Hulp aan die slagoffers van Rwanda se tragedie
RWANDA, wat in die hartjie van Afrika geleë is, is al “die Switserland van Afrika” genoem. Die welige groenigheid wat mense sien wanneer hulle oor die land vlieg, het by hulle die indruk geskep van ’n tuin van Eden. Dit is geen wonder dat hulle Rwanda dikwels as ’n paradys beskryf het nie.
Voorheen is daar vir elke boom wat afgekap is twee geplant. Een dag in die jaar is aan herbebossing gewy. Vrugtebome is langs die paaie geplant. ’n Mens kon vryelik en maklik deur die land reis. Die hoofpaaie wat die verskillende prefekture met die hoofstad, Kigali, verbind het, was van asfalt. Die hoofstad het vinnig uitgebrei. Die gewone werker het genoeg verdien om aan die einde van die maand met sy geld uit te kom.
Die Christelike bedrywighede van Jehovah se Getuies het ook vooruitgang gemaak in Rwanda. Vroeër hierdie jaar was meer as 2600 Getuies besig om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig aan die land se bevolking van nagenoeg agtmiljoen wat oorwegend Katoliek is (Mattheüs 24:14). Gedurende Maart het die Getuies meer as 10 000 Bybelstudies in mense se huise gehou. En daar was 15 gemeentes in en om Kigali.
’n Reisende opsiener van Jehovah se Getuies het gesê: “In November 1992 het ek 18 gemeentes bedien. Maar teen Maart 1994 het hulle tot 27 toegeneem. Die aantal pioniers (voltydse bedienaars) het ook elke jaar toegeneem.” Op Saterdag, 26 Maart 1994, het 9834 die herdenking van Christus se dood bygewoon.
Toe, eensklaps, het die situasie in Rwanda tragies verander.a
’n Skielike einde aan gevestigde orde
Op 6 April 1994, om ongeveer 8:00 vm., het die presidente van Rwanda en Burundi, albei Hutu’s, in ’n vliegtuigongeluk in Kigali gesterf. Daardie nag kon polisiefluitjies oral in die hoofstad gehoor word, en die paaie is versper. Toe, gedurende die vroeë oggendure, het soldate en mans wat met kapmesse gewapen was, begin om Tutsi’s te vermoor. Ntabana Eugène—die stadsopsiener van Jehovah se Getuies in Kigali—sy vrou, sy seun en sy dogter was onder die eerstes wat uitgemoor is.
’n Europese gesin wat Jehovah se Getuies is, het met etlike van hulle bure, wat Tutsi’s was, die Bybel bestudeer. Nege van hierdie bure het daardie afgryslike oggend na die Europeërs se huis gevlug terwyl waansinnige moordenaars van huis tot huis gegaan het. Binne oomblikke was daar 40 plunderaars in die huis wat voorwerpe stukkend geslaan en meubels omgekeer het. Dit is baie hartseer dat die Tutsi-bure doodgemaak is. Die ander is egter, ten spyte van hulle pogings om hulle vriende te red, toegelaat om lewendig daarvan af te kom.
Die slagting het weke lank voortgeduur. Na raming is daar uiteindelik 500 000 of meer Rwandese doodgemaak. Duisende het vir hulle lewe gevlug, veral die Tutsi’s. Die takkantoor van Jehovah se Getuies in Zaïre het die broers in Frankryk laat weet dat hulle noodlenigingsvoorrade nodig het. “Ons het vir een houer met tweedehandse klere gevra”, verduidelik die tak in Zaïre. “Die broers in Frankryk het vyf houers met meestal nuwe klere en skoene gestuur.” Op 11 Junie is sowat 65 ton klere gestuur. Die tak in Kenia het ook klere en medisyne aan die vlugtelinge gestuur, sowel as eksemplare van Die Wagtoring in hulle plaaslike taal.
Teen Julie het die Tutsi-beheerde magte, wat die Rwandese Patriotiese Front genoem word, die Hutu-beheerde magte verslaan. Daarna het Hutu’s in hulle honderdduisende uit die land begin vlug. Chaos het gevolg namate tweemiljoen of meer Rwandese skuilplek gesoek het in die kampe wat inderhaas in die buurlande opgerig is.
Hulle het mekaar probeer help
Twee van die ses persone wat in die Vertaalkantoor van Jehovah se Getuies in Kigali gewerk het, was Tutsi’s—Ananie Mbanda en Mukagisagara Denise. Die Hutu-broers het ’n paar weke lank daarin geslaag om hulle te beskerm. Maar teen die einde van Mei 1994 is hierdie twee Tutsi-Getuies doodgemaak.
Jehovah se Getuies het hulle lewe in gevaar gestel, en dit selfs opgeoffer, in ’n poging om mede-Christene van ’n ander etniese agtergrond te beskerm (Johannes 13:34, 35; 15:13). Mukabalisa Chantal is byvoorbeeld ’n Tutsi. Toe lede van die Rwandese Patriotiese Front na Hutu’s gesoek het in die stadion waar sy gebly het, het sy ten behoewe van haar Hutu-vriende tussenbeide getree. Hoewel die rebelle hulle hieroor vererg het, het een van hulle uitgeroep: “Julle Jehovah se Getuies het werklik ’n hegte broederskap. Julle godsdiens is die beste wat daar is!”
Hoe hulle vry van etniese haat bly
Dit is nie te sê dat Jehovah se Getuies heeltemal bestand is teen die etniese haat wat al honderde jare in hierdie gebied van Afrika voorkom nie. ’n Getuie van Frankryk wat aan die noodlenigingswerk deelgeneem het, het gesê: “Selfs ons Christenbroers moet hulle inspan om te keer dat hulle besoedel word deur die haat wat bygedra het tot slagtings wat onmoontlik is om te beskryf.
“Ons het broers ontmoet wat gesien het hoe hulle gesinne voor hulle oë vermoor word. ’n Christensuster was byvoorbeeld net twee dae getroud toe haar man doodgemaak is. Party Getuies het gesien hoe hulle kinders en ouers doodgemaak word. Een suster wat nou in Uganda is, het gesien hoe haar hele gesin uitgemoor word, haar man inkluis. Dit beklemtoon bloot die lyding, emosioneel sowel as fisies, wat elke gesin van Jehovah se Getuies deurgemaak het.”
Daar is altesaam ongeveer 400 Getuies in die etniese geweld doodgemaak. Maar nie een van hulle is deur mede-Getuies doodgemaak nie. Tutsi- en Hutu-lidmate van Rooms Katolieke en Protestantse kerke het egter duisende vermoor. Dit is welbekend dat Jehovah se Getuies oor die hele wêreld nie deelneem aan die oorloë, revolusies en ander dergelike konflikte van hierdie wêreld nie.—Johannes 17:14, 16; 18:36; Openbaring 12:9.
Onbeskryflike lyding
Hierdie afgelope winter is mense oor die hele wêreld aan beelde van byna ongelooflike menselyding blootgestel. Daar is gesien hoedat honderdduisende Rwandese vlugtelinge buurlande binnestroom en dáár onder die mees onhigiëniese toestande leef. Een van Jehovah se Getuies wat van Frankryk op ’n noodlenigingsending was, het die situasie wat hy en sy medeverteenwoordigers op 30 Julie gesien het, soos volg beskryf.
“Tonele van absolute verskrikking het voor ons ontvou. Liggame het myle ver langs die pad gelê. Gemeenskaplike grafte is met duisende lyke gevul. Die reuk was ondraaglik terwyl ons deur die malende mensemassa beweeg het, met kinders wat langs dooie liggame gespeel het. Daar was lyke van ouers wie se kinders nog geleef het en wat aan hulle rug vasgeklou het. Sulke tonele wat oor en oor voor ons afgespeel het, maak ’n diep indruk op ’n mens. ’n Mens word deur ’n gevoel van volslae magteloosheid oorweldig en jy kan nie onaangeraak bly deur die omvang van die verskrikking en verwoesting nie.”
Toe vlugtelinge Zaïre teen die middel van Julie in hulle tienduisende binnegestroom het, het Getuies in Zaïre na die grens toe gegaan en Bybellektuur opgehou sodat hulle Christenbroers en belangstellendes hulle kon identifiseer. Die vlugteling-Getuies uit Rwanda is toe byeengebring en na die Koninkryksaal in die nabygeleë Goma geneem waar hulle versorg is. Getuies met mediese ondervinding het hard gewerk om die ellende van die siekes te verlig ten spyte van die gebrek aan medisyne en behoorlike geriewe.
Vinnige reaksie op die lyding
Op Vrydag, 22 Julie, het Jehovah se Getuies in Frankryk ’n SOS per faks uit Afrika ontvang. Dit het die ellendige toestand beskryf van hulle Christenbroers wat uit Rwanda gevlug het. Binne vyf of tien minute nadat hulle die memo ontvang het, het die broers besluit om ’n vragvliegtuig met noodlenigingsvoorrade te laai. Dit het tot ’n naweek van grootskaalse voorbereiding gelei wat besonder merkwaardig was, aangesien hulle heeltemal onervare was in die organisering van so ’n ontsaglike noodlenigingsonderneming op sulke kort kennisgewing.
Daar was ’n geweldige reaksie op die behoefte aan noodlenigingsfondse. Die Getuies in België, Frankryk en Switserland alleen het meer as R5800 000 bygedra. Noodlenigingsvoorrade is verkry, waaronder voedsel, medisyne en oorlewingstoerusting, en dit is alles by Jehovah se Getuies se takkantore in Louviers, Frankryk, en in Brussel, België, in houers geplaas en gemerk. Getuies het dag en nag gewerk om die vrag vir aflewering na Oostend, België, gereed te kry. By die lughawe is meer as 35 ton, op Woensdag, 27 Julie, op ’n stralervragvliegtuig gelaai. Die volgende dag is ’n kleiner vrag, hoofsaaklik met mediese voorrade, gestuur. Die Saterdag, twee dae later, het ’n ander vlug nog mediese voorrade na die slagoffers geneem.
Getuies van Frankryk, wat ’n mediese dokter ingesluit het, het voor die groot vrag na Goma vertrek. Op Maandag, 25 Julie, toe dr. Henri Tallet in Goma aangekom het, het omtrent 20 Getuies reeds aan cholera gesterf, en ander het daagliks gesterf. Aangesien die vrag sowat 250 kilometer daarvandaan via Bujumbura, Burundi, afgelewer moes word, het dit eers Vrydagoggend, 29 Julie, in Goma aangekom.
Hoe siekte die hoof gebied is
Intussen het sowat 1600 Getuies en hulle vriende op die stuk grond saamgetrek waar die Koninkryksaaltjie in Goma geleë is. Vir al hierdie mense was daar net een toilet, geen water nie en baie min kos. Die tientalle wat met cholera besmet was, het die Koninkryksaal volgelê. Die dodetal het die hoogte ingeskiet.
Cholera ontwater ’n mens heeltemal. Die oë word glaserig en dan dop dit om. Indien daar betyds met rehidrasieterapie begin word, is die persoon binne twee dae weer gesond. Daarom is daar onmiddellik pogings aangewend om die broers se vogbalans te herstel met die bietjie medisyne wat beskikbaar was.
Daarbenewens het die broers die siekes probeer afsonder om te voorkom dat hulle ander aansteek. Hulle wou die vlugtelinge verskuif, weg van die ellendige toestande in Goma. ’n Geskikte plek is naby die Kivu-meer gevind, weg van die stof en die reuk van lyke wat swaar in die lug gehang het.
Toilette is gegrawe en streng gesondheidsreëls is neergelê. Dit het ingesluit dat ’n mens jou hande in ’n bak met bleikmiddel en water was nadat jy na die toilet gegaan het. Die belangrikheid van hierdie maatreëls is beklemtoon en die mense het aanvaar wat van hulle verwag is. Die dodelike epidemie is kort daarna onder beheer gebring.
Toe die groot vrag met die noodlenigingsvoorrade op Vrydag, 29 Julie, daar aankom, is ’n hospitaaltjie by die Koninkryksaal in Goma opgerig. Sowat 60 veldbeddens, asook ’n watersuiweringstelsel, is opgestel. Daarbenewens is daar tente na die Getuies geneem wat op die walle van die Kivu-meer gebly het. Binne ’n kort tydjie het hulle 50 tente in netjiese, ordelike rye opgeslaan.
’n Tyd lank was ongeveer 150 Getuies en hulle vriende ernstig siek. Teen die eerste week in Augustus het meer as 40 van hulle in Goma gesterf. Maar mediese voorrade en bystand het betyds opgedaag om baie meer lewens te red en om ’n einde aan baie lyding te maak.
’n Dankbare, geestelike volk
Die Getuievlugtelinge was uiters dankbaar vir alles wat vir hulle gedoen is. Hulle was ontroer deur die liefde wat hulle Christenbroers in ander lande teenoor hulle betoon het en deur die duidelike bewys dat hulle werklik aan ’n internasionale broederskap behoort.
Ten spyte van hulle ontberinge het die vlugtelinge hulle geestelikheid behou. Trouens, een waarnemer het gesê “dit het gelyk asof hulle meer besorg daaroor was om geestelike voedsel te ontvang as om materiële hulp in die hande te kry, hoewel hulle alles uiters nodig gehad het”. Daar is op versoek 5000 eksemplare van die Bybelstudiehulp Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe in die Rwandese taal, Kinyarwanda, na die verskillende vlugtelingekampe verskeep.b
Die vlugtelinge het elke dag ’n Bybelteks bespreek en hulle het gemeentelike vergaderinge gereël. Reëlings is ook getref om skoolklasse vir die kinders te hou. Die onderwysers het ook van hierdie klasse gebruik gemaak om onderrigting oor gesondheidsreëls te gee en het dit beklemtoon dat oorlewing daarvan afhang dat hulle dit nakom.
Voortgesette versorging is nodig
Buiten Goma is honderde Getuievlugtelinge op ander plekke, soos Rutshuru, opgespoor. Soortgelyke hulp is aan hierdie broers verleen. Op 31 Julie het sewe Getuieverteenwoordigers van Goma suid na Bukavu gevlieg waar daar sowat 450 Getuievlugtelinge was. Baie van hulle was ook van Burundi afkomstig. Cholera het daar uitgebreek en hulp is verleen in ’n poging om enige sterfgevalle onder die broers te verhoed.
Die volgende dag het die verteenwoordigers byna 150 kilometer per motor na Uvira, Zaïre, gereis waar daar langs die pad ongeveer 1600 Getuies uit Rwanda sowel as Burundi op sowat sewe plekke gebly het. Onderrigting is voorsien oor hoe hulle hulle teen siekte kon beskerm. ’n Verslag wat op die bevindings van die verteenwoordigers gegrond is, het gesê: “Wat tot dusver vermag is, is maar net ’n begin, en die 4700 mense wat tans ons bystand ontvang, sal nog baie maande lank verdere hulp nodig hê.”
Honderde Getuies het na bewering teen Augustus na Rwanda teruggekeer. Maar feitlik alle huise en besittings is geplunder. Dit sal dus ’n uitdaging wees om huise en Koninkryksale te herbou.
God se knegte hou aan om vurig te bid ten behoewe van diegene wat so verskriklik in Rwanda gely het. Ons weet dat geweld kan toeneem namate die einde van hierdie stelsel nader kom. Jehovah se Getuies oor die hele wêreld sal egter voortgaan om hulle Christelike neutraliteit te handhaaf en om ware medelye te toon.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Tragedie in Rwanda—Wie is daarvoor verantwoordelik?” in Die Wagtoring van 15 Desember 1994.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Kaart op bladsy 12]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
RWANDA
Kigali
UGANDA
ZAÏRE
Rutshuru
Goma
Die Kivu-meer
Bukavu
Uvira
BURUNDI
Bujumbura
[Prente op bladsy 15]
Links: Ntabana Eugène en sy gesin is uitgemoor. Regs: Mukagisagara Denise, ’n Tutsi, is doodgemaak ten spyte van pogings deur Hutu-broers om haar te red.
[Prente op bladsy 16, 17]
Bo: Die siekes word by die Koninkryksaal in Goma versorg. Onder links: Meer as 35 ton noodlenigingsvoorrade is deur Getuies voorberei en per stralervliegtuig gestuur. Onder: Naby die Kivu-meer, waarheen die Getuies verskuif is. Onder regs: Rwandese vlugtelinge by ’n Koninkryksaal in Zaïre