Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 12/8 bl. 4-6
  • Kan materiële welvaart geluk waarborg?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan materiële welvaart geluk waarborg?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘’n Menigte netelige probleme’
  • Die kern van die probleem
  • ’n Wêreldprobleem
  • Die goeie nuus word in die ryslande van Taiwan verkondig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Hulle het hulle gewillig aangebied—In Taiwan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Die najaging van materiële welvaart
    Ontwaak!—1994
  • Aardbewing!
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 12/8 bl. 4-6

Kan materiële welvaart geluk waarborg?

“VAN die sowat 50 leerlinge in ons skool het net 1 of 2 skoene gedra”, sê die 45-jarige Potsjing, wat gedurende die vyftigerjare in suidelike Taiwan grootgeword het. “Ons kon dit nie bekostig nie. Maar ons het nooit gedink ons is arm nie. Ons het alles gehad wat ons nodig gehad het.”

Dit was ongeveer 40 jaar gelede. Sedertdien het die lewe vir Potsjing en die res van die 20 miljoen bewoners van daardie eiland ingrypend verander. Soos die boek Facts and Figures—The Republic of China on Taiwan verduidelik, is “Taiwan van ’n landbougemeenskap tot ’n lewendige nywerheidsgemeenskap omskep”. Teen die laat sewentigerjare is Taiwan as “’n bestendige, welvarende gemeenskap” beskou.

Tekens van welvaart is inderdaad oral in Taiwan te sien. Van die ultramoderne, toringhoë kantoorkomplekse wat soos paddastoele oor die hele eiland verrys het tot die hoofweë stampvol duur, ingevoerde motors beny ander ontwikkelende lande Taiwan sy materiële welvaart. Die China Post, Taiwan se toonaangewende Engelse koerant, spog dat “die mense van Taiwan [vandag] die hoogste lewenstandaard in die Chinese geskiedenis geniet”.

‘’n Menigte netelige probleme’

Het al hierdie materiële welvaart die mense ware geluk en tevredenheid verskaf? Hoewel daar ongetwyfeld baie is waarop die mense van Taiwan trots is, het hierdie suksesverhaal ’n ander sy. Die China Post sê verder: “Al hierdie rykdom bring ’n menigte ingewikkelde en netelige probleme mee.” Taiwan se materiële welvaart kom hom duur te staan.

Met betrekking tot al die “ingewikkelde en netelige probleme” op hierdie eiland wat vroeër betreklik misdaadvry was, sê die China Post: “In onlangse jare het misdaad en wanorde in ons welgestelde gemeenskap onrusbarend toegeneem, en dit hou al hoe groter gevaar vir die lewe en eiendom van alle wetsgehoorsame burgers in.” In ’n artikel met die titel “Rykdom maak Taiwan ’n land van wellus” vaar die Post uit teen die probleme met betrekking tot florerende “naakrestaurante en -kroeë” sowel as dié in verband met onwettige bordele wat onder die skyn van barbierswinkels bedryf word. Afpersing en ontvoering met die doel om ’n losprys te eis, het ook ’n probleem geword. Een berig noem die ontvoering van kinders “Taiwan se nuwe paddastoelbedryf”. Baie wend hulle tot sulke misdade as ’n manier om dobbelskulde of ander finansiële verliese te vereffen.

Kinders is nie bloot onskuldige slagoffers van misdaad nie. Hulle pleeg ook al hoe meer misdade. Volgens berig het die aantal misdade wat gedurende 1989 alleen deur jongmense gepleeg is met 30 persent toegeneem. Party skryf hierdie toename aan die verbrokkeling van die gesin toe, en volgens statistieke lyk dit of dit wel so is. Van 1977 tot 1987 het die aantal Taiwannese paartjies wat getrou het byvoorbeeld afgeneem, maar die egskeidingsyfer het meer as verdubbel. Aangesien die Chinese kultuur volgens tradisie die belangrikheid van die gesin in ’n bestendige gemeenskap beklemtoon, is dit geen wonder dat talle baie besorgd is oor die verergerende toestande nie.

Die kern van die probleem

Verskeie verduidelikings is al gegee om te probeer vasstel waarom die samelewing te midde van ’n welvarende gemeenskap agteruitgaan. Party mense is taamlik filosofies en sê dat dit maar net die prys van sukses is. Maar om sukses of welvaart die skuld te gee, is soos om voedsel die skuld vir vraatsug te gee. Nie almal wat eet, is vrate nie en nie elkeen wat welgesteld is, is materialisties of ’n misdadiger nie. Nee, materiële welvaart op sigself veroorsaak nie misdaad en maatskaplike wanorde nie.

’n Hoofartikel in die China Post het die aandag op ’n belangrike bydraende faktor gevestig. Dit het gesê: “Ons het deur die dekades heen te veel klem op materiële ontwikkeling gelê. Dít is wat vir die agteruitgang ten opsigte van sedelike en geestelike waardes in ons hedendaagse gemeenskap verantwoordelik is.” (Ons kursiveer.) Ja, wanneer die najaging van materiële dinge oorbeklemtoon word, het dit ’n materialistiese en hebsugtige gesindheid tot gevolg. Dit bevorder egotisme. Dit is juis hierdie gesindheid wat gesinsverbrokkeling en ’n toename in maatskaplike euwels tot gevolg het. Wat die Bybel 2000 jaar gelede gesê het, geld nou nog: “Die geldgierigheid [nie geld self nie] is ’n wortel van alle euwels.”—1 Timotheüs 6:10.

’n Wêreldprobleem

Weens die soeke na rus en vrede—en veiligheid—het duisende uit Taiwan na ander lande geëmigreer. Maar die probleme wat Taiwan ondervind, is nie net eie aan Taiwan nie. Dit kom wêreldwyd algemeen voor.

’n Paar jaar gelede het ’n studie getoon dat die rykste distrik in Kalifornië, VSA, die hoogste egskeidingsyfer in die land gehad het. Sowat 90 persent van alle eiendomstransaksies in party gebiede van die distrik was die gevolg van gebroke huwelike. Dubbel soveel selfmoorde as die nasionale gemiddelde is aangemeld. Die alkoholismesyfer was een van die hoogstes in die land, en die distrik het glo meer sielkundiges en psigiaters per persoon gehad as enige ander plek in die Verenigde State.

Jesus Christus het op ’n grondwaarheid gewys toe hy gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). Materiële besittings, ongeag hoe oorvloedig, kan nie al die behoeftes van mense bevredig nie, en dit kan ook nie geluk waarborg nie. Dit is eerder dikwels soos ’n Chinese gesegde dit stel: “Wanneer iemand genoeg kos en ’n dak oor die kop het, begin hy oor buitensporighede en vleeslike begeertes dink.” Gebeure in Taiwan en elders lewer bewys hiervan—materiële welvaart op sigself is dikwels die voorspel tot sedelike verval en maatskaplike agteruitgang en die probleme wat daarmee gepaardgaan.

Wat is dan nodig sodat materiële welvaart deel kan uitmaak van ware en blywende geluk? Vir ’n antwoord kan jy gerus die volgende artikel lees.

[Lokteks op bladsy 6]

“Wanneer iemand genoeg kos en ’n dak oor die kop het, begin hy oor buitensporighede en vleeslike begeertes dink.”—’n Chinese gesegde

[Prent op bladsy 5]

Materiële oorvloed het dorpies in bedrywige, neonverligte stede omskep

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel