Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 3/22 bl. 24-26
  • Afrika se verbasende “boom van die lewe”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Afrika se verbasende “boom van die lewe”
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die onderstebo boom
  • Die “boom van die lewe”
  • “Kremetartboom”
  • Die baobab-apteek
  • Lekkers vir die kinders
  • “Die onderstebo boom”
    Ontwaak!—1990
  • Is dit werklik ’n boom?
    Ontwaak!—2008
  • Kan ’n afgekapte boom weer uitspruit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • ’n Boom wat jou in jou spore sal laat vassteek
    Ontwaak!—2001
Ontwaak!—1995
g95 3/22 bl. 24-26

Afrika se verbasende “boom van die lewe”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN TANZANIË

“EK GLO nie so iets is al ooit in enige deel van die wêreld gesien nie.” Wat was dit wat die Fransman Michel Adanson gesien het toe hy Senegal in 1749 besoek het? Dit was ’n boom! Dit is ongeveer 20 meter hoog, met ’n geweldige wye stam, 8 meter in deursnee. David Livingstone het later na die boom verwys as ’n “wortel wat onderstebo geplant is”.

Volgens ’n legende “het die duiwel [die boom] uitgepluk, sy takke in die grond gedruk en sy wortels in die lug laat staan”. Daarom ken baie die boom as “die onderstebo boom”. In Latyn word dit Adansonia digitata genoem, wat na die ontdekker daarvan vernoem is, maar die meeste van ons noem dit die baobab, een van die bekendste bome in oostelike Afrika, hoewel hoër naverwante daarvan in Madagaskar en sommige selfs in Australië aangetref kan word.

Die onderstebo boom

Ons het ure lank deur die Tanzaniese platteland gery. Dit was ’n plesier om die skilderagtige dorpies daar te sien, asook wonings met strooidakke, vroue wat vuurmaakhout op hulle kop dra, kinders wat onder mangobome speel en etlike veewagters wat hulle vee oppas. Ons sien uiteindelik wat Michel Adanson destyds in die 18de eeu gesien het.

“Daar is hulle!” skreeu Margit. Die baobab, massief en majestueus, verskyn hier en daar in die droër dele van tropiese Afrika. Dit is inheems aan die savanne, langs die kus en selfs teen die hange van die berg Kilimandjaro. “Dit lyk nie soos enige ander boom wat ek tot nog toe gesien het nie”, voeg een van ons metgeselle by. Die baobab, wat gryserig en enorm is, is ’n plant waarvan die bas van vyf tot tien sentimeter dik is. “Dit lyk regtig soos ’n boom wat onderstebo geplant is!” Die grootste gedeelte van die jaar, gedurende die ses tot sewe maande van die droë seisoen, het die boom hoegenaamd geen blare nie. Hoe oorleef die boom dit? Waarom vra ons nie iemand wat moontlik sal weet nie.

Terwyl ons deur die baobabstreek ry, kom ons uiteindelik uit by Shem, ’n boorling, met wie ons kan gesels. “Jy sien”, sê die man, “dit is ’n bottelboom.” ’n Bottelboom? “Ja, gedurende die kort reënseisoen suig die sponserige vesels van die boom ’n groot hoeveelheid water op, wat in die stam geberg word vir die droë seisoen.” Die publikasie Baobab—Adansonia Digitata sê: “Die toppunt van die stam is gewoonlik uitgehol, reënwater en dou versamel hier en dit is dalk die enigste water wat vir [kilometers] in die omtrek beskikbaar is. . . . Die stam het ’n hoë waterinhoud. Daar word geskat dat ’n boom van ongeveer 200 kubieke meter tot 140 000 liter water sal bevat. . . . Hanteerbare stukke van die stam kan ook uitgesny word en water kan daaruit gepers word om te drink.” Shem sê skertsend: “Dit is ’n groot boom, maar hy het ’n sagte hart.” Teen hierdie tyd het daar nog van die dorpie se bewoners nader gekom, en hulle luister gretig na die gesprek. “Het julle geweet dat die baobab die boom van die lewe is?” vra Emmanuel.

Die “boom van die lewe”

Die boom is vir baie boorlinge ’n gawe van God. Waarom? “Eerstens, dit kan baie lank lewe. Miskien duisend jaar of selfs langer”, sê ’n bewoner van die dorpie verder. “Dit voorsien ons van voedsel, water, klere, dakmateriaal, gom, medisyne, beskutting, halssnoere en selfs lekkers vir die kinders.” Wat van vuurmaakhout? “Nee, die bas is te vogtig weens die water wat daarin geberg word. Ons soek gewoonlik na ander bome daarvoor.” Jong Daniël sê: “Maar ons gebruik die bas om ons lyn en tou te maak.” Daarbenewens word dit gebruik om nette, matte, lappe, hoede, kano’s, skinkborde, dose, mandjies en papier te maak. Die as van die bas kan as bemesting gebruik word, en baie maak seep daarvan. “Die nuwe lote en blare word geëet”, voeg een van die jong ma’s by wat ’n baba op haar rug dra. “Ons rooster ook die sade en gebruik dit vir koffie. Saadpulp word gebruik om bier mee te maak, en olie kan ook daaruit geëkstraheer word.”

Gedurende die kort reënseisoen bring die boom pragtige wit blomme voort. Maar hulle ruik nie so goed soos hulle lyk nie! In die laat namiddag tot kort ná sonsondergang begin hulle oopgaan en teen die volgende oggend is hulle heeltemal oop. Gedurende die nag lok hulle die vrugtevlermuise om die blomme te bestuif. Die boorlinge meng die blomstuifmeel met water en gebruik dit as gom. Die lang vrugte (van 40 sentimeter) hang aan stingels ondertoe. Ons raak aan die groenerige vrugte, en dit voel soos fluweel. Dit lyk soos ’n aapstert. “Aha, dit is waarom die boom ook die apebroodboom genoem word!” Sal ons die vrug afsny en binne-in kyk? Waarom nie!

“Kremetartboom”

Die vrug het ’n wit, suur pulp rondom die saad wat baie ryk is aan vitamien C, vitamien B1 en kalsium. Wanneer ’n mens bak, kan dit as ’n plaasvervanger vir kremetart gebruik word. Dit is ook waarom sommige dit die kremetartboom noem. Shem sê: “Ons maak soms drankies van die pulp. Dit smaak soos suurlemoen.” Dit is waarom ander mense dit die suurlemoenboom noem. Waarvoor word dit nog gebruik?

Shem antwoord: “Ons gebruik byna al die dele van die boom. Ons gebruik die dop van die vrug as ’n hengelvlotter, ’n skepding vir water en ’n sopbakkie, en ons gebruik dit ook om ’n goeie rotteval mee te maak. Wanneer ons vee deur insekte gepla word, brand ons eenvoudig die vrugtepulp en die rook dien as ’n insekweerder. Soms meng ons die pulppoeier met melk en kry ons ’n uitstekende joghurt.” Wat van medisyne? “Die boom is natuurlik ons apteek”, lag Shem.

Die baobab-apteek

Waarvoor gebruik julle dit? “Vir alles!” Omdat dit soveel gebruike het, is dit geen wonder dat baie inwoners die boom respekteer, vrees, ja, selfs aanbid nie. Ons verneem dat sogende moeders die poeierige pulp met melk meng en dit vir hulle babas gee om te verhoed dat die kleintjies opgeswelde magies, disenterie en koors kry. “Medisyne” van die boom word op plaaslike markte verkoop, en daar word beweer dat dit ontsteking, tandpyn en ander kwale genees. Dit word plaaslik gebruik om bloedarmoede, diarree, griep, asma, nierprobleme, asemhalingsprobleme en selfs gewasse te behandel.

Hierdie buitengewone boom is vanselfsprekend omring van mites en legendes. Sommige meen dat “die plaas waarop [die baobab] staan nie verkoop mag word nie, aangesien die teenwoordigheid daarvan glo ’n goeie voorteken is. . . . Nog ’n verhaal beweer dat ’n leeu enigiemand sal verslind wat vermetel genoeg is om ’n blom van die boom te pluk. Hierdie blomme word glo deur geeste bewoon. Daar word ook beweer dat die water waarin die boom se saad geweek en geroer is as beskerming dien teen aanvalle van krokodille, en dat die een wat die aftreksel van die bas drink groot en sterk sal word.”—Baobab—Adansonia Digitata.

Lekkers vir die kinders

Ons het baie nuwe dinge van die boorlinge in die baobabstreek geleer. Nou sien ons Navina, Suma en Kevin in Dar es Salaam. Raai wat eet en suig hulle? Baobabsaad! Die rooi saad word as lekkers langs die pad verkoop, en dit lyk of hierdie kinders baie daarvan hou. “Is dit suur?” “’n Bietjie, maar ons hou daarvan!” sê die kinders gelyk. “Neem gerus hiervan! Proe!” Ja, waarom nie iets proe van Afrika se “boom van die lewe” nie?

[Prent op bladsy 24]

Die baobab, ’n boom met baie gebruike

[Prent op bladsy 24]

Saad, wat as lekkers gebruik en vir koffie gerooster word

[Prent op bladsy 25]

Dit het groot blomme

[Prent op bladsy 25]

Blaarloos gedurende die droë seisoen

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel