Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 12/22 bl. 18-20
  • Die Katolieke Kerk in Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Katolieke Kerk in Afrika
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Stamgevegte
  • Daar is beweer dat oorlewing op die spel is
  • Die Kerk en “inkulturasie”
  • Wat moet jy doen?
  • Die kerk—veranderinge en verwarring
    Ontwaak!—1993
  • Godsdiens kies kant
    Ontwaak!—1994
Ontwaak!—1994
g94 12/22 bl. 18-20

Die Katolieke Kerk in Afrika

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

DIE Katolieke Kerk het tienmiljoene volgelinge in Afrika, en die kerk se probleme in Afrika is noemenswaardig. Vroeër vanjaar het meer as 300 kerkleiers in die Vatikaan in Rome bymekaargekom om van hierdie probleme tydens ’n maand lange spesiale sinode te bespreek.

Volgens L’Osservatore Romano het die Pous die sitting soos volg geopen: “Dit is vandag die eerste keer dat ’n Sinode van die Kerk in Afrika gehou word wat die hele vasteland insluit. . . . Die hele Afrika is vandag in St. Pieterskerk teenwoordig. Die Biskop van Rome groet Afrika met innige liefde.”

Stamgevegte

Soos baie weet, is die probleme van die Katolieke Kerk besonder groot in die Afrikalande Burundi en Rwanda, wat oorwegend Katoliek is. Die stamgevegte daar het die afgelope herfs internasionale nuus geword toe honderdduisende deur hulle naaste uitgemoor is. Een ooggetuie het gesê: “Ons het gesien hoe vroue met kinders op hulle rug ander doodmaak. Ons het gesien hoe kinders ander kinders doodmaak.”

Die National Catholic Reporter het van die Katolieke leiers se wroeging vertel. Dit het gesê dat die Pous “‘diep seergemaak is’ oor nuwe berigte van konflik in die klein Afrikaland [Burundi], waarvan die bevolking hoofsaaklik Katoliek is”.

Die slagtings in Rwanda was selfs skadeliker vir Katolieke leierskap. “Pous keur volkslagting in 70%-Katolieke land af”, het ’n opskrif in dieselfde koerant aangekondig. Die artikel het gesê: “Die gevegte in die Afrikaland is ‘’n ware volkslagting waarvoor selfs Katolieke ongelukkig verantwoordelik is’, het die Pous gesê.”

Aangesien die wreedhede in Rwanda plaasgevind het onderwyl die geskiedkundige Katolieke sinode in Rome gehou is, was die aandag van die biskoppe begryplikerwyse op die situasie in Rwanda gevestig. Die National Catholic Reporter het gesê: “Die Rwandese konflik onthul iets onrusbarends: Die Christelike geloof het nie diep genoeg in Afrika wortelgeskiet om stambewustheid te oorkom nie.”

Die National Catholic Reporter het kennis geneem van die vergaderde biskoppe se kommer en het verder gesê: “Hierdie tema [van stambewustheid] is deur Albert Kanene Obiefuna, biskop van Awka, Nigerië, bespreek toe hy die sinode toegespreek het.” In sy toespraak het Albert Kanene Obiefuna verduidelik: “Die tipiese Afrikaan leef sy gesinslewe asook sy Christelike lewe teen die agtergrond van sy of haar stambelange.”

Toe, ongetwyfeld met Rwanda in gedagte, het Albert Kanene Obiefuna met sy toespraak aan die sinode voortgegaan: “Hierdie denkwyse is so algemeen dat Afrikane sê dat wanneer dit daarop aankom, is dit nie die Christelike opvatting van die Kerk as ’n gesin wat seëvier nie, maar liewer die spreekwoord dat ‘bloed dikker is as water’. En by water kan ’n mens hier seker die waters van die Doop insluit waardeur ’n mens in die gesin van die Kerk gebore word. Bloedverwantskap is selfs vir die Afrikaan wat ’n Christen geword het belangriker.”

Die biskop het dus erken dat die Katolieke geloof in Afrika nie daarin kon slaag om Christelike broederskap te skep, waar gelowiges mekaar werklik liefhet soos Jesus Christus geleer het hulle moet nie (Johannes 13:35). Dit is vir Katolieke in Afrika eerder ‘bloedverwantskap wat belangriker is’. Dit het daartoe gelei dat hulle stamhaat bo alle ander beskouings stel. Soos die Pous erken het, moet Katolieke in Afrika die verantwoordelikheid dra vir sommige van die ergste wreedhede in onlangse heugenis.

Daar is beweer dat oorlewing op die spel is

Die biskoppe van Afrika wat by die sinode was, het hulle vrees uitgespreek oor die oorlewing van Katolisisme in Afrika. “As ons wil hê dat die Kerk in my land moet voortbestaan”, het Bonifatius Haushiku, ’n Namibiese biskop, gesê, “moet ons die kwessie van inkulturasie ernstig oorweeg.”

Die Italiaans-Katolieke persburo, Adista, het dieselfde mening uitgespreek en gesê: “Om van ‘inkulturasie’ van die Evangelie in Afrika te praat, beteken dat daar van die einste toekoms van die Katolieke Kerk op daardie kontinent gepraat word; van sy kanse om te oorleef of nie.”

Wat presies bedoel die biskoppe met “inkulturasie”?

Die Kerk en “inkulturasie”

John M. Waliggo het verduidelik dat “aanpassing die term is wat al lank gebruik word en wat op dieselfde konsep neerkom”. Eenvoudig gestel, beteken “inkulturasie” die opneming van oorleweringe en opvattings van stamgodsdienste in die Katolieke seremonies en eredienste wat aan antieke ritusse, voorwerpe, gebare en plekke ’n nuwe naam en ’n nuwe betekenis gee.

Inkulturasie laat Afrikane toe om Katolieke van goeie naam te wees en nogtans die gebruike, seremonies en opvattings van hulle stamgodsdienste te behou. Behoort daar enige beswaar hierteen te wees? Die Italiaanse koerant La Repubblica het byvoorbeeld gevra: “Is dit nie waar dat Kersfees in Europa gekoppel is aan die fees van die Solis Invicti, wat op 25 Desember plaasgevind het nie?”

Ja, soos kardinaal Josef Tomko, prefek van die Gemeente vir die Evangelisasie van Volke, opgemerk het: “Die sendingkerk het die werk van inkulturasie beoefen lank voor die term in gebruik geneem is.” Die Kersviering lig die saak deeglik toe, soos La Repubblica opgemerk het. Dit was oorspronklik ’n heidense feesviering. Die New Catholic Encyclopedia erken: “Die datum 25 Desember kom nie met Christus se geboorte ooreen nie, maar met die fees van Natalis Solis Invicti, die Romeinse sonfees tydens die sonstilstand.”

Kersfees is slegs een van die baie kerkgewoontes wat aan die heidendom gekoppel is. Daar is ook opvattings soos die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel en ewige foltering van mensesiele ná die dood. Kardinaal John Henry Newman van die 19de eeu het geskryf dat “die Kerkvorste van vervloë tye bereid was om, indien die geleentheid hom sou voordoen, die bestaande ritusse en gebruike van die menigte aan te neem, na te volg of goed te keur”. Hy het baie kerkgebruike en feesvieringe opgenoem en gesê dat hulle “almal van heidense oorsprong [is] en deur hulle aanneming in die Kerk geheilig is”.

Wanneer Katolieke nie-Christelike gebiede betree, soos in dele van Afrika, vind hulle dikwels dat mense reeds godsdienstige gebruike en opvattings het wat met dié van die kerk ooreenstem. Dit is omdat die kerk gedurende vorige eeue gebruike en leringe van nie-Christelike volke aangeneem en dit in Katolisisme opgeneem het. Sulke gebruike en leringe, het kardinaal Newman beweer, is “deur hulle aanneming in die Kerk geheilig”.

Toe pous Johannes-Paulus II dus nie-Christelike volke verlede jaar in Afrika besoek het, is hy in L’Osservatore Romano aangehaal waar hy gesê het: “In Cotonou [Benin, Afrika] het ek beoefenaars van voedoeïsme teëgekom, en dit was duidelik uit die manier waarop hulle gepraat het dat hulle op die een of ander wyse reeds in hulle denkwyse, ritusse, simbole en gesindhede ’n mate van dit het wat die Kerk hulle wil aanbied. Hulle wag net op die geleentheid wanneer iemand hulle oor die drumpel kan help sodat hulle deur die Doop kan uitleef wat hulle reeds op ’n manier vóór die Doop uitgeleef en ervaar het.”

Wat moet jy doen?

Die kerk se versuim om die volke van Afrika die ware, suiwer Christelike godsdiens te leer, het noodlottige gevolge gehad. Stambewustheid het, soos nasionalisme elders, bly voortbestaan en het daartoe gelei dat Katolieke mekaar uitmoor. Watter oneer bring dit tog nie op Christus se naam nie! Die Bybel sê dat só ’n onbeteuelde slagting onder mekaar mense as “die kinders van die duiwel” identifiseer, en Jesus sê van sulke mense: “Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk.”—1 Johannes 3:10-12; Mattheüs 7:23.

Wat moet opregte Katolieke derhalwe doen? Die Bybel spoor Christene aan om daarteen te waak om aan enige gebruik of opvatting toe te gee wat hulle aanbidding in God se oë onrein sal maak. “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie”, sê die Bybel. Om God se guns te ontvang, moet julle ‘julle afsonder en nie aan enige iets raak wat in God se oë onrein is nie’.—2 Korinthiërs 6:14-17.

[Lokteks op bladsy 10]

‘Die oorlog in Rwanda is ’n ware volkslagting waarvoor selfs Katolieke verantwoordelik is’, het die Pous gesê

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Photo: Jerden Bouman/​Sipa Press

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel