Ongesonde lewenswyses—Hoe hoog is die koste?
“SIEKTE is elke mens se meester”, sê ’n Deense spreekwoord. Enigiemand wat aan ’n chroniese siekte ly, sal geredelik erken dat hierdie “meester” inderdaad wreed kan wees! Maar dit sal jou dalk verbaas om te weet dat siekte dikwels meer soos ’n genooide gas is as ’n meester. Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming skryf 30 persent van die dae wat pasiënte in die hospitaal deurbring toe aan siektes en beserings wat voorkom kon word. Die oorsaak? Ongesonde en gevaarlike lewenswyses. Beskou ’n paar voorbeelde.
ROKERY. Ira, wat 53 jaar oud is, het emfiseem—die gevolg van byna vier dekades se rokery. Om sy toestand te behandel, het hy ’n gereelde voorraad suurstof nodig, wat ongeveer R1870 per maand kos. In 1994 was hy nege dae in die hospitaal weens sy toestand en het dit hom R84-000 gekos, wat die totale koste van Ira se gesondheidsorg daardie jaar op meer as R93 500 te staan gebring het. Nogtans voel Ira dat dit nie noodsaaklik is om op te hou rook nie. “Ek het net hierdie ongelooflike drang”, sê hy.
Ira se geval is nie uniek nie. Wêreldwyd rook mense ongeveer 15 miljard sigarette daagliks, ten spyte van die alombekende gevare van rokery. In die Verenigde State word daar geraam dat die jaarlikse koste van gesondheidsorg vir rookverwante siektes $50 miljard (R234 miljard) is. Dit beteken dat daar in 1993 vir elke pakkie sigarette wat gekoop is gemiddeld ongeveer $2,06 (R9,62) aan rookverwante mediese onkoste bestee is.
Wanneer ’n kind gebore word, kan rookverwante mediese onkoste al begin ophoop. Om net een voorbeeld te noem: ’n studie in die Verenigde State het gevind dat babas wat vir moeders gebore word wat rook, twee keer groter gevaar loop om ’n gesplete lip of verhemelte te ontwikkel, ’n toestand wat tot vier operasies kan vereis teen die tyd dat die kind twee jaar oud is. Die gemiddelde lewenslange koste vir mediese sorg en verwante onkoste vir hierdie toestand is $100 000 (R467 000) per persoon. Natuurlik kan geen geldelike bedrag eers naastenby die emosionele lyding meet wat iemand weens ’n fisiese geboortegebrek verduur nie.
Party sê dat die hoë koste van gesondheidsorg weens rokery teëgewerk word deur die feit dat baie rokers nie lank genoeg lewe om bestaansbeveiligingsvoordele te ontvang nie. Maar, soos The New England Journal of Medicine sê, “hierdie gevolgtrekking is betwisbaar; bowendien sal die meeste mense saamstem dat vroeë dood weens rokery nie ’n menslike manier is om die koste van gesondheidsorg te beheer nie”.
MISBRUIK VAN ALKOHOL. Alkoholmisbruik is al in verband gebring met ’n aantal gesondheidsprobleme, waaronder lewersirrose, hartsiekte, maagontsteking, maagsere en pankreatitis. Dit kan ook veroorsaak dat ’n mens vatbaarder is vir aansteeklike siektes soos longontsteking. In die Verenigde State word daar volgens dr. Stanton Peele elke jaar “$10 miljard [R46,7 miljard] bestee om mense te behandel wat nie hulle drinkery onder beheer kan hou nie”.
Alkohol tas dikwels die fetus in die baarmoeder aan. Elke jaar word tienduisende kinders in die Verenigde State alleen met gebreke gebore omdat hulle moeder gedrink het terwyl sy swanger was. Party van hierdie babas word met fetale alkohol-sindroom (FAS) gediagnoseer, en dikwels ly hulle aan fisiese en verstandelike gebreke. Na raming is die gemiddelde lewenslange mediese koste vir elke FAS-kind $1,4 miljoen (R6,5 miljoen).
Aangesien alkohol impulsbeheer verminder, speel oormatige drinkery dikwels ’n rol in gewelddadige uitbarstings en kan beserings tot gevolg hê wat mediese sorg vereis. Daar is ook die onherstelbare skade wat aangerig word deur diegene wat voertuie bestuur terwyl hulle dronk is. Beskou die uitwerking daarvan op Lindsey, ’n agtjarige meisie wat uit die agterste sitplek van haar moeder se motor bevry moes word nadat ’n dronk bestuurder in hulle vasgery het. Lindsey het sewe weke in ’n hospitaal deurgebring en moes ’n aantal operasies ondergaan. Haar mediese onkoste het meer as R1401 000 beloop. Sy was gelukkig dat sy dit hoegenaamd oorleef het.
DWELMMISBRUIK. Een navorser skat dat die jaarlikse koste van dwelmmisbruik in Amerika $67 miljard (R313 miljard) is. Joseph A. Califano jr., president van die Sentrum vir Verslawing en die Misbruik van Verslawende Middels by die Universiteit van Columbia in New York, wys op ’n ander duur aspek van die probleem: “Crack-babas, wat ’n mens ’n dekade gelede selde teëgekom het, vul nou neonatale sale waar die koste $2000 [R9340] per dag is. . . . Dit kan $1 miljoen [R4,67 miljoen] kos om elke oorlewende te help om volwassenheid te bereik.” Daarbenewens, sê Califano, “is swanger moeders se versuim om voorgeboortelike sorg te kry en op te hou om dwelms te misbruik, verantwoordelik vir die grootste gedeelte van die byna $3 miljard [R14 miljard] wat Medicaid in 1994 bestee het aan hospitaalpasiëntesorg wat met dwelmgebruik verband hou”.
Die tragedie van die situasie word vererger wanneer ons die onberekenbare menslike koste van hierdie euwel in ag neem. Huweliksonenigheid, verwaarloosde kinders en uitgeputte geldmiddele is onder die algemene probleme wat gesinne raak wat deur dwelmmisbruik ontwrig word.
PROMISKUÏTEIT. Meer as 12 miljoen mense in die Verenigde State doen elke jaar seksueel oordraagbare siektes (SOS’e) op, wat die Verenigde State die hoogste SOS-syfer van enige ontwikkelde land gee. David Celentano, van die Fakulteit van Higiëne en Openbare Gesondheid van die Johns Hopkins-universiteit, noem dit “’n nasionale verleentheid”. Die regstreekse koste van hierdie siektes, wat nie vigs insluit nie, is jaarliks ongeveer $10 miljard (R46,7 miljard). Tieners loop veral gevaar. En geen wonder nie! Volgens een verslag het sowat 70 persent van hulle al geslagsomgang gehad teen die tyd dat hulle in graad 12 is, en byna 40 persent van hulle het al ten minste vier maats gehad.
Vigs is op sigself ’n gesondheidsorgkatastrofe. Vroeg in 1996 het die doeltreffendste behandeling wat beskikbaar is—protease-inhibeermiddels tesame met standaard ouer medisyne—tussen R56 000 en R84 000 per jaar per persoon gekos. Maar dit is net ’n klein gedeelte van die versteekte koste van vigs, wat die verlore produktiwiteit insluit van die slagoffer en diegene wat tyd van die werk of skool afvat om vir hom te sorg. Daar word geraam dat HIV en vigs teen die jaar 2000 die wêreld al tussen R1,66 biljoen en R2,4 biljoen sou gekos het—dit is soos om die hele ekonomie van Australië of Indië uit te wis.
GEWELD. Toe Joycelyn Elders die Amerikaanse geneesheer-generaal was, het sy verslag gedoen dat die mediese koste van geweld in 1992 $13,5 miljard (R63 miljard) was. Die Amerikaanse president Bill Clinton het gesê: “Een van die redes waarom Amerikaanse gesondheidsorg so duur is, is omdat ons hospitale en ons ongevalle-afdelings vol mense met mes- en skietwonde is.” Dit is met goeie rede dat The Journal of the American Medical Association geweld in die Verenigde State “’n openbare gesondheidskrisis” noem. Die verslag sê voorts: “Hoewel geweld nie in die ‘klassieke’ sin ’n siekte is nie, is die uitwerking daarvan op persoonlike en openbare gesondheid net so diepgaande soos dié van baie fisiologiese siektes—miskien selfs meer diepgaande.”
’n Verslag deur 40 hospitale in Colorado sê dat die gemiddelde koste $9600 (R44 850) was vir elke slagoffer van geweld gedurende die eerste nege maande van 1993. Meer as die helfte van diegene wat in die hospitaal opgeneem is, het nie versekering gehad nie, en baie van hulle kon nie of wou nie vir hulle onkoste betaal nie. Sulke situasies lei tot hoër belasting, hoër versekeringspremies en hoër hospitaalrekeninge. Die Colorado-hospitaalvereniging sê: “Ons almal betaal.”
Verandering van lewenswyse
Uit ’n menslike standpunt is daar nie veel hoop dat die neiging tot ongesonde lewenswyses omgekeer sal word nie. “Amerika is nie die Tuin van Eden nie en ons sal nooit ontslae raak van alle dwelm- en alkoholmisbruik nie”, sê ’n verslag deur Columbia-universiteit. “Na die mate waarin ons sulke misbruik beperk, sal ons ’n ryk oes insamel van gesonder babas, minder geweld en misdaad, laer belasting, verlaagde gesondheidsorgkoste, hoër wins, studente met ’n beter geleerdheid en minder vigs-gevalle.”
Jehovah se Getuies het gevind dat die Bybel die grootste hulpmiddel is om daardie doelwit te bereik. Die Bybel is ’n buitengewone boek. Dit is deur die mens se Skepper, Jehovah God, geïnspireer (2 Timoteus 3:16, 17). Hy is “die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel‚ die Een wat jou laat tree op die weg wat jy moet bewandel” (Jesaja 48:17, NW). Die beginsels wat in die Bybel uiteengesit word, is heilsaam, en diegene wat volgens die raad daarin wandel, sal groot voordeel daaruit trek.
Esther was byvoorbeeld vroeër ’n strawwe roker.a Nadat sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het haar Bybelonderrigter haar genooi om ’n dag lank die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, in Brooklyn, New York, te toer. Aanvanklik was Esther huiwerig. Sy het geweet dat Jehovah se Getuies nie rook nie en het gewonder hoe sy ’n hele dag saam met hulle kon deurbring. Esther het dus een sigaret in haar handsak gesit en geredeneer dat sy eenvoudig ongemerk in ’n ruskamer sou ingaan as sy die drang kry om dit te rook. Net soos sy beplan het, het Esther ná een van die toere in ’n ruskamer ingegaan en haar sigaret uitgehaal. Maar toe het sy iets opgemerk. Die kamer was silwerskoon, en die lug was vars. “Ek kon net nie die plek vuil maak deur daardie sigaret te rook nie”, sê Esther, “en daarom het ek dit in die toilet afgespoel. En dit was die laaste sigaret waaraan ek ooit geraak het!”
Daar is miljoene mense soos Esther regoor die wêreld wat leer om in ooreenstemming met Bybelbeginsels te lewe. Hulle bevoordeel hulleself, en hulle word ’n groter aanwins vir die gemeenskap waarin hulle woon. Maar die belangrikste is dat hulle hulle Skepper, Jehovah God, eer.—Vergelyk Spreuke 27:11.
Hoewel die mens se beste pogings nie ’n “Tuin van Eden” kan voortbring nie, sê die Bybel dat God dit sal doen. Tweede Petrus 3:13 sê: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy [God se] belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon.” (Vergelyk Jesaja 51:3.) In daardie nuwe aarde sal gesondheidsorg nie meer ’n bekommernis wees nie, want die mensdom sal lewe met volmaakte gesondheid geniet—soos dit van die begin af God se voorneme was (Jesaja 33:24). Wil jy graag meer omtrent God se beloftes leer? Jehovah se Getuies sal bly wees om jou te help.
[Voetnoot]
a Nie haar regte naam nie.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
© 1985 P. F. Bentley/Black Star