Wie sal die evangelie in Brittanje verkondig?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
DIE lewensbloed van Brittanje se kerke vloei weg teen ’n tempo van bykans 1 500 lidmate per week, berig The UK Christian Handbook. Die jongmense verlaat die kerk, sê The Times, “omdat hulle dit vervelig en eensaam vind”.
Terwyl Anglikaanse kerke teen ’n tempo van een per week sluit, is daar “duisende mense wat na ’n sinvolle en doelgerigte lewe soek”, erken die Church Times van die Anglikaanse Kerk.
Met hierdie krisis wat hulle in die gesig staar, het Brittanje se kerke in 1990 ter bevordering van ’n “Dekade van Evangelisasie” verenig. The Scotsman het gesê dat die negentigerjare “heel moontlik die dekade sal wees waartydens evangelisasie deur die tradisionele, gevestigde Kerke hervat gaan word in ’n poging om erg uitgedunde ledetalle aan te vul en om die neiging tot sekularisme teë te werk”.
’n Kosbare hoop—maar kan dit verwesenlik word? Wat het gedurende die afgelope paar jaar gebeur?
’n Onseker fondament
Geestelikes van die Anglikaanse Kerk het by hulle Algemene Sinode vir 1989 min entoesiasme vir die “Dekade van Evangelisasie” gewek. Die voorsitter van die Kerkunie se Sending- en Hernuwingskomitee het byvoorbeeld met nadruk gesê: “Voorbereiding is van die allergrootste belang”, maar hy het omsigtig bygevoeg: “Dit kan, in party gevalle, die hele dekade neem.”
Biskop Gavin Reid het voorspel: “Dit sal ná vyf jaar ’n veldtog van verleentheid wees.”
Die Anglikane is nie hierdeur afgeskrik nie en het kort voor lank ’n verenigde front met die Rooms-Katolieke gevorm, wat in 1988 hulle eie “Dekade van Evangelisasie” tot stand gebring het. Die meeste ander denominasies het hulle bedenkings gehad. “Ek moet erken dat ek onrustig voel oor die Dekade van Evangelisasie. Dit is ’n hoogdrawende titel, maar wat beteken dit?” het Paul Hulme, predikant van die bekende Wesley-kapel in City-straat, Londen, gevra. “Wat is ons veronderstel om te doen wat ons nie reeds doen nie?”
Doelwitte word omskryf
Om te evangeliseer, is om die evangelie, of “goeie nuus”, te verkondig om hoorders tot die Christelike godsdiens te bekeer—iets wat baie kerkleiers nie graag wil sien nie. “Dit is nie ons verantwoordelikheid om mense tot die Christelike godsdiens te bekeer nie”, het dr. Newbigin van die Verenigde Gereformeerde Kerk gesê. “Dit is God se verantwoordelikheid.” Wat steek agter so ’n buitengewone stelling? Die groeiende spanning van Brittanje se veelrassige gemeenskap met sy nie-Christelike, etniese godsdienste. Beskou die volgende:
“Die Dekade van Evangelisasie sal moontlik doodloop soos ander dekades”, het die Anglikaanse rektor Neil Richardson gesê, “maar terwyl dit voortploeter, lei dit die aandag af van ’n brandende geskil wat die kerke en alle ander mense in die gesig staar: die potensieel plofbare raakvlak van godsdienste in al ons stede.” Hy het voorts die probleem uitgewys: “Verhoudinge tussen dele van die godsdiensgemeenskap moet op die vaste vertroue gegrond wees dat niemand daarop uit is om te bekeer of te proseliteer nie.”
George Carey, die Aartsbiskop van Kantelberg, wat deeglik bewus is van hierdie “potensieel plofbare” situasie, het gesê dat “Dekade van Evangelisasie” ’n “lomp titel” is omdat Moslem- en Joodse leiers dink dat hulle die teiken van “onversetlike evangeliste” is. “Dit is ’n fout”, het hy later gesê, “om soos party te sê dat evangelisasie die kerk se belangrikste werk is.”
Aan die ander kant sê biskop Michael Marshall dat daar ’n basiese behoefte daaraan bestaan dat die Anglikaanse Kerk “tot die Kerk van God in Engeland bekeer” word met Moslems en ander wat in hierdie Christenkudde ingebring word. “Die oproep om Islam vir Christus te wen, is op die agenda”, het hy gesê en gewaarsku dat so ’n benadering “noodwendig ’n dekade van konfrontasie sal meebring”.
Wat van die Jode? “Ware evangelisasie moet die Jode insluit”, was die opskrif van die Church Times. Maar David Sheppard, die Biskop van Liverpool, het sterk daaroor verskil. “Die primêre teiken van die Dekade van Evangelisasie moet diegene wees wat van die geloof afgedwaal het of nooit geweet het wat dit beteken om in God te glo nie”, het hy gesê. Is dit moontlik? Neil Richardson, wat in The Guardian onder die opskrif “Evangelisasie se afnemende opbrengste” geskryf het, sê: “Elke persoon [in Brittanje] het ’n redelike kans gehad om die bewerings van die Christelike godsdiens te ondersoek. Dit is duidelik dat die meerderheid besluit het dat dit nie vir hulle is nie.”
Is Brittanje se kerke toegerus om die evangelie aan so ’n sekulêre gemeenskap met sy verskeidenheid gelowe en etniese kulture te verkondig?
Die uitdaging
Die voormalige aartsbiskop dr. Runcie het gesê: “Ons evangelisasie-amptenare is die biskoppe en geestelikes en ons sendelinge is die lekedom.” Die veteraanevangelis Gilbert W. Kirby het gesê: “Elke christen moet die grondbeginsels van die geloof aan ’n ander kan verduidelik. Elke christen behoort geleer te word hoe om ’n ander na Christus te lei. . . . ’n Ingeligte kerklidmaatskap moet ons doel wees. . . . Dit is nutteloos om vir mense te sê om die evangelie te verkondig sonder om hulle te wys hoe hulle dit moet doen.” Met ander woorde, die biskoppe en die geestelikes moet die leiding neem en aan hulle kuddes wys hoe om die evangelie te verkondig.
Tydens die intreerede van die BBC se “Priestland-herdenkingslesing” het die radio-omroeper Brian Redhead reguit gepraat en gesê: “Biskoppe wat snoesig in hulle posisies sit, moet die feit onder die oë sien dat hulle die mag om die onverskilliges te boei, verloor het . . . Hulle moet groter aandag aan die predikingskuns skenk.” En waar moet dit gedoen word?
Aan die begin van hierdie eeu het William Wand, wat later die biskop van Londen geword het, sy vroeë opleiding in Lancaster, Engeland, ontvang toe huisbesoeke nog die reël was. “Ek dink dat ek tot veertig huise in die loop van enige enkele middag besoek het”, het hy later geskryf. “Die predikant was ook baie bewus van die behoeftes van die minderheid wat blykbaar nooit kerk toe gekom het nie. Hy was gretig om wat nou ’n ‘deurbraak’ genoem word teen hierdie apatie en onverskilligheid te maak.”
Dit sou inderdaad ’n seldsame uitsondering vir enige geestelike wees om vandag sulke persoonlike kontak in Brittanje te maak! Brittanje se kerke besef te laat dat daar nie ’n plaasvervanger vir die verkondiging van die evangelie aan mense in hulle huise is nie, soos Jesus en sy dissipels gedoen het.
“Slegs ’n waarlik toegewyde man kan ander tot God bekeer”, sê die Evangelism and the Laity. “‘Doen die werk van ’n evangelis’ [2 Timotheüs 4:5] . . . is ’n opdrag wat op die een of ander manier deur elke Christen gehoorsaam moet word as die Kerk sy doel in ons geslag gaan verwesenlik.”
“Goeie nuus”—die bron daarvan
John Taylor, die hoofsekretaris van die Afdeling van Leraarsampte van die Metodiste Kerk, het aan The Times van Londen geskryf oor “ons plig om die goeie nuus te verkondig”. Hy het gesê: “Die kerk moet derhalwe nuwe en doeltreffender maniere vind om sy eie lidmate te voed en te onderrig. Selfs in die kerk is daar ’n verskriklike onkunde ten opsigte van die Christelike geskrifte.” Waarheen het hierdie onkunde die kerk se lidmate gelei?
“’n Aantal leidende, jonger Evangeliesgesindes . . . beklemtoon dat Christendissipelskap spesifieke maatskaplike en politieke aksie vereis”, verduidelik Rachel Tingle in Another Gospel?—An Account of the Growing Involvement of the Anglican Church in Secular Politics. Hierdie so genoemde “Koninkryksteologie” beweer dat die Koninkryk van God na die aarde uitgebrei word wanneer vrede, geregtigheid en “sosiale regverdigheid” op politieke wyse tot stand gebring word. Dit is natuurlik “Vryheidsteologie”, of die ou “Christelike Sosialisme” in ’n moderne vorm.
Hoe vergelyk hierdie denke met Jesus se eie woorde: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. . . . My koninkryk is . . . nie uit hierdie bron nie”? (Johannes 18:36, NW). Of met die woorde van ’n vroeëre profeet: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”?—Daniël 2:44.
Let op dat hierdie Koninkryk deur God opgerig word—nie deur die mens nie. Bevryding van oorlog, van ongeregtigheid en selfs van die dood sal van Jehovah deur middel van sy aangestelde Koning, Jesus Christus, kom—nie van die mens nie. Dit is waarlik goeie nuus wat verkondig moet word!—Openbaring 21:3, 4.
Vandag het Jehovah se Getuies, wat net in Brittanje byna 130 000 tel, daardie oortuiging. Hulle kom uit alle nasies en godsdienste en staan verenig as Christene. Hulle is goed opgeleide evangeliedienaars wat gretig is om die goeie nuus aan almal wat sal hoor te vertel. Met hierdie doel voor oë gebruik hulle elke beskikbare middel, en baie word deur hulle doeltreffende bediening bevoordeel.
[Venster op bladsy 23]
Brittanje se evangeliste
Die volgende uittreksel is in Brittanje uit ’n Rooms-Katolieke weeklikse koerant, die Catholic Herald, 22 Oktober 1993, bladsy 8, geneem.
“Wat het van die dekade van evangelisasie geword? Ja, wat het daarvan geword! Twee jaar gelede was almal gaande daaroor, en daar het byna nie ’n week verbygegaan wat dit nie in die pers bespreek is nie. Vandag? ’n Doodse stilte. . . .
“Waar is die dringendheid waarmee Jesus sy dissipels uitgestuur het om die evangelie aan die omliggende dorpe te verkondig? Of deur St. Paulus: ‘Wee my as ek die evangelie nie verkondig nie! (1 Ko 9:16).’
“Daar is ook die probleem dat baie Katolieke nie besef dat evangelisasie nie opsioneel is nie, maar ’n opdrag wat Christus self gegee het: ‘Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies’ [Mattheüs 28:19]. . . .
“Hoeveel Katolieke ken hulle geloof goed genoeg om die skeptiese persoon te kan nader? . . . Dit is tog so verbasend dat, nadat God se Seun aarde toe gekom het, so min van ons die moeite doen om te bestudeer wat Hy gesê het. . . .
“Ek is nie ’n pleitbesorger vir [Jehovah se] Getuies nie. . . . Maar dink vir ’n oomblik aan die keersy van die muntstuk. Hulle standpunt oor sedelikheid, wat op geloof in God se absolute standaarde gegrond is, is onaanvegbaar. Meer oor wat nou bespreek word, elke Getuie bestee die ekwivalent van iets soos drie aande per week aan leerstellings, sistematiese Bybelstudie en ’n praktiese, alledaagse, Christelike leefwyse, dikwels in mekaar se huise.
“Nie net dit nie, maar elke Getuie word geleer dat hy, deur sy roeping, noodwendig ’n sendeling is. Hy word die nodige metodes geleer wat nodig is om sy boodskap te verkondig. Huis-tot-huis-werk in pare is ’n hoofkenmerk van sy lewe. Getuies is ook ywerig in die versorging van die armes en behoeftiges.
“Kortom, . . . dit is moeilik om nie aan die vroeë Kerk herinner te word nie, soos dit in die handelinge van die Apostels uitgebeeld word. En sukses kan aan die resultaat gemeet word. Hulle groei is fenomenaal. Openlike verkondigingswerk kan vrug dra!”