Die voëltjie wat blomme kus
BRASILIANE noem hom beija-flor—die voëltjie wat blomme kus. Hierdie naam pas goed by die rol wat die kolibrie tussen die blomme vervul. Vanweë hulle helder vere noem ander voëlwaarnemers hierdie klein voëltjies “lewende edelstene” of “fraai deeltjies van die reënboog”, en hulle gee aan verskeie soorte uitsonderlike name, soos robyntopaas, glanspenssmarag of bronsstertkomeet.
Die pragtige kleure kan veral gesien word op die spesiale vere rondom die keel en op die kroon van die kolibriemannetjies. Hulle vere het sellae wat met lug gevul is, en hierdie selle breek liggolwe in ’n reënboog van kleure, byna soos miljoene klein seepbelle.
’n Mooi beskrywing van ’n rooibruinkolibrie, wat algemeen in die westelike deel van Noord-Amerika voorkom, word gevind in die boek Creature Comforts, deur Joan Ward-Harris: “Sy sieraad is . . . sy hals . . . Dit strek van onder sy wange en ken oor sy keel en tot by sy bors, soos ’n baba se borslap. Die skitterende hals is asemrowend—die voëltjie lyk twee keer groter as gewoonlik, en dit lyk of hy letterlik aan die brand is.” Wanneer die kolibrie blitsvinnig wegbeweeg, weerkaats sy hals pers, smaraggroen of selfs alle kleure van die spektrum. Maar as hy van die lig af wegdraai, word die hals skielik ’n diep fluweelswart.
Akrobatiese wonder
Kolibries is bekend vir hulle uitstekende akrobatiese vertonings. Vir ’n oomblik sal hy in die lug hang by ’n blom en nektar daaruit suig, met sy gonsende vlerkies ’n trillende waas. Dan ewe skielik skiet hierdie klein voëltjie vorentoe, agtertoe en sywaarts of vlieg selfs onderstebo teen 50 tot 70—party sê 80—vlerkslae per sekonde! Na bewering kan hy tussen 50 en 100 kilometer per uur vlieg en dan skielik tot stilstand kom. Hoe is dit vir die kolibrie moontlik om sulke verbasende bewegings uit te voer?
Die geheim lê in die wonderlike ontwerp van die kolibrie se liggaamsdele. Goed ontwikkelde spiere, wat aan ’n sterk borsbeen vasgeheg is, maak 25 tot 30 persent van sy liggaamsgewig uit. Sy vlerke, wat van sy skouer tot by sy vlerkpunt styf is, verleen krag aan op- asook afwaartse bewegings, en nie net aan die afwaartse vlerkslag, soos in die geval van ander voëls nie. Albei slae gee hom dus hef- en dryfkrag, terwyl sy skouergewrig hom toelaat om sy vlerke 180 grade te draai. Dit is geen wonder dat die voëltjie se akrobatiese bewegings jou kan fassineer nie!
Sal die kolibries ’n uithoutoets slaag? Ongetwyfeld. Elke jaar migreer sommige rooibruinkolibries byvoorbeeld meer as drieduisend kilometer van hulle wintertuiste in Mexiko tot by Alaska in die noorde. Die gevare van hoë berge, die oop see en slegte weer skrik hulle nie af nie.
Onversadigbare eters
Kolibries se liefde vir blomme het ook iets nuttigs tot gevolg—kruisbestuiwing. Maar hulle is eintlik agter die nektar aan. Die kolibrie moet elke dag ongeveer die helfte van sy gewig (party sê dubbel sy gewig) in koolhidraatryke nektar eet om hom van sy ontsaglike energie te voorsien. Kan jy jou voorstel hoeveel kos ’n mens proporsioneel sou nodig hê?
Anders as die meeste ander voëls loop kolibries selde. Hulle eet terwyl hulle vlieg. Met snawels wat na gelang van die voëlsoort in lengte en vorm wissel, soek hulle blomme uit wat veral vir hulle geskik is. Hulle vul hulle nektardieet aan deur vrugtevlieë te vang en luise van plante af te pik. Hoe kry die voël nektar van die blomme wat hulle kus?
Die kolibrie eet met sy tong. Joan Ward-Harris skryf: “’n Kolibrie se tong is lank, smal, gevurk en effens harig aan die punt; daar is twee opgekrulde gleufies waar dit verdeel, wat klein buisies vorm waarlangs nektar deur kapillêre werking styg totdat dit ingesluk word.”
As jy kolibries tot naby jou venster lok deur hulle te voer, sal jy nooit moeg word vir die vermaak wat hierdie fassinerende bondeltjies energie jou sal verskaf nie. Maar jy moet hulle net voer as jy bereid is om die hele seisoen vir hulle te sorg, aangesien hulle op jou vir kos sal staatmaak terwyl hulle hulle gesin in ’n nessie daar naby grootmaak.
Hofmakery
Party soorte kolibries in Sentraal- en Suid-Amerika lok die wyfies deur middel van hulle sang. Die wynrooikeelkolibrie, van Guatemala, is die beste sanger. En die witoorkolibrie se sang klink soos “’n klein, welluidende silwerklokkie”. Die meeste is egter nie goeie sangers nie. Hulle herhaal eenvoudig ’n paar eentonige, metaalagtige note, of by ander geleenthede maak hulle ’n keelgeluid met hulle toe snawels en hulle bors uitgestoot.
Party kolibries lewer ’n indrukwekkende akrobatiese vertoning tydens hofmakery. Dit is die geval met die rooibruinkolibrie, wat van ’n hoë posisie af soos ’n rooi streep op die wagtende wyfie afpyl en dan—net betyds—opvlieg om die letter J te vorm. Hy vlieg heen en weer op die basis van die J totdat hy na die hoogste punt terugkeer of saam met sy nuwe maat wegvlieg. Sy vlerkslae tydens hierdie vertoning kan tot tweehonderd per sekonde wees!
Delikate nessies
Die kolibrie se nessie is “een van die delikaatste strukture in die wêreld”, sê een waarnemer. Joan Ward-Harris het ’n Ontwaak!-verslaggewer ’n nessie gewys wat sy gevind het. Dit was 4,5 sentimeter in deursnee en ongeveer een sentimeter diep, en dit is op so ’n manier gebou dat die kleintjies, wat so groot soos hommelbye is, se snoesige huisie saam met hulle groter word. Dit is so opwindend om ’n nessie in die palm van jou hand te hou—’n piepklein koppietjie wat uit sagte plantmateriaal bestaan. Neste word ook van fyn vere en spinnerak gemaak. Daarin word twee of drie spierwit eiertjies gelê, “soos pêrels van dieselfde grootte”.
Wanneer die wyfie haar kleintjies voer, steek sy haar snawel diep in hulle klein keeltjies en bring dan die nodige voedsel op. Ná drie weke begin die jong voëltjies gewoonlik instinktief op hulle eie vlieg, terwyl hulle eet en groei totdat hulle ingeboude horlosie hulle met hulle lang migrasie na matiger winterweer laat begin.
Vreesloos
’n Verbasende kenmerk van die kolibrie is sy vreesloosheid. Jy kan dit sien wanneer humeure oënskynlik opvlam by kosplekke of oor gebied. In Suid-Amerika is daar gesien hoe twee fluweelperskroontjies moedig op ’n arend afpyl wat in hulle nesgebied ingekom het, en sodoende het hulle getoon dat hulle bereid is om ’n Goliat aan te pak indien nodig. Maar kolibries se ander vyande, soos slange, paddas, spinnerakke, stekelblomme en mense wat hulle versamel, veroorsaak soms hulle dood.
Tog is baie mense hulle vriende, en hulle wag gretig dat die kolibries elke seisoen moet terugkeer om hulle betekenisvolle lewe te hervat. As jy hierdie skitterende edelstene van die skepping noukeuriger bestudeer, sal jy beslis baie meer vreugde uit hulle put—indien hulle die blomme in jou tuin sou kom kus.
[Venster/Prente op bladsy 17]
FEITE OOR KOLIBRIES
• Kolibries is die tweede grootste voëlgroep in die Westelike Halfrond, met 320 soorte
• Hulle is die kleintjies van die voëlwêreld: Die bykolibrie van Kuba is ongeveer ses sentimeter van sy stert- tot sy snawelpunt
• Die grootste kolibrie is 22 sentimeter lank en word in die westelike deel van Suid-Amerika van Ecuador tot Chili gevind
• Hulle habitat sluit hoofsaaklik die ekwatoriale streek van Suid-Amerika, van seevlak tot meer as 4 500 meter, in en party eilande van die Karibiese See en die Stille Oseaan
• Gedurende die somermaande word hulle van die noorde in Alaska tot die suide in Tierra del Fuego gevind
• Op een stadium is miljoene doodgemaak om versierings vir die Europese hoedebedryf te voorsien, en sommige soorte is waarskynlik toe al uitgeroei
[Prente]
Reusekolibrie (lewensgrootte)
Bykolibrie (lewensgrootte)
[Erkennings]
© C. H. Greenewalt/VIREO
© 1990 Robert A. Tyrrell
[Prent op bladsy 15]
Rooibruin-kolibrie
[Erkenning]
THE HUMMINGBIRD SOCIETY/Newark Delaware USA
[Prent op bladsy 15]
Antilliaanse kolibrie
[Erkenning]
© 1990 Robert A. Tyrrell
[Prent op bladsy 15]
Bykolibrie (vergroot)
[Erkenning]
© 1990 Robert A. Tyrrell
[Prent op bladsy 16]
Rooibors-kluisenaar
[Erkenning]
© 1990 Robert A. Tyrrell
[Prent op bladsy 16, 17]
Anna se kolibrie (vergroot)
[Erkenning]
Patricia Meacham/Cornell Laboratory of Ornithology
[Prent op bladsy 17]
’n Wyfie robynkeelkolibrie en kleintjies