Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 11/15 bl. 3-4
  • Is dit ouderwets om te vas?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit ouderwets om te vas?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Instrument en ’n ritueel
  • Die gebruik om te vas—Bring dit jou nader aan God?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Wat sê die Bybel oor die gebruik om te vas?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Vereis God dat ons vas?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • ’n Vraag oor die vas
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 11/15 bl. 3-4

Is dit ouderwets om te vas?

“VAN my tienerjare af vas ek elke Maandag”, sê Mrudulaben, ’n welvarende 78-jarige Indiese vrou. Dit is deel van haar aanbidding, ’n manier waarop sy verseker het dat sy ’n gelukkige huwelik en gesonde kinders sou hê, asook dat haar man beskerming geniet. Nou is sy ’n weduwee, en sy vas nog steeds op Maandae vir goeie gesondheid en vir haar kinders se welvaart. Soos sy, maak die meeste Hindoevroue dit deel van hulle lewe om gereeld te vas.

Prakasj, ’n middeljarige sakeman wat in ’n voorstad van Mumbai (Bombaai), Indië, woon, sê dat hy elke jaar op die Maandae van Sawan (Sjravan) vas. Op die Hindoekalender is dit ’n maand met spesiale godsdienstige betekenis. Prakasj verduidelik: “Ek het dit om godsdienstige redes begin doen, maar nou vind ek dat my gesondheid ’n bykomende dryfveer is om daarmee voort te gaan. Aangesien Sawan teen die einde van die moeson kom, gee dit my liggaam ’n kans om homself te reinig van siektes wat eie aan die reënseisoen is.”

Sommige meen dat vas jou liggaamlik, verstandelik en geestelik help. Die Grolier International Encyclopedia sê byvoorbeeld: “Onlangse wetenskaplike navorsing dui daarop dat vas heilsaam kan wees en, wanneer dit versigtig gedoen word, verhoogde vlakke van bewustheid en gevoeligheid kan meebring.” Daar word gesê dat die Griekse filosoof Plato gewoonlik tien dae of langer gevas het en dat die wiskundige Pythagoras sy studente laat vas het voordat hy hulle geleer het.

Vir party beteken vas algehele onthouding van kos en water vir ’n vasgestelde tydperk, terwyl ander vloeistowwe inneem wanneer hulle vas. Baie beskou dit as vas wanneer hulle sekere maaltye oorslaan of hulle hulle van ’n sekere kossoort onthou. Maar om lank en sonder toesig te vas, kan gevaarlik wees. Die joernalis Parul Sheth sê dat die liggaam, nadat dit sy voorraad koolhidrate opgebruik het, spierproteïene in glukose omskep en dan die liggaamsvet begin gebruik. Wanneer vet in glukose verander word, word gifstowwe vrygestel wat ketoonliggaampies genoem word. Namate dit opbou, beweeg dit na die brein waar dit die sentrale senustelsel beskadig. “Dit is wanneer vas gevaarlik word”, sê Sheth. “’n Mens kan verward, gedisoriënteer en erger word. . . . [Dit kan] ’n koma en uiteindelik die dood [veroorsaak].”

’n Instrument en ’n ritueel

Vas is al as ’n kragtige instrument vir politieke of maatskaplike doeleindes gebruik. Iemand wat hierdie wapen dikwels gebruik het, was Mohandas K. Gandhi in Indië. Aangesien honderdmiljoene mense hoë agting vir hom gehad het, het hy vas gebruik om ’n kragtige invloed op Indië se Hindoemassa uit te oefen. In ’n beskrywing van die resultaat van sy vas om ’n nywerheidsgeskil tussen meulwerkers en meuleienaars te besleg, het Gandhi gesê: “Die eindresultaat was dat ’n atmosfeer van welwillendheid onder almal geskep is. Die harte van die meuleienaars is geraak . . . Die staking is opgehef nadat ek net drie dae gevas het.” Suid-Afrika se president, Nelson Mandela, het gedurende sy jare as ’n politieke gevangene aan ’n vyf dae lange eetstaking deelgeneem.

Maar die meeste mense wat ’n gewoonte daarvan gemaak het om te vas, doen dit om godsdienstige redes. Vas is ’n vername ritueel in Hindoeïsme. Op sekere dae, sê die boek Fast and Festivals of India, “word ’n algehele vas gehou . . . , nie eers water word gedrink nie. Mans sowel as vrouens kom die vas streng na . . . om geluk, welvaart en vergifnis van oortredings en sondes te verseker.”

Vas word algemeen in die Djaina-godsdiens beoefen. The Sunday Times of India Review sê: “’n Djaina-muni [wysgeer] in Bombaai [Mumbai] het slegs twee glase kookwater per dag gedrink—201 dae lank. Hy het 33 kg verloor.” Party vas selfs totdat hulle van honger omkom en is oortuig daarvan dat dit redding sal meebring.

Vir volwassenes wat Islam beoefen, is dit oor die algemeen verpligtend om gedurende die maand Ramadan te vas. Vir die hele maand mag geen kos of water van sonop tot sononder ingeneem word nie. Enigiemand wat gedurende hierdie tyd siek of op reis is, moet die dae van die vas later hou. Die Groot Vas, die tydperk van 40 dae voor Paasfees, is ’n tyd waarin party in die Christendom vas, en talle godsdiensordes hou vaste op ander vasgestelde dae.

Vas het beslis nie uitgesterf nie. En aangesien dit deur soveel godsdienste beoefen word, kan ons vra: Vereis God dat ons vas? Is daar geleenthede wanneer Christene kan besluit om te vas? Kan dit voordelig wees? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Prent op bladsy 3]

Die Djaina-godsdiens beskou vas as ’n manier om die redding van die siel te bewerkstellig

[Prent op bladsy 4]

Mohandas K. Gandhi het vas as ’n kragtige instrument vir politieke of maatskaplike doeleindes gebruik

[Prent op bladsy 4]

In Islam is dit verpligtend om gedurende die maand Ramadan te vas

[Erkenning]

Garo Nalbandian

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel