Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 11/1 bl. 24-28
  • Ons het ’n ferm standpunt ingeneem vir God se heerskappy

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons het ’n ferm standpunt ingeneem vir God se heerskappy
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons ervaar die pynlike gevolge van oorlog
  • God se heerskappy word vir ons ’n werklikheid
  • Die bediening word ons lewenswyse
  • Ons Christelike neutraliteit word op die proef gestel
  • Ons kry die nodige aanmoediging
  • “Vyande van die Staat”
  • Die ouderdom het my nie gekeer nie
  • Geloof tydens beproewinge in Slowakye
    Ontwaak!—2002
  • Meer as 40 jaar onder Kommunistiese beperkings
    Ontwaak!—1995
  • Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Gelei deur geloof in God In ’n Kommunistiese land
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 11/1 bl. 24-28

Lewensverhaal

Ons het ’n ferm standpunt ingeneem vir God se heerskappy

SOOS VERTEL DEUR MICHAL ŽOBRÁK

Nadat ek ’n maand in alleenopsluiting was, is ek voor ’n ondervraer gebring. Hy was gou rooi in die gesig en het geskreeu: “Julle spioene! Amerikaanse spioene!” Wat het hom so woedend gemaak? Hy het my gevra aan watter godsdiens ek behoort, en ek het geantwoord: “Ek is een van Jehovah se Getuies.”

DIT het meer as ’n halfeeu gelede gebeur. Op daardie stadium was die land waarin ek gewoon het, onder Kommunistiese beheer. Maar lank voor hierdie tyd het ons reeds bittere teenstand teen ons Christelike onderrigtingswerk ondervind.

Ons ervaar die pynlike gevolge van oorlog

Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, was ek agt jaar oud. Gedurende hierdie tyd was ons dorpie, Zálužice, onderhorig aan die monargie van die Oostenryks-Hongaarse Ryk. Die oorlog het nie net die wêreldtoneel omgekrap nie, dit het ook my kinderjare kortgeknip. My pa, wat ’n soldaat was, het reeds in die eerste jaar van die oorlog gesneuwel. Dit het my, my ma en my twee jonger susters in volslae armoede gedompel. As die oudste seun in die huis moes ek weldra omsien na baie verantwoordelikhede op ons plasie en om die huis. Ek was van jongs af baie godsdienstig. Die predikant van ons Hervormde (Calvinistiese) Kerk het my selfs gevra om vir hom in te staan en my skoolmaats gedurende sy afwesigheid te leer.

In 1918 het die Groot Oorlog geëindig, en ons het ’n sug van verligting geslaak. Die Oostenryks-Hongaarse Ryk is omvergewerp, en ons het burgers van die Republiek van Tsjeggo-Slowakye geword. Kort voor lank het baie mense van ons gebied wat na die Verenigde State geïmmigreer het, teruggekeer huis toe. Onder hulle was Michal Petrík, wat in 1922 na ons dorpie gekom het. Toe hy ’n gesin in ons omgewing besoek het, is ek en my ma ook genooi om te kom.

God se heerskappy word vir ons ’n werklikheid

Michal was ’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, en hy het belangrike Bybelonderwerpe bespreek wat ek baie interessant gevind het. Die vernaamste hiervan was die koms van Jehovah se Koninkryk (Daniël 2:44). Toe hy gesê het dat daar die volgende Sondag ’n Christelike vergadering in die dorpie Záhor sou wees, was ek vasbeslote om te gaan. Ek het vieruur die oggend opgestaan en sowat agt kilometer ver na my neef se huis gestap om ’n fiets te leen. Nadat ek ’n pap wiel reggemaak het, het ek 24 kilometer verder na Záhor gery. Omdat ek nie geweet het waar die vergadering gehou sou word nie, het ek stadig in een van die strate afgery. Toe het ek ’n Koninkrykslied herken wat in een van die huise gesing is. My hart het gebons van vreugde. Ek het by die huis ingegaan en verduidelik waarom ek daar is. Die gesin het my genooi om saam met hulle ontbyt te eet, en toe het hulle my na die vergadering geneem. Al moes ek weer 32 kilometer ver fietsry en stap om by die huis te kom, het ek glad nie moeg gevoel nie.—Jesaja 40:31.

Ek is gefassineer deur die duidelike, Bybelse verduidelikings wat Jehovah se Getuies gegee het. Die vooruitsig om ’n vol en bevredigende lewe onder God se heerskappy te geniet, het my hart geraak (Psalm 104:28). Ek en my ma het albei besluit om ’n bedankingsbrief aan ons kerk te stuur. Dit het ’n groot opskudding in ons dorpie veroorsaak. Sommige mense wou ’n ruk lank nie eers met ons praat nie, maar ons het goeie assosiasie met al die Getuies in ons omgewing geniet (Matteus 5:11, 12). Ek is kort daarna in die Uh-rivier gedoop.

Die bediening word ons lewenswyse

Ons het elke geleentheid gebruik om van Jehovah se Koninkryk te getuig (Matteus 24:14). Ons het veral op Sondae aan goed georganiseerde predikingskampanjes deelgeneem. Oor die algemeen het mense destyds vroeg opgestaan, en daarom kon ons redelik vroeg met ons getuieniswerk begin. Later in die dag is ’n openbare vergadering gehou. Die Bybelonderrigters het meestal uit die vuis gepraat. Hulle het die aantal belangstellendes, hulle godsdiensagtergrond en kwessies wat vir hulle van belang was, in ag geneem.

Die Bybelwaarhede wat ons verkondig het, het die oë van talle opregte mense laat oopgaan. Kort nadat ek gedoop is, het ek in die dorpie Trhovište gewerk. By een huis het ek met ’n baie gawe vrou, mev. Zuzana Moskal, gepraat. Sy en haar gesin was Calviniste, soos ek eers was. Ten spyte van haar goeie Bybelkennis het sy baie onbeantwoorde Bybelvrae gehad. Ons het ’n uur lank gesels, en ek het die boek Die harp van God by haar gelaat.a

Die Moskals het die Harp-boek onmiddellik tydens hulle gereelde Bybelleessessies begin lees. Nog gesinne in daardie dorpie het belangstelling getoon en ons vergaderinge begin bywoon. Hulle Calvinistiese predikant het hulle ernstig gewaarsku teen ons en ons lektuur. Toe het party van die belangstellendes voorgestel dat die predikant na ons vergadering kom en ons leringe tydens ’n ope debat verkeerd bewys.

Die predikant het gekom, maar kon nie ’n enkele argument uit die Bybel gebruik om sy leringe te staaf nie. Om hom te verdedig, het hy gesê: “Ons kan nie alles in die Bybel glo nie. Dit is deur mense geskryf, en godsdiensvrae kan op verskillende maniere beantwoord word.” Dit was ’n keerpunt vir baie. Party het vir die predikant gesê dat hulle nie meer na sy preke sou kom luister as hy nie in die Bybel glo nie. Gevolglik het hulle bande met die Calvinistiese Kerk verbreek, en omtrent 30 mense van daardie dorpie het ’n ferm standpunt ingeneem vir Bybelwaarheid.

Die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk het ons lewenswyse geword, en daarom het ek natuurlik na ’n metgesel uit ’n geestelik sterk gesin gesoek. Een van my medewerkers in die bediening was Ján Petruška, wat die waarheid in die Verenigde State geleer het. Sy dogter Mária het my beïndruk met haar bereidwilligheid om, net soos haar pa, vir almal te getuig. In 1936 is ons getroud, en Mária was 50 jaar lank my getroue metgesel, tot haar dood in 1986. In 1938 is ons enigste seun, Eduard, gebore. Maar teen hierdie tyd was daar nog ’n oorlog in Europa aan die broei. Hoe sou dit ons werk raak?

Ons Christelike neutraliteit word op die proef gestel

Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, was Slowakye, wat ’n afsonderlike land geword het, onder Nazi-invloed. Nogtans is geen spesifieke regeringsmaatreëls teen Jehovah se Getuies as ’n organisasie ingestel nie. Ons moes natuurlik ons werk in die geheim voortsit, en ons lektuur is gesensor. Nietemin het ons versigtig met ons bedrywighede voortgegaan.—Matteus 10:16.

Toe die oorlog vererger het, is ek vir die leër opgeroep, al was ek oor 35. Weens my Christelike neutraliteit het ek geweier om aan oorlog deel te neem (Jesaja 2:2-4). Voordat die owerheid kon besluit wat hulle met my moes doen, is almal in my ouderdomsgroep gelukkig vrystelling gegee.

Ons het besef dat dit baie moeiliker vir ons broers in die stede was om hulleself te onderhou as wat dit vir ons op die platteland was. Ons wou wat ons gehad het, met hulle deel (2 Korintiërs 8:14). Daarom het ons soveel voedselprodukte geneem as wat ons kon en meer as 500 kilometer ver na Bratislava gereis. Die bande van Christelike vriendskap en liefde wat ons gedurende die oorlogsjare gesmee het, het ons onderskraag in die moeilike jare wat voorgelê het.

Ons kry die nodige aanmoediging

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Slowakye weer eens deel geword van Tsjeggo-Slowakye. Van 1946 tot 1948 is streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies vir die hele land óf in Brno óf in Praag gehou. Dié van ons wat uit die ooste van Slowakye gekom het, het met spesiale treine gereis wat vir die byeenkomsgangers gereël is. ’n Mens kon die treine singende treine genoem het, want ons het die hele pad gesing.—Handelinge 16:25.

Ek onthou veral die streekbyeenkoms in 1947 in Brno, waar drie Christenopsieners van die wêreldhoofkwartier, onder andere broer Nathan H. Knorr, teenwoordig was. Om die openbare toespraak te adverteer, het baie van ons deur die stad geloop met reklameborde waarop die tema was. Ons seun Eduard, wat toe net nege jaar oud was, was baie ongelukkig omdat hy nie een gekry het nie. Die broers het derhalwe vir hom sowel as vir baie ander kinders kleiner borde gemaak. Hierdie jonger groepie het hulle goed van hulle taak gekwyt om die toespraak te adverteer!

In Februarie 1948 het die Kommuniste aan bewind gekom. Ons het geweet dat dit net ’n kwessie van tyd sou wees voordat die regering stappe sou neem om ons bediening te beperk. In September 1948 is ’n streekbyeenkoms in Praag gehou, en ons was angstig omdat ons verwag het dat ons openbare vergaderinge weer verbied sou word, nadat ons net drie jaar lank die vryheid gehad het om saam te vergader. Aan die einde van die byeenkoms het ons ’n resolusie aangeneem wat gedeeltelik gesê het: “Ons, Jehovah se Getuies, wat hier vergader het . . . , is vasbeslote om hierdie geseënde diens nog verder uit te brei en om, met die Here se genade, daarin te volhard in gunstige tye en in tye van beproewing en om die evangelie van God se koninkryk met selfs groter ywer te verkondig.”

“Vyande van die Staat”

Net twee maande ná die streekbyeenkoms in Praag het die geheime polisie ’n klopjag uitgevoer op die Bethelhuis naby Praag. Hulle het op die eiendom beslag gelê, al die lektuur gekonfiskeer wat hulle kon vind en al die Betheliete en ’n paar ander broers in hegtenis geneem. Maar dit was nie al nie.

Gedurende die nag van 3-4 Februarie 1952 het veiligheidsmagte ’n landwye veldtog onderneem en meer as 100 Getuies in hegtenis geneem. Ek was een van hulle. Omstreeks drie-uur die oggend het die polisie my hele gesin wakker geklop. Sonder om enige verduideliking te gee, het hulle my gevra om saam met hulle te gaan. Ek is geboei en geblinddoek en saam met verskeie ander broers agterop ’n vragmotor gegooi. Later is ek in alleenopsluiting geplaas.

’n Hele maand het verbygegaan sonder dat enigiemand met my gepraat het. Die enigste persoon wat ek gesien het, was die wag wat ’n karige maaltyd deur ’n opening in die deur gestoot het. Toe is ek deur die ondervraer ontbied wat ek aan die begin genoem het. Nadat hy my ’n spioen genoem het, het hy gesê: “Godsdiens is onkunde. Daar is geen God nie! Ons kan jou nie toelaat om ons werkersklas te bedrieg nie. Óf ’n laksman sal die stoel onder jou voete uitskop óf jy sal in die tronk krepeer. En as jou God hierheen kom, sal ons hom ook doodmaak!”

Aangesien die owerheid geweet het dat daar geen spesifieke wet is wat ons Christelike bedrywighede verbied nie, wou hulle ons bedrywighede herdefinieer om by bestaande wette te pas, deur ons as “vyande van die Staat” en as buitelandse spioene te probeer uitbeeld. Om dit te doen, moes hulle ons wilskrag breek en ons sover kry om op valse aanklagte “skuld te erken”. Ná die ondervraging daardie nag, is ek nie toegelaat om te slaap nie. Binne ’n paar uur is ek weer ondervra. Hierdie keer wou die ondervraer hê dat ek ’n verklaring teken wat gesê het: “Ek het, as ’n vyand van die Demokratiese Volksrepubliek van Tsjeggo-Slowakye, nie deel geword van die [gemeenskapsplaas] nie omdat ek op die Amerikaners gewag het.” Toe ek geweier het om so ’n leuen te onderteken, is ek na ’n strafsel gestuur.

Ek is verbied om te slaap, te lê en selfs om te sit. Ek kon net staan of rondloop. Toe ek uitgeput was, het ek op die betonvloer gaan lê. Daarna het die wagte my weer na die ondervraer se kantoor geneem. “Gaan jy nou teken?” het hy gevra. Toe ek weer weier, het hy my in die gesig geslaan. Ek het begin bloei. Daarop het hy vir die wagte geskreeu: “Hy wil homself doodmaak. Bewaak hom sodat hy nie selfmoord pleeg nie!” Ek is weer in alleenopsluiting geplaas. Die volgende ses maande is hierdie ondervragingsmetodes dikwels herhaal. Geen ideologiese oorreding of pogings om my sover te kry om te erken dat ek ’n vyand van die Staat is, het my minder vasbeslote gemaak om my onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf nie.

’n Maand voordat ek verhoor sou word, het ’n aanklaer van Praag af gekom en elkeen van ons groepie van 12 broers ondervra. Hy het my gevra: “Wat sal jy doen as Westerse imperialiste ons land aanval?” “Wat ek gedoen het toe hierdie land en Hitler die USSR aangeval het. Ek het nie toe geveg nie, en ek sal ook nie nou veg nie omdat ek ’n Christen is en neutraal is.” Toe het hy vir my gesê: “Ons kan nie verdraagsaam wees teenoor Jehovah se Getuies nie. Ons het soldate nodig ingeval die Westerse imperialiste ons aanval, en ons het soldate nodig om ons werkersklas in die Weste te bevry.”

Op 24 Julie 1953 is ons in die hofsaal ingelei. Ons 12 is die een na die ander voor die paneel van regters geroep. Ons het die geleentheid aangegryp om van ons geloof te getuig. Nadat ons geantwoord het op die valse aanklagte wat teen ons ingebring is, het ’n advokaat opgestaan en gesê: “Ek was al dikwels in hierdie hofsaal. Gewoonlik is daar baie skuldbekentenisse, berou en selfs trane. Maar hierdie mans sal sterker hier weggaan as toe hulle gekom het.” Daarna is al 12 van ons skuldig bevind aan sameswering teen die Staat. Ek is tot drie jaar tronkstraf gevonnis en die Staat het op al my eiendom beslag gelê.

Die ouderdom het my nie gekeer nie

Nadat ek teruggekeer het huis toe, het die geheime polisie my nog steeds dopgehou. Ten spyte daarvan het ek my teokratiese bedrywighede hervat en is geestelike toesig oor ons gemeente aan my toevertrou. Hoewel ons toegelaat is om in ons gekonfiskeerde huis te bly, het dit eers sowat 40 jaar later, ná die val van Kommunisme, weer ons wettige eiendom geword.

Ek was nie die laaste een in ons gesin wat in die tronk beland het nie. Ek was net drie jaar by die huis toe Eduard vir militêre diens opgeroep is. Weens sy Bybelopgeleide gewete het hy geweier en is hy tronk toe gestuur. Jare later het selfs my kleinseun Peter dieselfde ondervinding deurgemaak, ten spyte van sy swak gesondheid.

In 1989 het die Kommunistiese regering in Tsjeggo-Slowakye ineengestort. Hoe verheug was ek tog toe ek openlik van huis tot huis kon getuig nadat ons werk vier dekades lank verbied was! (Handelinge 20:20). So lank as wat my gesondheid dit toegelaat het, het ek hierdie aspek van die bediening geniet. Noudat ek 98 is, is my gesondheid nie meer wat dit was nie, maar ek is bly dat ek nog vir mense kan vertel van Jehovah se wonderlike beloftes vir die toekoms.

Twaalf staatshoofde van vyf verskillende lande het oor my tuisdorp regeer. Dit het diktators, presidente en ’n koning ingesluit. Nie een van hulle het enige blywende oplossing voorsien vir die probleme wat die mense onder hulle heerskappy geteister het nie (Psalm 146:3, 4). Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat hy my toegelaat het om hom op ’n vroeë ouderdom te leer ken. Ek kon dus sy oplossing deur middel van die Messiaanse Koninkryk waardeer en die nutteloosheid van ’n lewe sonder God vermy. Ek het meer as 75 jaar lank die beste nuus ywerig verkondig, en dit het my ’n doel in die lewe gegee, asook tevredenheid en ’n vaste hoop om vir ewig op die aarde te lewe. Wat meer kon ek vra?b

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar tans uit druk.

b Ongelukkig het broer Michal Žobrák se krag uiteindelik ingegee. Terwyl hierdie artikel vir publikasie voorberei is, het hy getrou gesterf, vol vertroue in die opstandingshoop.

[Prent op bladsy 26]

Kort ná ons troudag

[Prent op bladsy 26]

Saam met Eduard in die vroeë 1940’s

[Prent op bladsy 27]

Ons adverteer die streekbyeenkoms in Brno, 1947

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel