Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 3/8 bl. 10-11
  • Skep God behae daarin om ons te sien ly?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Skep God behae daarin om ons te sien ly?
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Julle moet julle siele teister”
  • Skep God behae in selftoegediende pyn?
  • Die gebruik om te vas—Bring dit jou nader aan God?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Wat sê die Bybel oor die gebruik om te vas?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Is asketisme die sleutel tot wysheid?
    Ontwaak!—1997
  • Is dit ouderwets om te vas?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 3/8 bl. 10-11

Die Bybelse beskouing

Skep God behae daarin om ons te sien ly?

AL SUKKELEND onder die gewig van ’n groot houtkruis strompel ’n man deur die skare terwyl dun straaltjies bloed van ’n doringkroon op sy kop af loop. Nadat hy by die ‘teregstellingsplek’ aangekom het, word hy op die kruis uitgestrek; groot spykers word in sy hande ingeslaan. Hy krul van die pyn wanneer die spykers sy vlees deurboor. Wanneer die kruis regop geswaai word, word die pyn ondraaglik. Volgens Panorama, ’n Filippynse tydskrif, word sulke pynlike ritusse gereeld gedurende die Heilige Week-vieringe in die Filippyne uitgevoer.

Wat so pas beskryf is, is ’n hedendaagse vertolking van Jesus se lyding. Maar hierdie man vertolk nie net ’n rol in ’n toneelstuk nie. Die spykers, die bloed, die pyn—dit is alles heeltemal eg.

Elders kan Rooms-Katolieke aanbidders gesien word waar hulle hulleself in die openbaar gesel omdat hulle die lyding van Christus wil ondervind. Waarom? Party doen dit omdat hulle glo dat hulle lyding wonderwerke sal meebring, soos die genesing van hulle siek geliefdes. Ander doen dit om versoening te doen vir sondes waarvoor hulle vrees daar geen vergifnis is nie tensy hulle eie bloed vergiet word. Die boek The Filipinos verduidelik: “Pyn is ’n goeie reiniger van die verstand en siel. . . . Die sondaar is veronderstel om ná die pyn van sy sondes gereinig en van sy laste verlig te wees.”

Maar selftoegediende pyn is geensins tot die Katolieke van die Filippyne beperk nie. Mense van verskeie godsdienste en in verskillende lande glo dat jy deur selfopgelegde lyding ’n mate van verdienste by God verwerf.

Die Boeddha, Siddhārtha Gautama, het byvoorbeeld in sy soeke na die waarheid sy vrou en seun agtergelaat en na die woestyn gevlug, waar hy ses jaar soos ’n askeet gelewe het. Hy het ure lank ongemaklike en pynlike posisies ingeneem, en hy het later beweer dat hy vir lang rukke net op ’n ryskorrel per dag gelewe en só maer geword het dat hy gesê het: “My maagvel het aan my ruggraat begin kleef.” Maar géén selftoegediende marteling kon hom die insig bied waarna hy gesoek het nie.

Die Hindoe-fakirs van Indië het eweneens verskeie vorme van boetedoening ondergaan wat soms uiters straf was—om tussen vure te lê, om na die son te staar totdat hulle blind geword het, om vir lang rukke op een been of in ander ongemaklike posisies te staan. Daar is gemeen dat die deug van sekere askete so groot was dat dit ’n stad teen ’n vyandelike aanval kon beskerm.

Die Bybel praat eweneens van die aanbidders van Baäl wat hulleself, in ’n vergeefse poging om hulle god se aandag te trek, “volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe [het] tot die bloed op hulle uitgespuit het”.—1 Konings 18:28.

“Julle moet julle siele teister”

Jehovah het weliswaar sy uitverkore nasie beveel: “Julle moet julle siele teister”, maar daar word oor die algemeen verstaan dat dit na vaste verwys (Levitikus 16:31, NW). Hierdie vaste was ’n blyk van spyt en berou oor sondes of is gedoen as iemand in ellende verkeer het. Om te vas, was dus nie ’n selftoegediende vorm van straf nie, maar het getoon dat iemand hom voor God verootmoedig.—Esra 8:21.

Daar was egter party Jode wat verkeerdelik gedink het dat die blote ongemak wat met die teistering van die siel gepaardgaan verdienste gehad het en dat dit God verplig het om hulle iets in ruil daarvoor te gee. Wanneer hulle nie so ’n beloning ontvang het nie, het hulle God aanmatigend oor die vergoeding gevra wat hulle gemeen het hulle verdien: “Waarom het ons gevas en het u dit nie gesien nie, en het ons ons siel geteister en het u nie daarvan kennis geneem nie?”—Jesaja 58:3, NW.

Maar hulle was verkeerd. Gepaste godsdiensvaste het nie asketisme beteken nie, naamlik om die liggaam met honger te teister asof liggaamlike pyn of ongemak op sigself enige verdienste ingehou het. Sterk emosie kon hulle honger laat kwyn het. Wanneer die verstand deur dringende probleme geknel word, smag die liggaam soms nie na kos nie. Dit is vir God ’n aanduiding van die intense gevoelens van die een wat vas.

Skep God behae in selftoegediende pyn?

Put die liefdevolle Skepper vreugde daaruit om te sien hoe mense hulleself martel? Hoewel Christene weliswaar soms gedwing word om “deelgenote in die lyding van die Christus” te word, beteken dit nie dat hulle moeilikheid soek of ’n martelaar wil wees nie.—1 Petrus 4:13.

Jesus was beslis glad nie ’n askeet nie. Die godsdiensleiers het gekla dat sy dissipels nie gevas het nie, en hulle het hom selfs daarvan beskuldig dat hy “’n mens [is] wat vraatsugtig en aan wyn verslaaf is” (Matteus 9:14; 11:19). Jesus het in alles matigheid aan die dag gelê en het nie meer van homself of van ander vereis as wat redelik was nie.—Markus 6:31; Johannes 4:6.

Ons vind nêrens in die Skrif enige grondslag vir asketisme nie, asof ons God se guns sal verkry as ons ons die noodsaaklikhede of selfs die geriewe van die lewe ontsê. Let op die apostel Paulus se woorde aangaande sulke pynlike gebruike: “Juis dié dinge het wel ’n skyn van wysheid in ’n selfopgelegde vorm van aanbidding en skynnederigheid, ’n streng behandeling van die liggaam; maar hulle het geen waarde in die bestryding van die bevrediging van die vlees nie.”—Kolossense 2:23.

Toe Martin Luther ’n monnik was, het hy homself letterlik gemartel. Hy het egter later sulke gebruike verwerp en gesê dat dit die gedagte bevorder dat daar twee weë is wat na God lei, ’n hoër en ’n laer weg, terwyl die Skrif net een weg na redding verkondig—deur geloof in Jesus Christus en sy Vader, Jehovah, te beoefen (Johannes 17:3). Pynlike ritusse is daarenteen deur party as ’n vorm van selfredding beskou.

Die boek Church History in Plain Language sê oor asketisme: “Ondersteuning van die hele poging was ’n verkeerde beskouing van die mens. Die siel, het die monnik gesê, is aan die vlees vasgeketting soos ’n gevangene aan ’n lyk. Dit is nie die Bybelse beskouing van menselewe nie.” Ja, die blote gedagte dat selftoegediende pyn God kan behaag, is teenstrydig met die Skrif. Die grondslag daarvan word gevind in die gnostiese dwaalbegrip dat alles wat met die vlees verband hou boos is en so dikwels moontlik mishandel moet word sodat ’n mens redding kan verkry.

Aangesien Jehovah wil hê dat ons gelukkig moet wees, beteken diens aan so ’n wonderlike God nie dat ons askete moet word nie (Prediker 7:16). Daar word dus nêrens in die Skrif vir ons gesê dat sulke selfopgelegde lyding die weg na redding is nie. Inteendeel, God se Woord stel dit duidelik dat dit die bloed van Christus is, tesame met ons geloof daarin, wat ons van alle sondes reinig.—Romeine 5:1; 1 Johannes 1:7.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel