Is jou lewe vervelig? Jy kan dit verander!
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
MARGARET en Brian was in hulle middel-vyftigerjare toe ’n gulde geleentheid hom voorgedoen het: ’n vroeë aftrede met ’n goeie pensioen. Hulle het toe besluit om suidwaarts koers te kies na die son en strande van die Middellandse See. Geen sorge meer nie, geen bekommernisse meer nie—’n gemaklike lewe het in hulle strandhuis op hulle gewag.
Ná twee jaar was dit nie meer so aangenaam as wat hulle gedink het nie. Brian het verduidelik: “Dit het alles so sinloos gelyk—dag na dag met niks om te doen nie. Ek het natuurlik geswem, ’n bietjie gholf of tennis gespeel en aaneen gepraat met enigiemand wat wou luister. Waaroor? Onbenullighede.”
Gisela, ’n moeder in haar vroeë twintigerjare, het ’n pragtige dogtertjie. In die middag gaan moeder en dogter, soos gewoonlik, na die park waar die dogter in die sandgat speel en na hartelus modderkoekies maak en sandkastele bou. Intussen sit haar moeder op ’n parkbank daar naby en waak oor haar kleuter. Maar doen sy dit regtig? Daar sit sy en luister aandagtig na haar draagbare radio. Deur die rook van haar sigaret sien sy amper nie meer haar kindjie nie. Sy is so verveeld dat dit haar tot trane dryf.
Peter, ’n 17-jarige hoërskoolleerling, sit in sy kamer omring deur die nuutste elektroniese toestelle. Hy skakel een van sy videospeletjies aan, maar besef dan dat hy nie meer daarin belangstel nie. Hy het die speletjie al honderde kere gespeel, en hy weet nou in elk geval hoe om die masjien te wen. Moet hy ’n bietjie na musiek luister? Tog is daar nie ’n opname wat hy besit waarna hy nie al tientalle kere geluister het nie. Tot die dood toe verveeld sê hy: “Ek weet nie wat om te doen nie.”
Hoe kry jy die tyd om?
Elkeen se dag is weliswaar nie saai en vaal nie. Daar is baie wat nog ’n gelukkige en betekenisvolle lewe lei en vervulling vind deur nuwe dinge te leer, deur hulle skeppingsdrang te bevredig en deur goeie verhoudings aan te kweek met ander mense—en nog baie belangriker, met God.
Maar verveeldheid raak mense in alle kringe—1 uit elke 3 Duitsers, volgens ’n onlangse meningspeiling. Die ambisieuse jappie wat rusteloos al die gewilde vermaaklikheidsplekke in die dorp dikwels besoek, die werklose jeugdige wat die tyd met harde musiek en goedkoop bier omkry, die middeljarige handearbeider wat sy tyd oor die naweek mors deur televisie te kyk, die bestuurder wat verlore voel as hy sy kantoor verlaat—hulle almal het ’n algemene klagte: verveeldheid.
Eertydse filosowe het dit taedium vitae (Latyns vir moegheid van die lewe) genoem. In Duits is dit Langeweile (’n lang ruk). Tyd wat verbykruip, werk wat sinloos lyk, die hunkering “om van alles af weg te kom”, is die algemene kenmerke van verveeldheid.
Nie eers die rykes is daarteen bestand nie. Nadat Roger Rosenblatt van die tydskrif Time die oordadige lewenstyl van die groot besteders beskryf het, het hy gesê: “Wat sê die meeste van die wêreld se groot besteders ná die groot huis en die groot tuin en die groot diere, partytjies en mense? Dat hulle verveeld is. Verveeld.”
Daar is al voorheen gedink dat meer vrye tyd die wondermiddel teen verveeldheid sou wees. Die veronderstelling was dat werksomstandighede wat menslik is, die beëindiging van die eentonige geswoeg van die verlede en oorgenoeg vrye tyd die lewe vir die gewone man lonend sou maak. Maar ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie. Die besluit oor hoe om al hierdie vrye tyd te gebruik, was blykbaar moeiliker as wat verwag is. Baie sien die hele week gretig uit na ’n aangename naweek, maar wanneer dit aanbreek, vind hulle dat dit nie aan hulle verwagtinge voldoen nie.
Verveeldheid se negatiewe gevolge
Party probeer van verveeldheid ontvlug deur hiperaktief te raak. Sommige kompulsiewe werkslawe het so geraak, omdat hulle eenvoudig nie geweet het wat om met hulle tyd te maak wanneer hulle nie op kantoor was nie. Ander probeer hulle verveeldheid verdryf deur drankmisbruik of soek opwinding deur met dwelms te eksperimenteer. Heelparty vermaaklikheidsterre wat vol lewens lei, vul die leemte ná die applous verby is met dwelms soos kokaïen. Daar is vasgestel dat verveeldheid een van die redes is vir die steeds toenemende getal ongehude tienermoeders, omdat baie van hulle gedink het dat ’n baba hulle betekenislose lewens sou vul.
Verveeldheid hou selfs verband met die stygende misdaadsyfer. Die tydskrif Time het opgemerk dat ’n aantal jeugdiges die skool op 16 verlaat en niks het om te doen nie en dat die werkloses van Wes-Europa, in vergelyking met hulle portuurs wat werk, “meer geneig is om selfmoord te pleeg, vatbaarder is vir dwelmmisbruik, meer geneig is om buite-egtelike swangerskappe te hê en om die wet te oortree”. Dit bevestig blykbaar weer die ou gesegde: “Ledigheid is die duiwel se oorkussing.”—Vergelyk Efesiërs 4:28.