Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 11/8 bl. 22-25
  • Ons oorleef ’n vernietigende lawastroom!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons oorleef ’n vernietigende lawastroom!
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Niks om ons oor te bekommer nie?
  • “Ons moet onmiddellik vlug!”
  • Duisende vlugtelinge op die pad
  • ’n Aand in veiligheid
  • Hulp kom gou
  • Kommer neem toe
  • Bemoedigende nuus
  • Ons kan terugkeer!
  • Een week later
  • Hulp aan die slagoffers van Rwanda se tragedie
    Ontwaak!—1994
  • Die ware Christelike geloof in aksie—te midde van oproer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • In die skadu van die berg van vuur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Popocatepetl—Mexiko se majestueuse, dreigende vulkaan
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 11/8 bl. 22-25

Ons oorleef ’n vernietigende lawastroom!

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE KONGO (KINSHASA)

DIT is Dinsdag, 15 Januarie 2002—dit lyk soos net nog ’n dag in Sentraal-Afrika. Ek en ’n ander Getuie van Jehovah kom in Goma, Kivu, Kongo (Kinshasa) aan om die Getuies van die Groot Mere-gebied te ontmoet.

Niks om ons oor te bekommer nie?

Hoewel die Nyiragongo-vulkaan (3 470 meter hoog) 19 kilometer buite die stad Goma is, trek dit ons aandag.a Ons kan die gerommel van die vulkaan hoor en sien hoe rook daaruit optrek. Vir die plaaslike mense is dit niks ongewoons gedurende hierdie tyd van die jaar nie, en dit bekommer hulle nie.

In die middag woon ons die vergaderinge van twee gemeentes van Jehovah se Getuies by. Ons voel nog steeds die aardskuddings en hoor die gerommel. Dit lyk nie asof dit enigiemand pla nie. Die plaaslike owerheid hou aan om die bevolking te verseker dat daar geen rede is om paniekerig te raak nie. Hoewel ’n Kongolese vulkanoloog al maande lank uitbarstings voorspel, glo niemand hom nie. Een vriend sê heel gerus: “Vanaand sal die vulkaniese aktiwiteit die lug rooi maak.”

“Ons moet onmiddellik vlug!”

Toe ons by ons verblyfplek kom, word daar dringend vir ons gesê: “Ons moet onmiddellik vlug!” Die situasie is lewensgevaarlik. Die stad is in groot gevaar. Hoe vinnig verander dinge tog! Vroeër het ons die moontlikheid bespreek om Goma as basis te gebruik vir die getuieniswerk in die gebied. Nou, laat in die middag, word ons aangesê om uit die stad te vlug, aangesien dit moontlik vernietig gaan word!

Wanneer dit skemer word, word die lug bloedrooi—en om goeie rede! Die lawastroom van Nyiragongo vloei in die rigting van die stad. Die berg lyk soos ’n enorme kokende pot wat oorloop, en die rooiwarm gesmelte lawa vernietig alles in sy pad. Ons het nog nooit ons koffers vinniger gepak nie! Dit is amper 7:00 nm.

Duisende vlugtelinge op die pad

Terwyl ons haastig probeer wegkom, is die pad wat uit Goma loop, vol mense wat vir hulle lewe vlug. Die meeste van hulle is te voet en dra die paar besittings wat hulle kon saambring. Baie balanseer vragte op hulle koppe. ’n Paar is in oorvol voertuie ingeprop. Almal is op pad na die nabygeleë Rwandese grens. Maar ’n vulkaan het geen respek vir mensgemaakte grense nie. Geen leër kan sy aanslag stuit nie! Ons sien soldate voor die lawa padgee en ook vir hulle lewe hardloop. Dit is feitlik onmoontlik vir motors om op die pad te ry. Ons moet te voet verder gaan. Ons is in die middel van hierdie worstelende massa van 300 000 mense—mans, vroue, kinders en babas—wat van die vernietigende vulkaan probeer vlug. Die aarde onder ons voete rommel en bewe nog.

Elkeen vlug vir sy lewe. Ek en my vriend, vreemdelinge wat van ’n groot stad af kom, is onder hulle, vergesel deur ’n paar Getuies wat ons bystaan. Hulle teenwoordigheid en opregte besorgdheid raak ons diep en laat ons veilig voel in hierdie uiters spanningsvolle en pynlike situasie. Mense vlug met wat hulle kan dra—klere, potte en panne, ’n bietjie kos. In hierdie see van mense word daar gestamp en gestoot. Party van hulle word deur motors gestamp wat verby probeer kom, en sommige verloor hulle greep op hulle karige besittings, wat dan grond toe val en vertrap word. Wee die een wat val. Die spanning loop hoog. Almal is vreesbevange. Ons probeer by Gisenyi uitkom, wat net ’n paar kilometer van ons af in Rwanda is. Ons sit ons noodgedwonge tog voort.

’n Aand in veiligheid

Ons kom by ’n hotel, maar daar is natuurlik nie meer plek beskikbaar nie. Ons moet maar tevrede wees om by ’n tuintafel te sit. Dit is nadat ons ’n uitputtende reis van drie en ’n half uur te voet afgelê het. Ons is dankbaar dat ons nog lewe en veilig is en by ons Christenbroers is wat saam met ons gevlug het. Gelukkig het nie een Getuie sy lewe verloor nie.

Ons besef dat ons die nag buite sal moet deurbring. Van hierdie veilige afstand af kan ons die bloedrooi lug oor die stad Goma sien. Dit lyk inderdaad baie indrukwekkend en pragtig! Daglig breek stadig deur. Die gerommel en die skuddings het regdeur die nag voortgeduur. Wanneer ons op die vorige dag se wedervaringe terugkyk, kan ons nie anders as om jammer te voel vir die duisende gesinne met hulle kinders wat moes vlug nie.

Hulp kom gou

Getuies van Kigali, die hoofstad van Rwanda, sluit Vrydagmiddag, 18 Januarie, by ons aan. ’n Noodlenigingskomitee wat uit broers van Goma en Gisenyi bestaan, tree in werking. Hulle eerste doelwit is om die Getuie-vlugtelinge in die ses Koninkryksale in die gebied te huisves. Dit word nog op dieselfde dag gedoen. ’n Teken in Frans en Swahili word langs die pad opgerig wat die rigting na ’n plaaslike Koninkryksaal aanwys waar die vlugtelinge hulp en vertroosting kan ontvang. Op dieselfde dag kom drie ton lewensbenodigdhede ook by die Koninkryksale aan waar die Getuies gehuisves word. Die volgende dag, wat ’n Saterdag is, daag ’n vragmotor van Kigali af daar op vol kos, komberse, plastiekseile, seep en geneesmiddels.

Kommer neem toe

Dit is ’n tyd van groot kommer. Hoe kan daar in die behoeftes van al hierdie mense voorsien word? Wat van die vulkaan? Wanneer sal die uitbarsting ophou? Hoeveel skade is in die stad Goma aangerig? Die nuus wat rondgaan en die voortgesette aardskuddings voorspel niks goeds nie. Deskundiges vrees dat gevaarlike vlakke van swaeldioksied die lug sal besoedel. Daar is ook vrese dat die water van die Kivu-meer besoedel sal word as gevolg van chemiese reaksies.

Gedurende die 48 uur ná die uitbarsting het ontstellende berigte versprei. En dan, Saterdagmiddag, vind ons uit dat sowat 10 000 mense, insluitende 8 Getuies en ’n kind, aan alle kante vasgekeer is deur lawa wat op plekke twee meter diep is. Giftige gasse hang swaar in die lug. Ons vrees vir hulle lewe. Die situasie lyk hopeloos. Selfs Goma se katedraal is feitlik vernietig deur die onstuitbare lawastroom. Op daardie stadium dink niemand dat Goma uit die as sal verrys nie.

Bemoedigende nuus

Op Sondag 9:00 vm. ontvang ons ’n oproep van een van die broers wat deur die lawa omring is. Hy sê vir ons dat die situasie besig is om te verander. Daar is ’n verbetering. Dit reën, die lawa koel af en die lug is besig om op te klaar. Hoewel die lawa nog warm en gevaarlik is, begin mense die lawa oorsteek sodat hulle uit die gevaargebied kan kom. Die stad is nie heeltemal vernietig nie.

Dit is die eerste goeie nuus sedert die rampspoedige gebeure begin het. Die vulkaan lyk nie meer so aktief nie. Die deskundiges in die gebied gee teenstrydige beskouings. Ons slaag daarin om kontak te maak met die naburige stad Bukavu, wat aan die ander kant van Kivu-meer geleë is. Ons vind uit dat vyf gesinne, sowel as drie kinders sonder hulle ouers, Bukavu per boot bereik het. Die Getuies in die stad sal vir hulle sorg.

Ons kan terugkeer!

Op Maandag, 21 Januarie, bemoedig en vertroos ons die slagoffers in Gisenyi en vind ons uit wat hulle behoeftes is. Ons vind uit dat die broers wat tydelik by die ses Koninkryksale gehuisves word, hulleself begin organiseer het. Ons stel presies vas hoeveel gevlug het—1 800 insluitende die kinders.

Wat van die toekoms? Die plaaslike owerheid beplan om onmiddellik vlugtelingkampe op te rig. Maar party mense het nog steeds onaangename herinneringe van die vlugtelingkampe wat ná die volksmoord in 1994 opgerig is. Ons besluit om terug te keer na Goma, en teen die middag se kant bereik ons die stad. Ongeveer 25 persent daarvan is vernietig. Ons kan nou op die verharde lawa loop wat in die stad se strate afgestroom het. Dit is nog warm en ontsnappende gas hang in die lug. Baie mense is vasbeslote om na die stad terug te keer.

Eenuur daardie middag vergader ons met 33 Christen- ouer manne in die Koninkryksaal van die Goma-Sentraalgemeente. ’n Eenstemmige besluit word geneem: Hulle gaan na Goma terugkeer. “Dit is waar ons hoort”, sê hulle. Wat van die gevaar dat die vulkaan weer sal uitbars? “Ons is gewoond daaraan”, is die antwoord. Hulle is bang dat al hulle besittings geplunder sal word as hulle nie gou terugkeer nie. Die volgende dag is al die Getuie-gesinne wat gevlug het, terug in Goma. Die oorgrote meerderheid van die 300 000 mense wat die grens oorgesteek het, het ook na die geteisterde stad teruggekeer.

Een week later

Die stad lewe weer. Dit sal klaarblyklik uit die as verrys. Kort voor lank begin hulle die lawa gelykmaak sodat die twee dele van die stad nie meer geskei is nie. Alles wat in die lawa se pad gestaan het, is vernietig. Die sakesentrum en die administrasiegeboue van die stad is in puin gelê. Daar word geskat dat ’n derde van die lughawe se aanloopbaan vernietig is.

’n Akkurate opname toon dat 180 Getuie-gesinne onder diegene is wat alles verloor het en dakloos gelaat is. Die noodlenigingskomitee sien toe dat sowat 5 000 mans, vroue en kinders elke dag kos kry. ’n Besending plastiekdekseile wat deur Jehovah se Getuies in België, Frankryk en Switserland geskenk is, sal as tydelike skuiling vir die dakloses gebruik word, sowel as vir vergaderplekke vir die gemeentes wie se Koninkryksale erg beskadig of vernietig is. Party van die daklose gesinne sal by Getuies bly wie se huise nog staan, terwyl ander in die tydelike skuilings gehuisves sal word.

Op Vrydag, 25 Januarie, sowat tien dae ná die verskriklike aand, is 1 846 by ’n vergadering op ’n skoolterrein in Goma teenwoordig om na bemoedigende woorde uit die Skrif te luister. Baie van die broers betuig hulle dankbaarheid vir die vertroosting wat hulle ontvang het sowel as die praktiese hulp wat Jehovah deur sy organisasie voorsien het. Ons as besoekers word diep geraak deur die moed en sterk geloof wat die broers ondanks hulle tragiese omstandighede aan die dag lê. Hoe lieflik is dit tog om in ’n tyd van sulke benoudheid deel te wees van ’n broederskap wat verenig is in die aanbidding van die ware God, Jehovah, die Bron van ewige vertroosting!—Psalm 133:1; 2 Korintiërs 1:3-7.

[Voetnoot]

a In Swahili staan die vulkaan bekend as mulima ya moto, wat “berg van vuur” beteken.—Sien die artikel “Visiting an Active Volcano” in die Awake! van 8 Julie 1975.

[Kaarte op bladsy 22, 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Lyne met pyltjies dui aan waar die lawa gevloei het

KONGO (KINSHASA)

Berg Nyiragongo

↓ ↓ ↓

Goma-lughawe ↓ ↓

↓ GOMA

↓ ↓

KIVU-MEER

RWANDA

[Prente op bladsy 23]

Die gesmelte lawa het tienduisende mense gedwing om uit die stad Goma te vlug

[Erkenning]

AP Photo/Sayyid Azim

[Prente op bladsy 24, 25]

Binne ’n week het die Getuies hulle Christelike vergaderinge georganiseer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel