Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 10/8 bl. 20-21
  • Is asketisme die sleutel tot wysheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is asketisme die sleutel tot wysheid?
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gegrond op valse veronderstellings
  • Asketisme onnodig
  • Skep God behae daarin om ons te sien ly?
    Ontwaak!—1995
  • Jy kan in ’n paradys op aarde glo
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Watter soort liefde maak ons werklik gelukkig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • ’n Beter hoop vir die siel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 10/8 bl. 20-21

Die Bybelse beskouing

Is asketisme die sleutel tot wysheid?

“KLUISENAARS het ysterboeie, kettings, gordels met skerp hakies en krae met skerp punte aangehad . . . Ander het in dorings en brandnetels gerol, hulle opsetlik deur insekte laat byt, hulleself met vuur gebrand en hulle beserings geïrriteer tot dit chroniese swere geword het. Hongerdiëte was algemeen, maar sommige het daarop verbeter deur slegs vrot en andersins walglike kos te eet.”—The Saints, deur Edith Simon.

Hierdie mense was askete. Waarom het hulle sulke verskriklike dinge aan hulleself gedoen? In die boek For the Sake of the World—The Spirit of Buddhist and Christian Monasticism verduidelik die skrywers dat “dit ten minste sedert die tyd van Sokrates (vyfde eeu v.G.J.) algemeen aanvaar is dat ’n lewe met net die allernodigste, wat vry is van sinlike genietinge en materiële luukshede, ’n voorvereiste vir ware wysheid is”. Askete het gemeen dat die kastyding van die liggaam hulle geestelike gevoeligheid sou verskerp en tot ware verligting sou lei.

Dit is moeilik om asketisme presies te definieer. Vir sommige beteken dit bloot selfdissipline of selfverloëning. Die vroeë Christene het waarde geheg aan sulke deugde (Galasiërs 5:22, 23; Kolossense 3:5). Jesus Christus self het ’n eenvoudige lewe aanbeveel wat vry is van die sorge wat ’n materialistiese lewenswyse kan meebring (Matteus 6:19-33). Maar asketisme word meer dikwels geassosieer met baie strenger en dikwels uiterste maatreëls, soos dié wat hierbo beskryf is. Is hierdie asketiese gebruike, veral in hulle erger vorme, werklik die sleutel tot wysheid?

Gegrond op valse veronderstellings

Een van die filosofieë wat tot asketisme aanleiding gegee het, is die idee dat materiële dinge en fisiese genietinge inherent sleg is en gevolglik geestelike vooruitgang belemmer. Nog ’n idee wat tot asketisme lei, is die algemeen aanvaarde opvatting dat ’n mens uit ’n liggaam en siel bestaan. Askete glo dat die fisiese liggaam die siel se gevangenis is en dat die vlees die vyand daarvan is.

Wat sê die Bybel? Nadat God die aarde geskep het, sê die Skrif, het hy verklaar dat alles wat hy gemaak het—al sy fisiese, stoflike skeppingswerke—“baie goed” is (Genesis 1:31). Dit was God se voorneme dat die man en vrou in die tuin van Eden stoflike, oftewel materiële, dinge geniet. Selfs die naam Eden beteken “plesier” of “genot” (Genesis 2:8, 9). Adam en Eva was volmaak en het ’n goeie verhouding met hulle Skepper geniet totdat hulle gesondig het. Van toe af het onvolmaaktheid ’n skeidsmuur tussen God en die mens geword. Maar om geoorloofde menslike begeertes te bevredig of plesier te vind in godgegewe fisiese genietinge wat in ooreenstemming met God se sedewette gedoen word, kan nooit kommunikasie tussen God en sy aanbidders verhinder nie!—Psalm 145:16.

Daarbenewens toon die Bybel duidelik dat die mens, wat uit die stof geskep en van vlees gemaak is, ’n siel is. Die Skrif steun nóg die gedagte dat die siel die een of ander onstoflike en onsterflike entiteit is wat in die fisiese liggaam vasgevang is, nóg die idee dat die vlees op die een of ander manier ’n mens verhinder om ’n hegte verhouding met God te geniet.—Genesis 2:7.

Dit is duidelik dat die konsep van asketisme ’n verwronge beeld van die mens se verhouding met God skep. Die apostel Paulus het gewaarsku dat sommige verklaarde Christene misleidende mensefilosofieë bo basiese Bybelwaarhede sou verkies (1 Timoteus 4:1-5). Aangaande party wat hierdie opinie gehuldig het, sê ’n godsdiensgeskiedkundige: “Die opvatting dat materie boos is . . . en dat die mens se siel bevry moet word van verstrengeling met materie, het tot ’n streng asketisme aanleiding gegee wat die eet van vleis, geslagsomgang, ensovoorts verbied het en slegs gevolg kon word deur die elite, die ‘volmaaktes’ of perfecti, wat spesiale inwyding ondergaan het.” Hierdie denkwyse het geen Bybelse steun nie en was nie wat vroeë Christene geglo het nie.—Spreuke 5:15-19; 1 Korintiërs 7:4, 5; Hebreërs 13:4.

Asketisme onnodig

Jesus en sy dissipels was nie askete nie. Hulle het verskeie beproewinge en verdrukkings verduur, maar hierdie verdrukkings was nooit selftoegediend nie. Die apostel Paulus het Christene gewaarsku om versigtig te wees dat misleidende mensefilosofieë hulle nie weg van die waarheid van God se Woord lei en hulle onredelike, uiterste gebruike laat beoefen nie. Paulus het spesifiek melding gemaak van “’n streng behandeling van die liggaam”. Hy het gesê: “Juis dié dinge het wel ’n skyn van wysheid in ’n selfopgelegde vorm van aanbidding en skynnederigheid, ’n streng behandeling van die liggaam; maar hulle het geen waarde in die bestryding van die bevrediging van die vlees nie” (Kolossense 2:8, 23). Asketisme lei nie tot spesiale heiligheid of ware verligting nie.

Die weg van Christelike gehoorsaamheid impliseer weliswaar kragtige inspanning en selfdissipline (Lukas 13:24; 1 Korintiërs 9:27). ’n Mens moet hard werk om die kennis van God te verkry (Spreuke 2:1-6). Die Bybel gee die streng vermaning dat ons nie verslaaf moet wees aan “begeertes en genietinge” nie en nie “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” moet wees nie (Titus 3:3; 2 Timoteus 3:4, 5). Maar hierdie Bybelverse steun nie die beoefening van asketisme nie. Jesus Christus, ’n volmaakte mens, het gesellighede geniet wat kos, drank, musiek en dans ingesluit het.—Lukas 5:29; Johannes 2:1-10.

Ware wysheid is redelik, nie geneig tot uiterstes nie (Jakobus 3:17). Jehovah God het ons fisiese liggaam met die vermoë geskep om genot te put uit baie genietinge in die lewe. Hy wil hê dat ons gelukkig moet wees. Sy Woord sê vir ons: “So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God.”—Prediker 3:12, 13.

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Saint Jerome in the Cavern/The Complete Woodcuts of Albrecht Dürer/Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel