Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 1/8 bl. 5-6
  • Uitbranding—Wie loop die risiko en waarom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Uitbranding—Wie loop die risiko en waarom?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarskynlike slagoffers van uitbranding
  • Waarom mense uitbrand
  • Uitbranding—Hoe kan jy dit die hoof bied?
    Ontwaak!—1995
  • Uitbranding—Is jy volgende?
    Ontwaak!—1995
  • Wat jy kan doen omtrent uitbranding
    Ontwaak!—2014
  • Hoe kan ek uitbranding voorkom?
    Jongmense vra
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 1/8 bl. 5-6

Uitbranding—Wie loop die risiko en waarom?

STEL jou voor dat jy ’n kantoorwerker is met ’n gesin—of miskien is jy een. Jou lessenaar is vol werk. Die telefoon lui onophoudelik met eise van klante waaraan dit byna onmoontlik is om te voldoen. Jou opsiener is ontevrede omdat jy nie jou werk klaarkry nie. Jou seun is in die moeilikheid by die skool. Die onderwyser wil jou onmiddellik sien. Jou gesmeek om hulp by jou huweliksmaat word met onverskilligheid beantwoord. Wanneer dit lyk of die situasie buite beheer is, verander stres in angs en baan dit die weg vir uitbranding.

Word uitbranding deur oorwerkery veroorsaak? Ann McGee-Cooper, ’n breinnavorser, het gesê dat uitbranding “die gevolg van ’n ongebalanseerde lewenswyse is, waar daar net gewerk en nooit ontspan word nie”. Oorwerkery is egter nie die enigste faktor nie; party brand uit onder dieselfde druk en omstandighede, ander nie.

Waarskynlike slagoffers van uitbranding

Net soos daar mense is wat vatbaarder vir ’n sekere siekte is, is daar sekere soorte mense wat vatbaarder vir uitbranding is. “Jy moet eers aan die brand wees”, sê Elliot Aronson, professor van sosiale sielkunde aan die Universiteit van Kalifornië, “om aan uitbranding te ly.” Diegene wat derhalwe vatbaar is vir uitbranding is aan die brand met hoë doelwitte en ideale. Daar word gesê dat diegene wat aan uitbranding ly dikwels ’n maatskappy se beste mense is.

In ’n samevatting van die karaktertrekke van waarskynlike slagoffers van uitbranding het professor Foemiaki Inaoka van die Japannese Rooi Kruis-kollege van Verpleging in die boek Moetsoekisjokogoen (Uitbrandingsindroom) geskryf: “Diegene wat vatbaar is vir uitbranding het ’n sterk neiging om simpatiek, menslik, sensitief, toegewyd en idealisties te wees. Hulle is nie masjiengeoriënteerd nie maar as ’t ware ‘mensgeoriënteerd’.”

Toe ’n spesialis gevra is om ’n toets saam te stel om diegene te elimineer wat hulle waarskynlik sal uitbrand, het hy gesê dat die toets liewer gebruik moet word as ’n standaard waarvolgens mense in diens geneem word. “Wat maatskappye moet doen”, het hy gesê, “is om dié mense te vind wat genoeg omgee om uit te brand . . . en dan programme te ontwikkel om uitbranding teë te werk.”

Diegene wat by mensgeoriënteerde dienste betrokke is, soos maatskaplike werkers, dokters, verpleegsters en onderwysers, is veral vatbaar. Hulle probeer ywerig mense help en gee van hulleself om ander se lewe te verbeter, en hulle kan uitbrand wanneer hulle besef dat hulle die soms onbereikbare doelwitte wat hulle vir hulleself gestel het nie bereik nie. Besorgde moeders kan ook om dieselfde rede uitbrand.

Waarom mense uitbrand

’n Opname wat onder verpleegsters gedoen is, het drie faktore wat tot uitbranding lei aan die lig gebring. Die eerste faktor wat aangegee is, was al die daaglikse beslommernisse wat frustrasie veroorsaak. Die meeste van die verpleegsters het byvoorbeeld gewigtige verantwoordelikhede gehad, moes moeilike situasies in hulle werk met pasiënte hanteer, met nuwe toerusting vertroud raak, toenemende uitgawes die hoof bied en ’n onreëlmatige lewenstyl verdra. “Hierdie daaglikse beslommernisse is die grootste rede vir hulle uitbranding”, sê die boek Moetsoekisjokogoen. Wanneer probleme onopgelos bly, bou frustrasie net op en lei dit tot uitbranding.

Die tweede faktor wat aangegee is, was die gebrek aan ondersteuning, om niemand te hê wat hulle in hulle vertroue kan neem nie. ’n Moeder wat haarself dus van ander moeders afsonder, is vatbaarder vir uitbranding. Die bogenoemde opname het bevind dat ongetroude verpleegsters vatbaarder is vir uitbranding as dié wat getroud is. Die getroude lewe kan nietemin daaglikse beslommernisse vermeerder as daar geen openhartige kommunikasie tussen man en vrou is nie. Selfs wanneer almal tuis is, kan ’n persoon eensaam wees omdat sy gesin in die televisie verdiep is.

Die derde faktor was gevoelens van hulpeloosheid. Verpleegsters is byvoorbeeld meer geneig om gevoelens van hulpeloosheid te ervaar as dokters omdat verpleegsters nie die gesag het om dinge te verander nie. Diegene in middelbestuur kan uitbrand wanneer hulle meen dat hulle grootste pogings hulle nêrens bring nie. Soos ’n mannekragbestuurder gesê het, word uitbranding veroorsaak deur “die frustrasie wanneer ’n mens ’n impak probeer maak en daar nie na jou geluister word nie”.

Gevoelens van hulpeloosheid in mense ontkiem in ’n omgewing van ondankbare gesindhede en lei tot uitbranding. Vrouens brand uit wanneer hulle mans nie die hoeveelheid werk erken wat betrokke is by tuisteskepping en die versorging van kinders nie. Diegene in middelbestuur brand uit wanneer ’n baas nie ’n knap stuk werk raaksien nie en weens klein foutjies op hulle pik. “Dit kom daarop neer dat ons almal ’n behoefte daaraan het dat ons pogings waardeer en erken word”, sê die tydskrif Parents, “en as ons by ’n plek werk waar ons pogings nie beloon word nie—of dit nou by ons huis of op kantoor is—is ons meer geneig om aan uitbranding te ly.”

Interessant genoeg, terwyl ’n hoë persentasie verpleegsters uitbranding ondervind, ly verloskundiges aansienlik minder daaraan. Oor die algemeen behels ’n verloskundige se werk om nuwe lewens in die wêreld te help bring. Moeders en vaders bedank hulle vir hulle werk. Wanneer mense waardeer word, voel hulle dat hulle iets beteken en motiveer dit hulle.

Sodra ’n mens weet wie geneig is om uit te brand en waarom, word dit makliker om die probleem die hoof te bied. Die volgende artikel kan slagoffers van uitbranding help om ’n gebalanseerde lewensbeskouing te hê.

[Lokteks op bladsy 6]

Uitbranding is ’n gevolg van ’n ongebalanseerde lewenswyse, waar daar net gewerk en nooit ontspan word nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel