Weggooikinders en wegloopkinders
“EK HET my hare gesny, soos ’n man aangetrek, kettings en slotte om my nek gehang en ’n haakspeld deur my wang gesteek, en só het ek my lewe as ’n punk begin.”—Tamara.
Sou jy, as jy Tamara op straat gesien het, geraai het dat sy ’n eensame, mishandelde tiener is wie se huislewe haar nie die aandag en liefde gegee het waarna sy gesmag het nie? Sou jy gedink het dat sy ’n rebel is wat op moeilikheid met die wet en moontlik ’n lewe van misdaad afstuur? Tamara het aan Ontwaak! vertel watter skrikwekkende gebeure aanleiding gegee het tot die soort lewe wat sy sedert 14-jarige leeftyd gelei het, ’n lewenswyse wat sy nooit wou hê nie.
Weggooikinders
Tamara vertel: “Ek het in ’n klein bergdorpie in Italië grootgeword, in ’n gesin waarin daar geen liefde was nie. Ek het ongelukkig die hewige argumente wat tussen my ouers uitgebreek het en die onherhaalbare beledigings wat by daardie geleenthede na mekaar geslinger is, beleef. Ek het dikwels by hierdie rusies betrokke geraak en is genadeloos deur my hartelose vader geslaan. Ek het die letsels weke lank gedra.
“Toe ek 14 was, het my vader my ’n paar rand en ’n enkelkaartjie na die naaste stad gegee, waar dit baie gevaarlik was. Ek het vriende gemaak met ander jongmense wat, soos ek, niemand gehad het wat in hulle belanggestel het nie. Baie van ons het alkoholiste geword. Ek het arrogant, vulgêr en aggressief geword. Ek was dikwels sonder kos. Ek en my vriende het een wintersaand die meubels verbrand om warm te bly. Ek wou so graag ’n gesin hê wat vir my sorg, wat in my gevoelens, my angste, my vrese belangstel. Maar ek was alleen, vreeslik alleen.”
Daar is honderdduisende “Tamaras” in vandag se wêreld. Op elke vasteland is daar kinders wat verlaat is deur ouers wat hulle verantwoordelikhede versaak het.
Wegloopkinders
Ander jongmense besluit om die huis te verlaat omdat “dit eenvoudig te skrikwekkend is om daar te bly; dit is te pynlik, dit is te gevaarlik, en hulle loop weg na die strate toe”.—New York State Journal of Medicine.
Toe Domingos nege jaar oud was, is hy by ’n weeshuis gelos toe sy moeder weer getrou het. As gevolg van die slae wat hy by die priesters gekry het, het hy besluit om te ontsnap. Sy moeder het hom teruggeneem, maar sy stiefpa het hom voortdurend geslaan. Die enigste manier waarop hy verligting van die wreedheid by die huis gevind het, was om weg te loop.
Ongelukkig “kan miljoene kinders nie op die volwassenes in hulle gesin vir ’n minimum standaard van veilige sorg staatmaak nie”, skryf Anuradha Vittachi in haar boek Stolen Childhood—In Search of the Rights of the Child. Sy skryf ook: “Na raming sterf daar elke dag drie kinders in die Verenigde State as gevolg van mishandeling deur hulle ouers.” In te veel gevalle word ’n kind se seksualiteit eerder deur ’n gesinslid geskend as beskerm.
Uitgebuit en geskend
Domingos moes noodgedwonge saam met ander straatkinders bly wat by plundering en diefstal, sowel as die gebruik en verkoop van dwelms, betrokke was. Dit is tragies dat baie kinders wat van die slegte toestande by die huis wegloop deur koppelaars, pedofiele en pornografie-sindikate uitgebuit word. Hierdie kinders, wat honger en eensaam is, word blyplek aangebied en die versekering gegee dat ’n “besorgde” volwassene na hulle sal omsien, om slegs te vind dat hulle met hulle liggaam in ’n lewe van prostitusie betaal. Omdat hulle geen werksvaardighede het nie, leer baie om op enige moontlike manier op die straat aan die lewe te bly, en dit sluit in dat hulle verlei word en ander verlei. Party oorleef dit nie. Dwelms, alkohol, moord en selfmoord eis die lewens van talle jong slagoffers.
’n Voormalige kinderprostituut het oor die lewe van straatkinders gesê: “Jy’s bang daarbuite. Jy weet, wat my ontstel, is dat baie [mense] dink dat kinders so wil lewe wanneer hulle ’n kind op ’n trein sien slaap of die heeltyd sien uithang. Noudat ek ouer is, is dit nie hoe ek dit sien nie. Hierdie kinders roep elkeen op hulle eie spesiale manier om hulp. Hulle wil nie so wees nie, maar hulle ouers wil hulle nie hê nie.”
Ander soek “vryheid”
Daar is honderdduisende ander jongmense wat as vermis aangegee word wat na die strate gelok is deur die vryheid wat hulle dink daarbuite is. Party wil vryheid van armoede hê. Ander wil vryheid van ouerlike gesag en reëls hê wat hulle moontlik dink te beperkend is.
Emma is een jeugdige wat die so genoemde vryheid van ouerlike beheer en vryheid van die beginsels van ’n Christenhuis gesmaak het. Nadat sy die huis vir ’n lewe saam met haar vriende verlaat het, het sy aan dwelms verslaaf geraak. Maar nadat sy die wreedheid van die strate ondervind het, het Emma die begeerte uitgespreek om terug te keer en haar dwelmgewoonte te staak. Maar sy het ongelukkig nie haar bande met slegte geselskap verbreek nie, en een somersaand het sy en haar vriende heroïen gebruik. Vir Emma was dit die laaste keer. Sy het in ’n koma gegaan en die volgende dag gesterf, alleen en deur haar “vriende” verlaat.
Kan daar ’n beter toekoms wees vir kinders wat die slagoffers van hulle ouers of van ander is? Sal daar ooit ’n wêreld wees wat jongmense nie uitbuit nie? Watter hoop is daar dat die gesinslewe verbeter en waardeer kan word sodat jongmense nie sal wil wegloop nie? Die antwoorde kan in die volgende artikel gevind word.