Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 5/11 bl. 10-11
  • Heuningmiere—’n Woestynlekkerny

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Heuningmiere—’n Woestynlekkerny
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lewende “heuningpotte”
  • “Gaan na die mier”
    Ontwaak!—1990
  • Heuning—Die by se gawe aan die mens
    Ontwaak!—2005
  • Soldate aan die opmars!
    Ontwaak!—2003
  • Hoe vermy miere verkeersknope?
    Is dit ontwerp?
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 5/11 bl. 10-11

Heuningmiere—’n Woestynlekkerny

YUMINIYA, ons Aborigine-vriendin, wil een van haar woestyngeheime met ons deel. Terwyl sy ons in die dorre ruigtes noord van Alice Springs in Sentraal-Australië inlei, kyk sy met aandag na die sanderige grond. Daar, onder die mulga-bome, ’n akasiaspesie, sien sy die klein diertjies wat ons na ’n soete beloning sal lei. Hulle is heuningmiere.

Sy grawe met groot ywer en volg die miertonnels tot diep in die sanderige grond. Kort voor lank is die gat dieper as ’n meter en wyd genoeg om in te sit. “’n Mens kan enige tyd van die jaar na heuningmiere soek, maar die winter is die beste tyd, want in die somer kry jy te warm”, sê sy vanuit die gat. Ons kyk toe terwyl sy die ontblote tonnels met ’n kennersoog bestudeer. “Jy moet weet watter tonnel om te volg”, verduidelik sy.

Yuminiya vind gou die nes. Binne-in is daar ten minste 20 heuningmiere waarvan die uitgeswelde agterlywe, wat so groot soos druiwekorrels is, vol van ’n goudkleurige vloeistof is. Die klein insekte hang van die grondplafon af, en omdat hulle so vol is, kan hulle nie beweeg nie. Binne minute versamel Yuminiya meer as honderd miere uit etlike kamers. “Hierdie miere se heuning is een van die soetste kossoorte wat ons in die bos kry”, sê sy.

Lewende “heuningpotte”

Heuningmiere is een van die ongewoonste miersoorte onder die meer as 10 000 bekende miersoorte. Anders as bye, wat heuning in heuningkoeke opberg, berg heuningmiere nektar op in die lewende liggame van werkermiere wat “heuningpotte” genoem word. Wanneer voedsel skaars is, verkry die mierkolonie heuning uit hierdie lewende “heuningpotte”.

’n Mier gebruik sy voelers om die regte kode op die voelers van ’n “heuningpot” te tik as hy voedsel wil berg of verkry. Die “heuningpot” maak dan sy mond oop sodat die heuning afgetap kan word. ’n Spesiale maagklep, wat uit vier flappe bestaan, beheer die in- of uitvloei. Gedurende sy lewensduur van etlike maande kan ’n “heuningpot” blykbaar ’n hele paar keer leeggetap en hervul word.

“Heuningpotte” lei gewoonlik ’n onaktiewe maar veilige lewe ondergronds, waar hulle teen droogte, hitte en roofinsekte beskerm is. In hierdie donker ondergrondse wêreld beskerm hulle hulle teen bakterieë en swamme deur hulle liggame te smeer met ’n antibiotiese vloeistof wat deur ’n spesiale klier afgeskei word.

Waar kom die “heuning” vandaan? Die “voedselketting” begin by die sap en nektar van akasiabome. Klein insekte wat plantluise genoem word, eet hierdie natuurlike sappe. Dan melk werkermiere die plantluise van hulle oortollige suiker, wat heuningdou genoem word, of hulle samel nektar direk van die bome in. Uiteindelik voer die werkermiere hierdie ingesamelde vloeistof vir die “heuningpotte”. Aangesien die onaktiewe “heuningpotte” nie veel voedsel nodig het nie, beland die meeste van die heuningdou in die “heuningbank”!

Maar wat van die plantluise? Is hulle die verloorders in die vennootskap? Glad nie. Die miere los vir hulle genoeg nektar. Hulle beskerm die plantluise ook teen parasiete en roofinsekte. Ja, miere en plantluise is albei wenners in hierdie simbiotiese vennootskap wat mutualisme genoem word.

“Gaan na die mier”, sê die Bybel, “kyk na sy weë en word wys. Hoewel hy geen aanvoerder, leier of heerser het nie, berei hy sy voedsel in die somer voor; hy het sy voedselvoorraad tydens die oes ingesamel” (Spreuke 6:6-8). Hoe waar is hierdie woorde tog, aangesien miere goed saamwerk, hoogs georganiseerd en vlytig is! En hoe verbasend is dit tog dat hierdie geharde woestynbewonertjies so ’n soet lekkerny in so ’n onherbergsame omgewing kan maak!

[Prent op bladsy 11]

Die uitgeswelde agterlyf van die heuningmier is vol soet nektar

[Foto-erkennings op bladsy 11]

Bladsye 10, 11, bo: M Gillam/photographersdirect.com; bladsy 11: © Wayne Lynch/age fotostock

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel