Cholera-epidemie—’n dagboek uit Wes-Afrika
Deur Ontwaak!-medewerker in Wes-Afrika
DESEMBER: Die eerste slagoffer was ’n bejaarde vrou. Diarree, waterig en aanhoudend, was die eerste simptoom. Toe het braking gevolg. Krampe het haar dye en maag laat saamtrek. Sy het vinnig en oppervlakkig begin asemhaal, haar vel het verrimpel, en haar oë het in hulle kasse weggesink. Agt-en-veertig uur later was sy dood.
Die volgende dag het nog iemand in dieselfde huis die siekte gekry, toe nog een. Daarna het party van die bure begin siek word. Die siekte het in naburige statte en dorpe begin kop uitsteek. Die verhaal was dieselfde—diarree, braking, en in ’n derde van die gevalle, die dood.
Die Pasteur-instituut het stoelgangmonsters ondersoek en het mediese kenners se ergste vrese bevestig. Dit was die siekte wat 93 nasies die afgelope 25 jaar geteister het, ’n siekte wat so dodelik is dat bloot die naam daarvan vrees inboesem: cholera!
In die hoofstad van ’n land in Wes-Afrika het ek ’n deel van die drama aanskou wat met die uitbreek van hierdie gevreesde siekte gepaard gaan. Wat hier volg, is dagboekaantekeninge van daardie jaar se gebeure.
‘Geen rede om te vrees nie’
13 Februarie: Te midde van toenemende gerugte verskyn die volgende voorbladnuus in ’n koerant: “Diarree: 70 sterf maar krisis neem af.” Die artikel stel lesers gerus dat daar “geen rede [is] om te vrees dat cholera sal uitbreek nie”.
25 April: Ek vra dr. L. Bakka,a ’n kinderarts en die hoof van die land se Program vir die Beheer van Diarreesiektes, of die aanhoudende gerugte oor cholera waar is. “Hulle is waar”, sê hy. “Daar ís cholera en dit kom algemeen voor. In 10 van die 13 distrikte kom cholera voor.”
Ek vra hom uit oor massa-inenting. “Ons gaan nie mense inent nie”, sê hy. “Dit help nie veel as ’n middel om ’n epidemie te bestry of te beheer nie. Die entstowwe wat tans beskikbaar is, is slegs drie tot ses maande lank doeltreffend.”
“Sê u dat die entstowwe waardeloos is om te keer dat die siekte uitbreek?” vra ek.
“Nee, dit is die Wêreldgesondheidsorganisasie wat so sê.”
“Is u ingeënt?”
“Nee. En ek was al in baie gebiede waar daar cholera is, en ek het baie cholerapasiënte behandel.”
Bakka verduidelik dat cholera deur ’n sekere soort vibrio, of bakterium, veroorsaak word wat die liggaam deur besmette voedsel of water binnedring. Daarna versamel die vibrio’s in die ingewande waar hulle vermenigvuldig en ’n gifstof vorm wat diarree en braking veroorsaak. Hierdie vibrio’s kan in drinkwater of op voedsel beland wat deur ongewaste hande besmet is—en so word die siekte versprei.
Die dokter beduie na sy mond. “Wat saak maak, is wat hier ingaan”, sê hy. Daar word gesê: “Jy kan cholera eet en jy kan cholera drink, maar jy kan nie cholera opdoen nie!”
Is die kanse goed dat die siekte die hoofstad ook sal tref? “Dit het reeds”, sê Bakka. “Ons het vandag vyf gevalle in die hospitaal opgeneem.”
7 Mei: Die oorvol hospitaal is swak toegerus om ’n cholera-epidemie die hoof te bied. Die cholerapasiënte is afgesonder in ’n groot kamer met ’n betonvloer en een waaier teen die plafon. Toilette is te ver daarvandaan vir hulle om dit te gebruik, en daarom word ontlasting in bedpanne en plastiese emmers versamel en daarna ontsmet voor dit verwyder word. Daar is nou 12 pasiënte—mans, vroue en 2 kinders. Hulle lyk almal uitgeput en ellendig.
Die siekes lê op houtbankies. Daar is geen beddens, geen hospitaaletes, geen private kamers nie. Maar niemand kla nie. Die lewe word aan hierdie uitgeteerde en verrimpelde slagoffers gebied, lewe in die vorm van een-liter-plastiekhouers wat “Ringer-laktaat” gemerk is. Dit is ’n oplossing wat binneaars toegedien word.
Ek verneem dat cholera die dood van mense deur ontwatering veroorsaak. Namate noodsaaklike liggaamsvog en essensiële soute deur braking en diarree verlore gaan, teer die menseliggaam uit en sterf dit. Die laktaatdrup herstel, of vul hierdie vogvlakke aan, en hou hulle konstant totdat die diarree en braking ophou—gewoonlik binne ’n paar dae. Die middel tetrasiklien vernietig die vibrio’s en verkort die duur van die siekte.
Die nuus word rugbaar
29 Mei: ’n Britse nuusuitsending maak bekend dat cholera die dood van tussen 300 en 600 mense dwarsdeur die land veroorsaak het. Ek ken een van hulle. Toe die pa weg is werk toe het sy seuntjie heel gelukkig gespeel. Toe hy die aand tuiskom, was die seuntjie dood.
Vanmiddag het die plaaslike takkantoor van Jehovah se Getuies besluit om inligting aan elke gemeente in die land te stuur, wat verduidelik hoe hulle hul teen die siekte kan beskerm.
2 Junie: Beddens wat met plastiek oorgetrek is, is nou in die cholerasaal ingebring. ’n Stuk of twaalf nuwe pasiënte kom elke dag daar aan. Die wat in ’n toestand van skok daar aankom en wat nie MVS-oplossing (Mondelike Vogherstellingsoute) kan drink nie, kry ’n laktaatdrup, dikwels drie of vier liter gedurende die eerste uur.b Ná ’n dag of twee word hulle ontslaan. Mense wat dit in ’n ligter graad het, kry MVS en word ná ’n paar uur huis toe gestuur.
Voorrade Ringer-laktaat en pakkies MVS stroom die land binne en word na die provinsiale gesondheidsentrums gehaas, waar die behoefte tans groter is as in die stad. Meer as 600000 pakkies MVS is reeds versprei. Die regering stel voertuie beskikbaar om mediese spanne en voorrade na noodgebiede te vervoer. Uitsendings en pamflette lig die publiek in oor wat hulle kan doen om nie die siekte te kry nie en wat om te doen as die simptome verskyn. Voertuie met klanktoerusting wat heen en weer in die hoofstad ry, saai dieselfde inligting uit.
10 Junie: Opnames in die cholerasaal styg tot ’n hoogtepunt van 71. Vyftien verpleegsters werk nou in die kliniek. Familielede van pasiënte help hulle om die siekes te versorg. Die kamer is vol—twee op elke bed. Party pasiënte lê op die vloer.
Mense kom daar aan met hulle siekes op hulle rug. Party het kilometers ver geloop en is deurweek met ontlasting. Hulle oë pleit: ‘Kan julle tog die lewe van my kind . . . my broer . . . my moeder red?’
21 Junie: ’n Persverklaring lui: “Die Departement van Gesondheid . . . wil graag die groot publiek verseker dat daar geen rede tot kommer of paniek is nie.” Maar die mense is bekommerd! Daar is gerugte dat Ringer-laktaat opgegaar word. Taxiryers vra buitensporige tariewe om cholerapasiënte na die hospitaal te neem—as hulle hulle hoegenaamd neem. ’n Mens sien hoe kinders wat by die cholerakliniek verbyloop op pad skool toe hulle mond en neus met hulle hande toedruk. Party mense neem onwys elke dag tetrasiklien en hoop dat dit die siekte sal afweer.
Ek praat met Alafia, ’n studentverpleegster by die hospitaal. Sy is duidelik verontwaardig. “Een van die kokke by ons koshuis het cholera!” roep sy uit. “Party verpleegsters neem verlof net om nie iets met die epidemie te doen te hê nie.”
Maar nie almal is onwillig om te help nie. Susan Johnson is die matrone in beheer van een cholerakliniek. Hoewel sy gewoonlik ’n opgeruimde mens is, kan die spanning vandag bemerk word. Toe ek by die saal ingaan, is ’n pasiënt se familielid net besig om ’n papierbekertjie in ’n kan met skoon water te steek. “Moenie jou hande daar insteek nie!” snou Susan die persoon toe. “Hierdie siekte word deur besoedelde water versprei!” Sy kyk na my en sê gefrustreerd: “Hulle verstaan eenvoudig nie.”
Die stryd sleep voort
1 September: Landwyd is daar nou amptelik 10 200 gevalle aangemeld, met 796 sterftes. Die meeste sterftes het voorgekom in gevalle waar slagoffers nie mediese behandeling ontvang het, of dit nie betyds ontvang het nie.
Van die 3 341 pasiënte wat hier in klinieke opgeneem is, het slegs 1 uit 93 gesterf. Die meeste van hulle was reeds sterwend toe hulle daar aangebring is. Party was bewusteloos as gevolg van gevorderde ontwatering. Wanneer die siekte hierdie stadium bereik, word die bloed dik en swart, en val die are plat. Ringer-laktaat word dan as ’n noodmaatreël regstreeks in die nekaar of die dyslagaar toegedien.
30 Desember: Die epidemie het afgeneem. Naastenby 14 000 mense is aangetas, en 1213 is dood. Dit is ironies. Dokters weet wat cholera veroorsaak, hoe dit versprei word en hoe om die lewe van slagoffers te red. Maar cholera is nog lank nie oorwin nie. Die mens se hulpeloosheid om sulke epidemies te voorkom, beklemtoon op dramatiese wyse Jesus se voorspelling dat “pessiektes” hierdie “laaste dae” sal kenmerk.—Lukas 21:11; 2 Timotheüs 3:1-5.
Ek het vir dr. S. Harding, ’n sleutelfiguur ten tyde van die epidemie, die Bybelteks in Jesaja 33:24 gewys. Dit voorspel ’n tyd wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.” Hy het noukeurig na die teks gekyk en toe gesê: “As dit is wat die Bybel sê, moet dit waar wees.” Dit is inderdaad waar! En wat ’n verligting sal dit tog nie wees wanneer daardie belofte uiteindelik vervul word nie!
[Voetnote]
a Name is verander.
b Sien “’n Soutdrankie wat lewens red!” in die Ontwaak! van 22 September 1985.
[Venster op bladsy 22]
Wanneer cholera uitbreek!
Drinkwater is die vernaamste bron van cholera-infeksie. Die kieme wat cholera veroorsaak, het hul oorsprong in die uitskeiding van mense en beland in drinkwater as gevolg van ’n gebrek aan higiëne. Wanneer hierdie besmette water gedrink of gehanteer word, kan dit infeksie veroorsaak. Diarree is ’n belangrike cholerasimptoom. Dit veroorsaak ernstige vogverlies wat dikwels tot skok en selfs die dood lei. Hoe om cholera-infeksie te voorkom:
1. Gebruik slegs gekookte, skoon of behandelde water.
2. Was jou hande met seep en water voor jy aan kos raak en voor jy eet.
3. Bedek kos om dit teen vlieë te beskerm.
4. Was rou kos met skoon of behandelde water.
5. Gebruik ’n toilet of gepaste plek wat ver van fonteine, riviere en strome geleë is—nie die oop veld nie.
6. As infeksie plaasvind, kry die pasiënt so gou moontlik by ’n dokter of ’n gesondheidsentrum. Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie
[Foto-erkenning op bladsy 21]
WHO photo by J. Abcede