Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 11/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gevaar van blindheid
  • Stadsgeraas versus aangename drome
  • Prys slimheid of inspanning?
  • Vlieënde brandstigters
  • Gevaar om gewapen te wees
  • “Seeskilpad-snelweg”
  • Meer kindersoldate
  • Bejaardes gebruik die Internet
  • Vigs—Die ‘aansteeklike siekte wat die meeste lewens eis’
  • Ma’s met stres—babas met stres
  • Gloukoom—Die dief van die gesigsvermoë
    Ontwaak!—2004
  • VIGS—sy tragiese slagting onder kinders
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 11/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Gevaar van blindheid

“Meer as 200 000 Kanadese het gloukoom en net die helfte van hulle weet dit”, sê die koerant The Prince George Citizen. Gloukoom, ’n vername oorsaak van blindheid, veroorsaak dat senuselle aan die agterkant van die oog geleidelik doodgaan. Dit lei tot die geleidelike verlies van perifere visie, terwyl sentrale visie tot die finale stadiums van die siekte onaangetas bly. Baie wat aangetas is, gaan nie vir behandeling nie omdat hulle geen pyn ervaar nie en nog kan bestuur, lees en die meeste take kan verrig. Volgens die Gloukoomnavorsingsvereniging van Kanada is diegene wat veral gevaar loop bejaardes, mense wat ’n geskiedenis van gloukoom in die familie het, swart mense bo 40 en mense wat ’n verhoging van druk in die oogbol het. “As ons mense in die hoërisikogroep kan kry om hulle dokter te gaan sien, is die saak al half gewonne”, het dr. Neeru Gupta, direkteur van die gloukoomeenheid by die St. Michael-hospitaal in Toronto, gesê. “Die punt is dat vroeë opsporing en behandeling blindheid kan voorkom.”

Stadsgeraas versus aangename drome

Meer as 40 miljoen Italianers—ongeveer 72 persent van die bevolking—word gedurende die dag aan uitermate hoë geraasvlakke blootgestel, sê die Italiaanse Departement van Omgewingsake. Van die moontlike slegte gevolge van langdurige blootstelling aan sulke geraas is versnelde hartklop, wisselinge in slagaardruk en asemhalingsvermoë, maagvliesontsteking en naarheid, berig Corriere della Sera. In groot stede belemmer geraas van verkeer normale slaap. Saans kan geraasvlakke in die stad 70 desibel oorskry, wat die risiko verhoog om minder diep te slaap en minder te droom. Lucia Venturi, wetenskaplike direkteur van die Italiaanse omgewingsvereniging Legambiente, sê: ‘Daar word geskat dat elkeen van die 18 miljoen mense wat in groot stedelike gebiede woon elke aand 30 minute slaap verloor. Dit is altesaam 22 slapelose nagte per persoon elke jaar.’

Prys slimheid of inspanning?

Baie ouers glo dat dit goed vir kinders is om hulle vir hulle slimheid te prys. Nuwe navorsing toon egter dat sulke lof in werklikheid hulle motivering en toekomstige prestasies kan ondermyn, berig Columbia Magazine, van New York se Columbia-universiteit. Volgens professor Carol Dweck is dit baie beter om kinders vir hulle harde werk te prys, wat hulle beter toerus om die lewe se uitdagings die hoof te bied. “Kinders wat vir hulle slimheid geprys word, is meer bekommerd oor hoe slim hulle voorkom en sal dikwels ’n geleentheid om iets belangriks te leer, opoffer sodat hulle slim kan lyk”, sê Dweck. Daarenteen het die verslag getoon dat diegene wat geprys word vir hulle inspanning en volharding waarskynlik meer daarop ingestel sal wees om te leer en tekortkominge te bowe te kom. “Hierdie kinders sal dus ’n geleentheid om slim te lyk, opoffer om iets te leer”, sê Dweck. “En hulle is baie aanpasbaar omdat hulle nie die mislukking persoonlik opneem nie.”

Vlieënde brandstigters

Kraaie het vermoedelik twee brande in Kamaisji, Japan, gestig. In die eerste geval het brandweermanne wat ’n veldbrand naby ’n begraafplaas gaan blus het bewyse van die kraaie se medepligtigheid gevind. Die Nihon Keizai Sjimboen verduidelik: “Die kraaie het koek opgetel wat by ’n graf neergesit is, en onmiddellik daarna het ’n brand uitgebreek in die rigting waarin hulle gevlieg het. Van die wierookstokkies wat agtergelaat is en nog gebrand het, was ook weg, en kerse, wat waarskynlik deur die kraaie laat val is, is gevind waar die brand uitgebreek het.” Omtrent ’n jaar later het die koerant die Daily Yomiuri berig dat ’n brand teen ’n berghang in dieselfde gebied uitgebreek het. Daar het ’n brandweerman gesien hoe ’n kraai met ’n brandende stuk karton in sy snawel vlieg en dit in ’n rivier daar naby laat val. Brandweermanne het nog ’n brandende stuk karton naby die plek gevind waar die brand uitgebreek het. Waar het die kraaie hierdie keer hulle fakkels gekry? Hulle het uitgevind dat ’n inwoner daar naby leë aartappelskyfiehouers in ’n blik verbrand het.

Gevaar om gewapen te wees

“Die slagoffers van motorkapings wat vuurwapens dra se kanse om geskiet te word, is vier keer groter as dié van mense wat dit nie dra nie”, sê die Suid-Afrikaanse koerant The Natal Witness. Die berig het bygevoeg dat “slagoffers met vuurwapens se kanse om van hulle vuurwapens beroof te word vier keer groter was as hulle kanse om dit te gebruik”. ’n Ondersoek van polisiestasiedossiere het getoon dat aanvallers hulle wapens in 12 persent van die kapingsgevalle op hulle slagoffers gevuur het. Maar die syfer het tot 73 persent gestyg wanneer slagoffers ’n wapen uit selfverdediging uitgepluk het. Die navorser Antony Altbeker het tot die slotsom gekom: “Hoewel ’n wapen ’n mens dalk veiliger sal laat voel, verseker dit nie werklik ’n mens se veiligheid nie.”

“Seeskilpad-snelweg”

Elke jaar in Desember keer 10 000 groen seeskilpaaie terug na die klein Ascension-eiland in die Atlantiese Oseaan om daar te gaan broei. Deur middel van satellietopsporing het Britse en Italiaanse wetenskaplikes onlangs ’n “seeskilpad-snelweg” tussen die eiland en die diere se voedingsgebied om die Brasiliaanse kusstad Recife ontdek, berig The Times van Londen. Aan die einde van hulle sewe maande lange broeityd volg al die seeskilpaaie vir die eerste 300 kilometer dieselfde roete terug na Brasilië. Dan wyk hulle effens af en gaan hulle na verskillende voedingsgebiede. Maar wat van die kleintjies, wat nie sterk genoeg is om die 2 000 kilometer terug na Brasilië te swem nie? Hulle dryf op seestrome regoor die Atlantiese Oseaan en Karibiese See en leef van jellievisse en plankton. Daar word vermoed dat elkeen ná vyf of ses jaar op sy eie sy pad na die Brasiliaanse voedingsgebiede vind. Dan, wanneer hulle omtrent 20 jaar oud is, sluit hulle aan by die reusemigrasie terug na die Ascension-eiland om te gaan broei.

Meer kindersoldate

“Die voortgesette gebruik van kinders in konflikte het toegeneem van ongeveer 250 000 twee tot drie jaar gelede tot 300 000 vandag”, berig Go Between, ’n publikasie van die Verenigde Nasies se Nie-Regeringskakeldiens. Kindersoldate—waarvan party maar net agt jaar oud is—is tans by meer as 30 konflikte regoor die wêreld betrokke. Volgens Olara Otunnu, die sekretaris-generaal van die VN se Spesiale Verteenwoordiger vir Kinders en Gewapende Konflikte, “is kinders gedwing om aan oorloë deel te neem, nadat hulle gewerf of ontvoer is om kindersoldate te word, en sodoende het hulle geen ander keuse as om op gewelddadige wyse uiting te gee aan die haat van volwassenes nie”. Om die toename in die aantal kindersoldate teë te werk, ondersteun die Verenigde Nasies-kinderfonds ’n voorstel “wat die ouderdom waarop soldate vir militêre diens gewerf kan word tot 18 jaar sal verhoog en wat daarop aandring dat werwing onder daardie ouderdom as ’n oorlogsmisdaad beskou moet word”, sê die publikasie Facts & Figures 1998.

Bejaardes gebruik die Internet

“Die jongste demografiese webstudie toon dat baie meer bejaardes [50 jaar en ouer] as wat voorheen gedink is die Internet gebruik”, berig die joernalis Maria Seminerio van ZDNet. Volgens Tim Cobb, president van die organisasie wat die opname gedoen het, “bewys dit dat die Web deur al hoe meer mense gebruik word en nie meer net deur mense wat kenners op die gebied van die tegnologie is nie”. Byvoorbeeld, ten minste 40 persent van die volwassenes in die Verenigde State wat ouer as 50 is, het nou ’n persoonlike rekenaar, en 70 persent van hulle blaai deur die Web.

Vigs—Die ‘aansteeklike siekte wat die meeste lewens eis’

“Vigs is tans die aansteeklike siekte wat die meeste lewens in die wêreld eis”, sê Peter Piot, uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies se Vigsprogram. Die tydskrif Science berig dat vigs in 1997 die sewende grootste doodsoorsaak in die wêreld was. Maar gedurende 1998 het dit alle ander siektes verbygesteek, behalwe iskemiese hartsiekte, harsingvaatsiekte en akute asemhalingsiekte van die laer lugweë, wat nie-aansteeklike siektes is. Vigs het ook die vernaamste doodsoorsaak in Afrika geword en het selfs nie-aansteeklike siektes verbygesteek. In Afrika alleen het vigs verlede jaar 1 830 000 lewens geëis—twee keer soveel as malaria, die tweede grootste doodsoorsaak op hierdie vasteland.

Ma’s met stres—babas met stres

Wanneer ’n swanger ma ’n hoë stresvlak het, kan dit die groei van haar ongebore baba benadeel, berig die Kanadese koerant National Post. Volgens Pathik Wadhwa, van die Universiteit van Kentucky se Mediese Fakulteit, in Lexington, Kentucky, beïnvloed die toestand van die baarmoeder “die baba se ontwikkeling, en as die ma baie stres het, kan dit babas vatbaarder vir siektes maak”. Ma’s met stres sal “moontlik [ook] aan vroeggebore babas geboorte gee”, sê die verslag. Navorsers by die Clemson-universiteit, in Suid-Carolina, sê dat “ontspanningsoefeninge kan help om die bloeddrukvlakke te verlaag van swanger vroue met stres, wat die baarmoeder ’n gesonder omgewing sal maak”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel