Sal hulle van huis tot huis preek?
“POUS stuur predikers na die strate van Rome.” Dit was die opskrif van ’n nuusberig deur Greg Burke. Hy het geskryf: “Pous Johannes-Paulus het Katolieke in Italië aangespoor om die voorbeeld te volg van sektes soos Jehovah se Getuies, wat bekeerlinge in die land gewerf het, en om van huis tot huis te begin preek.
“‘Dit is nie die tyd om julle oor die Evangelie te skaam nie, dit is die tyd om dit van die dakke af te verkondig’, het die Pous Maandag aan 350 reisende predikers en godsdiensonderwysers gesê. . . .
“‘Ek hoop dat julle projek om die Evangelie in die strate te verkondig . . . baie vrugte sal afwerp’, het hy aan hulle gesê. ‘Julle het ’n styl van prediking herontdek wat selfs diegene bereik wat van die geloof afgedwaal het.’”
Die verslaggewer Greg Burke het gesê: “Die bywoning van die Katolieke Kerk in Italië het in die laaste twee dekades skerp gedaal, en dit lyk asof die Pous se geesdrif vir huis-tot-huis-predikers ten minste deels toegeskryf kan word aan die afname in die Kerk se invloed.”
Hierdie vermaning om “van huis tot huis te begin preek”, is nie heeltemal iets nuuts nie. ’n Vorige pous, Paulus VI, het gesê dat die Katolieke Kerk “bestaan om die evangelie te verkondig”. En die huidige pous, Johannes-Paulus II, het sy ensiklieke Redemptoris Missio in 1991 uitgereik om sy kerk daarvan bewus te maak dat hulle Jesus se opdrag om in die openbaar te preek, moet uitvoer.
Die Rooms-Katolieke skrywer Peter Hernon het in die Londense Catholic Herald die vraag gestel: “Wat het van evangelisasie geword?” Hy was bekommerd oor die “dekade van evangelisasie” wat nou etlike jare oud is en waaroor daar soveel ophef gemaak word. Toe hy ’n biskop oor die gebrek aan vooruitgang uitgevra het, het die biskop gesê: “Jy moenie haastig wees nie. Die Kerk bestaan nou maar eers 2000 jaar.”
Dit is geen wonder nie dat Peter Hernon gevra het: “Waar is die dringendheid waarmee Jesus sy dissipels uitgestuur het om die evangelie in die omliggende dorpies te verkondig? Of waarmee St. Paulus gesê het: ‘Wee my as ek die evangelie nie verkondig nie! (1 Ko 9:16).’” Sal Katolieke werklik vroeë Christene navolg wat in die openbaar en “van huis tot huis” gepreek het?—Handelinge 5:42; 20:20.
Wat evangelisasie van huis tot huis betref, het Peter Hernon erken dat hy “die skeptici kan hoor mompel: ‘teoreties, onprakties’. Dit is nie waar nie”, sê Peter Hernon. “Om daardie bewering te staaf, moet ek ’n onwettige woord gebruik. Ek weet dit is onwettig, want toe ek dit laas in ’n Katolieke artikel gebruik het, is die hele gedeelte uitgelaat (al is niks anders verander nie). Die woord is Jehovah se Getuie. . . . Elke Getuie word ook geleer dat sy roeping hom noodwendig ’n sendeling maak.”
Al stem Peter Hernon nie met die opvattings van Jehovah se Getuies saam nie, gee hy toe dat, as ’n mens hulle predikingsmetodes beskou, “dit moeilik is om nie herinner te word aan die vroeë Kerk, soos dit in die handelinge van die Apostels uitgebeeld word nie”.
Jehovah se Getuies gaan voort met hulle ywerige huis-tot-huis-bediening en vervul sodoende in hierdie moderne tye Jesus Christus se opdrag: “Julle sal my getuies wees . . . tot aan die uiterste van die aarde.”—Handelinge 1:8.