Hoe om die menopouse te hanteer
DIE menopouse is “’n ondervinding wat aan elke individu uniek is” en is “die begin van ’n nuwe en bevrydende hoofstuk in jou lewe”, sê die skrywers van Natural Menopause—The Complete Guide to a Woman’s Most Misunderstood Passage. Navorsing toon dat hoe beter ’n mens oor jouself en oor jou lewe voel—jou eiewaarde en identiteit—hoe makliker sal die oorgang wees.
Dit is weliswaar gedurende hierdie tydperk van hulle lewe vir sommige vroue moeiliker as vir ander. As jy probleme ondervind, beteken dit nie dat daar iets met jou eiewaarde verkeerd is of dat jy besig is om jou verstand, jou vroulikheid, jou intelligensie of jou belangstelling in seks te verloor nie. Die probleem is oor die algemeen eerder biologies.
“Selfs vroue wat verskriklike simptome gedurende die menopouse ervaar het, sê dat hulle daarna opnuut ’n sin vir die lewe gehad het en vol lewenskrag was”, berig Newsweek. ’n Twee-en-veertigjarige vrou het gesê: “Ek sien uit na die kalmte; wanneer my liggaam sal ophou om streke op my uit te haal.”
Wanneer vroue dit beter hanteer
Hoe ouer vroue beskou word, is ’n belangrike faktor in hoe goed hulle die menopouse hanteer. In plekke waar daar waarde aan hulle rypheid, wysheid en ondervinding geheg word, gaan die menopousale tydperk met baie minder liggaamlike en emosionele kwale gepaard.
The Woman’s Encyclopedia of Health and Natural Healing sê byvoorbeeld onder Afrikastamme, “waar die menopouse as ’n welkome oorgang in die lewe aanvaar word en postmenopousale vroue vir hulle ondervinding en wysheid gerespekteer word, kla vroue selde oor menopousale simptome”. The Silent Passage—Menopause sê eweneens: “Indiese vroue van die Radjpoet-kaste kla nie oor depressie of sielkundige simptome” gedurende die menopouse nie.
In Japan waar bejaarde vroue ook hooggeag word, is hormoonbehandeling vir die menopouse feitlik onbekend. Verder het Asiatiese vroue blykbaar minder en geringer menopousale simptome as dié van die Westerse beskawing. Hulle dieet is blykbaar ’n faktor wat hiertoe bydra.
Volgens die navorsing van ’n antropoloog het Maja-vroue in werklikheid na die menopouse uitgesien. Vir hierdie vroue het die menopouse verligting van aanhoudende kinderbaring beteken. Dit het ongetwyfeld ook vir hulle vryheid gebied om in ander dinge in die lewe belang te stel.
Terselfdertyd behoort die vrese wat met die menopouse gepaardgaan nie geringgeskat te word nie. In kulture waar jeugdigheid en ’n jeugdige voorkoms beklemtoon word, vrees vroue wat nog nie die menopouse ervaar het nie dit dikwels. Wat kan gedoen word om die onaangenaamhede van die oorgang vir sulke vroue te verlig?
Wat vroue nodig het
Janine O’Leary Cobb, skryfster en baanbreker op die gebied van menopousale opvoeding, verduidelik: “Wat baie vroue nodig het, is die een of ander bevestiging van hoe hulle voel—dat hulle nie alleen is nie.”
Begrip, asook ’n blymoedige beskouing, is belangrik. ’n Een-en-vyftigjarige ma wat in haar menopouse is, het gesê: “Ek glo eerlikwaar dat dit ’n mens se algemene beskouing van die lewe is wat sal bepaal hoe ’n mens die menopouse ondervind. . . . Ek weet ons word oud. Of ons nou daarvan hou of nie, dit gaan gebeur. . . . Ek het besluit dat dit [die menopouse] nie ’n siekte is nie. Dit is ’n deel van my lewe.”
Namate hierdie nuwe hoofstuk in jou lewe dan nader kom, moet jy tyd inruim om na te dink oor nuwe, uitdagende dinge waarin jy belangstel. Die liggaamlike uitwerking van die menopouse op die liggaam moet nie oor die hoof gesien word nie. Dokters en ander gesaghebbendes skryf die volgende algemene beginsels vir goeie gesondheid voor ter voorbereiding van die oorgang—gesonde voedsel, genoeg rus en matige oefening.
Dieet en oefening
’n Vrou se behoefte aan voedingstowwe (proteïene, koolhidrate, vette, vitamiene, minerale) neem nie af namate sy ouer word nie, maar wel haar behoefte aan kilojoules. Dit is dus belangrik om voedselsoorte te eet wat ’n hoë konsentrasie voedingstowwe bevat en om soet, vetterige voedselsoorte, wat “leë kilojoules” is, te vermy.
Gereelde oefening verbeter die vermoë om stres en depressie die hoof te bied. Dit gee ’n mens meer energie en keer dat jy gewig aansit. Die tempo van die basale metabolisme neem geleidelik met ouderdom af, en tensy dit deur oefening versnel word, is daar die neiging om stadigaan gewig aan te sit.
Dit is belangrik vir vroue om te weet dat oefening tesame met kalsiumaanvulling die ontwikkeling van osteoporose, ’n beensiekte wat poreusheid en brosheid veroorsaak, vertraag. Volgens die boek Women Coming of Age is “binnensmuurse aërobiese oefeninge wat op die regte manier gedoen word, stap, draf, fietsry en ander aërobiese sportsoorte, sowel as gewigoptel”, blykbaar besonder voordelig. Dit is interessant dat osteoporose nie in afgeleë gemeenskappe aangetref word waar mense tot op ’n hoë ouderdom bedrywig is nie. In sulke plekke leef vroue oor die algemeen tot diep in hulle tagtiger- en negentigerjare. Dit sal egter raadsaam wees om jou dokter te raadpleeg voordat jy met enige oefenprogram begin.
Hoe om warmgloede die hoof te bied
Warmgloede is vir die meeste vroue ’n las. Vir sommige word dit egter ’n werklike probleem omdat dit óf baie dikwels voorkom óf gedurig ’n mens se slaap ontwrig. Wat kan gedoen word?
Eerstens, moenie paniekerig raak nie. Deur boonop angstig te wees, sal die situasie net vererger. Gereelde, strawwe oefening is voordelig, want dit help die liggaam om te leer hoe om die oortollige hitte te beheer en vinniger af te koel. Probeer ook die eenvoudige maatreël om ’n glas koue water te drink of jou hande in koue water te sit.
Maak daarbenewens ’n gewoonte daarvan om los klere in lae aan te trek sodat dit maklik uitgetrek of aangetrek kan word. Katoen en linne laat sweet beter verdamp as sintetiese stowwe. Probeer ook om snags etlike lae komberse te gebruik wat afsonderlik oorgegooi en afgehaal kan word wanneer dit nodig is. Hou nog ’n stel nagklere byderhand.
Probeer vasstel wat moontlik jou warmgloede veroorsaak. Alkohol, kaffeïen en sterk gegeurde kossoorte kan daartoe aanleiding gee, asook rook. Om aantekeninge te maak van wanneer en waar die warmgloede ondervind word, sal dalk help om die voedsel en bedrywighede te identifiseer wat daartoe aanleiding gee. Vermy dan hierdie dinge.
Dokters wat in geneesmiddels met voedingswaarde spesialiseer, skryf verskeie middels voor om warmgloede te verminder, soos vitamien E, nagkersolie en die kruie ginseng, dong quai en wantskruid. Volgens party dokters gee die voorskrif-medikasie Bellergal en clonidine verligting, maar na bewering is estrogeenpille of -pleisters die effektiefste.a
Vaginale droogheid kan reggestel word deur groente- of vrugteolies, vitamien E-olie en smeermiddels aan te wend. As dít onvoldoende is, sal estrogeenroom help om die vaginale wande te verdik en te bevogtig. Dit is raadsaam om eers ’n dokter te raadpleeg voordat jy met enige behandeling begin.
Wat van stres?
Wanneer ’n vrou te kampe het met die hormonale en liggaamlike veranderings wat met die menopouse gepaardgaan, kom sy terselfdertyd dikwels voor ander stresvolle ervarings te staan, waarvan daar ’n aantal in die vorige artikel gemeld is. Aan die ander kant kan positiewe dinge, soos die geboorte van ’n kleinkind of betrokkenheid by nuwe bedrywighede nadat die kinders die huis verlaat het, negatiewe stres teëwerk.
In hulle boek Natural Menopause gee Susan Perry en dr. Katherine A. O’Hanlan ’n paar praktiese wenke om stres beter te hanteer. Hulle wys op die belangrikheid daarvan om die oorsake van stres te identifiseer en om dan van tyd tot tyd ’n blaaskans te neem. Dit kan dalk beteken om hulp te kry met die versorging van ’n gesinslid wat chronies siek is. “Moenie te veel eise aan jouself stel nie”, is hulle raad. “Moenie te veel dinge beplan nie . . . Gee gehoor aan jou liggaam.” Hulle voeg by: “Om iets vir ander te doen, kan die stres aansienlik verminder. . . . Doen gereeld oefening. . . . Kry professionele hulp as die stres in jou lewe buite beheer raak.”
Gesinslede kan help
’n Vrou wat in haar menopouse is, het emosionele begrip en praktiese ondersteuning nodig. ’n Vrou het verduidelik wat sy altyd gedoen het wanneer sy deur tye van angs oorweldig is: “Ek het dinge met my man bespreek, en ná sy simpatieke begrip kon ek sien dat die probleme nie so groot was as wat my angstige gemoedstemming dit laat lyk het nie.”
’n Sensitiewe man besef ook dat sy vrou nie altyd dieselfde pas sal kan volhou terwyl sy in haar menopouse is nie. Hy sal derhalwe daarop bedag wees om die inisiatief te neem om met gesinsverantwoordelikhede te help deur miskien die wasgoed te doen, inkopies te doen, ensovoorts. Hy sal sy vrou se behoeftes medelydend voor sy eie stel (Filippense 2:4). Hy kan moontlik voorstel dat hulle af en toe uiteet of toesien dat hulle op die een of ander manier ’n genotvolle blaaskans van die daaglikse roetine neem. Hy sal so ver moontlik onenighede vermy en haar pogings ondersteun om met gesonde eetgewoontes vol te hou.
Bowenal sal ’n man voorsien in sy vrou se behoefte aan gereelde versekering van sy volgehoue liefde vir haar. Hy moet goeie oordeel aan die dag lê en moet besef dat dit nie die tyd is om haar oor persoonlike dinge te terg nie. ’n Man wat sy vrou op ’n liefdevolle manier behandel, volg die skriftuurlike vermaning om ‘verstandig met haar saam te leef en aan haar, die vroulike geslag, eer te bewys’.—1 Petrus 3:7.
Kinders moet eweneens ’n opregte poging aanwend om die rede vir hulle ma se luimwisselings te verstaan. Hulle moet besef dat sy ’n behoefte aan private tyd het. Deur hulle ma se gemoedstemming in ag te neem, sal hulle haar opnuut daarvan verseker dat hulle werklik vir haar omgee. Om aan die ander kant oor haar onvoorspelbaarheid ’n grap te maak, sal die situasie net vererger. Vra gepaste vrae om beter te verstaan wat aangaan en help met huishoudelike pligte sonder om gevra te word. Dit is maar ’n paar maniere om steun aan ’n ma te verleen gedurende hierdie stadium in haar lewe.
Die lewe ná die menopouse
Wanneer hierdie hoofstuk in ’n vrou se lewe eindig, lê daar dikwels nog baie jare voor. Die wysheid en ondervinding wat sy opgedoen het, is van onskatbare waarde. Die skryfster Gail Sheehy se opname onder “sestigduisend volwasse Amerikaners het bevestig dat vroue in hulle vyftigerjare, volgens hulle eie waarnemings, ’n groter gevoel van tevredenheid het as wat hulle op enige vorige stadium in hulle lewe gehad het”.
Ja, baie vroue wat deur die oorgangsjare is, vind dat hulle hernieude geesdrif het. Hulle word met nuwe skeppingskrag besiel. Hulle gaan voort met die lewe deur betrokke te raak by produktiewe bedrywigheid. “Ek hou my verstand besig. Ek leer aanhoudend nuwe dinge en studeer gedurig”, het ’n vrou gesê wat deur haar menopouse is. Sy het bygevoeg: “Ek is dalk ’n bietjie stadiger, maar ek voel nie dat dit die einde van my lewe is nie. Ek sien uit na nog baie meer jare.”
Dit is merkwaardig dat Gail Sheehy, tydens haar onderhoude met vroue, gevind het dat diegene “wat groter status en eiewaarde ná die menopouse geniet, diegene is wat ’n rol vervul waarin daar hoofsaaklik waarde aan intellek, oordeelsvermoë, skeppingsvermoë of geestelike krag geheg word”. Daar is ’n menigte sulke vroue wat hulle vreugdevol daaraan wy om hulle kennis en begrip van die Bybel te verbreed, en hulle leer ander die waarde daarvan.—Psalm 68:12.
Behalwe om voort te gaan om ’n positiewe beskouing van die lewe te hê en betekenisvolle werk te doen, is dit vir vroue van verskillende ouderdomme verstandig om te onthou dat ons liefdevolle Skepper ons gevoelens ken en werklik vir ons omgee (1 Petrus 5:7). Trouens, Jehovah God het voorsiening gemaak vir almal wat hom dien om uiteindelik die lewe in ’n regverdige nuwe wêreld te geniet waar daar nie meer siekte, lyding of selfs die dood sal wees nie.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.
Daarom moet julle wat nou in julle menopouse is, onthou dat dit ’n lewensfase is. Dit sal verbygaan en daar sal jare oor wees wat baie lonend sal wees as dit nuttig in die diens van ons liefdevolle Skepper gebruik word.
[Voetnoot]
a Ontwaak! skryf nie enige bepaalde soort mediese behandeling voor nie.
[Venster op bladsy 8]
Wat van estrogeenvervangingsterapie?
Estrogeenvervanging kan beskerming bied teen hartsiekte en osteoporose, wat twee hoofoorsake van siekte by postmenopousale vroue is. Namate die estrogeenvlakke daal, begin hierdie siektes ontwikkel en word dit ná vyf of tien jaar waarneembaar. Hormoonvervangingsterapie (estrogeen en progesteroon) is al voorgeskryf om hierdie siektes te voorkom.
Estrogeenvervanging kan die beenverliestempo vertraag en die ontstaan van hartsiekte afweer. Deur progesteroon by die hormoonvervangingsbehandeling te voeg, is daar ’n kleiner moontlikheid dat bors- en baarmoederkanker sal voorkom, maar dit werk die voordelige uitwerking van estrogeen op hartsiekte teë.
Die besluit om hormoonvervangingsterapie te gebruik of nie, moet op die beoordeling van elke vrou se omstandighede, gesondheid en familiegeskiedenis gegrond wees.b
[Voetnote]
[Venster op bladsy 9]
Watter dieet is die beste?
Die volgende wenke vir menopousale vroue ten opsigte van gesonde eetgewoontes word aangehaal uit die boek Natural Menopause—The Complete Guide to a Woman’s Most Misunderstood Passage, deur Susan Perry en dr. Katherine A. O’Hanlan.
Proteïen
• Verminder jou proteïeninname na nie meer as 15 persent van jou totale kilojoule-inname nie.
• Kry meer van jou proteïen uit groentebronne en minder uit dierebronne.
Koolhidrate
• Eet meer saamgestelde koolhidrate, soos volgrane, brood en pastas, bone, neute, rys, groente en vrugte.
• Eet minder suiker en minder voedsel wat groot hoeveelhede suiker bevat.
• Eet meer veselryke voedsel.
Vette
• Verminder jou totale vetinname na nie meer as 25 tot 30 persent van jou totale kilojouleverbruik nie.
• Namate jy jou totale vetinname verminder, moet jy die verhouding van ‘goeie vette’ (poli-onversadigde) tot ‘slegte vette’ (versadigde) vermeerder.
Water
• Drink ses tot agt 250-milliliter-glase water per dag.
Vitamiene en minerale
• Eet elke dag ’n verskeidenheid groente en vrugte.
• Melk, suiwelprodukte, broccoli en groen blaargroente is goeie bronne van kalsium.
[Prente op bladsy 10]
Wat gesinslede kan doen om te help: Betoon toegeneentheid, help met die huiswerk, wees ’n aandagtige luisteraar, doen af en toe iets anders