Ons is die soort wat geloof het
Die goeie nuus word in die ryslande van Taiwan verkondig
TAIWAN kry gewoonlik volop reën; gevolglik is dit moontlik om elke jaar twee goeie rysoeste in te samel. Maar soms kom die reën nie op tyd nie, en dan gaan die plantjies dood. Gooi die boer tou op wanneer dit gebeur? Nee. Hy weet dat volharding nodig is. Hy kweek nuwe plantjies en beplant weer sy landerye. As toestande dan verbeter, samel die boer ’n goeie oes in. Die geestelike plant- en oeswerk is soms baie dieselfde.
Volharding in die geestelike oeswerk
Oor die jare heen het Jehovah se Getuies in Taiwan hard gewerk om saadjies van Bybelwaarheid te plant en te oes in party gebiede wat nie vrugbaar gelyk het nie. Een voorbeeld is die streek Miao-li. Mense het nie juis gunstig gereageer op die pogings wat van tyd tot tyd aangewend is om in die gebied te getuig nie. In 1973 is ’n spesialepionier-egpaar dus aangestel om daar as voltydse Koninkryksverkondigers te werk. Party het aanvanklik belangstelling in die goeie nuus getoon. Maar hulle het kort voor lank daardie belangstelling verloor. Die spesiale pioniers is toe na ’n ander gebied gestuur.
In 1991 is twee ander spesiale pioniers daarheen gestuur. Maar daar was weer eens tekens dat die klimaat nie reg was vir geestelike groei nie. Ná ’n paar jaar is die spesiale pioniers toegewys na gebiede wat hopelik vrugbaarder sou wees. Die land is dus ’n tyd lank onbewerk gelaat.
Hernieude pogings lei tot sukses
In September 1998 is daar besluit om na die vrugbaarder dele in die groot ontoegekende gebied in Taiwan te soek. Hoe sou dit gedoen word? Ongeveer 40 tydelike spesiale pioniers is aangestel om in die ontoegekende gebiede te werk wat die digste bevolk is.
Twee aangrensende stede in die streek Miao-li was onder die gebiede wat vir die kampanje gekies is. Vier ongetroude susters moes drie maande daar werk om die gebied te toets. Kort ná hulle aankoms het hulle uitsonderlike verslae geskryf oor die aantal belangstellendes wat hulle gevind het. Nadat hulle drie maande lank in die gebied pionierdiens gedoen het, het hulle baie tuisbybelstudies gehou. Hulle het ook ’n boekstudiegroep gevorm met die hulp van ’n ouer man van ’n nabygeleë gemeente.
Drie van hierdie susters het gesê dat hulle graag wil aanbly om na die jong “plantjies” om te sien wat so goed groei. Gevolglik is twee van hulle as permanente spesiale pioniers aangestel, en die derde het as ’n gewone pionier daar bly werk. ’n Ouer man van die nabygeleë gemeente het na die gebied getrek om hulle te help. Meer as 60 het die eerste openbare toespraak bygewoon wat in hierdie gebied gehou is. Nou help die nabygeleë gemeente hierdie nuwe groep om gereeld op Sondae te vergader en om etlike boekstudies te hou. Daar sal dalk binnekort ’n nuwe gemeente in die gebied gestig word.
Volharding bring seëninge in ander dele van Taiwan mee
Ander gebiede het op soortgelyke wyse gereageer. In die streek I-Ian, in die noordoostelike deel van die eiland, is ’n nuwe Gemeentelike Boekstudie begin in die gebied waar die tydelike spesiale pioniers gewerk het.
Terwyl een van die tydelike spesiale pioniers een aand van huis tot huis gewerk het, het sy ’n jong man ontmoet en hom ’n strooibiljet met die vergaderingtye gewys. Hy het onmiddellik gevra: “Kan ek môreaand na die vergadering toe kom? En as ek kan, wat moet ek aantrek?” Hierdie pionier het sommer gou agt weeklikse Bybelstudies met belangstellendes gehou. ’n Paar van die Bybelstudente het weldra planne gemaak om self verkondigers van die goeie nuus te word, met die doelwit om gedoop te word.
In dieselfde dorp was daar iemand wat jare lank kerk toe gegaan het, maar niemand kon vind om haar die Bybel te leer nie. Toe sy van die Bybelstudiereëling hoor, het sy die geleentheid aangegryp. Sy is aangemoedig om vooraf haar les voor te berei. Toe die tydelike spesiale pionier kom om die studie te hou, het sy gevind dat die vrou haar “huiswerk” gedoen het deur ’n notaboek te koop waarin sy die gedrukte vrae in haar studiemateriaal neergeskryf het. Dan het sy haar antwoorde op elke vraag uitgeskryf. Sy het ook al die tekste wat in haar les aangegee is in haar notaboek uitgeskryf. Teen die tyd dat die suster gekom het om die eerste studie te hou, het die vrou reeds die eerste drie lesse voorberei!
In die dorp Dongsjih, in die sentrale deel van Taiwan, is soortgelyke resultate ondervind. Die tydelike spesiale pioniers het meer as 2 000 brosjures versprei in die drie maande dat hulle daar gewerk het. Teen die derde maand het hulle 16 tuisbybelstudies gehou. Die dorp is in groot mate verwoes deur ’n aardbewing wat die sentrale deel van Taiwan op 21 September 1999 getref het, maar ’n paar belangstellendes maak steeds geestelike vooruitgang, hoewel hulle tot ’n uur moet reis om vergaderinge by die naaste Koninkryksaal by te woon. Ja, volharding is nodig om ’n goeie oes in te samel, hetsy die oes van ’n materiële of ’n geestelike aard is.
[Kaart op bladsy 8]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
CHINA
Taiwan-straat
TAIWAN
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.