Sendelinge agente van die lig of van die duisternis?—Deel 5
’n Nuwe boodskap vir ’n Nuwe Wêreld
DIE Westelike Halfrond is eers teen ongeveer die begin van die 16de eeu die Nuwe Wêreld genoem. Toe Columbus dit in 1492 “ontdek” het, het hy ook ontdek dat daar reeds mense gewoon het en dat hulle al honderde jare daar woon. Maar die Amerikaanse inboorlinge het toe vir die eerste keer ’n voorsmaak van die sogenaamde Christelike godsdiens gekry. Wat sou dit vir die Nuwe Wêreld beteken?
Die Katolieke Kerk het eeue lank byna absolute beheer oor die lewens van Europeërs uitgeoefen. Dit het op bykans elke gebied van mensestrewes, regerings inkluis, standaarde en reëls voorgeskryf. Sulke samewerking tussen die Kerk en die Staat, die alliansie waaruit die Kruistogte voortgespruit het, het ook die Nuwe Wêreld begin oorheers.
Sidney H. Rooy van die Educación Teológica in Buenos Aires skryf dat die Spaanse konings teen die einde van die 15de eeu daarvan oortuig was dat “die Spaanse kroon die goddelik gekose instrument vir die redding van die Nuwe Wêreld was”. Die pousdom het ’n denkbeeldige lyn van noord na suid in die Atlantiese Oseaan getrek wat die ontdekkingsreg tussen Spanje en Portugal verdeel het. In 1494 het die twee regerings ’n verdrag gesluit om die lyn verder wes te verskuif. Gevolglik het Portugal sy aandag toegespits op Brasilië, waarvan die ooskus nou oos van die grenslyn gelê het, terwyl Spanje voortgegaan het om die meeste dele van Sentraal- en Suid-Amerika te koloniseer. Volgens Sidney Rooy was albei lande se vertolking van die pouslike dekreet dat “die reg op die lande gepaardgaan met die plig om die inboorlinge te evangeliseer”.
Verowering van die Nuwe Wêreld
Columbus is op sy tweede seereis in 1493 van ’n groep monnike vergesel wat spesiaal gekies is om die inboorlinge te bekeer. Van toe af het Europese veroweraars en sendelingpriesters sy aan sy gewerk in die verowering van die Nuwe Wêreld.
In 1519 het Hernán Cortés, vergesel van ’n kapelaan en ander priesters, die gebied bereik wat nou as Mexiko bekend staan. Binne 50 jaar het die aantal sendelinge tot 800 gegroei. Daar was nog 350 van hulle in Peru, wat in 1531 deur Francisco Pizarro bereik is.
Pouslike bulle wat in 1493 uitgereik is, het sekulêre owerhede die morele regverdiging gegee wat hulle vir hulle veroweringsveldtogte wou hê. Hulle het gedink dat hulle op God se ondersteuning kon staatmaak, omdat hulle gemeen het dat kolonialisme sy wil is. Kerkamptenare wat gretig was om die Staat te behaag, het hulle samewerking gegee om die koloniale stelsel wettig te laat verklaar. Trouens, ’n Jesuïet van die 17de eeu genaamd António Vieira, wat in Portugal gebore is maar in Brasilië grootgeword het, het kolonisasie lof toegeswaai omdat evangelisasie volgens hom nie daarsonder moontlik sou wees nie.
Die sendelinge het niks daarmee verkeerd gesien om kolonisasie as ’n instrument te gebruik om hulle godsdiens te versprei nie. Dit het hulle egter ’n integrale deel van die wêreld gemaak waarvan Jesus gesê het sy volgelinge geen deel moet wees nie.—Johannes 17:16.
Bekeerlinge word gemaak
Volgens Sidney Rooy het die Christendom se sendelinge eers begin om “ou gebruike en die tasbaarste bewyse van die Indiaanse godsdiens te ontwortel”. Hy het bygevoeg: “Hoewel dwangmetodes steeds gebruik is wanneer dit nodig was, is baie Indiane op ’n vreedsame wyse deur die regstreekse benadering van die priesters bekeer.”
Party van die sendelinge het natuurlik geglo dat dwangmetodes nooit werklik geregverdig was nie. Die Spaans- Dominikaanse sendeling en priester, Bartolomé de Las Casas, het byvoorbeeld die wrede metodes wat gebruik is, begin afkeur. Hy het in Spanje herhaaldelik ten behoewe van die Indiane gepleit, sodat die regering hom die naam “Verdediger van die Indiane” gegee het. Sy pogings het egter gemengde reaksies uitgelok. Party het hom ’n kruisvaarder, ’n profeet, ’n kneg van God en ’n siener genoem; ander het hom ’n verraaier, ’n paranoïkus, ’n anargis en ’n pre-Marxis genoem.
Die doelwit om ou gebruike te ontwortel, is later gestaak. Sodra die inboorlinge onder dwang ingewillig het om die naam Christen te aanvaar, is hulle toegelaat om hulle heidense opvattings en gebruike te behou. Gevolglik sê Man, Myth & Magic dat “baie Christelike feesvieringe onder die Sierra-Indiane van Peru gebruike bevat wat oorblyfsels van vergete Inka-opvattings is”. The Cambridge History of Latin America verduidelik dat die Mexikaanse Indiane “daardie beginsels [van die Christelike godsdiens aangeneem het] wat hulle eie geestelike en ritualistiese behoeftes bevredig het en dit met die beginsels van hulle voorvaderlike geloof vermeng het”.
Daar is weliswaar honderdduisende Amerikaanse inboorlinge gedoop. Maar die “Christelike godsdiens” wat aan hulle opgedwing is, was hoogstens oppervlakkig. Min tyd is daaraan bestee om hulle die grondbeginsels van die Christelike godsdiens te leer waarop ’n sterk geloof gebou word. The Cambridge History of Latin America sê: “Daar was onrusbarende tekens dat die Indiane wat die nuwe geloof met oënskynlike entoesiasme aangeneem het steeds hulle ou afgode in die geheim vereer het.” Trouens, party Indiane het na bewering hulle heidense afgode agter “Christelike” altare neergesit ingeval die “Christelike God” versuim het om gehoor te gee. Hulle was ook traag om langgevestigde gedragstandaarde, soos veelwywery, prys te gee.
Die lidmate van die Rooms-Katolieke ordes het nie altyd opgetree soos ’n mens sou verwag “Christelike” sendelinge moes optree nie. Onenigheid het dikwels onder die ordes voorgekom. Die Jesuïete in die besonder is dikwels vir hulle beleidspunte en optredes gekritiseer. Trouens, hulle is in 1759 uit Brasilië geban.
Die koms van die Protestantse sendelinge het sake nie noemenswaardig verander nie. Namate die sendelinggeledere gegroei het, het die verdeeldheid wat kenmerkend van die sogenaamde Christelike godsdiens is ook toegeneem. Die Katolieke het die Protestante daarvan beskuldig dat hulle imperialisme bevorder; die Protestante het die Katolieke daarvan beskuldig dat hulle heidense opvattings versprei en daarvoor verantwoordelik is dat die mense in armoede gehou word. Al hierdie beskuldigings het meer as net ’n greintjie waarheid bevat. Die Christendom se sendelinge, Katoliek sowel as Protestant, het versuim om Jesus se voorbeeld na te volg.
Dwarsdeur die Nuwe Wêreld “het bekering vooruitgang gemaak as deel van die koloniale strewes van die Spaanse, Franse en Engelse regerings”, aldus The Encyclopedia of Religion. Terwyl Spanje en Portugal hulle op Latyns-Amerika toegelê het, was Frankryk en Brittanje meer betrokke by wat later die Verenigde State en Kanada geword het.a
Die Franse en Britse sendelinge het soos daardie sendelinge in Latyns-Amerika verkeerde prioriteite gestel en by politieke aangeleenthede betrokke geraak. Daarom sê The Encyclopedia of Religion: “Teen die einde van die Franse era in Kanada het die sendelinge groter welslae daarin behaal om die Indiane aan Frankryk lojaal te maak as om hulle te bekeer.”
Vir God of vir goud?
Party beweer moontlik dat “die uitbreiding van die koninkryk van God die doelwit was” waarna die vroeë veroweraars gestreef het. Maar The Cambridge History of Latin America sê meer realisties: “Hulle wou in die eerste plek goud hê.” Die algemene mening was dat sodra die Indiane bekeer is hulle “groot hoeveelhede goud gedwee sou oorhandig”.
Sommige van die Christendom se sendelinge het dus toegelaat dat hulle gewillige instrumente word van diegene wat onedele beweegredes gehad het. Een van die eerste Europeërs wat dit besef het, was Bartolomé de Las Casas, wat vroeër gemeld is. The New Encyclopædia Britannica haal sy woorde aan wat hy in 1542 geskryf het: “Die rede waarom die Christene so ’n ontelbare aantal siele doodgemaak en uitgeroei het, was omdat hulle beweeg is deur hulle drang na goud en hulle begeerte om hulleself binne ’n baie kort tydjie te verryk.”
Die Europese veroweraars het geestelik min verligting gebring. In sy boek Mexico sê James A. Michener dat Christenapologete beweer dat Hernán Cortés, toe hy Mexiko binnegeval het, “gevind het dat dit deur barbare bewoon is na wie hy die beskawing sowel as die Christelike godsdiens gebring het”. James Michener sê egter dat die Mexikaanse Indiane selfs in 900 G.J. “nie barbare was nie, maar dat hulle so nalatig geraak het met betrekking tot die bewaring van hulle wonderlike beskawing dat hulle ware barbare toegelaat het om hulle te oorrompel”. Hierdie “ware barbare” was sommige van die sogenaamde Christene.
’n Voorbereidingswerk
Die Christendom se sendelinge was nie gehoorsaam aan Jesus se opdrag om ‘dissipels te maak . . . en hulle te leer om alles te onderhou’ nie (Mattheüs 28:19). Nuwe bekeerlinge is nie geleer om die vrugte van God se gees te weerspieël nie. Hulle is nie in die een geloof verenig nie.
Selfs opregte sendelinge van die Christendom kon niks beters as ’n afvallige vorm van die Christelike godsdiens versprei nie. Die “lig” wat op die Nuwe Wêreld gewerp is, was inderdaad flou. Maar aangesien die Christendom se sendelinge die Bybel in sekere mate bekend gestel het, het hulle ’n voorbereidingswerk verrig vir die noodsaaklike sendingsveldtog wat Jesus voorspel het in die tyd van die einde sou plaasvind (Mattheüs 24:14). Dit sou ’n unieke veldtog wees, die suksesvolste wat tot nog toe in die Christelike geskiedenis onderneem is, waarby mense van alle nasies baat sou vind. Lees gerus hiervan in ons volgende nommer in die artikel: “Hoe daar vandag ware dissipels gemaak word.”
[Voetnoot]
a Spaanse invloed is natuurlik in Florida ondervind, asook die suidwestelike en ver westelike deel van wat nou die Verenigde State is, veral Kalifornië.
[Prent op bladsy 21]
Sendelinge het saam met Europese veroweraars na die Amerikas toe gekom
[Erkenning]
From the book Die Helden der christlichen Kirche