“Gaan na die mier”
“ONGEWONE MIERE”—daardie vreemde opskrif het ’n paar jaar gelede in ’n koerantberig oor ’n snelbou-Koninkryksaal van Jehovah se Getuies verskyn. Wat het tot die opskrif aanleiding gegee? Dit is nie moeilik om te verstaan as jy na ’n lugfoto van so ’n bouterrein kyk nie. ’n Ondertitel in dieselfde koerantberig het verduidelik: “Vyfhonderd Getuies van Jehovah op ’n bouterrein—’n surrealistiese miershoop.”
Die vergelyking is gepas, moontlik nog meer as wat die verslaggewer besef het. Van so hoog af kan ’n paar honderd mense wat op ’n bouterrein woelig is weliswaar soos miere op ’n miershoop lyk. Maar in hierdie geval is dit nie net ’n oppervlakkige ooreenkoms nie. Waarom nie? Jehovah se Getuies neem die Bybel se raad in Spreuke 6:6 ernstig op, waar dit sê: “Gaan na die mier, . . . kyk na sy weë en word wys!” Hoe word ’n mens wys deur miere dop te hou?
Miere kry baie gedoen, om maar een ding te noem. Die Bybelensiklopedie Insight on the Scriptures sê: “Dit is nie net hulle instinktiewe voorbereiding vir die toekoms wat merkwaardig is nie, maar ook hulle deursettingsvermoë en vasberadenheid, aangesien hulle dikwels voorwerpe wat twee keer so swaar soos hulle is, dra of met groot moeite bly sleep, terwyl hulle alles moontlik doen om hulle spesifieke taak te vervul en weier om die aftog te blaas al val, gly of rol hulle teen ’n steilte af.”a
Hoewel Jehovah se Getuies nie boumateriaal rondsleep wat twee keer so swaar soos hulle is nie, verbaas hulle eweneens hulle bure dikwels met hoeveel hulle in ’n betreklike kort tyd op hulle bouprojekte verrig. Dit is nie ongewoon om te sien hoe hulle Koninkryksale soos paddastoele opskiet en in die loop van net twee of drie dae voltooi word nie!
Hoe kry hulle dit alles gedoen? Deur die mier in nog ’n belangrike opsig na te volg. Insight on the Scriptures sê van miere: “Met merkwaardige samewerking hou hulle hulle neste baie skoon en toon hulle besorgdheid oor hulle medewerkers en help hulle soms beseerde of uitgeputte miere terug nes toe.” Die bogenoemde verslaggewer was blykbaar beïndruk deur ’n soortgelyke gees van samewerking onder die Getuies en het vertel van “’n geweldige poging wat met ’n glimlag in ’n ontspanne stemming uitgevoer is deur ongeveer 80 vakmanne uit elke vertakking van die boubedryf en wat deur 400 vrywilligers ondersteun is”.
Nietemin is al die harde werk en samewerking van Jehovah se Getuies om hulle Koninkryksale te bou net ’n voorsmaak van wat in die daaropvolgende jare in die sale plaasvind. Daar hou hulle aan om hulle in te span en met mekaar saam te werk in die organisering van hulle onderrigtings- en predikingswerk en die aanbieding van vergaderinge wat opbouend en opvoedkundig is. Selfs belangriker, hulle streef daarna om dieselfde soort liefdevolle besorgdheid oor mekaar te toon as wat Jesus oor sy volgelinge getoon het toe hy op die aarde was.—Johannes 13:34, 35.
As jy al ooit ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gesien het en gewonder het wat daarbinne aangaan, nooi ons jou hartlik uit om self te kom kyk. Ons kan jou vol vertroue daarvan verseker dat jy ’n hartlike verwelkoming en ’n leersame besoek sal geniet.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 31]
’n Snelbou-Koninkryksaal in Aurillac, Frankryk
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Line drawings: Pharaoh’s ant. Lydekker