Australië se lawaaierige, lastige papegaaie
’N TOEVALLIGE besoeker aan Australië sal nie kwalik geneem word as hy dink dat ’n swerm uitheemse tropiese voëls uit die plaaslike dieretuin of uit ’n groot voëlhok ontsnap het nie. Voëls wat in ander lande net in ’n kou gevind sal word, vlieg hier in die tuin rond. Dit is veral waar van die Australiese papegaai—en dit beteken ’n veelsoortige familie van veelkleurige, lawaaierige voëls.
Daar is omtrent 330 papegaaispesies, en hulle word op al die vernaamste landmassas suid van 20 grade noorderbreedte gevind, behalwe op Antarktika. Hoewel nie alle spesies in Australië aangetref word nie, is daar genoeg in daardie land dat jy hulle nie kan miskyk nie! Onder die papegaaifamilie is budjies (wat party as parkiete ken), kaketoes en die nektarspesialiste, die lori’s. In Australië lyk dit soms asof hierdie kleurvolle voëls oral is.
Dit was beslis ons indruk toe ons Nieu-Suid-Wallis besoek het. Soms was daar tientalle budjies wat op die grasperk kos gesoek het, veral vroegoggend en laatmiddag. Op besige strate het ons die pienk en grys galakaketoes gesien, wat ook as die pienkkaketoe bekend staan. Hulle lawaaierige geskreeu is glad nie musikaal nie. Hulle is van die papegaaie wat die meeste in Australië gesien word, en groot swerms vestig hulle in dorpe en stede. Hulle sit op telefoon- en kraglyne en het al kommunikasieonderbrekings in die agterveld veroorsaak. Die mannetjies en wyfies vorm ’n lewenslange paar en verdedig dapper hulle neste in boomholtes teen indringers. Ongelukkig “het hulle so talryk geword dat hulle as ’n landbouplaag beskou word”.—The Cambridge Encyclopedia of Ornithology.
By ’n openbare park het karmosynrosellas uit ons hande geëet. Heeltemal onbevrees vir al die toeriste het hulle beslis geweet waar om iets te ete te kry. Dit was soos ’n paradys om sulke mak voëls oral om ons te hê.
Ons grootste verrassing was seker toe groot geelkuifkaketoes bo ons verbygevlieg het. Weens hulle kenmerkende geel kuif is hulle naam ’n raak beskrywing. The Illustrated Encyclopedia of Birds verduidelik: “Terwyl die swerm op die grond kos soek, hou ’n paar voëls in nabygeleë bome wag en waarsku teen gevaar met harde, hees skreeustemme.” Jy weet gou as daar ’n kaketoe in jou buurt is!
Wat maak papegaaie so besonder? Eeue lank waardeer die mens al hulle vermoë om die menslike stem na te maak. Maar maak hulle ook ander voëls na? Die Cambridge-ensiklopedie wat hierbo aangehaal is, sê: “Hoewel swerms wilde papegaaie lawaaierig is, is dit nie bekend dat hulle ander spesies namaak nie, en daarom is dit nie duidelik waarom papegaaie die vermoë het om te ‘praat’ nie.” Wat voëlnamakers betref, is die Noord-Amerikaanse spotvoël steeds die kampioen.
Voëls word byna oral in die wêreld aangetref—maar sien jy hulle raak? Hou jy hulle dop? Ken jy die voëls wat jou woonbuurt dikwels besoek? Kan jy hulle verskillende kleure, hulle geroep en hulle gesing onderskei? Het jy al hulle verskillende vliegpatrone waargeneem? Dit alles kan ’n boeiende studie wees.
Met meer as 9 300 voëlspesies om te bestudeer, om nie eens te praat van al die ander wonders om ons nie, kan niemand werklik sê dat ewige lewe vervelig sal wees nie. Daar is soveel om te leer, so baie redes om die Skepper te loof! Hoe dankbaar kan ons tog wees dat God dit goedgedink het om die “gevleuelde voëls” by sy skeppingswerke in te sluit.—Genesis 1:20-23; Job 39:29, 30; Openbaring 4:11.
[Prente op bladsy 15]
Galakaketoe en (bo) rosella
[Erkenning]
By courtesy of Australian International Public Affairs
[Prent op bladsy 16]
Geelkuifkaketoe
[Erkenning]
By courtesy of Australian International Public Affairs