Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 9/22 bl. 14-16
  • Estrogeenvervangingsterapie—Is dit vir jou?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Estrogeenvervangingsterapie—Is dit vir jou?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Menopouse en EVT
  • Warmgloede en ander probleme
  • Hartsiekte
  • Kanker en progesteroon
  • Is EVT vir jou?
  • ’n Beter begrip word verkry
    Ontwaak!—1995
  • Hoe om die menopouse te hanteer
    Ontwaak!—1995
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1992
  • Van Ons Lesers
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 9/22 bl. 14-16

Estrogeenvervangingsterapie—Is dit vir jou?

AS JY ’n vrou is wat verward en bekommerd is oor die neem van estrogeen ná die menopouse is jy nie die enigste een nie. Vandag verwar EVT (estrogeenvervangingsterapie) baie mense, selfs dokters. Enersyds het jy miskien gehoor dat estrogeen hartaanvalle help voorkom en die liggaam beskerm teen beenverlies, wat tot ernstige beenbreuke kan lei. Andersyds het jy miskien gehoor dat estrogeen met baarmoederkanker en moontlik selfs met borskanker gekoppel word.

Daar is dalk vir jou gesê dat die kankerrisiko uitgeskakel word as jy ’n tweede vroulike hormoon wat deur die eierstokke vervaardig word, progesteroon, of sy sintetiese ekwivalent, progestien, neem. Maar jy het moontlik ook gehoor dat progesteroon elke maand menstruele bloeding veroorsaak en dat dit die voordelige uitwerking van estrogeen op die hart kan vernietig.

Verdere verwarring word geskep omdat baie dokters sterk standpunte vir of teen EVT inneem. Een dokter skryf in die American Journal of Obstetrics and Gynecology: “Ons is nou oor die algemeen van mening dat die voordele van estrogeenvervangingsterapie die risiko’s ver oortref. Om die probleme van estrogeentekort te voorkom, moet [byna alle] vroue gedurende die perimenopousale periode ’n lewenslange kursus van estrogeenvervangingsterapie begin.”

’n Dokter in Brittanje wat al 50 jaar kankernavorsing doen, het in teenstelling hiermee gesê: “As jy met hormone inmeng, bestaan daar ’n sterk moontlikheid dat dit tot ernstige skade kan lei. Estrogeen stimuleer die weefsel om te groei, en groeiende weefsel is baie vatbaarder vir kankerverwekkende stowwe. Dit is byna onmoontlik om veilig met hormone behandel te word, en daarom moet ’n mens dit liewer vermy.”

Menopouse en EVT

Wanneer meisies hulle puberteit, op ongeveer 11, bereik, begin hulle eierstokke estrogeen vervaardig, ’n hormoon wat ’n groot rol in die ontwikkeling van vroulike eienskappe en die beheer van die menstruele siklus speel. Teen die tyd dat die menopouse aanbreek, gemiddeld 40 jaar ná puberteit, sal die vervaardiging van estrogeen in so ’n mate afgeneem het dat ovulasie en menstruasie ophou. Die eierstokke hou eindelik heeltemal op om estrogeen te vervaardig. Dit kan ’n tyd inlui wanneer ’n mens minder verantwoordelikhede het, wat die weg baan tot nuwe ondernemings en geleenthede en die tyd om nuwe dinge te leer en te doen.

Maar dit is ook ’n tyd wanneer ’n gebrek aan estrogeen kort- sowel as langtermynprobleme kan veroorsaak. Dokters het in die veertigerjare sintetiese estrogeen begin voorskryf om hierdie probleme teë te werk. Teen 1975 was daar sesmiljoen vroue wat dit geneem het. Toe kom die nuus dat estrogeengebruikers se kanse om endometriale kanker op te doen vyf keer so groot is as dié wat dit nie gebruik nie. Daar was ook sprake dat estrogeen met borskanker verband hou. Die entoesiasme oor EVT het vinnig afgeneem. Navorsers het hulle egter ingespan om die risiko’s te minimaliseer en teen die begin van die tagtigerjare het dit gelyk of die toevoeging van progestiene die kankerrisiko uitgeskakel het. EVT het toe wêreldwyd herleef.

Waaraan kan die gewildheid van EVT toegeskryf word? Die uitskakeling van warmgloede, die behoud van ’n aktiewe sekslewe en ’n laer risiko om osteoporose en hartsiekte op te doen.

Warmgloede en ander probleme

Die warmgloed, wat kenmerkend van die menopouse is, is ’n regstreekse gevolg van estrogeenverlies. ’n Tipiese warmgloed begin wanneer die vel van die hoof, nek en bors skielik rooi word. Dit gaan gepaard met intense liggaamshitte en word somtyds deur hewige sweetafskeiding gevolg. Diie meeste vroue in hulle menopouse ondervind warmgloede. Vir sommige is dit slegs ’n ligte sensasie. Vir ander is warmgloede hewig en ongerieflik, en dit het sweetdeurweekte klere en lakens, asook situasies wat ’n mens sosiaal in die verleentheid bring en slapelose nagte tot gevolg.

Nog ’n gevolg van verminderde estrogeenvervaardiging is die uitdroging en verdunning van die wande van die vagina. Dit is later moeilik, pynlik of selfs onmoontlik om geslagsomgang te hê. Sommige vroue aanvaar dat hierdie veranderinge ’n onvermydelike gevolg van die ouderdom is en dat hulle sekslewe verby is. Maar EVT kan vaginale verandering gewoonlik voorkom of vinnig regstel.

Een van die algemeenste gesondheidsprobleme waarmee ouer vroue te kampe het, is osteoporose, ’n toestand waarin die beendere poreuser, dunner en swakker word weens die verlies van kalsium en proteïen. Dit lei tot gebreekte beendere en heupfrakture. Wanneer osteoporose erg word, kan ’n vrou haar arm breek deur net ’n bakskottel uit die oond uit te haal. Sy kan selfs ’n ribbebeen breek wanneer sy nies! Almal ondervind beenverlies wanneer hulle ouer word, maar onder postmenopousale vroue word die proses deur die gebrek aan estrogeen bespoedig.a Vroue wat rook en gereeld alkoholiese drankies drink, is vatbaarder vir hierdie probleem as vroue wat nie rook of drink nie.

Osteoporose ontwikkel dikwels sonder enige waarskuwingstekens en mense weet nie dat hulle probleme het nie totdat hulle ’n been breek. Dan is dit gewoonlik te laat om die situasie reg te stel. Sal dit help as jy groot dosisse kalsium neem? Sonder estrogeen sal dit nie veel doen om die beenverlies te beperk nie. Kalsium is belangrik; dit is waarom dokters aanbeveel dat vroue dit saam met estrogeen neem. Estrogeen help die liggaam om kalsium te absorbeer.

Hartsiekte

In Europa en die Verenigde State is hartsiekte die hoofoorsaak van sterftes onder postmenopousale vroue. Verminder EVT die kanse dat vroue hartsiekte sal opdoen? Daar is sterk aanduidings dat dit wel so is. Dit lyk asof estrogeen die vlak van die sogenaamd voordelige cholesterol, HDL, in die bloedstroom laat styg en die vlak van die sogenaamd nadelige cholesterol, LDL, laat daal. Die Nurses’ Health Study het die gesondheidsverslae van 121 700 vroue van 1976 tot 1982 ondersoek. Die gegewens het getoon dat die risiko van hartsiekte in die huidige gebruikers van estrogeen 70 persent kleiner is as in dié wat dit nie gebruik nie.

Sulke bevindings getuig kragtig ten gunste van EVT, maar ons het tot dusver net die positiewe sy bespreek. Voordat jy jou na jou dokter haas en ’n voorskrif vra, moet jy die risiko’s oorweeg.

Kanker en progesteroon

Estrogeen wat op sy eie geneem word, bevorder die opbouing van selle aan die slymvlies van die baarmoeder. Kanker kan mettertyd ontwikkel. Gemiddeld 1 uit elke 1 000 postmenopousale vroue kry jaarliks endometriale kanker (baarmoederkanker). Onder dié wat estrogeen neem, skiet die getal wat endometriale kanker kry op tot van 4 tot 8 uit elke 1 000. Onder langtermyngebruikers van hoë dosisse estrogeen is die getal jaarliks 10 uit elke 1 000. Sommige dokters vermoed dat estrogeen ook met ander ginekologiese probleme verband hou.

Benewens estrogeen skryf dokters progestien voor om hierdie risiko’s teë te werk. Omdat progestien die opbouing van selle in die baarmoeder onderdruk, verminder dit die kankeragtige sowel as die niekankeragtige probleme wat met die neem van estrogeen op sy eie verband hou. In hulle boek oor estrogeen waarsku dr. Lila Nachtigall en Joan Heilman: “As jy ’n baarmoeder het, moet jy nooit ophou om progesteroon te neem nie, tensy jy ook ophou om estrogeen te neem. Dit is progesteroon wat EVT vandag so veilig maak.”

Maar die byvoeging van progestien het sy eie probleme. ’n Groot klagte is dat die kombinasie van estrogeen en progestien die menstruasie laat terugkeer. ’n Veel ernstiger probleem met progestien is dat dit die voordelige uitwerking wat estrogeen op die hart het, kan vernietig. Nog ’n faktor in die risiko/voordeelvergelyking is hoe EVT bydra tot, as dit daartoe bydra, jou kanse om borskanker te kry.

Sedert 1974 het navorsers minstens 30 studies gedoen om te sien of daar enige verband tussen EVT en borskanker is. Die studies het geen verband tussen korttermyn-EVT en borskanker getoon nie. Langtermyngebruik was anders. Studies in die Verenigde State het ’n moontlike risiko getoon van tot 50 persent as EVT 15 jaar of langer gebruik is. Europese studies het gemeen dat daar ’n selfs hoër risiko op langtermyn-EVT is. Ander streng studies het egter getoon dat daar geen verband tussen die langtermyngebruik van estrogeen en borskanker is nie.

Is EVT vir jou?

“Dit is nog nie moontlik om ’n stel eenvoudige voorskrifte oor estrogeenvervanging neer te lê nie”, sê dr. Isaac Schiff van Harvard se mediese skool. “Dit is ’n individuele besluit op grond van ’n deeglike, diepgaande en openhartige bespreking tussen dokter en pasiënt.”

Sommige verkies voorskrifvrye of natuurlike geneesmiddels as ’n alternatief vir EVT. Sommige vroue vind byvoorbeeld dat vitamien E wonders verrig om die hewigheid en veelvuldigheid van hulle warmgloede te verlig. En of jy nou EVT neem of nie, gesonde kos en gereelde oefening is beproefde bondgenote teen hartsiekte, asook osteoporose.

Natuurlik sal nóg estrogeenvervanging nóg enige ander terapie jou jonger maak of die verouderingsproses keer. Dit is dinge wat net deur God se Koninkryk bereik sal word (Mattheüs 6:10). Intussen help EVT sommige vroue om die negatiewe gevolge van die lewe ná die menopouse te vergemaklik.

[Voetnoot]

a By mans help die manlike hormoon testosteroon om beenverlies te voorkom.

[Prent op bladsy 15]

Voordat jy EVT-behandeling aanvaar, moet jy jou dokter vra wat die moontlike risiko’s is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel