nie ’n blywende indruk nie
In die vroeë Christendom, wat reeds in ’n Westerse en ’n Oosterse kerk verdeel was, het daar gedurende die vyfde eeu ’n verdere skeuring plaasgevind. Nestorius, die patriarg van Konstantinopel, het by ’n geskil betrokke geraak wat tot die ontstaan van ’n splintergroep uit die Oosterse kerk, die Nestoriaanse Kerk, gelei het.
Die Nestoriane het sendingwerk beklemtoon. Een van hulle sendelinge, Alopen, het Nestoriaanse opvattings blykbaar in 635 G.J. in China bekend gestel. Die Westerse kerk daarenteen het China eers omstreeks 1294 bereik toe die Fransiskaanse monnik, Johannes van Montecorvino, ’n sendingstasie daar opgerig het.
Maar in werklikheid het sendingbedrywigheid in China eers begin nadat Matteo Ricci, ’n Italiaanse Jesuïet, in die 1580’s daar aangekom het. Terwyl Protestantisme gesukkel het om ná die Hervorming ’n stewiger vastrapplek in Europa te kry, het Katolisisme bekeerlinge buite Europa gesoek. Die ontdekkingstogte van Portugal en Spanje, lande wat albei streng Katoliek was, het die kerk se pogings om dit te doen, bevorder.
Die 17de- en 18de-eeuse sendelinge het moontlik ’n mate van sukses behaal omdat, soos The Cambridge History of China sê, “heelwat van [hulle] (veral Jesuïete) ’n baie verdraagsame gesindheid aangekweek het”. ’n Professor in die Chinese geskiedenis, Hans H. A. Bielenstein, wei hieroor uit: “[Die Jesuïete] het die ooreenkomste tussen die Christelike geloof en Confucianisme beklemtoon deur die Christene se God met die Chinese Hemel gelyk te stel en nie teen vooroueraanbidding beswaar te maak nie. Dit verduidelik waarom die Jesuïete in party kringe bekeerlinge gemaak het, maar ook waarom hulle nie ’n blywende indruk gemaak het nie.”
In 1724 het die Chinese keiser die Christendom se godsdienste veroordeel en die meeste buitelandse sendelinge uit die land gesit. Wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, het Katolieke sendelinge teruggekeer. Protestantse sendelinge het by hulle aangesluit, en Robert Morrison van die Londense Sendinggenootskap was in 1807 onder die eerste aankomelinge. Hy het ’n kollege gestig wat nie net bedoel was om sy opvattings te versprei nie, maar ook om die Westerse kultuur aan China en die Oosterse kultuur aan Westerse studente bekend te stel. Teen 1819 het Robert Morrison, met William Milne se hulp, die hele Bybel vertaal.
Party sendelinge het hulle daarvoor beywer om ’n ander soort lig te bring. Dr. Peter Parker was die eerste sendingdokter in China en het gehelp om die Mediese Sendinggenootskap te organiseer wat in 1838 in Kanton gestig is. Ander sendelinge het hulle daaraan gewy om onderwys te gee, liefdadigheidspogings te ondersteun of maatskaplike probleme op te los. Volgens The Cambridge History of China was van die vertaalwerk wat die sendelinge gedoen het “eerder geskik om Europeërs se begrip van China te verbeter as om die Chinese ontvankliker te maak vir die Christelike geloof”.
Die Christendom se sendelinge het ook nie vir die Chinese ’n voorbeeld gestel wat Christelike eenheid en broederskap betref nie. Die Protestante in die besonder was verdeeld. Binne vier dekades het hulle sendelinge van 189 tot 3445 toegeneem. Teen 1905 het elkeen van die meer as 60 sendinggenootskappe sy eie besondere weergawe van die Christelike leer versprei. Katolieke sendelinge het ook ’n swak beeld uitgedra van wat die Christelike geloof moet wees. The Cambridge History of China meld “die algemene gebruik om in plaaslike politieke en regsake in te meng om potensiële bekeerlinge oor te haal”.
Hulle soek elders bekeerlinge
Minder as ’n eeu nadat die Portugese ontdekkingsreisiger Ferdinand Magellan in 1521 vir die eerste keer op die Filippynse Eilande voet aan wal gesit het, het Katolieke sendelinge daar reeds sowat tweemiljoen mense gedoop. Vandag is 84 persent van die bevolking Rooms-Katoliek. Die onderwysstelsel wat deur die kerk ingestel is, het beslis tot hierdie sukses bygedra. Maar volgens een skrywer is nog ’n faktor wat nie oor die hoof gesien moet word nie die feit dat die sendelinge “die bekeerlinge toegelaat het om baie van hulle godsdiensopvattings en -gebruike te behou”.
Die kerk het elders minder sukses behaal. In Japan is slegs 0,3 persent van al die Japannese byvoorbeeld Katoliek. In die Republiek van Korea is die syfer net onder 6 persent.
Japan het in 1542 vir die eerste keer met Europeërs kennis gemaak. In 1549 is die Jesuïetesendeling Fransiskus Xaverius en ’n paar metgeselle vriendelik ontvang. Hierdie aanvanklike geesdrif het gou afgeneem toe Japannese leiers “snuf in die neus begin kry het dat Europese sendingbedrywigheid moontlik ’n voorspel tot politieke verowering deur die Spaanse koning was (soos hulle geweet het die geval in die Filippyne was)”, skryf ’n professor in die geskiedenis, J. Mason Gentzler.
In 1614 “is die sendelinge as vyande van die staat verban, en die keiser het verorden dat die Christelike geloof nie meer in sy ryksgebiede geduld sou word nie. . . . Bekeerlinge wat geweier het om die nuwe godsdiens te versaak, is by die tienduisende gekruisig . . . , terwyl erger afgryslikhede gehou is vir die sendelinge . . . wat lewend verbrand, in stukke geruk, in kuile vol giftige slange gegooi is” en ander wreedhede verduur het.—The Jesuits.
Katolisisme is in 1784 in Korea bekend gestel en Protestantisme ’n eeu later. Laasgenoemde “het baie vinniger gegroei, want Amerikaanse sendelinge het nie net die Evangelie gebring nie, maar ook onderwys, medisyne en tegnologie”, verduidelik die tydskrif Time. Hierdie beleid om bekeerlinge op ander maniere as net deur godsdiensonderrig te maak, word blykbaar nog steeds gevolg. ’n Professor in die filosofie, Son Bong Ho van die Nasionale Universiteit van Seoel, word as volg aangehaal: “Dié kerke wat materiële seëninge beklemtoon het, het vinniger as die hoofstroomkerke gegroei.”
Wat die toekoms sal openbaar
Hoe moet ons die Christendom se eertydse sendelinge beskou? Hulle het nie die suiwer vorm van aanbidding verteenwoordig wat deur Jesus ingestel is nie. Tog was baie van hulle ongetwyfeld opreg. Hulle het in alle geval die Bybel in baie tale vertaal en ten minste party Bybelbegrippe verkondig.
Wat van die Christendom se sendelinge in Afrika, wat al die Donker Vasteland genoem is? Lees in ons volgende nommer hieroor in die artikel “Geestelike lig vir die ‘Donker Vasteland’?”.
[Venster op bladsy 23]
“Jehovah” in die Chinese Bybel
John W. Davis, ’n 19de-eeuse sendeling en vertaler, het geredeneer: “As die Heilige Gees op ’n bepaalde plek in die Hebreeus Jehovah sê, waarom sê die vertaler dan nie Jehovah in Engels of Chinees nie? Watter reg het hy om te sê: Ek gaan Jehovah op hierdie plek gebruik en ’n plaasvervanger daarvoor op daardie plek? . . . As dit in ’n bepaalde geval verkeerd is om Jehovah in die vertaling te gebruik, waarom het die geïnspireerde skrywer dit dan in die oorspronklike teks gebruik?”