Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 10/22 bl. 3-5
  • Godsdiens kies kant

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Godsdiens kies kant
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godsdienste aan die ander kant
  • Godsdiens se verantwoordelikheid
  • Geen werklike krag vir vrede nie
  • Waarom die kerke stilgebly het
    Ontwaak!—1995
  • Die Katolieke Kerk in Afrika
    Ontwaak!—1994
  • Pogings om te verenig
    Ontwaak!—1991
  • Werk godsdiens sedelikheid in die hand?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 10/22 bl. 3-5

Godsdiens kies kant

OP 1 September 1939 het Duitsland Pole binnegeval en is die Tweede Wêreldoorlog ontketen. Drie weke later het The New York Times die opskrif gehad: “Duitse soldate word deur kerke aangepor.” Het Duitse kerke werklik Hitler se oorloë gesteun?

Friedrich Heer, ’n Rooms-Katolieke professor van geskiedenis aan die Universiteit van Wenen, het erken dat hulle dit wel gedoen het: “In die naakte feite van die Duitse geskiedenis het die kruis en die swastika al nader aan mekaar beweeg totdat die swastika die oorwinningsboodskap van die torings van Duitse katedrale af verkondig het, swastikavlae rondom altare verskyn het en Katolieke asook Protestantse teoloë, predikante, geestelikes en staatsmanne die bondgenootskap met Hitler verwelkom het.”

Kerkleiers het inderdaad hulle algehele steun aan Hitler se oorlogspoging gegee, soos Rooms-Katolieke professor Gordon Zahn geskryf het: “Die Duitse Katoliek wat op sy godsdiensmeerderes staatgemaak het vir geestelike leiding en riglyne met betrekking tot diens in Hitler se oorloë het feitlik dieselfde antwoorde gekry as wat hy van die Nazi-heerser self sou gekry het.”

Godsdienste aan die ander kant

Maar wat het die kerke gesê in die lande wat Duitsland teëgestaan het? The New York Times van 29 Desember 1966 het berig: “In die verlede het die plaaslike Katolieke hiërargieë feitlik altyd die oorloë van hulle land gesteun, die troepe geseën en gebede om oorwinning gedoen, terwyl ’n ander groep biskoppe aan die ander kant openlik vir die teenoorgestelde uitslag gebid het.”

Het hierdie ondersteuning van leërs aan die verskillende kante die Vatikaan se goedkeuring weggedra? Beskou die volgende: Op 8 Desember 1939, slegs drie maande ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, het pous Pius XII die herderlike brief Asperis Commoti Anxietatibus uitgestuur. Die brief was aan die kapelane in leërs van die strydende lande gerig en het dié aan albei kante aangespoor om vertroue in hulle onderskeie militêre biskoppe te hê. Die brief het die kapelane vermaan om “as vegters onder die vlae van hulle land ook vir die Kerk te veg”.

Godsdiens neem dikwels op strydlustige wyse die voortou om lande vir oorlog te mobiliseer. “Selfs in ons kerke het ons die oorlogsvlae geplaas”, het wyle Harry Emerson Fosdick, ’n Protestantse geestelike, erken. En wat die Eerste Wêreldoorlog betref, het Britse brigadegeneraal Frank P. Crozier gesê: “Die Christelike kerke is ons beste skeppers van bloeddors, en ons het vryelik van hulle gebruik gemaak.”

Maar dit is godsdiens se geskiedenis in die verlede. Wat van sy onlangse rol in die oorlog in die republieke van die voormalige Joego-Slawië, waar die meeste mense óf Rooms-Katoliek óf Ortodoks is?

Godsdiens se verantwoordelikheid

’n Opskrif in die Asiaweek van 20 Oktober 1993 het gelui: “Bosnië is ’n episentrum van godsdienskonflik.” ’n Opskrif van ’n kommentaar in die San Antonio Express-News van 13 Junie 1993 het gesê: “Godsdienshoofde moet ’n einde aan die Bosniese ellende maak.” Die artikel het gesê: “Die Rooms-Katolieke, Oos-Ortodokse en Moslemgeloof . . . kan nie die verantwoordelikheid vir wat gebeur van hulle afskud nie. Nie hierdie keer nie, nie met die hele wêreld wat saans toekyk nie. Dit is hulle oorlog. . . . Die beginsel dat godsdiensleiers die skuld vir oorlogvoering dra, is duidelik. Hulle blote skynheiligheid gee daartoe aanleiding. Hulle doen dit deur een kant bo die ander te seën.”

Waarom is daar byvoorbeeld soveel haat tussen die lede van die Rooms-Katolieke Kerk en die Oos-Ortodokse Kerke? Pouse, patriarge en ander kerkleiers is daarvoor verantwoordelik. Sedert die finale skeiding tussen hierdie godsdienste in 1054 het kerkleiers nog altyd haat en oorloë tussen hulle lede bevorder. Die Montenegrynse koerant Pobeda van 20 September 1991 het in ’n artikel oor die onlangse gevegte op daardie godsdiensverdeeldheid en die gevolge daarvan gewys. Onder die titel “Moordenaars in die naam van God” het die artikel verduidelik:

“Dit is nie ’n politieke kwessie tussen [die Kroatiese president] Tudjman en [die Serwiese leier] Milošević nie, maar dit is eerder ’n godsdiensoorlog. Daar moet gemeld word dat daar reeds duisend jaar verloop het sedert die pous besluit het om die Ortodokse godsdiens as mededinger uit te skakel. . . . In 1054 . . . het die pous verklaar dat die Ortodokse Kerk vir die skeiding verantwoordelik is. . . . In 1900 het die eerste Katolieke kongres die plan vir ’n menseslagting teen die Ortodokse vir die 20ste eeu duidelik uiteengesit. [Hierdie] plan word nou uitgevoer.”

Die onlangse konflik is egter nie die eerste voorbeeld van ’n godsdiensstryd in hierdie eeu nie. Vyftig jaar gelede, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het Rooms-Katolieke die aanwesigheid van die Ortodokse Kerk in die gebied probeer uitwis. Met die pous se steun het die Kroatiese nasionalistiese beweging wat Ustashi genoem is die onafhanklike staat van Kroasië regeer. The New Encyclopædia Britannica berig dat hierdie Vatikaan-goedgekeurde heerskappy hulle tot “buitengewoon wrede gebruike” gewend het “wat die teregstelling van honderdduisende Serwiërs en Jode ingesluit het”.

In die boek The Yugoslav Auschwitz and the Vatican is nie net hierdie massaslagting gedokumenteer nie—waarvan tienduisende die slagoffer was—maar die Vatikaan se betrokkenheid daarby is ook daarin gedokumenteer.

Die Ortodokse Kerk het daarenteen die Serwiërs in hulle vegtery gesteun. Trouens, ’n Serwiese eenheidsleier het gesê: ‘Die patriarg is my bevelvoerder.’

Wat kon hulle gedoen het om die slagting stop te sit, wat in Bosnië en Herzegowina alleen daartoe gelei het dat tot 150 000 gedood is of vermis word? Fred Schmidt het in die San Antonio Express-News gesê dat die VN se Veiligheidsraad “’n formele resolusie [moet aanneem] wat ’n beroep doen op die pous, die patriarg van Konstantinopel en [die ander leiers] van die Katolieke, Oos-Ortodokse en Moslemkerke wat jurisdiksie in Bosnië-Herzegowina het om dadelik hulle lede te beveel om op te hou veg en om byeen te kom om uit te werk wat hulle aanhangers se harte kan beweeg om met diegene van ander gelowe as hulle naaste saam te leef”.

In soortgelyke trant het ’n kommentaar in die Progress Tribune van Scottsdale, Arizona, die gevolgtrekking gemaak dat die oorlog “moontlik stopgesit kan word as die godsdiensleiers daar ernstige pogings aanwend om dit stop te sit”. Die artikel het aan die hand gedoen dat hulle dit moet doen “deur enige gemeentelid wat ’n kanonskoot op Sarajevo afvuur onmiddellik te ekskommunikeer”.

Geen werklike krag vir vrede nie

Pouse het egter deurgaans geweier om die allerslegste oorlogsmisdadigers te ekskommunikeer, selfs wanneer mede-Katolieke gevra het dat sulke stappe gedoen word. Die Catholic Telegraph-Register van Cincinnati, Ohio, VSA, het byvoorbeeld onder die opskrif “As Katoliek grootgemaak maar skend die geloof sê kabelgram aan pous” berig: “’n Versoek is tot Pius XII gerig dat reichsfuehrer Adolf Hitler geëkskommunikeer word. . . . ‘Adolf Hitler’, het [die kabelgram] ten dele gesê, ‘is uit Katolieke ouers gebore, is as Katoliek gedoop en is as sodanig grootgemaak en opgevoed.’” Tog is Hitler nooit geëkskommunikeer nie.

Beskou ook die situasie in dele van Afrika waar wrede oorloë gewoed het. Vyftien Rooms-Katolieke biskoppe van die Afrikalande Burundi, Rwanda, Tanzanië, Uganda en Zaïre het erken dat “binnelandse konflikte tot massamoorde, vernietiging en die verdrywing van gelei het”, ondanks die teenwoordigheid van talle gedoopte “Christene” in die gebied. Die biskoppe het erken die kern van die probleem “is dat die Christelike geloof nie genoegsaam tot die denkwyse van die mense deurgedring het nie”.

Die National Catholic Reporter van 8 April 1994 het gesê dat die “nuwe verslae oor konflik in die klein Afrikaland [Burundi], waarvan die bevolking hoofsaaklik Katoliek is, die pous . . . ‘diep seergemaak het’”. Die pous het gesê dat “selfs Katolieke verantwoordelik is” vir die slagting in Rwanda, waar ongeveer 70 persent van die bevolking Katoliek is. Ja, Katolieke aan albei kante het mekaar uitgemoor, soos hulle ook in tallose vorige oorloë gedoen het. En soos ons gesien het, het ander godsdienste dieselfde gedoen.

Moet ons derhalwe tot die slotsom kom dat alle godsdienste kant kies in oorlog? Is daar enige godsdiens wat ’n ware krag vir vrede is?

[Prent op bladsy 5]

Hitler, hier saam met die pouslike gesant Basallo di Torregrossa, is nooit geëkskommunikeer nie

[Erkenning]

Bundesarchiv Koblenz

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel