LEWENSVERHAAL
“Nou is ek lief vir die bediening!”
EK HET grootgeword in Balclutha, ’n plattelandse dorpie op die Suid-eiland van Nieu-Seeland. Toe ek ’n kind was, het ek na aan Jehovah gevoel en was ek lief vir die waarheid. Ek het dit geniet om vergaderinge toe te gaan, en ek het veilig en gelukkig in die gemeente gevoel. Al was ek skaam, het ek dit geniet om elke week velddiens te doen. Ek was nie bang om vir my skoolmaats en vir ander te preek nie. Ek was trots om een van Jehovah se Getuies te wees, en toe ek 11 jaar oud was, het ek my lewe aan God toegewy.
EK VERLOOR MY VREUGDE
Toe ek ’n tiener geword het, het my sterk verhouding met Jehovah ongelukkig swak begin word. Dit het gelyk asof my skoolmaats al die vryheid in die wêreld gehad het, en ek wou ook daardie vryheid hê. My ouers se reëls en Christelike standaarde het vir my soos ’n las gevoel, en geestelike aktiwiteite het vir my soos harde werk begin word. Alhoewel ek nooit getwyfel het dat Jehovah bestaan nie, het ek geestelik leeg begin voel.
Maar ek het dit vermy om onbedrywig te word deur so min as moontlik in Jehovah se diens te doen. Ek het nooit vir velddiens voorberei nie, so wanneer ek wel velddiens gedoen het, het ek gesukkel om gesprekke te begin en om met mense te gesels. Daarom het ek geen herbesoeke of Bybelstudies gehad nie en het ek niks van velddiens gehou nie. Ek het gewonder: ‘Hoe kan enige iemand dit week ná week en maand ná maand doen?’
Teen die tyd dat ek 17 was, kon ek nie meer wag om op my eie te wees nie. Daarom het ek my goed gepak en Australië toe getrek. My ouers was baie hartseer om my te sien gaan. Hulle was besorg oor my, maar hulle het gedink dat ek by my geestelike roetine sou bly.
In Australië het my geestelikheid nog verder agteruitgegaan. Ek het net elke nou en dan vergaderinge toe gegaan. Ek het vriende gemaak met jongmense wat, net soos ek, nie omgegee het om die een aand vergadering toe te gaan en om die volgende aand uit te gaan om te gaan drink en om in nagklubs te gaan dans nie. As ek terugkyk, besef ek dat ek een voet in die waarheid en een voet in die wêreld gehad het, maar ek het nie gevoel dat ek in een van die twee inpas nie.
’N BELANGRIKE LES
Omtrent twee jaar later, het ek ’n suster ontmoet wat my oor my lewe laat dink het, sonder dat sy dit besef het. Ek het saam met vyf enkelsusters gebly, en ons het die kringopsiener en sy vrou, Tamara, genooi om by ons vir ’n week te kom bly. Terwyl Tamara se man besig was met gemeentelike sake, het sy tyd saam met ons spandeer en lekker saam met ons gelag. Ek het dit geniet. Sy was so plat op die aarde, en dit was maklik om met haar te praat. Ek kon nie glo dat so ’n geestelike persoon so lekker kon wees om mee saam te kuier nie.
Tamara was vol entoesiasme. Haar liefde vir die waarheid en vir die bediening was aansteeklik. Dit het haar baie gelukkig gemaak om Jehovah haar bes te gee, maar ek was ongelukkig terwyl ek so min as moontlik in Jehovah se diens gedoen het. Haar positiewe houding en die feit dat sy regtig gelukkig was, het ’n groot invloed op my lewe gehad. Haar voorbeeld het my aan ’n belangrike Bybelwaarheid laat dink: Jehovah wil graag hê dat ons almal hom “met blydskap” en “met uitroepe van vreugde” moet dien. – Ps. 100:2.
EK WORD WEER LIEF VIR VELDDIENS
Ek wou ook die vreugde hê wat Tamara gehad het, maar om daardie vreugde te kry, moes ek groot veranderinge maak. Dit het tyd gevat, maar ek het uiteindelik klein veranderinge begin maak. Ek het vir velddiens begin voorberei, en ek het af en toe hulppionierdiens gedoen. Dit het my gehelp om nie so senuweeagtig te wees nie en om meer selfvertroue te hê. Hoe meer ek die Bybel in die bediening gebruik het, hoe meer het ek die bediening geniet. Kort voor lank het ek elke maand hulppionierdiens gedoen.
Ek het vriende met mense van alle ouderdomme gemaak, wat goed gedoen het in die waarheid en wat hulle diens aan Jehovah geniet het. Hulle goeie voorbeeld het my gehelp om weer na my prioriteite te kyk en om ’n goeie geestelike roetine te hê. Ek het die bediening selfs meer begin geniet, en uiteindelik het ek as ’n gewone pionier begin dien. Vir die eerste keer in jare het ek gelukkig en tuis in die gemeente gevoel.
EK KRY ’N PERMANENTE PIONIERMAATJIE
’n Jaar later het ek Alex ontmoet, ’n liefdevolle en opregte persoon wat Jehovah en die bediening liefhet. Hy het as ’n bedieningskneg gedien en het op daardie stadium al ses jaar lank gepionier. Alex het ook ’n tyd lank in Malawi gedien, in ’n gebied waar daar hulp nodig was. In Malawi het hy vriende gemaak met sendelinge wat ’n groot indruk op hom gemaak het en wat hom aangemoedig het om aan te hou om Jehovah se diens eerste in sy lewe te stel.
Ek en Alex het in 2003 getrou, en ons is nog steeds in die voltydse diens. Ons het baie wonderlike lesse geleer, en Jehovah het ons op baie verskillende maniere geseën.
’N DEUR WAT NA VERDERE SEËNIGE LEI
Ons doen velddiens in Gleno, Timor-Leste
In 2009 is ons genooi om as sendelinge in Timor-Leste, ’n klein land in die Indonesiese eilandgroep te dien. Ons was verbaas, opgewonde en bang, alles op dieselfde tyd. Vyf maande later het ons in die nasionale hoofstad, Dili, aangekom.
Ons moes baie groot veranderinge maak. Ons moes gewoond raak aan die nuwe kultuur, taal, kos en lewensomstandighede. Wanneer ons velddiens gedoen het, het ons gereeld mense gesien wat baie arm was, wat min of geen skoolopleiding gehad het nie en wat deur ander onderdruk was. En ons het baie mense gesien wat fisies en emosioneel baie gely het as gevolg van oorlog en geweld.a
Die bediening was ongelooflik! Byvoorbeeld, ek het eenkeer ’n ongelukkige 13-jarige meisie ontmoet met die naam Maria.b Haar ma het ’n paar jaar vroeër gesterf, en sy het amper nooit haar pa gesien nie. Soos baie kinders van haar ouderdom, het Maria geen rigting in die lewe gehad nie. Ek onthou hoe sy eenkeer gehuil het toe sy haar gevoelens teenoor my uitgestort het. Maar ek het geen idee gehad wat sy gesê het nie, want ek kon nog nie haar taal goed praat nie. Ek het tot Jehovah gebid en hom gevra om my te help om haar aan te moedig, en toe het ek vertroostende tekste vir haar begin lees. Oor die volgende paar jaar het ek gesien hoe die waarheid Maria se gesindheid, voorkoms en haar hele lewe verander. Sy is toe gedoop en nou hou sy haar eie Bybelstudies. Vandag het Maria ’n groot geestelike familie en het sy ’n plek gevind waar sy behoort.
Jehovah is besig om die werk in Timor-Leste te seën. Alhoewel die meeste verkondigers in die laaste tien jaar gedoop is, dien baie van hulle as pioniers, bedieningsknegte of ouermanne. Ander werk by die vertaalkantoor en help om Bybelpublikasies in plaaslike tale te vertaal. Dit het my so bly gemaak om te hoor hoe hulle by die vergaderinge sing, om hulle glimlagte te sien en om te sien hoe hulle geestelik vordering maak.
Saam met Alex op pad na ontoegekende gebied om Gedenkmaaluitnodigings uit te gee
EK KAN MY NIE ’N GELUKKIGER LEWE VOORSTEL NIE
Ons toewysing in Timor-Leste was baie anders as ons lewe in Australië, maar ek kan my nie ’n gelukkiger lewe voorstel nie. Soms moes ons in ’n klein minibussie ry wat vol mense, droë vis en groente was. Party dae moes ons ’n Bybelstudie hou in ’n warm, bedompige huisie met grondvloere en hoenders wat rondhardloop. Maar ten spyte van die uitdagings, het ek baie keer gedink: ‘Dit is ongelooflik!’
Op pad na die gebied
As ek terugdink, is ek baie bly dat my ouers hulle bes gedoen het om my van Jehovah te leer en om my te ondersteun, selfs gedurende my moeilike tienerjare. Spreuke 22:6 is in my geval waar. My ma en pa is baie trots op my en Alex; en hulle is bly om te sien dat ons deur Jehovah gebruik word. Vanaf 2016 dien ons op die kring in die gebied van die Australasië-takkantoor.
Ek wys ’n Caleb-en-Sophia-video vir ’n paar gelukkige Timorese kinders
Dit is vir my moeilik om te glo dat daar ’n tyd was toe ek nie die predikingswerk geniet het nie. Nou is ek lief vir die bediening! Ek het besef dat dit nie saak maak wat in jou lewe gebeur nie, jy kan net ware vreugde kry as jy God met jou hele hart dien. Die afgelope 18 jaar wat ek Jehovah saam met Alex dien, was beslis die gelukkigste jare van my lewe. Ek sien nou hoe waar Dawid se woorde aan Jehovah is: “Almal wat beskerming by u kom soek, sal bly wees. Hulle sal altyd van vreugde uitroep. . . . En dié wat u naam liefhet, sal bly wees as gevolg van u.” – Ps. 5:11.
Dit maak my baie bly om die Bybel met sulke nederige mense te studeer!
a Vanaf 1975 was daar 20 jaar lank oorlog in Timor-Leste omdat die mense geveg het om politieke onafhanklikheid te kry.
b Naam is verander.