My droom is bewaarheid
SOOS VERTEL DEUR ALENA Z̆ITNÍKOWÁ
Terwyl ek in Tsjeggo-Slowakye, ’n satellietland van die Sowjetunie, grootgeword het, het ons gesin uitgesien na die vreedsame wêreld wat die Kommunisme belowe het. Maar die Kommunisme se droom om ’n gelukkige, verenigde gemeenskap te skep, het geëindig toe die Sowjetunie in 1991 ineengestort het. Kom ek vertel hoe my droom op ’n ander manier bewaarheid is.
EK IS op 12 September 1962 uit ’n gesin van toegewyde Kommuniste gebore wat in Horní Benešof gewoon het, ’n dorpie ongeveer 290 kilometer van Praag af. My pa het sy vertroue in Kommunistiese ideale gestel en daarvolgens gelewe. Hy het my en my twee broers en my suster ook volgens hierdie ideale grootgemaak. Hy het ons geleer dat ons ’n beter gemeenskap kan help skep as ons eerlike werkers is en ’n goeie lewe lei. Hy het die Kommunisme as die beste regeringsvorm beskou en dit ywerig ondersteun.
My pa het dikwels vergaderinge bygewoon waar die Kommunisme verheerlik is. Hy het godsdiens verag omdat die kerke so skynheilig was, en ons is geleer en het naderhand geglo dat daar geen God is nie. My pa het geglo dat mense met verloop van tyd, wanneer hulle almal ’n huis en genoeg kos het, beter mense sou word en in vrede sou leef. Dit was ’n pragtige vooruitsig waarvan ek baie gehoor het terwyl ek grootgeword het. Ek het alles geglo wat my pa ons geleer het, en ek was ook vasbeslote om die Kommunisme te ondersteun.
As ’n klein dogtertjie het ek my voorberei om ’n pionier te word, soos lede van die gewilde Kommunistiese jeugorganisasie Jong Pioniers genoem is. Pioniers is aangespoor om goeie eienskappe aan te kweek en om patrioties te wees. Toe ek nege was, het ek ’n heilige eed as ’n pionier afgelê en ’n rooi serp gekry om te dra. Ek is ook toegelaat om by spesiale geleenthede ’n rokuniform vir pioniers te dra. Ek het probeer om ’n goeie pionier te wees. Wanneer ek skoolmaats hoor vloek het, het ek hulle reggehelp en hulle daaraan herinner dat pioniermeisies nie so praat nie.
Maar ek het mettertyd begin besef dat baie wat gesê het dat hulle Kommuniste is, nie Kommunistiese ideale ondersteun nie. Pleks dat hulle die menslike neiging weerstaan het om hebsugtig en afgunstig te wees, het hulle staatseiendom gesteel. Hoewel baie mense ander aangespoor het om ten behoewe van die gemeenskap op te tree, het hulle dit self nie gedoen nie. Trouens, die volgende gesegde het gewild geword: “Hy wat nie steel nie, besteel sy eie gesin.” Ek het my begin afvra: ‘Waarom is daar soveel skynheiligheid? Waarom is daar so min mense wat hulle inspan om die goeie ideale van die Kommunisme te ondersteun? Waarom is mense se pogings so onsuksesvol?’
’n Tyd van herevaluering
Toe ek in my middeltienerjare was, het ek ’n deel van my somervakansies met Alena, ’n skoolmaat, deurgebring. Een aand het Tanya, ’n ouer vriendin van Alena, ons kom sien. “Ek moet met julle oor iets baie belangriks praat”, het sy gesê. “Ek is nou daarvan oortuig dat God bestaan.” Ons was verbaas dat sy tot so ’n gevolgtrekking gekom het. Nadat ons tot verhaal gekom het, het ons haar met vrae bestook. “Watter bewyse het jy?” “Hoe lyk hy?” “Waar woon hy?” “Waarom doen hy niks nie?”
Tanya het ons vrae een vir een beantwoord. Sy het aan ons verduidelik dat dit God se oorspronklike voorneme was dat die aarde ’n paradystuiste vir die mens moes wees, en sy het vir ons vertel hoe hierdie voorneme uiteindelik verwesenlik sal word. Toe sy vir ons in die Bybel die beloftes wys van ’n skoon aarde wat bewoon sal word deur goeie, gesonde mense wat vir mekaar omgee, het ek besef dat dit soortgelyk is aan die beloftes waaraan ek geglo het. Maar ek het geweet dat my pa omgekrap sou wees as hy moes hoor dat hierdie wonderlike dinge deur middel van God se Koninkryk tot stand gebring sal word, en nie deur die Kommunisme nie.
Eenkeer, toe ek ongeveer ses of sewe was, het die bure se dogter my na ’n kerk toe geneem sonder dat my ouers daarvan geweet het. Die priester het ’n Bybelverhaal vertel, en ek het só daarvan gehou dat ek meer wou weet. Ek het selfs godsdienslektuur gekry. Toe ek my ouers vertel, het hulle my streng verbied om weer kerk toe te gaan, en hulle het alles vernietig wat ek huis toe gebring het. Om seker te maak dat ek mooi verstaan, het my pa my ’n pak slae gegee.
Daarna is God nooit weer in ons huis genoem nie. Ek het begin glo dat net eenvoudige, ongeletterde mense aan God glo en dat godsdiens deur die mens uitgedink is. By die skool is ons geleer dat mense eenvoudig die idee van ’n God uitgedink het, aangesien daar verskynsels is wat ons nie kan verstaan nie. Maar hier was Tanya, ’n intelligente vrou—’n onderwyseres—en sy het aan God geglo! ‘Daar moet iets daarin steek!’ het ek gedink.
Tanya het met soveel oortuiging gepraat dat ons geweet het dat sy geglo het wat sy sê. Daarom het ons gevra: “Tanya, wat het jou oortuig dat daar werklik ’n God is?”
“Die Bybel”, het sy geantwoord. “Al die vrae wat julle gevra het, word in die Bybel beantwoord. Sal julle dit graag beter wil verstaan?”
Ek het geweet dat my ouers glad nie gelukkig sou wees as ek die Bybel begin studeer nie. En tog wou ek so graag meer leer. Tanya het dus vir my die adres van Loedmila gegee, een van Jehovah se Getuies wat naby ons huis in Horní Benešof gewoon het. Terwyl ek saam met Loedmila God se beloftes van ’n aardse paradys ondersoek het, het ek my afgevra: ‘Watter versekering het ek dat dit bewaarheid sal word?’
Loedmila het gesê dat ek meer van God moet leer sodat ek in hom en sy beloftes kan glo. Ons studie het my oortuig dat die aarde en die talle komplekse lewensvorme daarop nie die produk van blinde toeval is nie. Ek moes erken dat daar ’n hoogs intelligente Skepper moet wees. Ek het besef hoe logies die Bybel is wanneer dit sê: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God.”—Hebreërs 3:4.
Ek wou hê dat my gesin hierdie dinge moes leer. Maar ek het vermoed dat hulle nie daarin belang sou stel nie en het besluit om hulle nie onmiddellik daarvan te vertel nie. Toe, op ’n dag, het my ma ’n bladsy tussen my persoonlike besittings gekry wat uit ’n ou verslete Bybel geval het wat ek as ’n geskenk ontvang het. My ouers was baie ontsteld.
’n Gesprek met my pa
Toe my pa se vermoede bevestig is dat ek kontak met Jehovah se Getuies gehad het, het hy my gevra om ’n ent saam met hom te gaan stap. “Jy moet onmiddellik alle bande met hierdie mense verbreek”, het hy my aangespoor. “As jy dit nie doen nie, sal ek nie meer die dorp se burgemeester kan wees nie. Jy sal my loopbaan verwoes. Ek sal die kantoor moet verlaat en weer in die fabriek moet gaan werk. Jy sal die hele familie in die skande steek.”
“Maar, Pappa, die Bybel is ’n redelike boek, en dit het uitstekende raad oor hoe om te lewe”, het ek gesê.
“Nee, Alenka”, het my pa verduidelik, “ek het nog nooit die Bybel of God nodig gehad om gelukkig te wees nie. Ek het alles met my eie hande gemaak. Niemand het my gehelp nie. Ek is verbaas dat jy sulke onsin kan glo! Dit is nie die werklike lewe nie; trou en kry kinders, en dan sal jy sien dat jy sonder God gelukkig kan wees.”
Die feit dat my pa volgehou het, het my geraak. Vir ’n oomblik het ek in my geloof begin twyfel omdat dit nog nie ’n sterk grondslag gehad het nie. Dit is waar dat ek my pa baie langer as Jehovah se Getuies geken het, en ek het nog altyd veilig by die huis gevoel. Ek was seker dat my pa dit goed bedoel het. Ek het geweet dat hy my liefhet, en daarom het ek belowe om nie meer die Bybel te bestudeer nie. Kort daarna, toe ek 18 was, het ek skool klaargemaak en in Praag, ons land se hoofstad, gaan werk.
My lewe in Praag
Ek het werk in ’n bank gekry, en ek het daarna uitgesien om meer uit te vind oor die werklike lewe wat my pa gesê het deur die Kommunisme tot stand gebring sou word. Maar ek het gou opgemerk dat mense in die stad glad nie gelukkiger was as die mense in my tuisdorp nie. Om die waarheid te sê, onsedelikheid, skynheiligheid, selfsug en strawwe drinkery was die norm.
Uiteindelik het ’n Getuie wat Praag besoek en naby my tuisdorp Horní Benešof gewoon het, gereël dat die Getuies my besoek. Op hierdie manier is my Bybelstudie in Praag hervat met ’n vrou met die naam Ewa. Ewa het aan die einde van elke studie gevra: “Wil jy hê ek moet weer volgende week kom?” Sy het nooit haar persoonlike opinies op my afgedwing nie, hoewel ek haar soms gevra het wat sy in my situasie sou gedoen het.
“Ek kan nie vir jou vertel wat ek sou gedoen het nie”, het sy gesê. Dan het sy my aandag gevestig op iets in die Bybel wat my gehelp het om ’n besluit te neem. My verhouding met my ouers was ’n groot bekommernis, en daarom het ek haar gevra of ek moet ophou om met hulle te assosieer. Ewa het die Bybel by Eksodus 20:12 oopgemaak waar dit sê dat ons ons ouers moet eer. Toe het sy gevra: “Maar moet ons ooit iemand anders voor ons ouers stel?”
Omdat ek nie seker was nie, het sy die Bybel by Jesus Christus se woorde oopgemaak, wat sê: “Hy wat groter geneentheid vir vader of moeder het as vir my, is my nie waardig nie” (Matteus 10:37). Ek het dus besef dat hoewel my ouers verdien om geëer te word, ’n mens selfs groter geneentheid vir Jesus, sowel as sy hemelse Vader, moet hê. Ewa het altyd ’n gepaste Bybelbeginsel probeer uitlig, en dan sou sy die besluit aan my oorlaat.
Teenstrydige belange
Ek is uiteindelik in September 1982 as ’n student aan ’n universiteit in Praag aanvaar waar ek landboukunde gestudeer het. Maar ek het gou uitgevind dat ek nie behoorlik na my universiteitskursus kon omsien en terselfdertyd die nodige aandag aan Bybelstudie kon skenk nie. Ek het dus vir een van my professors gesê dat ek dit oorweeg om die universiteit te verlaat. “Ek sal jou na iemand toe stuur wat jou sal verstaan en help”, het sy gesê. Sy het gereël dat die dekaan van die universiteit met my gesels.
Die dekaan het my vriendelik ontvang en gevra: “Waarom wil ons beste student die universiteit verlaat?”
“Omdat ek nie tyd het vir ander dinge waarin ek ook belangstel nie”, het ek geantwoord. Aangesien Jehovah se Getuies destyds in Tsjeggo-Slowakye verban was, was ek glad nie van plan om hom te vertel waarom ek dit oorweeg het om te gaan nie. Maar nadat ek ’n paar uur lank met hom gesels het, het ek gedink dat ek hom kon vertrou. Ek het dus vir hom gesê dat ek die Bybel bestudeer.
“Bestudeer die Bybel sowel as Marxisme”, het hy gesê. “Besluit dan.” Dit het gelyk of hy my selfs aanmoedig om die Bybel te bestudeer!
’n Komplot gedwarsboom
Maar die volgende dag het hy sowel as die professor die hele ent na my tuisdorp gegaan om my ouers te besoek. Hulle het my ouers gewaarsku dat ek in kontak is met ’n gevaarlike en verbode sekte en het vir hulle gesê dat ek die universiteit wou verlaat. “As jou dogter besluit om die universiteit te verlaat”, het die dekaan my pa belowe, “sal ons seker maak dat sy nie werk in Praag kan kry nie, en dan sal sy na julle moet terugkeer en kontak met daardie sekte moet verbreek.”
In Januarie 1983 het ek die universiteit verlaat. ’n Vriendin wat ook die Bybel gestudeer het, het my gehelp om ’n kamer by ’n bejaarde vrou te huur. Aangesien ek heeltemal onbewus was van die dekaan se besoek aan my ouers of van sy belofte aan my pa, het ek nie geweet waarom al my pogings om werk te kry, misluk het nie. Die vrou by wie ek die kamer gehuur het, het ook hieroor gewonder en het dus sonder my medewete na die dekaan van die universiteit gegaan om vir hom te vra waarom ek die universiteit verlaat het.
“Wees versigtig!” het hy haar gewaarsku. “Sy is ’n lid van die gevaarlike sekte van Jehovah se Getuies. Dit is waarom sy die universiteit moes verlaat. Sy moet teruggaan huis toe en end kry hiermee. Ek sal toesien dat sy nie werk kry in Praag nie!”
Toe die vrou daardie aand by die huis kom, het sy my geroep en gesê: “Wel, Alenka, vandag het ek na die universiteit toe gegaan.” Ek het gedink dat ek dieselfde aand nog my besittings sou moes pak en haar woonstel moes verlaat. Maar sy het gesê: “Ek hou nie van wat die dekaan gedoen het nie. Jy kan glo net wat jy wil; wat belangrik is, is hoe jy jou gedra. Ek sal jou help om werk te kry.” Ek het Jehovah daardie aand in gebed gedank vir sy hulp.
Kort daarna het my pa na Praag gekom om my huis toe te neem. Maar hierdie keer het sy argumente my nie oortuig nie. My geloof in Jehovah en sy beloftes het ’n sterker grondslag gehad. Op die ou end het my pa sonder my vertrek, en vir die eerste keer in my lewe het ek hom sien huil. Hoewel dit ’n baie emosionele ontmoeting was, het die ondervinding my nader aan Jehovah gebring. Ek wou aan hom behoort en hom dien. Op 19 November 1983 het ek dus my toewyding aan Jehovah gesimboliseer deur in ’n bad water in ’n woonstel in Praag gedoop te word.
My besluit is geseën
Ek het mettertyd begin help om die verbode lektuur van die Getuies te vervaardig. Die werk het streng veiligheidsmaatreëls vereis, aangesien die owerheid reeds party gevange geneem het wat betrap is terwyl hulle daarmee besig was. My eerste taak was om afskrifte van Die Wagtoring wat in Tsjeggies vertaal is, op ’n tikmasjien te maak. Hierdie afskrifte is dan onder die Getuies versprei sodat hulle dit vir Bybelstudie kon gebruik.
Later is ek uitgenooi om saam met ’n groep te werk wat in ’n woonstel in Praag ontmoet het om boeke te vervaardig. Die meeste van die meubels is uit die vertrek geneem, en dan het ons gedrukte bladsye een-een versamel op ’n lang tafel wat in die middel van die vertrek gestaan het. Hierdie bladsye is later aanmekaargegom of -gewerk om ’n boek te maak. Ek het dikwels gedink hoe lekker dit sou wees om hierdie werk voltyds te doen.
As ’n pionier in die Kommunistiese jeugorganisasie het ek kinders probeer leer om beter mense te wees. As een van Jehovah se Getuies werk ek nog steeds met jongmense en het ek al ’n hele paar gehelp om gedoopte knegte van Jehovah te word. Hoewel nog nie een van my gesinslede Getuies is nie, het ek, soos die Bybel belowe, baie geestelike vaders en moeders en broers en susters gekry.—Markus 10:29, 30.
In 1989 het ’n demokratiese regering die Kommunistiese een in ons land vervang. Hierdie verandering het wetlike vryheid vir Jehovah se Getuies meegebring, wat dit vir ons moontlik gemaak het om in die openbaar vir Bybelstudie te vergader, van huis tot huis te getuig sonder om die gevaar te loop om gearresteer te word en na die buiteland te reis om internasionale byeenkomste by te woon. Daarbenewens hoef ons ons nie langer oor ondervragings, inhegtenisnames of intimidasie te bekommer nie!
Ek dien saam met my man
In 1990 het ek met Petr, ’n mede-Christen, getrou. In April 1992 het ons albei ons doelwit bereik om pioniers te word, soos Getuies diegene in die voltydse predikingswerk noem. Ons is uiteindelik, in Junie 1994, genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Praag te werk. Nou hoef ons nie meer Bybellektuur in die geheim te vervaardig nie, maar kan ons openlik na die geestelike belange van die mense in die Tsjeggiese Republiek omsien.
’n Paar jaar gelede was ek en Petr in die wolke toe my ouers ons uitnodiging aanvaar het om die fasiliteite te besoek waar ons saam met ongeveer 60 ander Bethelgesinslede werk en bly. Nadat my pa deur die woon- en kantoorgebou getoer het, het hy gesê: “Ja, ek kan aanvoel dat daar ware liefde onder julle is.” Dit was die pragtigste woorde wat ek my pa kon hoor sê.
Ek geniet wat die Kommunisme belowe het
Ons verwagting om ’n beter wêreld deur middel van die Kommunisme te geniet, was niks anders as wensdenkery nie. Die mens se geskiedenis het getoon dat selfs die opregste pogings van mense misluk het om ’n regverdige gemeenskap te skep. Ek glo dat daar nog baie mense is wat sal besef dat die mens nie ’n gelukkige lewe sonder God se hulp kan geniet nie.—Jeremia 10:23.
Ek dink dikwels aan wat my pa my toegewens het; dat ek, soos hy dit genoem het, “’n werklike lewe” sal geniet, wat hy ons geleer het deur die Kommunisme moontlik gemaak sou word. Maar ek het deur ’n studie van die Bybel besef dat “die werklike lewe” waarvan die Skrif praat—die lewe in God se regverdige nuwe wêreld—die enigste betroubare belofte is waarop mense kan vertrou (1 Timoteus 6:19). Ek sê dit omdat diegene wat opreg probeer om Bybelleringe in hulle lewe toe te pas, dit regkry om op ’n merkwaardige manier in vrede saam te leef, hoewel hulle sondig en onvolmaak is. Hulle het daarin geslaag om alle pogings te weerstaan om hulle eenheid te vernietig of om hulle toegewydheid aan Jehovah, hulle God, te verbreek.
Ek het dit veral besef toe ek en my man die voorreg gehad het om onder die gaste te wees wat op 19 Mei 2001 die toewyding bygewoon het van die nuwe takfasiliteite van Jehovah se Getuies naby Lviv, in die Oekraïne. Daar het ek ander Getuies ontmoet wat vroeër lede van die Kommunistiese jeugorganisasie Jong Pioniers was. Hulle het, soos ek, gehoop dat die Kommunisme ware vrede en eenheid onder alle mense sou meebring. Wladimir Grigorief, wat nou saam met sy vrou by die takkantoor in Rusland dien, was ook een van dié wat ’n Jong Pionier was.
Dit is waarom dit so ironies is dat Jehovah se Getuies hulle nuwe takkantoor op ’n plek gebou het wat vroeër ’n somerkamp vir die Jong Pioniers was. Omdat daar nie genoeg plek by die tak was nie, kon net 839 mense uit 35 lande vir die toewydingsprogram daar gehuisves word. Maar die volgende oggend het 30 881 in ’n sokkerstadion in Lviv vergader om na ’n oorsig van die vorige dag se program te luister.a Party van hulle het tot ses uur of meer van verafgeleë plekke gereis om teenwoordig te wees.
Maar toe hulle van die reëling hoor om hulle nuwe takfasiliteite te besoek, het hulle op die talle busse geklim waarmee hulle na die stadion toe gekom het. Die busse het teen die middag se kant by die takkantoor opgedaag—waar ek en my man die voorreg gehad het om oornaggaste te wees—vir hulle toer van die fasiliteite. Teen daardie aand het ver oor die 16 000 van hierdie geliefde medeaanbidders hulle toer voltooi, op hulle busse geklim en die rit huis toe aangepak, wat vir baie ’n lang pad was!
In die Oekraïne, soos in ander Oos-Europese lande, het miljoene geglo dat die Kommunisme die beste hoop was om ’n vreedsame nuwe gemeenskap te skep. Maar vandag is daar meer as 120 000 mense in die Oekraïne alleen wat ander van God se Koninkryk vertel. Trouens, baie van ons wat voorheen Kommuniste was, glo nou dat hierdie regering van God die enigste ware hoop is om ’n opregte broederskap en vrede onder alle mense moontlik te maak!
[Voetnoot]
a ’n Verdere 41 143 mense het tegelykertyd in ’n stadium in Kiëf byeengekom—ongeveer 500 kilometer daarvandaan—waar hulle ook na ’n oorsig van die toewydingsprogram geluister het. Die gesamentlike bywoningsyfer van 72 024 was die grootste byeenkoms nog van Jehovah se Getuies in die Oekraïne.
[Prent op bladsy 12]
Toe ek tien was, kort nadat ek by die Kommunistiese Jong Pioniers aangesluit het
[Prent op bladsy 16]
Saam met my man, Petr
[Prent op bladsy 16]
Wladimir, ’n voormalige Kommunistiese Jong Pionier wat ek ontmoet het by die toewyding van die takkantoor in die Oekraïne
[Prent op bladsy 16, 17]
Meer as 16 000 het die takfasiliteite besoek
[Prent op bladsy 17]
Meer as 30 000 het na ’n oorsig van die toewydingsprogram geluister