Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 1/15 bl. 3-7
  • Die ware Christelike geloof in aksie—te midde van oproer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ware Christelike geloof in aksie—te midde van oproer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorlog in die Kongo
  • Die behoeftes word bepaal
  • Mense gee milddadig
  • Verspreiding in die Kongo
  • Hulp aan mense wat nie Getuies is nie
  • Vlugtelingkampe
  • Hulp aan die slagoffers van Rwanda se tragedie
    Ontwaak!—1994
  • Liefde lei tot ’n hegter band van eenheid
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die ware oplossing vir armoede
    Ontwaak!—2005
  • Ons oorleef ’n vernietigende lawastroom!
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 1/15 bl. 3-7

Die ware Christelike geloof in aksie—te midde van oproer

DIT het alles skielik eendag in April 1994 begin. Die presidente van Burundi en Rwanda is in ’n vliegongeluk dood. Binne ure het verskriklike geweld in Rwanda uitgebreek en vinnig versprei. In bietjie meer as drie maande was oor die 500 000 Rwandese—mans, vrouens en kinders—dood. Party mense verwys na die tydperk as “die slagting”.

Die helfte van Rwanda se 7,5 miljoen inwoners moes uit hulle huise vlug. Dit het 2,4 miljoen mense ingesluit wat na buurlande gevlug het. Dit was die grootste en vinnigste uittog van vlugtelinge in die hedendaagse geskiedenis. Vlugtelingkampe is vinnig in Zaïre (tans die Demokratiese Republiek van die Kongo), Tanzanië en Burundi opgerig. Party van hierdie kampe—die grootste ter wêreld—het 200 000 mense geherberg.

Onder die vlugtelinge was talle Getuies van Jehovah, ’n vredeliewende volk wat Bybelbeginsels in hulle lewe toepas. In watter land hulle ook al woon, handhaaf hulle streng neutraliteit en pas hulle die beginsel toe wat in hierdie woorde van Jesaja 2:4 vervat is: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Jehovah se Getuies is alombekend as ’n godsdiensgroep wat nie aan die slagting in Rwanda deelgeneem het nie.

Jesus Christus het gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld is nie”. Aangesien hulle “in die wêreld” is, kan hulle egter nie altyd die beroeringe van die nasies vryspring nie (Johannes 17:11, 14). Gedurende die slagting in Rwanda het ongeveer 400 Getuies hulle lewe verloor. Omtrent 2000 Getuies en belangstellendes in die Koninkryksboodskap het vlugtelinge geword.

Beteken die feit dat Jehovah se Getuies geen deel van die wêreld is dat hulle niks doen wanneer rampspoed mense tref nie? Nee. God se Woord sê: “As ’n broer of ’n suster in ’n naakte toestand is en die nodige voedsel vir die dag kortkom en een van julle nogtans vir hulle sê: ‘Gaan in vrede, bly warm en goed gevoed’, maar julle gee hulle nie die nodige vir hulle liggaam nie, watter nut het dit? So is ook geloof, as dit nie werke het nie, op sigself dood” (Jakobus 2:15-17). Liefde vir hulle naaste beweeg die Getuies ook om diegene te help wat nie hulle godsdiensopvattings deel nie.—Matteus 22:37-40.

Hoewel Jehovah se Getuies regoor die wêreld graag hulle medegelowiges in dié benarde situasie in Rwanda wou help, is Wes-Europa aangestel om die noodlenigingspogings te koördineer. In die somer van 1994 het ’n span Getuievrywilligers van Europa hulle Christenbroers en -susters in Afrika te hulp gesnel. Goed georganiseerde kampe en veldhospitale is vir die Rwandese vlugtelinge opgerig. Groot hoeveelhede klere, komberse, voedsel en Bybellektuur is per vliegtuig of op ander maniere aan hulle versend. Meer as 7000 geteisterdes—bykans drie keer die aantal Getuies van Jehovah in Rwanda op daardie tydstip—het by die noodlenigingspogings baat gevind. Teen Desember daardie jaar het duisende vlugtelinge, waaronder die meeste van dié wat Jehovah se Getuies is, na Rwanda teruggekeer om hulle lewe weer op te bou.

Oorlog in die Kongo

In 1996 het oorlog in die oostelike deel van die Demokratiese Republiek van die Kongo uitgebreek. Hierdie gebied grens aan Rwanda en Burundi. Weer eens is mense verkrag en doodgemaak. Te midde van fluitende koeëls en brandende dorpies het mense vir hulle lewe gevlug. Jehovah se Getuies was ook slagoffers van die oproer, en ongeveer 50 het hulle lewe verloor. Party is deur verdwaalde koeëls gedood. Ander is om die lewe gebring omdat hulle aan ’n sekere etniese groep behoort het of vir vyande aangesien is. ’n Dorpie waarin 150 Getuies gewoon het, is deur ’n brand vernietig. In ander dorpies is tientalle huise en ’n paar Koninkryksale afgebrand. Aangesien hulle hulle huise en besittings verloor het, het die Getuies na ander gebiede gevlug en is hulle daar deur medeaanbidders gehelp.

Honger volg op oorlog namate gewasse vernietig, die voedselvoorraad buitgemaak en toevoerlyne afgesny word. Die beskikbare voedsel is duur. In Kisangani het een kilogram aartappels, aan die begin van Mei 1997, omtrent R13 gekos, veel meer as wat die meeste mense kon bekostig. Die meerderheid kon slegs een maaltyd per dag bekostig. Siekte volg natuurlik op voedseltekorte. Wanvoeding verswak die liggaam se weerstand teen malaria, diarreesiektes en maagkwale. Veral kinders ly en sterf.

Die behoeftes word bepaal

Jehovah se Getuies in Europa het weer eens vinnig op die behoefte gereageer. Teen April 1997 het ’n noodlenigingspan van Getuies, wat twee dokters ingesluit het, daarheen gevlieg met medisyne en geld. In Goma het plaaslike Getuies reeds noodlenigingskomitees georganiseer om te bepaal wat die situasie is sodat onmiddellike hulp verleen kon word. Die span het die situasie in die stad en die omliggende gebiede ondersoek. Boodskappers is gestuur om uit te vind hoe dit op meer afgeleë plekke gaan. Inligting is ook verkry uit Kisangani, wat meer as 1000 kilometer wes van Goma geleë is. Plaaslike broers het gehelp om noodlenigingspogings in Goma te koördineer, waar ongeveer 700 Getuies woon.

Een van die Christen- ouer manne in Goma het gesê: “Ons was diep ontroer om ons broers te sien wat van so ver af gekom het om ons te help. Voor hulle gekom het, het ons mekaar gehelp. Broers moes uit die plattelandse gebiede na Goma vlug. Party het hulle huise verloor en hulle landerye agtergelaat. Ons het hulle in ons huise ingeneem en van ons klere vir hulle gegee asook die bietjie kos wat ons gehad het. Daar was nie veel wat ons plaaslik kon doen nie. Party van ons het aan wanvoeding gely.

“Die broers van Europa het egter geld gebring waarmee ons kos kon koop, wat skaars en baie duur was. Die kos het op ’n kritieke tyd gekom, aangesien daar baie was wat niks in hulle huis gehad het om te eet nie. Ons het die kos uitgedeel onder Getuies én mense wat nie Getuies is nie. As die hulp nie op daardie tydstip gekom het nie, sou baie meer gesterf het, veral kinders. Jehovah het sy volk gered. Mense wat nie Getuies is nie, was baie beïndruk. Baie het kommentaar gelewer oor ons eenheid en liefde. Party het erken dat ons die ware geloof het.”

Hoewel voedsel plaaslik gekoop is en medisyne toegedien is, was meer middele nodig. Daar was ’n behoefte aan klere en komberse, sowel as ’n groter voedsel- en medisynevoorraad. Hulp was ook nodig om huise wat verwoes was te herbou.

Mense gee milddadig

Die broers in Europa was weer eens gretig om te help. Die kantoor van Jehovah se Getuies in Louviers, Frankryk, het ’n beroep gedoen op die gemeentes in die Rhône-vallei sowel as dié in Normandië en deel van die Parysgebied om te help. Hier was ’n ander skriftuurlike beginsel van toepassing: “Wie spaarsaam saai, sal ook spaarsaam maai; en wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig maai. Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.”—2 Korintiërs 9:6, 7.

Duisende het die geleentheid om te gee met vreugde aangegryp. Kartonne en sakke vol klere, skoene en ander artikels het na die Koninkryksale gestroom en is daarvandaan na die takkantoor van Jehovah se Getuies in Frankryk vervoer. Dáár het 400 vrywilligers gereed gestaan om deel te neem aan die volgende deel van operasie “Help Zaïre”. Namate die geskenkte goedere ingestroom het, het hierdie vrywilligers die klere gesorteer, opgevou en in kartonne gesit, wat in stapels van 30 op laaiplanke gepak is. Kinders het aan hulle geestelike boeties en sussies in Afrika gedink en speelgoed gestuur—blink speelgoedmotortjies, tolle, poppe en teddiebere. Dit is saam met die lewensbenodigdhede ingepak. Altesaam nege 12 meter lange houers is vol gepak en na die Kongo verskeep.

Hoeveel noodlenigingsmiddele is met die hulp van duisende Getuies in België, Frankryk en Switserland na Sentraal-Afrika gestuur? Teen Junie 1997 was die totaal 500 kilogram medisyne, 10 ton hoëproteïenbeskuitjies, 20 ton ander voedsel, 90 ton klere, 18 500 pare skoene en 1000 komberse. Bybellektuur is ook per vliegtuig daarheen gestuur. Dit alles is hoog op prys gestel en het die vlugtelinge vertroos en hulle gehelp om hulle beproewinge te verduur. Die totale koste van die voorraad was bykans R4400 000. Hierdie bydraes was ’n blyk van die broederskap en liefde onder diegene wat Jehovah dien.

Verspreiding in die Kongo

Namate die goedere die Kongo begin bereik het, het twee broers en ’n suster van Frankryk af gekom om saam met die plaaslike noodlenigingskomitees te werk. Joseline het die volgende gesê oor die dankbaarheid wat die Kongolese Getuies geopenbaar het: “Ons het baie briewe van waardering ontvang. ’n Arm suster het vir my ’n malagietornament gegee. Ander het vir ons foto’s van hulle gegee. Toe ons vertrek, het susters my gesoen, omhels en gehuil. Ek het ook gehuil. Baie het dinge gesê soos: ‘Jehovah is goed. Jehovah dink aan ons.’ Hulle het dus besef dat die eer vir hierdie mededeelsaamheid God toekom. Wanneer ons voedsel uitgedeel het, het die broers en susters Jehovah met Koninkryksliedere geloof. Dit was werklik hartroerend.”

’n Dokter met die naam Loic was ’n lid van die span. Baie het in die Koninkryksaal saamgedrom en geduldig hulle beurt afgewag om deur hom gehelp te word. ’n Kongolese suster wat ook graag iets wou doen, het omtrent 40 oliebolle geskenk vir diegene wat gewag het om die dokter te spreek. Aangesien daar ongeveer 80 mense was wat gewag het, het elkeen ’n halwe oliebol gekry.

Hulp aan mense wat nie Getuies is nie

Hierdie humanitêre hulp is nie uitsluitlik aan Jehovah se Getuies gegee nie. Ander het ook daarby baat gevind, net soos in 1994 met baie die geval was. Dit is in ooreenstemming met Galasiërs 6:10, wat sê: “Ja, laat ons dan, solank ons tyd het wat daarvoor gunstig is, aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is.”

Die Getuies het medisyne en klere aan etlike laerskole en ’n weeshuis naby Goma uitgedeel. Daar is 85 kinders in die weeshuis. Toe die noodleningingspan die situasie by ’n vroeëre geleentheid ondersoek het, het hulle die weeshuis besoek en hulle 50 kartonne hoëproteïenbeskuitjies, kartonne klere, 100 komberse, medisyne en speelgoed belowe. Die kinders het in die binnehof in rye gestaan en vir die besoekers gesing. Daarna het hulle ’n spesiale versoek gerig—kan hulle ’n voetbal kry sodat hulle sokker kan speel?

’n Paar weke later het die noodlenigingspan hulle belofte vervul om voorraad te bring. Die hoof van die weeshuis, wat beïndruk was deur die vrygewigheid en deur wat hy gelees het in die Bybellektuur wat vir hom gegee is, het gesê dat hy besig is om een van Jehovah se Getuies te word. En het die kinders ’n voetbal gekry? “Nee”, het Claude, die koördineerder van die noodlenigingspan van Frankryk, geantwoord. “Ons het vir hulle twee voetballe gegee.”

Vlugtelingkampe

Hulpverskaffing was nie net tot die Kongo beperk nie. Duisende vlugtelinge het uit die oorloggebied na ’n nabye land gevlug waar drie vlugtelingkampe inderhaas opgerig is. Getuies het ook daarheen gereis om te sien wat gedoen kon word. Toe hierdie verslag saamgestel is, was daar 211 000 vlugtelinge in die kampe, hoofsaaklik uit die Kongo. Ongeveer 800 was Getuies en hulle kinders en persone wat in die goeie nuus van die Koninkryk belangstel. ’n Probleem in die kampe wat onmiddellik aandag verdien het, was die gebrek aan voedsel. In een kamp was daar net genoeg voedsel vir drie dae, en dit het boontjies ingesluit wat drie jaar oud was.

Die Getuies was nietemin in ’n opgewekte stemming. Hoewel hulle maar min Bybellektuur gehad het, het hulle gereeld vergaderinge in die ope lug gehou om hulleself geestelik op te bou. Hulle was ook besig om die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander in die kampe te verkondig.—Matteus 24:14; Hebreërs 10:24, 25.

Die ondersoekspan van Getuies het ’n dokter ingesluit. Hoewel die owerheid hulle net ’n paar dae in elke kamp toegelaat het, het hulle ook mediese hulp verleen. Hulle het medisyne en geld by Christen- ouer manne gelaat. Die broers kon dus aan die lewe bly. Hulle het ook gehoop dat die Getuies in die kampe spoedig na hulle geboorteland kan terugkeer.

Wat hou die toekoms in? Jesus Christus het voorspel dat ons tyd vol groot oproerigheid sou wees, ’n tyd wat deur oorloë en voedseltekorte gekenmerk sou word (Matteus 24:7). Jehovah se Getuies weet dat net God se Koninkryk ’n einde gaan maak aan die lyding wat nou op die aarde bestaan. Onder die heerskappy daarvan sal ons aardse tuiste ’n paradys van vrede, oorvloed en ewige geluk vir die gehoorsame mensdom word (Psalm 72:1, 3, 16). Intussen sal die Getuies die goeie nuus van daardie hemelse Koninkryk verkondig en ook voortgaan om medeaanbidders en ander in tye van nood te help.

[Lokteks op bladsy 4]

Sedert 1994 het Jehovah se Getuies in Europa alleen, meer as 190 ton voedsel, klere, medisyne en ander noodlenigingsvoorraad na die Groot Mere-gebied van Afrika gestuur

[Venster op bladsy 6]

Christelike liefde in dade omgesit

Onder diegene wat gretig deelgeneem het aan die “Help Zaïre”-projek in Frankryk was Ruth Danner. As kind was sy ’n gevangene in Nazi-konsentrasiekampe weens haar Christelike geloof. Sy het gesê: “Ons was só bly om iets vir ons broers en susters in Afrika te doen! Maar daar is iets wat my dubbel soveel geluk verskaf het. In 1945, toe ons uit Duitsland teruggekeer het huis toe, het ons absoluut niks gehad nie. Selfs die klere wat ons gedra het, het ons geleen. Maar kort daarna het ons materiële hulp van ons geestelike broers in Amerika ontvang. Hierdie noodlenigingspoging het my dus die kans gegee om te vergoed vir die goedhartigheid wat so lank gelede aan ons betoon is. Wat ’n voorreg is dit tog om aan so ’n groot familie van broers te behoort wat Christelike liefde in dade omsit!”—Johannes 13:34, 35.

[Prent op bladsy 7]

Binnekort—’n aardse paradys met ’n oorvloed vir almal

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel