Is daar ’n maklike oplossing vir verveeldheid?
DIE verskaffing van eindelose vermaaklikhede aan miljoene verveelde klante is nou ’n reusebedryf. Eksotiese vakansies, gesofistikeerde elektroniese toestelle, stokperdjies wat baie tyd in beslag neem, dra alles daartoe by om klante te help om die tyd om te kry. Tog is verveeldheid steeds ’n probleem. Selfs wanneer hulle vakansie hou, het verveelde vakansiegangers iets nodig om hulle opgeruimd te hou. En talle toegewyde drawwers voel verlore sonder hulle draagbare radio.
Daar bestaan geen twyfel dat vermaak, soos televisie, opwinding veroorsaak en verveeldheid verdryf nie, maar vir hoe lank? Dit is vir sommige soos ’n gewoontevormende dwelmmiddel. Volgende keer is ’n groter stimulus en meer opwinding nodig—anders begin die aaklige “ek het dit al gesien”-gevoel weer posvat. In plaas van die oplossing te wees, kan sulke vermaak op die ou end een van die bydraende faktore tot verveeldheid wees.
TV veroorsaak op sigself nie verveeldheid nie, maar te veel televisiekykery sal ook nie verveeldheid verdryf nie. Nog erger, hoe meer jy op die TV-stel ‘ingeskakel’ is, hoe meer kan jy van die werklikheid losgekoppel raak. In die geval van kinders gebeur dit alte dikwels. Toe kinders van vier- en vyfjarige ouderdom in een studie gevra is of hulle eerder die TV of hulle vader sou prysgee, het 1 uit 3 besluit dat die lewe draagliker sonder pappa sou wees!
Om aan elke begeerte toe te gee, is ook nie die oplossing nie. Baie jongmense word nou “in ’n tydperk van materiële welvaart grootgemaak, met elke speelding, elke vakansie, elke nuwe mode”, het ’n Sosiaal-Demokratiese verteenwoordiger in die Duitse parlement gesê. Is daar enigiets waaroor hulle nog opgewonde kan raak? Goedgeaarde ouers wat hulle kinders met allerhande nuwighede oorlaai, baan dalk in werklikheid die weg vir ’n volwasse lewe wat deur chroniese verveeldheid geteister gaan word.
Die grondoorsake van verveeldheid
Om verveeldheid heeltemal te ontvlug, is ’n onrealistiese doelwit. Die lewe in hierdie wêreld kan nie altyd opwindend en gelukkig wees nie. So ’n onrealistiese verwagting kan moontlik onnodige ontevredenheid veroorsaak. Terselfdertyd is daar bepaalde faktore wat sake vererger.
Byvoorbeeld, deesdae verbrokkel al hoe meer gesinne. Word ma en pa dalk so deur hulle eie vermaak geboei dat hulle nie meer genoeg tyd saam met hulle kinders deurbring nie? Dit is geen wonder nie dat tieners self na maniere soek om hulleself te vermaak by disko’s, video-arkades, winkelsentrums en so meer. Gevolglik word gesinsuitstappies en ander gesamentlike bedrywighede in baie huise nie meer gereël nie.
Ander is weer so ontevrede met hulle eentonige lewe dat hulle onbewustelik in hulle dop kruip en hulle eie gang gaan, onbewus van enigiemand anders. En terwyl hulle hulleself al hoe meer afsonder, koester hulle die vergeefse hoop dat hulle dít kan bereik wat selfverwesenliking genoem kan word. Maar dit is nie wat gebeur nie. Per slot van rekening is geen mens ’n eiland nie. Ons het geselskap en kommunikasie nodig. Dit is derhalwe onvermydelik dat individualiste wat hulleself afsonder verveeldheid bevorder en dus onwetend die lewe vir hulleself en vir dié om hulle baie onaangenaam maak.
Maar die probleem is ietwat dieper, soos Blaise Pascal, ’n 17de-eeuse Franse filosoof, dit onomwonde gestel het: “Vermoeidheid [ontstaan] uit die dieptes van die hart waarin dit gewoonlik sy oorsprong het en [vul] die verstand met sy gif.” Hoe waar tog!
Solank die hart vol kwellende twyfelgedagtes oor die betekenis van die lewe is, sal verveeldheid waarskynlik bly bestaan. Die opregte oortuiging dat ’n mens se persoonlike lewe betekenis het, is nodig. Maar hoe kan iemand ’n positiewe uitkyk op die lewe hê sonder om te weet waarom hy hier is, sonder om doelwitte te hê, sonder om ’n gegronde hoop vir die toekoms te hê?
Dit laat baie belangrike vrae ontstaan: Wat is die betekenis van die lewe? Wat maak ek hier? Waarheen gaan ek? “Die strewe om die betekenis van ’n mens se lewe te vind, is die vernaamste dryfkrag in die mens”, het dr. Viktor Frankl gesê. Waar kan hierdie betekenis egter gevind word? Waar kan bevredigende antwoorde op hierdie vrae gekry word?
Minder verveeldheid—Hoe?
Die oudste boek werp lig op sulke belangrike vrae. Heinrich Heine, ’n 19de-eeuse Duitse digter, het gesê: “Ek is my verligting heel eenvoudig aan die lees van ’n boek verskuldig.” Watter boek? Die Bybel. Charles Dickens het eweneens gesê: “Dit is die beste boek wat daar nog ter wêreld was of sal wees, want dit leer jou die beste lesse waardeur enige mens . . . moontlik gelei kan word.”
Daar bestaan geen twyfel daaroor nie. Die Bybel is ’n betroubare gids tot ’n betekenisvolle lewe. Van die begin tot die einde toon dit duidelik dat God die mens werk gegee het om te doen. Die mens moes die aarde versorg, dit mooi maak, liefdevolle toesig oor die diere uitoefen en bowenal die Skepper, Jehovah, prys. Nogal ’n groot taak, en een wat nie ruimte vir verveeldheid sou laat nie! Miljoene bedrywige Christene het ontdek dat die ondersteuning van God se saak en algehele toewyding aan hom die lewe werklik sinvoller maak en verveeldheid verdring.
Wydverspreide verveeldheid is moontlik ’n hedendaagse verskynsel—die meeste antieke tale het blykbaar nie ’n woord daarvoor nie. Tog toon die Bybel nie net wat die betekenis van die lewe is nie, maar dit bevat ook praktiese wenke oor hoe om verveeldheid te bekamp. Dit sê byvoorbeeld dat ‘hy wat hom afskei alles bestry wat waarlik tot voordeel strek’ (Spreuke 18:1). Met ander woorde, moenie in jou dop kruip nie!
Die mens is gesellig van aard. Hy moet met ander mense kan assosieer, en hy het ’n ingebore behoefte aan geselskap. Om hierdie normale begeerte om met ander mense te meng, te onderdruk—om ’n alleenloper, ’n blote toeskouer te wees—is onverstandig. As ons bloot ons persoonlike verhoudings oppervlakkig hou, kom dit eweneens neer op die verontagsaming van alle praktiese wysheid.
Dit is natuurlik soveel makliker om sonder inspanning na rolprente te kyk of om ons kommunikasie tot die intik van data in ’n rekenaar te beperk. Dit is nogal ’n uitdaging om by ander mense aan te pas. Maar om iets te sê wat die moeite werd is en om gedagtes en gevoelens met ander te deel, is lonend en dit laat min ruimte vir verveeldheid.—Handelinge 20:35.
Salomo, wat ’n ywerige waarnemer van die menslike natuur was, het hierdie kragtige aanbeveling gedoen: “Wees liewer tevrede met dit wat voor jou oë is as om aan jou begeerte vrye teuels te gee” (Prediker 6:9, The New English Bible). Met ander woorde, maak die beste gebruik van jou huidige omstandighede. Skenk aandag aan wat jy nou sien. Dit is soveel beter as om te wens dat jy van alles af kan wegkom of om “aan jou begeerte vrye teuels te gee”, soos Salomo dit gestel het.
Goed beplande dae, besliste doelwitte en ’n opregte begeerte om aan te hou leer, sal jou ook help om verveeldheid te bowe te kom. Selfs ná aftrede kan ’n persoon steeds baie dinge bereik. Een van Jehovah se Getuies op die Baleariese Eilande, ’n afgetrede man in sy vroeë sewentigerjare, is ywerig besig om Duits te leer. Sy doel? Hy wil met die talle verveelde vakansiegangers uit Duitsland oor God se Woord praat. Verveeldheid is beslis nie vir hom ’n probleem nie!
Ten slotte, waarom doen jy nie iets met jou hande nie? Waarom leer jy nie om die een of ander vorm van handwerk te doen, of om te skilder of om ’n musiekinstrument te bespeel nie? ’n Mens se gevoel van eiewaarde neem toe wanneer jy iets bereik. Dink gerus daaraan om die moue op te rol en jou hulp in die huis aan te bied. Daar is so baie klein dingetjies wat gewoonlik in enige huis reggemaak moet word. Pleks van oor jou vervelige lewe te tob, kan jy jou beskikbaar stel, betekenisvolle werk by die huis doen, vaardig in die een of ander handwerk raak. Jy sal beslis beloon word.—Spreuke 22:29.
Daarbenewens raai die Bybel ons aan om heelhartig te werk aan enige projek wat ons ook al onderneem (Kolossense 3:23). Dit beteken natuurlik dat ’n mens daarby betrokke moet raak en dat jy werklik geïnteresseerd moet wees in wat jy doen. Dit is dalk goed om te onthou dat die Afrikaanse woord “interesseer” van die Latynse interesse kom wat letterlik beteken “om tussen te wees”, met ander woorde, om verdiep te wees in die taak waarmee jy besig is. Dit sal dit vir jou interessant maak.
Al hierdie goeie raad wat baie jare gelede geskryf is, kan, indien dit toegepas word, ’n groot verskil maak vir dié wat gedurende hulle vrye tyd neerslagtig is. Wees dus verdiep in wat jy doen. Meng met ander mense. Doen dinge vir ander. Hou aan leer. Kommunikeer vryelik met ander. Stel vas wat die werklike doel van die lewe is. As jy dit alles doen, sal jy nie geneig wees om met ’n sug te vra: ‘Waarom is die lewe so vervelig?’ nie.
[Venster op bladsy 7]
Hoe om verveeldheid te bowe te kom
1. Moenie toelaat dat jou persoonlike inisiatief deur kitsvermaak verswak word nie. Wees selektief in jou keuse van ontspanning en vermaak.
2. Assosieer met mense.
3. Hou aan leer. Stel persoonlike doelwitte.
4. Wees kreatief. Doen iets met jou hande.
5. Jy moet bowenal ’n doel in die lewe hê. Neem God in aanmerking.