Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 4/22 bl. 18-24
  • Meer as 40 jaar onder Kommunistiese beperkings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Meer as 40 jaar onder Kommunistiese beperkings
  • Ontwaak!—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe ons Getuies geword het
  • Die predikingswerk word verbied
  • Herhaalde ondervraging
  • Alleenopsluiting
  • Vrylating en voortgesette prediking
  • ’n Nuwe toewysing
  • ’n Geliefde metgesel
  • ’n Tyd van beproewing en moed
  • My lewenswyse verander
  • Met Jehovah se hulp onderskraag
  • Gelei deur geloof in God In ’n Kommunistiese land
    Ontwaak!—1996
  • My droom is bewaarheid
    Ontwaak!—2002
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
  • Ons het ’n ferm standpunt ingeneem vir God se heerskappy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 4/22 bl. 18-24

Meer as 40 jaar onder Kommunistiese beperkings

SOOS VERTEL DEUR JARMILA HÁLOVÁ

Die tyd: ná middernag, 4 Februarie 1952. Die plek: ons woonstel in Praag, Tsjeggo-Slowakye. Ons is deur die aanhoudende gelui van die deurklokkie wakker gemaak. Toe het die polisie ingestorm.

DIE polisie het my ma, my pa, my broer Pavel en my in verskillende vertrekke gesit, ’n wag by elkeen van ons geplaas en alles begin deursoek. Twaalf uur later was hulle nog steeds daarmee besig. Ná hulle ’n lys gemaak het van al die lektuur wat hulle gevind het, het hulle dit in bokse gepak.

Ek is daarna beveel om in ’n motor te klim en hulle het vir my ’n donker bril opgesit. Dit was vreemd, maar ek het dit reggekry om die bril effens te skuif om te sien waarheen hulle my neem. Die strate was bekend. Ons bestemming was die berugte hoofkwartier van Staatsveiligheid.

Hulle het my uit die motor gestoot. Toe die bril later afgeruk is, was ek in ’n klein, vuil vertrekkie. ’n Vrou in ’n uniform het my beveel om te ontklee en ’n dik werksbroek en ’n manshemp aan te trek. ’n Lap is om my kop gebind om my oë te bedek, en ek is geblinddoek uit die vertrek gelei en deur skynbaar eindelose gange geneem.

Die wag het uiteindelik gestop en ’n ysterdeur oopgesluit, en ek is deurgestoot. Die lap is van my kop afgeruk en die deur is agter my gesluit. Ek was in ’n tronksel. Daar was ’n vrou in haar veertigerjare wat na my gestaar het en dieselfde klere as ek aangehad het. Ek het dit op ’n manier amusant gevind en—hoewel dit dalk vreemd klink—kon ek my lag net nie hou nie. As ’n jong meisie van 19, met geen ondervinding in dinge soos gevangenskap nie, het ek opgeruimd gebly. Tot my groot vreugde het ek kort daarna besef dat niemand anders in ons gesin aangehou word nie.

In daardie jare was dit gevaarlik om een van Jehovah se Getuies in die destydse Tsjeggo-Slowakye te wees. Die land was onder Kommunistiese beheer, en die werk van die Getuies is verbied. Hoe het ons gesin so diep betrokke geraak by ’n organisasie waarvan die werk verbied was?

Hoe ons Getuies geword het

My pa, ’n boorling van Praag, het ’n Protestantse agtergrond gehad en was baie opreg in sy godsdiensoortuiging. Hy het my ma in die twintigerjare ontmoet toe sy Praag toe gekom het om medies te studeer. Sy was van die gebied met die naam Bessarabië, wat in haar kinderjare ’n deel van Rusland was. Nadat hulle getrou het, het sy by haar man se kerk aangesluit, hoewel sy Joods was. Sy was egter nie daarmee tevrede nie.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is my pa in ’n arbeidskamp geplaas, en my ma het naelskraap aan die Slagting ontkom. Dit was moeilike jare vir ons, maar ons almal het dit oorleef. In die middel van 1947, twee jaar ná die oorlog geëindig het, het een van my pa se susters, wat een van Jehovah se Getuies geword het, namens ons gesin op Die Wagtoring ingeteken. Dit was my ma wat dit begin lees het, en sy het die boodskap onmiddellik as die waarheid aangeneem waarna sy op soek was.

Sy het ons aanvanklik min vertel, maar sy het uitgevind waar vergaderinge in Praag gehou word en dit begin bywoon. Binne ’n paar maande, in die lente van 1948, is sy by ’n kringbyeenkoms van die Getuies gedoop. Daarna het sy ons genooi om saam met haar vergaderinge by te woon. My pa het teësinnig ingestem.

Die vergaderinge is in ’n saaltjie in die middel van Praag gehou, waar ons dit as ’n gesin begin bywoon het. Ek en my pa het gemengde gevoelens van nuuskierigheid sowel as wantroue gehad. Ons was verbaas dat my ma reeds nuwe vriende gehad het wat sy aan ons kon voorstel. Ek is deur hulle entoesiasme en redelikheid asook deur hulle groot waardering vir hulle broederskap beïndruk.

Toe sy ons positiewe reaksie sien, het my ma voorgestel dat ons Getuies na ons huis toe nooi vir breedvoerige besprekings. Ek en my pa was uiters geskok toe hulle ons uit ons eie Bybel gewys het dat daar geen onsterflike siel of Drie-eenheid is nie! Ja, dit was insiggewend om te leer wat dit werklik beteken om te bid dat God se naam geheilig word en dat sy Koninkryk moet kom.

’n Paar weke later het my pa verskeie geestelikes van sy kerk na ons huis genooi. Hy het gesê: “Broeders, ek wil ’n paar skriftuurlike punte met julle bespreek.” Daarop het hy, stap vir stap, basiese leerstellings van die kerk voorgelê en getoon hoe dit die Bybel weerspreek. Die geestelikes het erken dat wat hy gesê het waar is. My pa het toe afgesluit: “Ek het besluit, en ek praat namens my gesin, om die kerk te verlaat.”

Die predikingswerk word verbied

In Februarie 1948, kort voordat ek en my pa vergaderinge begin bywoon het, het die Kommunistiese party die beheer oor die land oorgeneem. Ek het gesien hoe medestudente hulle professore aankla en hoe onderwysers vir hulle leerlinge se ouers bang word. Almal het van mekaar vervreemd begin raak. Maar aanvanklik het die werk van Jehovah se Getuies feitlik ongehinderd voortgegaan.

In 1948 was die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Praag vir ons ’n hoogtepunt. Meer as 2 800 mense was van 10 tot 12 September daar teenwoordig. ’n Paar weke later, op 29 November 1948, het die geheime polisie die takkantoor binnegeval en is dit gesluit. Die daaropvolgende April is ’n amptelike verbod op ons werk geplaas.

Ons gesin is nie deur enige van hierdie stappe geïntimideer nie, en in September 1949 het ons ’n spesiale program in die woud buite Praag bygewoon. ’n Week later is ek en my pa gedoop. Ondanks my pogings om versigtig te wees in die predikingswerk is ek in Februarie 1952 in hegtenis geneem, soos aan die begin vertel is.

Herhaalde ondervraging

Ná ek ’n paar keer ondervra is, het ek tot die slotsom gekom dat ek vir ’n lang tyd in die tronk sou wees. Die ondervraers het blykbaar gedink dat hoe langer ’n persoon gevange gehou is met niks om hom mee besig te hou nie, hoe gewilliger sou hy wees om sy samewerking te gee. Maar my ouers se onderrigting het voortdurend deur my gedagtes gegaan en dit het gehelp om my te onderskraag. Hulle het dikwels Psalm 90:12 aangehaal en my aangemoedig ‘om my dae te tel’, dit wil sê hulle waarde te bepaal of te evalueer, ‘sodat ek ’n wyse hart mag bekom’.

Ek het derhalwe hele psalms en ander dele van die Bybel wat ek vroeër gememoriseer het in my gedagtes hersien. Ek het ook oor die Wagtoring-artikels gepeins wat ek bestudeer het voor ek gevange geneem is, en ek het Koninkryksliedere vir myself gesing. Daar was ook tydens my eerste paar maande in gevangenskap medegevangenes om mee te praat. Boonop was daar punte om te hersien wat ek in my klasse op skool geleer het, aangesien ek my eindeksamen net ’n paar maande vantevore geslaag het.

Die ondervraging het dit vir my duidelik gemaak dat ’n informant een van my Bybelstudies bygewoon het en my predikingsbedrywigheid gerapporteer het. Die owerheid het tot die gevolgtrekking gekom dat ek ook verantwoordelik was vir die getikte eksemplare van die Bybellektuur waarop daar in ons huis beslag gelê is. Eintlik het my broer, wat net 15 was, die tikwerk gedoen.

Die ondervraers kon naderhand sien dat ek niemand gaan verraai nie, en gevolglik is pogings aangewend om my van my geloof te laat afsien. Hulle het my selfs voor ’n persoon gebring wat ek as ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies geken het. Hoewel hy self ’n gevangene was, het hy nou saam met die Kommuniste gewerk in ’n veldtog om die ander Getuies wat opgesluit was hulle geloof te laat prysgee. Wat ’n patetiese skepsel tog! Jare later, ná hy vrygelaat is, het hy hom doodgedrink.

Alleenopsluiting

Ná sewe maande is ek na ’n ander tronk verskuif en in alleenopsluiting geplaas. Nou, heeltemal alleen, het dit geheel en al van my afgehang hoe ek my tyd gebruik. Boeke is op versoek voorsien, maar natuurlik niks van ’n geestelike aard nie. Ek het dus ’n rooster van bedrywighede opgestel wat tye vir lees asook vir bepeinsing oor geestelike sake ingesluit het.

Ek moet sê dat ek nooit vantevore in my gebede so na aan Jehovah gevoel het soos toe nie. Die gedagte aan ons wêreldwye broederskap was nog nooit so kosbaar nie. Ek het my elke dag probeer voorstel hoe die verkondiging van die goeie nuus moontlik op daardie oomblik in verskillende dele van die aarde vooruitgang maak. Ek het in my verbeelding gesien hoe ek ’n aandeel aan hierdie werk het en Bybelbesprekings met mense voer.

Maar in hierdie rustige atmosfeer het ek uiteindelik in ’n slagyster getrap. Omdat ek nog altyd lief was vir lees en graag indrukke van buite wou kry, het ek soms in ’n sekere boek verdiep geraak, met die gevolg dat ek my rooster vir bepeinsing van geestelike sake verwaarloos het. Ná dit gebeur het, het ek altyd spyt daaroor gevoel.

Ek is toe een oggend na die aanklaer se kantoor geneem. Niks in besonder is bespreek nie—slegs die uitslae van vorige ondervragings. Ek was teleurgesteld, aangesien daar nie ’n datum vir my verhoor vasgestel is nie. Ná omtrent ’n halfuur was ek weer in my sel. Daar het ek my kalmte verloor en begin huil. Waarom? Was die lang weke in afsondering uiteindelik besig om ’n uitwerking op my te hê?

Ek het my probleem begin ontleed en gou die oorsaak daarvan geïdentifiseer. Ek was die vorige dag in my leeswerk verdiep, en ek het weer nie met my geestelike bedrywighede volgehou nie. Toe ek dus onverwags vir ondervraging geneem is, was ek nie in die regte biddende gemoedstemming nie. Ek het onmiddellik my hart teenoor Jehovah uitgestort en my voorgeneem om nooit weer geestelike sake te verwaarloos nie.

Ná daardie ondervinding het ek besluit om heeltemal met die lesery op te hou. Toe het ek aan ’n beter idee gedink, naamlik om myself te dwing om Duits te lees. Gedurende die Duitse besetting tydens die Tweede Wêreldoorlog moes ons Duits op skool leer. Maar weens die verskriklike dinge wat die Duitsers gedurende hulle besetting van Praag gedoen het, wou ek ná die oorlog alles vergeet wat Duits was, met inbegrip van die taal. Ek het my dus nou voorgeneem om streng te wees met myself deur weer Duits te leer. Wat egter as ’n straf bedoel was, het in ’n seëning verander. Laat ek verduidelik.

Ek kon Duitse sowel as Tsjeggiese uitgawes van party boeke kry en het myself begin leer om Duits in Tsjeggies en Tsjeggies in Duits te vertaal. Hierdie bedrywigheid was uiteindelik nie net nog ’n teenmiddel teen die potensieel skadelike gevolge van alleenopsluiting nie, maar was later ook baie nuttig.

Vrylating en voortgesette prediking

Uiteindelik, ná agt maande in alleenopsluiting, is my saak verhoor. Ek is van ondermynende bedrywighede beskuldig en tot twee jaar tronkstraf gevonnis. Aangesien ek reeds 15 maande in die tronk was en ’n amnestie met die verkiesing van die nuwe president afgekondig is, is ek vrygelaat.

Terwyl ek in die tronk was, het ek gebid dat my gesin hulle nie oor my moes kwel nie, en toe ek teruggekeer het huis toe het ek gevind dat hierdie gebed beantwoord is. My pa was ’n dokter en hy het baie van sy pasiënte aangemoedig om die Bybel te bestudeer. As gevolg hiervan het my ma ongeveer 15 weeklikse studies gehou! Daarbenewens het my pa ’n groepstudie van Die Wagtoring gelei. Hy het ook van die Wagtoringgenootskap se lektuur uit Duits in Tsjeggies vertaal, en my broer het die teks getik. Ek het dus onmiddellik by geestelike bedrywighede betrokke geraak en het kort voor lank Bybelstudies gehou.

’n Nuwe toewysing

Op ’n nat agtermiddag gedurende November 1954 het die deurklokkie gelui. Daar voor ons, met water wat van sy donkergrys plastiese reënjas drup, het Konstantin Paukert gestaan, een van dié wat die leiding in die predikingswerk geneem het. Hy wou gewoonlik met my pa of my broer Pavel praat, maar hierdie keer het hy my gevra: “Kan jy uitkom en ’n entjie saam met my gaan stap?”

Ons het ’n rukkie in stilte gestap, terwyl ’n paar voetgangers by ons verbygeloop het. Die nat oppervlak van die swart sypaadjie het die dowwe lig van die straatlampe effentjies weerkaats. Konstantin het agtertoe gekyk; die straat was leweloos agter ons. “Sal jy ons met van ons werk help?” het hy skielik gevra. Verbaas het ek geknik. “Ons het iemand nodig om ons met vertaling te help”, het hy voortgegaan. “Jy moet ’n plek vind om te werk, maar nie by die huis nie en nie by iemand wat aan die polisie bekend is nie.”

’n Paar dae later was ek agter ’n lessenaar in ’n woonstelletjie wat aan ’n bejaarde egpaar behoort het wat ek skaars geken het. Hulle was my pa se pasiënte en ’n Bybelstudie is kort tevore met hulle begin. My studie van Duits terwyl ek in die tronk was, het dus goed te pas gekom, aangesien ons toe ons lektuur uit Duits in Tsjeggies vertaal het.

’n Paar weke later is Christenbroers wat die leiding in die werk geneem het in die tronk gegooi, met inbegrip van broer Paukert. Ons predikingswerk is nogtans nie stopgesit nie. Die vroue, wat ek en my ma ingesluit het, het gehelp om na Bybelstudiegroepe en ons Christelike bediening om te sien. My broer Pavel, hoewel hy nog ’n tiener was, het as ’n koerier gedien om lektuur en organisatoriese instruksies deur die hele Tsjeggiessprekende deel van die land te versprei.

’n Geliefde metgesel

Laat in 1957 is Jaroslav Hála, ’n Getuie wat in 1952 in hegtenis geneem en ’n vonnis van 15 jaar opgelê is, tydelik vir mediese behandeling uit die gevangenis vrygelaat. Pavel het onmiddellik met hom in aanraking gekom, en Jaroslav was gou weer heeltemal daarby betrokke om die broers te help. Aangesien hy die tale goed geken het, het hy die meeste van die vertaling begin doen.

Een aand in die middel van 1958 het Jaroslav vir my en Pavel genooi om saam met hom te gaan stap. Ons het dit dikwels gedoen om organisatoriese sake te bespreek, omdat daar afluistertoestelle in ons woonstel was. Maar nadat hy alleen met Pavel gepraat het, het hy hom gevra om op ’n bankie in die park te wag terwyl ons twee verder gestap het. Ná ’n kort bespreking oor my werk het hy gevra of ek, ondanks sy swak gesondheid en onseker toekoms, met hom sal trou.

Ek was verbaas oor die opregte, reguit huweliksvoorstel deur iemand vir wie ek groot agting gehad het, en ek het sonder aarseling ingestem. Ons verlowing het my in noue aanraking met Jaroslav se moeder, ’n gesalfde Christen, gebring. Sy en haar man was in die laat twintigerjare van die eerste Getuies in Praag. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is hulle albei deur die Nazi’s opgesluit, en haar man het in 1954 in ’n Kommunistiese gevangenis gesterf.

Voor ons getrou het, is Jára, soos ons hom genoem het, deur die owerheid ontbied. Hulle het vir hom gesê dat hy ’n operasie vir sy chroniese borsvliesontsteking moes ondergaan—wat destyds sou beteken dat hy ’n bloedoortapping aanvaar—of die res van sy vonnis moes uitdien. Aangesien hy die operasie geweier het, het dit beteken dat hy byna nog tien jaar in die tronk moes sit. Ek het besluit om vir hom te wag.

’n Tyd van beproewing en moed

Vroeg in 1959 is Jára tronk toe geneem en kort daarna het ons ’n brief ontvang wat getoon het dat hy in ’n goeie gemoedstemming was. Toe was daar ’n lang tussenpose voordat ons ’n brief ontvang het wat as ’n slag gekom het. Dit het spyt, droefheid en vrese uitgespreek, asof Jára ’n senuwee-ineenstorting gehad het. “Iemand anders moes dit geskryf het”, het sy moeder gesê. Maar dit was in sy handskrif!

Ek en sy moeder het geskryf en ons vertroue in God uitgespreek en hom aangemoedig. Ná baie weke het ons nog ’n brief ontvang wat selfs verwarrender was. “Dit kan nie hy wees wat dit geskryf het nie”, het sy moeder weer gesê. Tog was dit sy handskrif, en daar was sy kenmerkende uitdrukkings. Daarna is geen briewe meer ontvang en geen besoeke toegelaat nie.

Jára het eweneens verontrustende briewe ontvang wat glo van ons af gekom het. Sy moeder se briewe het hom verwyt omdat hy haar op haar oudag verlaat het, en myne het ergernis uitgespreek omdat ek so lank vir hom moes wag. Dit het ook presies ooreengekom met ons handskrif en die manier waarop ons ons uitgedruk het. Aanvanklik was hy ook verontrus, maar hy het toe besef dat dit nie ons kon gewees het wat die briewe geskryf het nie.

Iemand het eendag by die deur verskyn, vir my ’n klein pakkie gegee en hom uit die voete gemaak. Binne-in was tientalle velletjies sigaretpapier waarop die fynste skrif verskyn het. Jára het die briewe wat ons oënskynlik geskryf het, sowel as ’n aantal van sy eie ongesensureerde briewe, oorgeskryf. Hoe verlig en dankbaar was ons tog nie teenoor Jehovah nie toe ons hierdie briefies ontvang het wat deur ’n vrygelate gevangene wat nie ’n Getuie was nie, uitgesmokkel is! Tot vandag toe het ons nog nie uitgevind hoe en deur wie hierdie duiwelse poging om ons onkreukbaarheid te ondermyn, bewerk is nie.

Jára se moeder is later toegelaat om haar seun te besoek. Ek het haar by hierdie geleenthede tot by die hek van die gevangenis vergesel en gesien hoe hierdie klein, tenger vroutjie dade verrig wat groot moed geverg het. Terwyl die wagte hulle dopgehou het, sou sy haar seun se hand neem en die kleinste denkbare gefotografeerde lektuur aan hom gee. Hoewel dit, veral vir haar seun, kwaai straf tot gevolg sou hê as hulle betrap moes word, het sy op Jehovah vertrou, aangesien sy besef het dat geestelike gesondheid altyd voorkeur geniet.

Later, in 1960, is ’n algemene amnestie afgekondig en is die meeste Getuies uit die gevangenis vrygelaat. Jára het huis toe gekom, en ’n paar weke later was ons ’n gelukkige pas getroude egpaar.

My lewenswyse verander

Jára het ’n toewysing as ’n reisende opsiener ontvang om in belang van die broederskap oor die hele land te dien. In 1961 het hy die toewysing ontvang om die eerste klas van die Koninkryksbedieningskool in die Tsjeggiessprekende deel van die land te organiseer, sowel as om baie van die skool se klasse daarna te behartig.

As gevolg van die politieke veranderinge in Tsjeggo-Slowakye in 1968 kon etlike van ons die daaropvolgende jaar die “Vrede op aarde”- Internasionale Byeenkoms van Jehovah se Getuies in Neurenberg, Duitsland, bywoon. Die owerheid het Jára egter nie toegelaat om die land te verlaat nie. Party van ons het skyfies van daardie treffende streekbyeenkoms geneem, en Jára het die voorreg gehad om oor die hele land ’n aandeel aan ’n geloofversterkende program te hê waartydens hierdie skyfies vertoon is. Baie wou die program oor en oor sien.

Min het ons geweet dat dit die laaste keer sou wees dat Jára die broers besoek. Vroeg in 1970 het sy gesondheid drasties agteruitgegaan. Die chroniese ontsteking, wat hy geleer het om te verduur, het sy niere aangetas, en die nierversaking was noodlottig. Hy het op die ouderdom van 48 gesterf.

Met Jehovah se hulp onderskraag

Ek het die een wat ek so innig liefgehad het aan die dood afgestaan. Maar hulp is onmiddellik binne God se organisasie voorsien, aangesien ek toegelaat is om ’n aandeel te hê aan die vertaling van Bybellektuur. Dit het vir my gevoel asof ek aan ’n afloswedloop deelneem en dat my man my die aflosstokkie gegee het om ’n deel van die werk voort te sit wat hy self gedoen het.

Baie van ons in Oos-Europa het Jehovah meer as 40 jaar gedien terwyl die werk deur die Kommuniste verbied was. Toe, in 1989, met die verwydering van die Ystergordyn, het die lewe hier geweldig begin verander. Hoewel ek daarvan gedroom het dat Jehovah se Getuies ’n streekbyeenkoms in Praag se reusagtige Strahov-stadion sou hou, het ek nooit gedink dat hierdie droom bewaarheid sou word nie. Tog, in Augustus 1991, is dit op ’n wonderlike wyse bewaarheid toe meer as 74 000 in vreugdevolle aanbidding byeengekom het!

Tsjeggo-Slowakye het in Januarie 1993 ophou bestaan toe die land in twee lande verdeel is—die Tsjeggiese Republiek en Slowakye. Hoe gelukkig was ons tog toe die Tsjeggiese Republiek op 1 September 1993 amptelike erkenning aan Jehovah se Getuies toegestaan het!

Uit my lewensondervindinge weet ek dat Jehovah altyd ’n seëning vir ons in die vooruitsig het, indien ons hom toelaat om ons te leer hoe om ons dae te tel (Psalm 90:12). Ek bid voortdurend dat God my moet leer hoe om die res van my dae in hierdie stelsel van dinge te tel sodat ek in die ontelbare dae wat in sy nuwe wêreld voorlê onder sy gelukkige knegte kan wees.

[Prent op bladsy 19]

My ma en pa

[Prent op bladsy 21]

’n Vergadering in die woud in 1949 toe ons werk verbied was: 1. My broer Pavel, 2. Ma, 3. Pa, 4. Ek, 5. Broer Hála

[Prent op bladsy 22]

Saam met my man, Jára

[Prente op bladsy 23]

Jára se moeder en die gefotografeerde lektuur wat sy vir hom ingesmokkel het

[Prent op bladsy 24]

Waar ek vandag in die takkantoor in Praag werk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel