Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 1/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die koste van misdaad
  • Onveilige bloed in die Filippyne
  • Rommel op die inligting-superhoofweg
  • Heuning vir maagsere?
  • Lood en wyn
  • Kinders op ’n TV-lose eiland
  • Geen onderhoudstoelae, geen lisensie
  • Vindingryke boere, slim kraaie
  • Meer as ’n miljard sigaretrokers
  • Onskadelike spraakgebreke
  • Ongesonde lewenswyses—Hoe hoog is die koste?
    Ontwaak!—1997
  • Miljoene lewens gaan in rook op
    Ontwaak!—1995
  • Die kloof tussen ryk en arm word wyer
    Ontwaak!—2000
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 1/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die koste van misdaad

Volgens The Washington Post spandeer of verloor die Verenigde State jaarliks $163 miljard as gevolg van misdaad.a Die koerant berig dat hierdie totaal, selfs nadat inflasie in ag geneem is, ongeveer vier keer groter is as die bedrag wat in 1965 gespandeer is. Die koerant voeg by dat die koste van misdaad die volgende insluit: “Meer as $31,8 miljard op staats- en federale vlak vir die polisie, $24,9 miljard vir korrektiewe dienste, $36,9 miljard vir kleinhandelverliese, $20 miljard vir versekeringsbedrog en $17,6 miljard vir persoonlike eiendomsverliese en mediese onkoste. ’n Verdere $15 miljard word aan persoonlike sekuriteit gespandeer, $9,3 miljard aan regskoste en $7,2 miljard aan vervolging en openbare verdediging.” In ’n tipiese skietgeval in die omgewing van Washington, DC, byvoorbeeld, sê die Post dat dit binne die eerste paar uur ná die skietery gemiddeld $7 000 kos om die slagoffer te behandel. As die slagoffer dit oorleef, beloop die koste ongeveer $22 000. As die regering die koste aangaan om die skuldige te vang, kos dit ongeveer $22 000 per jaar om hom in die gevangenis te hou.

Onveilige bloed in die Filippyne

’n Nuwe studie deur ’n groep Filippynse dokters het bevind dat bloedskenkingsdienste in die Filippyne “onveilig, ondoeltreffend en verkwistend” is. Die studie het getoon dat minder as die helfte van die land se bloedbanke personeel het wat in staat is om die toetse vir vigs, sifilis, hepatitis B en malaria te doen, en die land se Minister van gesondheid, Juan Flavier, het die bevindinge as “uiters verontrustend” bestempel. Daarbenewens het die studie 136 bloedmonsters van bloedbanke ondersoek en bevind dat, selfs van die bloed wat getoets is, ongeveer 4 persent besmet was.

Rommel op die inligting-superhoofweg

Die inligting-superhoofweg, ’n stelsel van rekenaarnetwerke wat uitruiling van inligting onder rekenaargebruikers moontlik maak, word oral as ’n wonder van die tegnologie aangeprys. Maar dit het ook sy nadele. In Kanada se Globe and Mail het die joernalis Sean Silcoff oor die twee maande geskryf waartydens hy die “hoofweg” vir navorsingsdoeleindes gebruik het. Hy het tot die slotsom gekom dat dit “smaakloos” en “deur en deur met die afval van die Westerse kultuur bemors” is. Hy het gemerk dat daar op die stelsel wat hy gebruik het meer as 3 500 “besprekingsgroepe” was, waarvan baie gerig was op onderwerpe soos skinderpraatjies oor sport- en vermaaklikheidsterre, afskuwelik smaaklose grappe en onbenullige besonderhede oor gewilde TV-programme. Een groep het selfs metodes bespreek om selfmoord te pleeg. Sean Silcoff het gesê: “’n Potensieel kragtige instrument word verkwis deur ’n gemeenskap wat blykbaar oorloop van sosiopate.”

Heuning vir maagsere?

Dr. Basil J. S. Grogono het in Kanada se Medical Post beweer dat die eenvoudige heuningby dalk meer vir diegene kan doen wat aan maagsere ly as wat dokters gedurende die afgelope dekades kon doen toe hulle dikwels drastiese chirurgie voorgeskryf het. Hy sê dat meer deskundiges nou die rol van ’n klein mikro-organisme, Helicobacter pylori, in maagsere erken. Hoewel party die gebruik van geneesmiddels voorgeskryf het om hierdie mikrobe te beveg, sê dr. Grogono dat hierdie geneesmiddels onaangename newe-effekte het en dat die mikrobes weerstand daarteen kan opbou. Daarenteen haal hy ’n onlangse studie aan wat in die Journal of the Royal Society of Medicine gepubliseer is waarin die antibakteriese eienskappe van heuning getoets is. Een soort heuning, afkomstig van bye uit Nieu-Seeland en wat op ’n plant met die naam manuka voed, het die mikrobe wat maagsere veroorsaak doeltreffend beveg.

Lood en wyn

Wetenskaplikes in België en Frankryk het ’n potensiële gevaar in party Franse wyne geïdentifiseer—lood. Lood van loodkristalkraffies en van loodfoelie-omhulsels kan in wyn beland. Maar die nuwe studie, waarvan daar in Science News verslag gelewer is, het bevind dat loodhoudende petrol die bron van hoë vlakke organiese loodverbindings in party Franse wyne is. Waar die wingerde langs besige hoofpaaie gegroei het, het die lood van uitlaatgasse in die druiwe beland. Die vlak van organiese loodverbindings in die wyne was 10 tot 100 keer hoër as wat in drinkwater aangetref word. Richard Lobinski, van die Universiteit van Antwerpen in België, beveel aan dat slegs die wyne van 1975 tot 1980 vermy word, aangesien die gebruik van loodhoudende petrol in Frankryk in die laat sewentigerjare afgeneem het. Hy sê egter ook dat loodhoudende petrol steeds gebruik word, veral in Sentraal-Europa en die voormalige Sowjetunie. Hy sê dat organiese loodverbindings gevaarliker as gewone lood is omdat dit “maklik geabsorbeer kan word, veral deur die brein”.

Kinders op ’n TV-lose eiland

St. Helena, ’n klein eilandjie ongeveer ’n derde van die afstand van Wes-Afrika na Suid-Amerika, spog met kinders wat “onder die mees gebalanseerde ter wêreld tel”, sê The Times van Londen waar dit ’n verslag aanhaal uit Support for Learning, ’n leidende opvoedkundige tydskrif. Die skrywer van die verslag, dr. Tony Charlton, het gevind dat slegs 3,4 persent van die kinders op die eiland tussen 9 en 12 ernstige gedragsprobleme gehad het. The Times sê dat hierdie syfer “die laagste opgetekende syfer tot nog toe vir enige ouderdomsgroep vir enige plek ter wêreld” is. Waarom is hierdie kinders so goed gebalanseerd? ’n Moontlikheid is die hoë gehalte en geredelike beskikbaarheid van onderrig vir die kinders. Maar dr. Charlton beplan om ’n ander moontlike faktor te ondersoek. Tot onlangs nog, toe ’n satellietverbinding aangebring is, het die eiland nooit TV-uitsendings gehad nie. Daar word verwag dat 1 300 van die eiland se 1 500 huishoudings binne drie jaar ’n TV sal hê. Dr. Charlton sal binnekort ’n studie maak van enige gevolglike veranderings in die eiland se kinders.

Geen onderhoudstoelae, geen lisensie

Die staat Maine, VSA, het ’n ferm standpunt met betrekking tot ouers ingeneem wat weier om onderhoud te betaal wat deur die hof vir kinders toegestaan is. Dit het die bestuurderslisensies van agt van hierdie skuldige vaders teruggetrek. Volgens The New York Times sê Jane Sheehan, die kommissaris van Maine se Menslike Dienste, dat die agt vaders altesaam $150 000 (R544 500) geskuld het en elkeen van hulle voldoende waarskuwing ontvang het dat hulle die risiko loop om hulle lisensies te verloor. “Dit behoort niemand te verbaas nie”, het sy volgens die Times gesê. “Ons waarsku mense al sedert laas Augustus dat hierdie dag sou kom.” Haar kantoor het soortgelyke waarskuwings aan 17 400 ouers gestuur wat meer as 90 dae laat is met die betaling van onderhoudstoelae. Tot dusver is ongeveer $11,5 miljoen (R41,7 miljoen) as gevolg hiervan inbetaal.

Vindingryke boere, slim kraaie

In Japan is daar ’n voortgesette stryd oor wie die gesaaides gaan oes. Kraaie en boere is in ’n gedurige stryd gewikkel, met die slim kraaie wat gou deur die planne sien wat die boere uitdink. Maar nou gebruik die uitgeslape boere in die Nagano-prefektuur die voëls se slegste instinkte om hulle te vang, sê die Asahi Evening News. Hulle het ’n hok naby die gesaaides opgerig wat nege meter lank, nege meter breed en drie meter hoog is en het kraaie van ’n ander gebied daarin gesit. Gulsige plaaslike kraaie, wat woedend vir hierdie indringers in hulle gebied is, vlieg in die hok in om die “vreemde” kraaie aan te val, net om self gevang te word. Het die boere uiteindelik welslae behaal? Een van die boere sê: “Eintlik is die meeste van die kraaie wat deur die hok geflous word swerwers. Die plaaslike kraaie is so slim dat hulle nou gekke van ons maak en wegvlieg.” En so duur die stryd voort.

Meer as ’n miljard sigaretrokers

Volgens onlangse syfers van die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) is daar wêreldwyd 1,1 miljard sigaretrokers. As die huidige neiging voortduur, waarsku die WGO, “sal ongeveer ’n halfmiljard mense wat tans lewe weens tabak sterf, en ongeveer die helfte van hulle, 250 miljoen mense, sal in hulle middeljare sterf”. Sedert die tagtigerjare het sigaretrokery in die nywerheidslande effens afgeneem, maar daar was ’n toename in die ontwikkelende lande. Die wêreldverbruik bly dus 1 650 sigarette per volwassene per jaar. Hans Emblad, die direkteur van die WGO-program vir Dwelm- en Alkoholmisbruik, sê: “Tot dusver was die eindresultaat van suksesvolle tabakbemarking in die ontwikkelende lande dat hoë tabakgebruik van ontwikkelde na ontwikkelende lande verskuif is. Die tabakepidemie is nog nie wêreldwyd onder beheer nie.”

Onskadelike spraakgebreke

By ’n konferensie in Darmstadt, Duitsland, het lede van die Interfakultêre Vereniging vir Hakkelterapie ouers gewaarsku dat hulle nie oormatig besorg moet raak oor onskadelike spraakgebreke van hulle jong kinders nie. “Vier uit elke vyf kinders tussen die ouderdom van vier en ses het geringe spraakgebreke wat na hakkelry klink maar gewoonlik vanself verdwyn”, berig die koerant Süddeutsche Zeitung. Hoe moet ouers reageer wanneer ’n jong kind oor sy woorde struikel? “Om nie die kind van sy natuurlike spraakvrymoedigheid te beroof nie”, sê die koerant, “moet ouers nie druk op die kind uitoefen om te presteer nie, hom baie tyd toelaat, asook sy selfvertroue opbou.”

[Voetnote]

a $1 is ongeveer R3,63.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel