Ons beskou die wêreld
Die vullisontploffing
Soldate wat die Poolse grens patrolleer, is deesdae op die uitkyk vir ’n nuwe soort indringing—buitelandse vullis. In 1992, sê The Washington Post, het die Poolse owerheid gekeer dat sowat 1332 ongewenste vragte vullis, uit Wes-Europa alleen, die land binnekom. Gedurende die eerste helfte van 1993 het die aantal vragte met 35 persent toegeneem. In baie Westerse lande het dit so duur geword om van skadelike vullis ontslae te raak dat dit ’n winsgewende opsie geword het om vullis na minder ontwikkelde lande te verskeep waar omgewingswette moontlik moeiliker is om toe te pas. Twee Amerikaanse metaalmaatskappye is byvoorbeeld daaraan skuldig bevind dat hulle 1000 ton toksiese stof van ’n smelter gemeng het met ’n vrag kunsmis wat na Bangladesj gestuur is. Van die vullis word selfs onder voorwendsel van liefdadigheid geskenk. Doeanebeamptes in Pole berig dat hulle dikwels besendings ontvang wat kastig mediese skenkings uit Australië, Europa en die Verenigde State is wat dan eintlik uit afval bestaan, soos spuite, onderklere en toiletartikels—alles gebruik en besmet.
Egskeidingtydskrif
Toe ’n tydskrifuitgewer in Frankryk ’n kommersiële geleentheid in die ongelooflik hoë egskeidingsyfer sien, het hy ’n tydskrif met die titel Divorce begin uitgee. ’n Rubriekskrywer vir die Bulletin van Sydney, Australië, sê die tydskrif bevat “adviesrubrieke deur regsgeleerdes en sielkundiges, wenke vir vroue wat hulle eerste werk ná die huwelik probeer kry en—vir die moediges—hoe om weer afsprake te begin maak”. Maar ’n onderwerp wat die tydskrif blykbaar nie bespreek nie, is huweliksversoening. Die rubriekskrywer sê: “Enigeen wat raad soek oor hoe om ’n verbrokkelende verhouding te herstel, moet êrens anders soek.” Ja, soek raad in God se onfeilbare Woord, die Bybel.
Die Venezolaanse kolibrie in gevaar
Agt-en-twintig soorte kolibries in Venezuela loop gevaar om uitgewis te word. Party van hulle word nêrens anders ter wêreld aangetref nie. Die kolibrie is inheems aan die Amerikas en kom van Alaska tot Argentinië en Chili voor. Hulle weeg tussen twee en nege gram, waarvan die kleinste die bykolibrie is wat ongeveer 5 sentimeter lank is, en die grootste die reusekolibrie wat 21 sentimeter lank is. Waardeur word die kolibries in Venezuela uitgewis? ’n Siekte of ’n roofdier? Nee. Volgens Carta Ecológica, ’n nuusbrief wat deur die oliemaatskappy Lagovén uitgegee word, dra ontbossing—die stelselmatige vernietiging van die voël se habitat—die skuld daarvoor. Hierdie klein, fassinerende, reënboogkleurige diertjie is net een van die talle slagoffers van die mens se genadelose vernietiging van die reënwoud.
Skadelike gewoonte onwettig verklaar
Die regering van Pakistan het bepaal dat pakkies betelneut gesondheidswaarskuwings moet vertoon wat soortgelyk is aan dié op sigaretpakkies, berig die tydskrif Asiaweek. Die tydskrif sê dat miljoene mense in Suid-Asië verslaaf is aan pan masala, ’n mengsel van betelneut en verskillende olies sowel as ander bestanddele wat in ’n betelblaar gerol word. Dit is veronderstel om gekou te word. Indië het reeds waarskuwings op pakkies betelneut aangebring weens ’n beweerde verbintenis met mondkanker. En kinders het al gesterf nadat hulle aan betelneut verstik het. Pakistan se nuwe wette sal die verkoop van betelneut aan kinders onder vyf jaar verbied.
Grootouers speel ’n groter rol
Studies in die Verenigde State toon dat grootouers, veral oumas, ’n groter rol in die lewe van hulle kleinkinders begin speel. ’n Voortgesette studie deur die Nasionale Instituut van Veroudering het bevind dat 69 persent van diegene wat tussen 1931 en 1941 gebore is grootouers is; ongeveer 44 persent van hulle bestee meer as 100 uur per jaar daaraan om vir een of meer van hulle kleinkinders te sorg. Hierdie grootouers het gemiddeld 659 uur saam met die kinders deurgebring, die ekwivalent van 82 agtuurdae, sê The Wall Street Journal. Die studie het bevind dat vrouens gemiddeld 15 tot 20 uur per week aan die versorging van hulle kleinkinders bestee het en dat die kanse 2,5 keer groter was dat eerder hulle as mans sulke versorgers sou wees.
Vaders uit voeling
Soos in die res van die wêreld is gesinsbande in Japan nie heeltemal wat hulle was nie. The Daily Yomiuri het onlangs berig dat ongeveer 481-000 Japannese mans as gevolg van verplasings noodgedwonge nie by hulle gesinne kon woon nie. Hierdie syfer is 15 persent hoër as vyf jaar gelede, en daar word verwag dat dit selfs verder sal toeneem namate dit moeiliker word om huisvesting en skole te vind. Die koerant het oor dieselfde saak ’n opname tussen laer- en junior hoërskoolleerlinge gemeld waarin 43 persent van die jongmense gesê het dat hulle glad nie met hulle vader praat nie. ’n Aansienlike aantal, 18,4 persent, het gesê dat hulle nie met hulle moeder gesels nie.
Gesinsveranderinge in Argentinië
Onlangse studies het noemenswaardige veranderinge in die struktuur en gedragspatrone van gesinslewe in Argentinië onthul, sê die koerant Clarín van Buenos Aires. Met verwysing na die modelgesin—’n groot, verenigde gesin wat op vry dae of saans saam eet—het die koerant gesê: “Baie sou vandag sê dat sulke modelgesinne bloot ’n ou foto is, ’n vergange utopia wat in beelde weerspieël word.” ’n Statistiek uit die boek La familia en la Argentina (Die gesin in Argentinië), deur Susana Torrado, toon dat enkelouergesinne, waarvan daar nou sowat 1200 000 is, gedurende die afgelope dekade met ongeveer 60 tot 80 persent in Argentinië toegeneem het. Buite-egtelike kinders maak nou meer as 36 persent van alle geboortes uit—’n toename van byna 30 persent sedert 1960. Daarbenewens het onderhoude getoon dat ’n derde van diegene tussen die ouderdom van 20 en 34 nie glo dat die huweliksband lewenslank is nie.
Kinders se woordeskat
Kinders weet moontlik veel meer van die onaangename werklikhede van die hedendaagse wêreld as wat volwassenes oor die algemeen dink, het ’n studie in Italië getoon. ’n Span van Italië se Nasionale Navorsingsentrum het meer as 5000 opstelle van skoolkinders tussen ses en tien jaar ondersoek. Volgens die koerant La Repubblica het ’n vergelyking tussen hulle woordeskat van 6000 woorde met kinderleesstof wat deur volwassenes geskryf is aan die lig gebring dat die “byna onwerklike, vreedsame wêreld sonder probleme” wat aan kinders uitgebeeld word “hulle nie flous nie”. Die koerant sê verder: “Hulle weet presies wat ‘dwelms’, ‘vigs’ en ‘verkragting’ beteken.” Die navorsers sê dat “die wêreld waaroor kinders skryf blykbaar meer gevorderd en meer op hoogte van die tyd is as hulle leesstof” wat deur volwassenes geskryf is, sê die Corriere della Sera.
Lokaas word uitgesit
’n Evangeliese kerk in Maryland, VSA, het ’n nuwe manier gevind om mense te lok. Op ’n onlangse Sondag is die eerste 125 mense wat by die kerk opgedaag het elk $10 (R36) gegee. Hulle moes net deur die diens van 75 minute sit, wat ’n opvoering en sang ingesluit het wat deur ’n “ligte rock”-groep begelei is. Volgens die Associated Press het die kerk se assistent-direkteur van evangeliebediening gesê: “Baie mense kla dat hulle nie kerk toe gaan nie omdat kerke altyd geld wil hê. Ons het gedink: ‘Waarom sal ons nie moedig wees en vir hulle geld gee nie?’” Volgens die berig het die meeste mense die geld geneem, hoewel baie gesê het dat hulle dit later teruggegee het. Twee-en-dertig het die geld gehou.
Nuttige ou houers
’n Skeepvaartmaatskappy in Suid-Afrika het ’n paar vindingryke gebruike vir groot verskepingshouers gevind, pleks van hulle net as afvalmetaal weg te gooi wanneer hulle te erg verweer is om swaar goedere in te vervoer. Wanneer twee van hierdie groot metaalstrukture aanmekaargelas word, maak hulle ’n taamlike groot klaskamer. Een sy van elke houer moet natuurlik verwyder word, en vensters en deure moet in die oorblywende sye ingebou word. Ou houers kan ook as huise, winkels, klinieke en biblioteke dien. In een geval, sê die tydskrif African Panorama, het “16 omgeskepte houers 8 ruim klaskamers aan meer as 1000 leerlinge voorsien”. Tot dusver is meer as 1000 houers al aan behoeftige Suid-Afrikaanse gemeenskappe beskikbaar gestel. Maar die betrokke maatskappy se houers raak op en hulle doen nou ’n beroep op ander internasionale skeepvaartmaatskappye met oortollige ou houers om te help.
Brein-atrofie
Die inname van te veel alkohol en vet oor ’n tydperk van jare vererger nie net gesetheid nie maar krimp ook die brein, volgens ’n studie deur ’n navorsingsgroep van die Akita-universiteit se Mediese Kollege in Japan. Oor die afgelope sewe jaar het die groep ’n opname van 960 mense gedoen en deur MBR (Magnetiese Beeldvormingsresonansie) te gebruik, bevind dat 58 persent van diegene wat van alkohol afhanklik is atrofie van die brein ontwikkel het. Onder diegene met hiperlipemie, ’n hoë vlak van vet in die bloed, het 41 persent van diegene in hulle veertiger- en vyftigerjare en 55 persent van diegene oor 60 brein-atrofie getoon. In skerp teenstelling hiermee het slegs 4 persent van diegene wat nie van alkohol afhanklik was of hiperlipemie gehad het nie tekens van atrofie getoon. Simptome van dementia is onder 80 persent van diegene met atrofie waargeneem, berig die koerant Jomjoeri Sjimboen. Assistent-professor Ikoeo Naemoera van die navorsingsgroep sê: “Atrofie van die brein ontwikkel stadig maar seker. Dit is belangrik om nie te veel alkohol te drink en te veel vetterige kos te eet nie.”